Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense—Versterk julle begeerte om Jehovah te dien

Jongmense—Versterk julle begeerte om Jehovah te dien

Jongmense—Versterk julle begeerte om Jehovah te dien

“Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.”—PRED. 12:1.

1. Watter uitnodiging is aan kinders in Israel gerig?

 SOWAT 3 500 jaar gelede het Jehovah se profeet Moses die priesters en die ouer manne van Israel dié opdrag gegee: “Laat die volk bymekaarkom, die manne en die vroue en die kindertjies . . . , sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer, aangesien hulle Jehovah julle God moet vrees en al die woorde van hierdie wet sorgvuldig moet onderhou” (Deut. 31:12). Let op wie beveel is om samekomste vir aanbidding by te woon: manne, vroue en kindertjies. Ja, selfs jong kinders was onder dié wat beveel is om te luister, te leer en Jehovah se leiding te volg.

2. Hoe het Jehovah getoon dat hy besorg was oor jongmense in die vroeë Christengemeente?

2 In die eerste eeu het Jehovah steeds getoon dat hy besorg is oor godvresende jongmense. Hy het byvoorbeeld die apostel Paulus geïnspireer om in ’n paar van die briewe wat hy aan die gemeentes gestuur het, voorskrifte in te sluit wat spesifiek tot jongmense gerig is. (Lees Efesiërs 6:1; Kolossense 3:20.) Jong Christene wat hierdie raad toegepas het, het gegroei in hulle waardering vir hulle liefdevolle hemelse Vader en het sy seën ontvang.

3. Hoe toon jongmense vandag hulle begeerte om God te dien?

3 Word jongmense vandag genooi om te vergader om Jehovah te aanbid? Ja! God se hele volk is dus verheug om te sien dat soveel jong knegte van God regoor die wêreld Paulus se vermaning ter harte neem: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24, 25). Verder neem baie kinders saam met hulle ouers deel aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk (Matt. 24:14). En as ’n blyk van hulle opregte liefde vir Jehovah word derduisende jongmense elke jaar gedoop en geniet hulle die seëninge wat dit meebring om ’n dissipel van Christus te wees.—Matt. 16:24; Mark. 10:29, 30.

Aanvaar die uitnodiging—Nou

4. Wanneer kan jongmense God se uitnodiging aanvaar om hom te dien?

4 Prediker 12:1 sê: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.” Jongmense, hoe oud moet julle wees om hierdie hartlike uitnodiging te aanvaar om Jehovah te aanbid en te dien? Geen spesifieke ouderdom word in die Skrif aangegee nie. Moet dus nie aarsel en dink dat jy te jonk is om na Jehovah te luister en hom te dien nie. Ongeag hoe oud jy is, jy word aangespoor om sonder versuim op te tree.

5. Hoe kan ouers hulle kinders help om geestelike vooruitgang te maak?

5 Baie van julle is deur een van of deur albei julle ouers gehelp om geestelike vooruitgang te maak. In dié opsig is julle soos Timoteus van Bybeltye. Toe hy nog baie klein was, het sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder Loïs hom die heilige geskrifte geleer (2 Tim. 3:14, 15). Jou ouers leer jou waarskynlik op ’n soortgelyke manier deur die Bybel met jou te studeer, saam met jou te bid, jou na gemeentelike vergaderinge en groter byeenkomste van God se volk te neem en saam met jou velddiens te doen. Om jou God se weë te leer, is in werklikheid ’n baie belangrike verantwoordelikheid wat jou ouers van Jehovah self ontvang het. Waardeer jy hulle liefde en besorgdheid oor jou?—Spr. 23:22.

6. (a) Watter vorm van aanbidding behaag Jehovah volgens Psalm 110:3? (b) Wat gaan ons nou bespreek?

6 Maar, jongmense, Jehovah wil hê dat julle, wanneer julle ouer word, self moet “seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is”, net soos Timoteus gedoen het (Rom. 12:2). As julle dít doen, sal julle aan gemeentelike bedrywighede deelneem, nie omdat julle ouers wil hê dat julle dit moet doen nie, maar omdat julle self die begeerte het om God se wil te doen. As julle Jehovah met ’n gewillige gees dien, sal dit hom behaag (Ps. 110:3). Hoe kan julle dan bewys dat julle julle begeerte wil versterk om na Jehovah te luister en sy leiding te volg? Ons sal drie belangrike maniere bespreek waarop julle dit kan doen. Dit behels studie, gebed en gedrag. Kom ons ondersoek dit een op ’n slag.

