Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die heilige gees se rol in die vervulling van Jehovah se voorneme

Die heilige gees se rol in die vervulling van Jehovah se voorneme

Die heilige gees se rol in die vervulling van Jehovah se voorneme

“My woord . . . wat uit my mond uitgaan . . . sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—JES. 55:11.

1. Lig die verskil toe tussen ’n plan en ’n voorneme.

 STEL jou twee mans voor wat hulle gereedmaak om per motor op reis te gaan. Die een werk ’n spesifieke, sorgvuldig beplande roete na sy bestemming uit. Die ander het sy bestemming duidelik in gedagte, maar hy ken ook baie ander roetes. Hy is voorbereid om sy roete waar nodig aan te pas om enige onvoorsiene situasies die hoof te bied. In sekere opsigte lig die verskillende benaderings van hierdie twee mans die onderskeid tussen ’n plan en ’n voorneme toe. ’n Plan kan daarmee vergelyk word om ’n roete sorgvuldig uit te werk, terwyl ’n voorneme kan beteken dat ’n mens ’n doelwit in gedagte het, maar nie noodwendig een spesifieke manier om dit te bereik nie.

2, 3. (a) Wat behels Jehovah se voorneme, en hoe het hy die situasie hanteer wat ontstaan het toe Adam en Eva gesondig het? (b) Waarom moet ons ingestel wees op die ontvouing van Jehovah se voorneme?

2 Wat die uitvoering van sy wil betref, het Jehovah nie ’n vasgestelde plan nie, maar ’n ontvouende voorneme (Ef. 3:11). Hierdie voorneme behels wat hy oorspronklik vir die mensdom en die aarde in gedagte gehad het—dat hierdie planeet in ’n paradystuiste omskep moet word waar volmaakte mense vir ewig in vrede en geluk kan lewe (Gen. 1:28). Toe Adam en Eva gesondig het, het Jehovah opgetree en reëlings getref om te verseker dat sy voorneme vervul sal word. (Lees Genesis 3:15.) Jehovah het bepaal dat sy simboliese vrou ’n “saad”, of Seun, sou voortbring, wat uiteindelik die aanstigter, Satan, sal vernietig en al die skade wat hy veroorsaak het, ongedaan sal maak.—Heb. 2:14; 1 Joh. 3:8.

3 Geen mag in die hemel of op die aarde kan keer dat God se uitdruklike voorneme verwesenlik word nie (Jes. 46:9-11). Waarom kan ons so sê? Omdat Jehovah se heilige gees daarby betrokke is. Hierdie onstuitbare krag waarborg dat God se voorneme “beslis sukses [sal] behaal” (Jes. 55:10, 11). Dit sal goed wees as ons ten volle ingestel bly op die ontvouing van God se voorneme. Ons toekomstige lewensvooruitsigte hang van die vervulling daarvan af. Daarbenewens is dit geloofversterkend om te sien hoe Jehovah die heilige gees gebruik. Kom ons bespreek nou die rol van die heilige gees in die vervulling van Jehovah se voorneme—in die verlede, in ons dag en in die toekoms.

Die rol van die heilige gees in die verlede

4. Hoe het Jehovah sy voorneme stelselmatig geopenbaar?

4 In Bybeltye het Jehovah sy voorneme stelselmatig geopenbaar. Aan die begin was die identiteit van die beloofde Saad “’n heilige geheim” (1 Kor. 2:7). Eers sowat 2 000 jaar later het Jehovah weer na ’n saad verwys. (Lees Genesis 12:7; 22:15-18.) Die belofte wat Jehovah aan Abraham gemaak het, het baie meer inligting oor die saad bevat. Die woorde “deur middel van jou saad” was ’n goeie aanduiding dat die Saad as ’n mens, ’n afstammeling van Abraham, sou kom. Ons kan seker wees dat Satan met groot belangstelling toegekyk het toe hierdie besonderheid onthul is. Daardie Teenstander wou Abraham se geslagslyn natuurlik baie graag vernietig of verderf en sodoende God se voorneme verydel. Maar so iets was onmoontlik, want God se onsigbare gees was werksaam. Hoe?

5, 6. Hoe het Jehovah sy gees gebruik om individue te beskerm in die geslagslyn waaruit die Saad sou kom?

5 Jehovah het sy gees gebruik om individue te beskerm in die geslagslyn waaruit die Saad sou kom. Vir Abram (Abraham) het Jehovah gesê: “Ek is ’n skild vir jou” (Gen. 15:1). Dit was nie leë woorde nie. Dink byvoorbeeld aan wat omstreeks 1919 VHJ gebeur het toe Abraham en Sara tydelik in Gerar gaan woon het. Abimeleg, die koning van Gerar, het Sara geneem om sy vrou te word omdat hy nie geweet het dat Sara Abraham se vrou was nie. Was Satan besig om sake agter die skerms te manipuleer sodat Sara nie die saad van Abraham sou voortbring nie? Die Bybel sê nie. Wat dit wel vir ons sê, is dat Jehovah ingegryp het. In ’n droom het hy Abimeleg gewaarsku om nie aan Sara te raak nie.—Gen. 20:1-18.

