Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah wil hê dat jy “heeltemal veilig” moet wees

Jehovah wil hê dat jy “heeltemal veilig” moet wees

Jehovah wil hê dat jy “heeltemal veilig” moet wees

WANNEER die gevaarlikste gebeurtenis in die geskiedenis aanbreek, sal God die Almagtige seker maak dat almal wat sy goedkeuring geniet, “veilig wegkom” (Joël 2:32). Maar in werklikheid was dit nog altyd Jehovah se begeerte om sy volk teen leed te beskerm. Aangesien hy “die bron van die lewe” is, beskou hy alle mense as kosbaar, waardig van sy beskerming.

God se getroue knegte van die ou tyd het sy beskouing van lewe gedeel. Volgens Genesis 33:18 het Jakob en sy gesin ná ’n gevaarlike reis hulle bestemming “heeltemal veilig” bereik. Jakob het op Jehovah vertrou vir beskerming, maar hy het ook praktiese stappe gedoen om almal wat saam met hom gereis het, te beskerm (Gen. 32:7, 8; 33:14, 15). As jy Bybelbeginsels toepas, kan jy jouself en ander in groter mate beveilig. Kom ons kyk hoe hierdie waarheid van toepassing is op diegene wat aan Koninkryksale en soortgelyke projekte werk en noodleniging voorsien.

Veiligheid onder die Mosaïese Wet

Die Wet van Moses het veiligheid ’n amptelike beleid onder God se volk gemaak. ’n Israeliet wat ’n huis gebou het, moes byvoorbeeld ’n muurtjie om die rand van die dak bou. Omdat mense dikwels op die plat dak van hulle huis was, het die muurtjie voorkom dat hulle van die dak afval (1 Sam. 9:26; Matt. 24:17). As ’n ongeluk plaasgevind het omdat hierdie veiligheidswet nie nagekom is nie, het Jehovah die huiseienaar aanspreeklik gehou.—Deut. 22:8.

Die strafmaatreëls van die Wet was ook van toepassing op beserings wat deur mak diere veroorsaak is. As ’n bul iemand gestoot en sy dood veroorsaak het, moes die eienaar ter wille van ander mense se veiligheid die bul doodmaak. Omdat hy nie die vleis kon eet of dit aan ander as voedsel kon verkoop nie, was dit ’n groot verlies om die dier dood te maak. Maar gestel ’n bul het iemand beseer, en sy eienaar het hom daarna nie goed genoeg opgepas nie. Wat dan? As daardie selfde bul iemand later doodgemaak het, sou die bul en sy eienaar doodgemaak word. Hierdie wet sou enigiemand wat geneig was om onverskillig te wees ten opsigte van sy vee, twee keer laat dink.—Eks. 21:28, 29.

Die Wet het ook die gepaste gebruik van gereedskap bevorder. Baie Israeliete het byle gebruik om vuurmaakhout te kap. As die bylkop per ongeluk van sy steel afgeglip en die dood van ’n bystander veroorsaak het, moes die houtkapper na een van die vrystede vlug. Hy moes tot die dood van die hoëpriester daar bly, wat kon beteken dat die onopsetlike moordenaar jare lank nie saam met sy gesin en in sy huis kon woon nie. Hierdie reëling het die nasie geleer dat lewe heilig is in Jehovah se oë. Iemand wat God se beskouing van lewe gedeel het, het gesorg dat sy gereedskap in ’n goeie toestand is en het dit op ’n veilige manier gebruik.—Num. 35:25; Deut. 19:4-6.

Deur middel van sulke wette het Jehovah dit duidelik gemaak dat hy van sy volk verwag om binne en buite die huis veilig te werk te gaan. Diegene wat, selfs per ongeluk, iemand anders doodgemaak of beseer het, moes aan Hom verantwoording doen. Jehovah se denke oor die kwessie van veiligheid het nie verander nie (Mal. 3:6). Hy wil nog steeds hê dat mense versigtig moet wees om hulleself en ander nie te beseer nie. Dit geld veral wanneer ons plekke wat aan sy ware aanbidding toegewy is, bou en in stand hou.