Leer ken Jehovah as ’n Persoon

7. Hoe het Jesus ’n voorbeeld gestel as ’n student van die Skrif, en wat het hom gehelp om dit te doen?

7 Die eerste manier waarop jy kan toon dat jy jou begeerte wil versterk om Jehovah te dien, is deur die Bybel daagliks te lees. Jy kan jou geestelike behoefte bevredig en kosbare Bybelkennis inneem deur God se Woord gereeld te lees (Matt. 5:3). Jesus het die voorbeeld gestel. By een geleentheid, toe hy 12 jaar oud was, het sy ouers hom in die tempel gevind, “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het” (Luk. 2:44-46). As kind het Jesus reeds ’n verlange na en ’n begrip van die Skrif opgebou. Wat het hom gehelp om dit te doen? Sy moeder, Maria, en sy pleegvader, Josef, het ongetwyfeld ’n belangrike rol hierin gespeel. Hulle was knegte van God wat Jesus van kleins af van goddelike onderrigting voorsien het.—Matt. 1:18-20; Luk. 2:41, 51.

8. (a) Wanneer moet ouers begin om liefde vir God se Woord by hulle kinders in te skerp? (b) Vertel ’n ondervinding wat die waarde daarvan toelig om kinders van kleins af te leer.

8 Vandag besef godvresende ouers eweneens die waarde daarvan om van kleins af ’n verlange na Bybelwaarheid in hulle kinders se harte in te skerp (Deut. 6:6-9). Dit is wat Rubi, ’n Christensuster, kort ná die geboorte van haar eerste seun, Joseph, gedoen het. Sy het elke dag vir hom uit My boek met Bybelverhale gelees. Namate hy ouer geword het, het sy hom gehelp om verskillende tekste te memoriseer. Het Joseph baat gevind by hierdie opleiding? Kort nadat hy leer praat het, kon hy baie Bybelverhale in sy eie woorde vertel. En toe hy vyf jaar oud was, het hy sy eerste toespraak op die Teokratiese Bedieningskool gehou.

9. Waarom is dit belangrik om die Bybel te lees en daaroor te peins?

9 Jongmense, as julle verdere geestelike vooruitgang wil maak, moet julle ’n gewoonte daarvan maak om die Bybel elke dag te lees en daarby hou dwarsdeur julle tienerjare en tot in julle volwasse lewe (Ps. 71:17). Waarom sal Bybellees julle help om vooruitgang te maak? Let op wat Jesus in ’n gebed tot sy Vader gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God” (Joh. 17:3). Ja, hoe meer kennis julle van Jehovah inneem, hoe meer sal julle hom as ’n werklike Persoon kan sien en hoe meer sal julle liefde vir hom toeneem (Heb. 11:27). Elke keer as julle ’n gedeelte in die Bybel lees, kan julle dus die geleentheid gebruik om meer oor Jehovah te leer. Vra jou af: ‘Wat leer hierdie verslag my oor Jehovah as ’n Persoon? Hoe toon hierdie Skrifgedeelte God se liefde vir my en sy besorgdheid oor my?’ As jy tyd neem om oor sulke vrae te peins, sal dit jou help om te leer hoe Jehovah dink en voel en wat hy van jou vereis. (Lees Spreuke 2:1-5.) Soos jong Timoteus, sal jy “oortuig [wees] om te glo” wat jy uit die Skrif leer, en dit sal jou beweeg om Jehovah met ’n gewillige hart te aanbid.—2 Tim. 3:14.

Hoe gebed jou liefde vir Jehovah laat toeneem

10, 11. Hoe help gebed jou om jou begeerte te versterk om God te dien?

10 Die tweede manier waarop jy jou begeerte kan versterk om Jehovah heelhartig te dien, is deur middel van jou gebede. In Psalm 65:2 lees ons: “O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom.” Selfs gedurende die tyd toe Israel God se verbondsvolk was, kon uitlanders wat na Jehovah se tempel gekom het, hom in gebed nader (1 Kon. 8:41, 42). God is nie partydig nie. Diegene wat sy gebooie nakom, het die versekering dat hy na hulle sal luister (Spr. 15:8). Julle as jongmense word beslis ingesluit onder die “mense van alle vlees”.