6 Dit was nie die enigste keer dat so iets gebeur het nie. Jehovah het Abraham en sy familielede by verskeie geleenthede verlos (Gen. 12:14-20; 14:13-20; 26:26-29). Aangaande Abraham en sy afstammelinge kon die psalmis gevolglik sê: “Hy [Jehovah] het geen mens toegelaat om hulle te kort te doen nie, maar ter wille van hulle het hy konings tereggewys, deur te sê: ‘Moenie aan my gesalfdes raak nie, en moet my profete geen kwaad aandoen nie.’”—Ps. 105:14, 15.

7. Op watter maniere het Jehovah die nasie Israel beskerm?

7 Deur middel van sy gees het Jehovah die eertydse nasie Israel beskerm, waarin die beloofde Saad gebore sou word. Deur sy gees het Jehovah aan Israel sy Wet gegee, waardeur ware aanbidding gehandhaaf is en waardeur die Jode teen geestelike, sedelike en fisiese verontreiniging beskerm is (Eks. 31:18; 2 Kor. 3:3). In die tyd van die rigters het Jehovah se gees aan sekere manne die krag gegee om Israel van sy vyande te verlos (Rigt. 3:9, 10). Gedurende die eeue tot by die geboorte van Jesus, die primêre deel van Abraham se saad, was die heilige gees ongetwyfeld betrokke by die beskerming van Jerusalem, Betlehem en die tempel—wat alles ’n rol sou speel in die vervulling van die profesieë oor Jesus.

8. Wat toon dat die heilige gees regstreeks betrokke was by die lewe en bediening van God se Seun?

8 Die heilige gees was regstreeks betrokke by die lewe en bediening van Jesus. In die moederskoot van die maagd Maria het die heilige gees iets bewerkstellig wat nog nooit voorheen of daarna plaasgevind het nie. Dit het ’n onvolmaakte vrou in staat gestel om ’n volmaakte Seun, wat nie onder die straf van die dood was nie, in haar moederskoot te ontvang en aan hom geboorte te gee (Luk. 1:26-31, 34, 35). Die gees het later die kindjie Jesus teen ’n vroeë dood beskerm (Matt. 2:7, 8, 12, 13). Toe Jesus omtrent 30 jaar oud was, het God hom met heilige gees gesalf, waardeur hy tot erfgenaam van Dawid se troon aangestel is en die opdrag gegee is om te preek (Luk. 1:32, 33; 4:16-21). Die heilige gees het Jesus die krag gegee om wonderwerke te verrig, soos om siekes te genees, skares te voed en dooies op te wek. Hierdie magtige dade was ’n voorskou van die seëninge wat ons onder Jesus se koninklike heerskappy kan verwag.

9, 10. (a) Hoe was dit duidelik dat heilige gees werksaam was op Jesus se eerste-eeuse dissipels? (b) Watter verwikkeling in die vervulling van Jehovah se voorneme is in die eerste eeu HJ geopenbaar?

9 Vanaf Pinkster 33 HJ het Jehovah sy gees gebruik om die sekondêre deel van Abraham se saad te salf, van wie baie nie afstammelinge van Abraham was nie (Rom. 8:15-17; Gal. 3:29). Dit was duidelik dat heilige gees op Jesus se eerste-eeuse dissipels werksaam was en hulle die krag gegee het om ywerig te preek en kragtige werke te doen (Hand. 1:8; 2:1-4; 1 Kor. 12:7-11). Deur middel van hierdie wonderdadige gawes het die heilige gees ’n aangrypende verwikkeling in die vervulling van Jehovah se voorneme geopenbaar. Jehovah het nie meer die eeue oue reëling van aanbidding gebruik waarvan die tempel in Jerusalem die middelpunt was nie. Sy guns het verskuif na die pas gestigte Christengemeente. Sedertdien het Jehovah daardie gesalfde gemeente in die uitvoering van sy voorneme gebruik.

10 Om sy knegte te beskerm, hulle krag te gee en hulle te salf, was maar net ’n paar van die maniere waarop Jehovah die heilige gees in Bybeltye gebruik het om sy voorneme te laat vooruitgaan tot die vervulling daarvan. Maar wat van ons dag? Hoe gebruik Jehovah nou sy gees in die ondersteuning van sy voorneme? Ons moet dit weet, want ons wil in ooreenstemming met die gees werk. Kom ons kyk dus nou na vier maniere waarop Jehovah sy gees in ons dag gebruik.