Veiligheid by bouprojekte

Ons beskou dit as ’n groot voorreg om Koninkryksale, Byeenkomssale en takfasiliteite te bou en in stand te hou. Dieselfde kan gesê word oor ons werk in verband met noodlenigingsprojekte in rampgebiede. Ons wil te alle tye ons werk op vaardige wyse verrig omdat onbevoegdheid, selfs in eenvoudige take, vir onsself sowel as ander skadelik kan wees (Pred. 10:9). Ja, as ons die gewoonte aankweek om veilig te werk, kan ons beserings vermy.

Die Bybel sê: “Die sieraad van jong manne is hulle krag, en die prag van ou manne is hulle grysheid” (Spr. 20:29). Jeugdige krag is nodig om swaar werk te doen. Maar die werkers met grys hare—dié wat gesout is in die boubedryf—doen die fynere afwerking met hulle hande en gereedskap. En eens op ’n tyd het hulle húlle jeugdige energie gebruik om swaar werk te doen. As jy ’n nuwe vrywilliger is, let op die manier waarop die ervare werkers hulle werk doen en volg hulle instruksies. As jy wil leer, sal broers wat ervare is in bouwerk, jou baie dinge kan leer. Dit sluit in om gevaarlike materiaal veilig te hanteer en swaar vragte veilig op te tel. Dan sal jy produktief, veilig en met ’n blye hart werk.

Werkers op ’n bouterrein moet te alle tye waaksaam wees. Dinge verander vinnig. Waar daar voorheen vaste grond was, is daar dalk nou ’n gat. Ander op die span het miskien ’n leer, ’n plank of ’n emmer verf geskuif. As jy nie aandag skenk nie, kan jy maklik seerkry. Veiligheidsmaatreëls vereis gewoonlik dat werkers op ’n bouterrein persoonlike veiligheidstoerusting gebruik. ’n Skermbril, ’n harde hoed en gepaste skoene kan jou teen baie gevare op ’n bouterrein beskerm. Maar hierdie toerusting kan slegs beskerming bied as jy dit in ’n goeie toestand hou en dit dra.

Hoewel dit lyk of baie soorte gereedskap eenvoudig is om te gebruik, is opleiding en oefening nodig om dit op veilige en bedrewe wyse te hanteer. As jy nie ondervinding het met ’n stuk gereedskap wat jy nodig het nie, moet jy dit vir die verantwoordelike broer sê. Hy sal reël dat jy behoorlike opleiding kry. Beskeidenheid, of bewustheid van jou beperkings, is ’n goeie eienskap. Trouens, dit is ’n vereiste as jy jouself en ander op die bouterrein nie wil beseer nie.—Spr. 11:2.

Die meeste beserings op ’n bouterrein word veroorsaak wanneer iemand val. Voordat jy op ’n leer of boustellasie klim, moet jy seker maak dat al die veiligheidskenmerke van die toerusting geïnstalleer is en dit in ’n goeie toestand is. As jy op ’n boustellasie of ’n dak moet werk, vereis die riglyne dalk dat jy ’n veiligheidsharnas dra of dat veiligheidsrelings aangebring word. Vra die werkopsiener as jy vrae het in verband met werk op hoë plekke. a

Namate die aantal mense wat Jehovah dien wêreldwyd toeneem, moet daar al hoe meer Koninkryksale gebou word asook ander fasiliteite wat in die bevordering van ware aanbidding gebruik word. Dié wat toesig hou oor die werk by Koninkryksaalbouterreine en soortgelyke projekte, het die verantwoordelikheid om Jehovah se kosbare skape te beskerm wat onder hulle leiding werk (Jes. 32:1, 2). As jy die voorreg het om by ’n bouprojek oor jou broers en susters toesig te hou, moet jy nooit vergeet hoe belangrik veiligheid is nie. Maak seker dat die terrein skoon is en dat niks rondlê nie. Herinner diegene wat dit nodig het, vriendelik maar ferm aan die veiligheidsmaatreëls. Moenie jong of onervare werkers in hoërisikogebiede toelaat nie. Dink vooruit aan gevare wat ’n werkspan sal teëkom, en berei hulle voor sodat hulle veilig kan werk. Onthou, ons doelwit is om die projek sonder beserings te voltooi.