Die rol van die heilige gees in ons dag

11. Wat toon dat die heilige gees ’n krag is wat God se volk help om rein te bly, en hoe kan jy toon dat jy met die gees saamwerk?

11 Eerstens, die heilige gees is ’n krag wat God se volk help om rein te bly. Diegene wat ’n rol in Jehovah se voorneme speel, moet sedelik rein wees. (Lees 1 Korintiërs 6:9-11.) Party wat ware Christene word, het voorheen onsedelike gebruike soos hoerery, egbreuk en homoseksualiteit beoefen. Die begeertes wat tot sondige dade aanleiding gee, kan diepgewortel wees (Jak. 1:14, 15). Nietemin is hierdie persone “skoon gewas”, wat toon dat hulle die veranderinge in hulle lewe aangebring het wat nodig is om God te behaag. Wat stel iemand wat God liefhet, in staat om verkeerde begeertes te weerstaan? “Die gees van ons God”, sê 1 Korintiërs 6:11. Deur sedelik rein te bly, toon jy dat jy toelaat dat daardie gees ’n oorheersende krag in jou lewe is.

12. (a) Hoe lei Jehovah volgens Esegiël se visioen sy organisasie? (b) Hoe kan jy toon dat jy in ooreenstemming met die gees werk?

12 Tweedens, Jehovah gebruik sy gees om sy organisasie te lei in die rigting wat hy wil hê dit moet gaan. In Esegiël se visioen word die hemelse deel van Jehovah se organisasie uitgebeeld as ’n hemelse strydwa wat onstuitbaar voortbeweeg om Jehovah se voorneme te vervul. Wat laat die strydwa in ’n sekere rigting beweeg? Heilige gees (Eseg. 1:20, 21). Ons moet onthou dat Jehovah se organisasie uit twee dele bestaan, een in die hemel en die ander op aarde. As die hemelse deel deur heilige gees gerig word, moet dieselfde ook vir die aardse deel geld. Deur gehoorsaam en lojaal te wees aan die leiding wat jy van die aardse deel van God se organisasie ontvang, toon jy dat jy tred hou met Jehovah se hemelse strydwa en dat jy in ooreenstemming met sy heilige gees werk.—Heb. 13:17.

13, 14. (a) Uit wie bestaan “hierdie geslag” waarvan Jesus gepraat het? (b) Gee ’n voorbeeld wat toon dat die heilige gees Bybelwaarhede aan die lig bring. (Sien die venster “Hou jy tred met die lig wat helderder word?”)

13 Derdens, heilige gees bring Bybelwaarhede aan die lig (Spr. 4:18). Hierdie tydskrif word al lank deur “die getroue en verstandige slaaf” gebruik as die vernaamste kanaal om die lig wat helderder word, te versprei (Matt. 24:45). Dink byvoorbeeld aan ons begrip van diegene waaruit “hierdie geslag”, waarvan Jesus gepraat het, bestaan. (Lees Matteus 24:32-34.) Na watter geslag het Jesus verwys? Die artikel “Christus se teenwoordigheid—Wat beteken dit vir jou?” het verduidelik dat Jesus hier nie na die goddeloses verwys het nie, maar na sy dissipels, wat kort daarna met heilige gees gesalf sou word. a Jesus se gesalfde volgelinge, in die eerste eeu sowel as in ons dag, sou diegene wees wat die teken nie net sien nie, maar ook die betekenis daarvan onderskei—naamlik dat Jesus “naby is, voor die deur”.

14 Wat beteken hierdie verduideliking vir ons? Hoewel ons nie die presiese lengte van “hierdie geslag” kan meet nie, sal dit goed wees as ons ’n paar dinge omtrent die woord “geslag” in gedagte hou: Dit verwys gewoonlik na mense van verskillende ouderdomme wie se lewe gedurende ’n spesifieke tydperk oorvleuel; dit is nie ’n geweldige lang tydperk nie; en dit het ’n einde (Eks. 1:6). Hoe moet ons dan Jesus se woorde oor “hierdie geslag” verstaan? Hy het klaarblyklik bedoel dat die lewe van die gesalfdes wat daar was toe die teken in 1914 duidelik begin word het, sal oorvleuel met die lewe van ander gesalfdes wat die begin van die groot verdrukking sal sien. Daardie geslag het ’n begin gehad, en dit sal beslis ’n einde hê. Die vervulling van die verskillende dele van die teken toon duidelik dat die verdrukking naby moet wees. Deur jou gevoel van dringendheid te behou en aan te hou waak, toon jy dat jy tred hou met die lig wat helderder word en dat jy die leiding van die heilige gees volg.—Mark. 13:37.