Die rol van liefde

Die oprigting van Koninkryksale en ander geboue wat in ware aanbidding gebruik word, sluit werk in wat potensieel gevaarlik is. Daarom moet diegene wat aan sulke projekte werk, versigtig wees. Deur Bybelbeginsels te respekteer, die riglyne te volg wat vir die werk neergelê is en goeie oordeel aan die dag te lê, sal jy gevaar vermy en ook jou medewerkers teen besering beskerm.

Wat is die vernaamste rede waarom veiligheid vir ons belangrik is? Dit is liefde. Ja, liefde vir Jehovah beweeg ons om, net soos hy, lewe as kosbaar te beskou. En liefde vir mense weerhou ons daarvan om weens onverskilligheid enigiets te doen wat hulle kan beseer (Matt. 22:37-39). Laat ons dus ons bes doen om diegene op ons bouprojekte “heeltemal veilig” te hou.

[Voetnoot]

a Sien die venster “Hoe om veilig op lere te werk” op bladsy 30.

[Venster/Prent op bladsy 30]

Hoe om veilig op lere te werk

In ’n onlangse jaar is meer as 160 000 werkers in die Verenigde State beseer toe hulle van lere afgeval het. Daarbenewens het ongeveer 150 as gevolg daarvan gesterf. Waar jy ook al woon en werk, hier is ’n paar riglyne wat jou kan help om nie van ’n leer af te val nie.

◇ Moenie ’n leer gebruik wat lendelam of stukkend is nie, en moenie so ’n leer regmaak nie. Dit moet vernietig word.

◇ Alle lere het ’n dravermoë. Maak seker dat jou gewig tesame met dié van jou gereedskap en materiaal nie die dravermoë van die leer wat jy wil gebruik, oorskry nie.

◇ Plaas jou leer op ’n gelyke, soliede oppervlak. Moenie dit op ’n onstabiele oppervlak sit, soos op ’n boustellasie of bo-op emmers en kartonne nie.

◇ Hou altyd jou gesig na die leer wanneer jy daarteen op- of afklim.

◇ Moenie op die boonste twee sporte van enige leer staan of sit nie.

◇ Wanneer ’n leer gebruik word om op ’n dak of platform te klim of daarvan af te klim, moet die kantrelings van die leer ten minste een meter bo die dak of platform waarteen dit rus, uitsteek. Voorkom dat die voet van die leer gly deur dit vas te bind of ’n plank daarvoor vas te spyker. As jy die leer nie op hierdie maniere kan beveilig nie, kry iemand om dit vas te hou terwyl jy daarop werk. Bind die boonste deel van die leer stewig vas om te voorkom dat dit eenkant toe gly.

◇ Moenie die planke van ’n werkplatform op die sporte van ’n leer laat rus nie.

◇ As jy jou arms en bene uitstrek wanneer jy hoog op ’n leer werk, kan jy dit onstabiel maak. Vermy hierdie gevaarlike bewegings. Verskuif die leer so dikwels as wat nodig is om dit naby jou werk te hou.

◇ As jy op ’n leer moet werk wat voor ’n toe deur staan, moet jy ’n waarskuwingsteken teen die deur sit en dit sluit. As dit nie moontlik is om die deur te sluit nie, moet jy iemand voor die deur laat staan om mense wat moet deurgaan, te waarsku.

◇ Laat net een persoon op ’n leer toe tensy dit ontwerp is om twee werkers te dra. b

[Voetnoot]

b ’n Kontrolelys met verdere herinneringe oor hoe om op lere te werk, kan gevind word in die Ontwaak! van 8 Augustus 1999, bladsye 22-24.

[Prent op bladsy 29]

Die Wet van Moses het vereis dat daar ’n muurtjie om plat dakke gebou moes word