15. Wat toon dat dit heilige gees is wat ons krag gee om die goeie nuus te verkondig?

15 Vierdens, heilige gees gee ons die krag om die goeie nuus te verkondig (Hand. 1:8). Wat anders kan verklaar hoe die goeie nuus regoor die aarde verkondig is? Dink hieraan. Jy is dalk iemand wat, moontlik omdat jy baie skaam en skugter is, voorheen gedink het: ‘Ek sal nooit van huis tot huis kan preek nie!’ Maar nou neem jy ywerig deel aan daardie werk. b Talle getroue Getuies van Jehovah het aangehou om ondanks teenstand of vervolging te preek. Slegs God se heilige gees kan ons die krag gee om ontsaglike struikelblokke te bowe te kom en dinge te doen wat in ons eie krag onmoontlik sou gewees het (Miga 3:8; Matt. 17:20). Deur ’n volle aandeel aan die predikingswerk te hê, toon jy dat jy met daardie gees saamwerk.

Die rol van die heilige gees in die toekoms

16. Waarom kan ons vol vertroue wees dat Jehovah sy volk gedurende die groot verdrukking sal beskerm?

16 In die toekoms sal Jehovah sy heilige gees op merkwaardige maniere gebruik om sy voorneme te vervul. Beskou eerstens die kwessie van beskerming. Soos ons gesien het, het Jehovah sy gees in die verlede gebruik om individue sowel as die nasie Israel as ’n geheel te beskerm. Gevolglik het ons alle rede om te glo dat hy daardie selfde kragtige gees sal gebruik om sy volk gedurende die naderende groot verdrukking te beskerm. Ons hoef nie te bespiegel oor presies hoe Jehovah dan vir ons sal sorg nie. Ons kan die toekoms eerder met vertroue tegemoetgaan, in die wete dat liefhebbers van Jehovah nooit uit sy sig of buite die bereik van sy heilige gees sal wees nie.—2 Kron. 16:9; Ps. 139:7-12.

17. Hoe sal Jehovah sy heilige gees in die nuwe wêreld gebruik?

17 Hoe sal Jehovah sy heilige gees in die komende nuwe wêreld gebruik? Daardie gees sal die krag wees agter die nuwe boekrolle wat dan oopgemaak sal word (Op. 20:12). Wat sal hierdie boekrolle bevat? Klaarblyklik Jehovah se uitvoerige vereistes wat ons gedurende die duisend jaar moet nakom. Sien jy uit daarna om die inhoud van daardie boekrolle te ondersoek? Ons wag gretig op daardie nuwe wêreld. Ons kan ons beswaarlik voorstel hoe dit sal wees om gedurende daardie geseënde tyd te lewe wanneer Jehovah sy heilige gees sal gebruik om sy voorneme vir die aarde en die mensdom daarop te vervul.

18. Wat is jou vaste voorneme?

18 Laat ons nooit vergeet dat Jehovah se ontvouende voorneme beslis sukses sal behaal nie, want hy gebruik sy heilige gees—die sterkste krag in die heelal—om dit uit te voer. Hierdie voorneme sluit jou in. Laat dit dan jou vaste voorneme wees om Jehovah vir sy gees te smeek en in ooreenstemming met die leiding daarvan te werk (Luk. 11:13). Jy sal dan die vooruitsig kan hê om te lewe soos Jehovah hom voorgeneem het dat mense moet lewe—vir ewig in die Paradys op aarde.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 2008, bladsye 21-25.

b Vir ’n voorbeeld van iemand wat uiterste skaamheid te bowe gekom het en ywerig in die bediening geword het, sien Die Wagtoring van 15 September 1993, bladsy 19.

Onthou jy?

• Op watter maniere het Jehovah sy heilige gees in Bybeltye gebruik om sy voorneme te laat vooruitgaan?

• Hoe gebruik Jehovah sy gees in ons dag?

• Hoe sal Jehovah sy gees in die toekoms gebruik om sy voorneme te vervul?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 10]

Hou jy tred met die lig wat helderder word?

Jehovah hou aan om lig op sy volk te laat skyn. Wat is ’n paar verfynings wat al in Die Wagtoring gepubliseer is?

▪ Watter positiewe les oor geestelike groei word deur Jesus se illustrasie van die suurdeeg toegelig? (Matt. 13:33).—15 Julie 2008, bladsye 19-20.

▪ Wanneer eindig die roeping van Christene tot ’n hemelse hoop?—1 Mei 2007, bladsye 30-31.

▪ Wat beteken dit om Jehovah “met gees” te aanbid? (Joh. 4:24).—15 Julie 2002, bladsy 15.

▪ In watter voorhof dien die groot menigte? (Op. 7:15).—1 Mei 2002, bladsye 30-31.

▪ Wanneer vind die skeiding van die skape en die bokke plaas? (Matt. 25:31-33).—15 Oktober 1995, bladsye 18-28.