11 Jy weet dat die grondslag van enige ware vriendskap goeie kommunikasie is. Jy hou heel moontlik daarvan om met ’n hegte vriend te praat oor wat jy dink, waaroor jy besorg is en hoe jy voel. Net so kan jy deur middel van opregte gebede met jou Grootse Skepper kommunikeer (Fil. 4:6, 7). Praat met Jehovah asof jy jou hart uitstort teenoor ’n liefdevolle ouer of ’n hegte vriend. Om die waarheid te sê, daar is ’n sterk verband tussen die manier waarop jy bid en hoe jy oor Jehovah voel. Namate jou vriendskap met Jehovah hegter word, sal jy vind dat jou gebede betekenisvoller word.

12. (a) Waarom bestaan betekenisvolle gebede uit meer as net woorde? (b) Wat sal jou help om te besef dat Jehovah naby jou is?

12 Hou egter in gedagte dat ’n betekenisvolle gebed uit meer as net woorde bestaan. Dit sluit jou diepste gevoelens in. Spreek jou innige liefde, jou diep respek en jou volle vertroue in Jehovah uit wanneer jy bid. Wanneer jy sien hoe Jehovah op jou gebede reageer, sal jy meer as ooit besef dat “Jehovah . . . naby almal [is] wat hom aanroep” (Ps. 145:18). Ja, Jehovah sal nader aan jou kom en jou versterk om die Duiwel teë te staan en die regte keuses in die lewe te maak.—Lees Jakobus 4:7, 8.

13. (a) Hoe het vriendskap met God ’n suster gehelp? (b) Hoe help vriendskap met God jou om portuurdruk die hoof te bied?

13 Kyk byvoorbeeld hoe Cherie krag geput het uit ’n hegte verhouding met Jehovah. Toe sy op hoërskool was, het sy toekennings gekry omdat sy uitgeblink het op akademiese sowel as sportgebied. Toe sy klaar was met skool, is sy ’n beurs aangebied om verder te studeer. “Die aanbod was aanloklik”, sê Cherie, “en afrigters en skoolmaats het baie druk op my geplaas om dit te aanvaar.” Maar sy het besef dat sy, as sy geleerdheid sou nastreef, die meeste van haar tyd aan haar studies en voorbereiding vir sportgeleenthede sou bestee—en min tyd sou oorhê om Jehovah te dien. Wat het Cherie gedoen? Sy sê: “Nadat ek tot Jehovah gebid het, het ek die beurs van die hand gewys en as ’n gewone pionier begin dien.” Sy pionier nou al vyf jaar. “Ek is glad nie spyt nie”, sê sy. “Omdat ek weet dat ek ’n besluit geneem het wat Jehovah behaag, is ek gelukkig. Ja, as jy God se Koninkryk eerste stel, sal alle ander dinge vir jou bygevoeg word.”—Matt. 6:33.

Goeie gedrag toon dat jy “rein van hart” is

14. Waarom is jou goeie gedrag belangrik in Jehovah se oë?

14 Die derde manier waarop jy kan toon dat jy Jehovah met ’n gewillige hart dien, is deur jou gedrag. Jehovah seën jongmense wat sedelik rein bly. (Lees Psalm 24:3-5.) Jong Samuel het geweier om die onsedelike gedrag van die seuns van die hoëpriester Eli na te volg. Samuel se goeie gedrag het nie onopgemerk verbygegaan nie. Die Bybelverslag sê: “Die hele tyd het die seun Samuel groter en meer geliefd geword vanuit Jehovah se standpunt sowel as vanuit dié van mense.”—1 Sam. 2:26.

15. Wat is ’n paar redes waarom jy goeie gedrag handhaaf?

15 Ons lewe in ’n wêreld vol mense wat liefhebbers van hulleself is, hoogmoedig, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, wreedaardig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God—om net ’n paar van die karaktertrekke te noem wat Paulus opgeteken het (2 Tim. 3:1-5). Dit kan dus vir jou ’n groot uitdaging wees om voorbeeldige gedrag te handhaaf ten spyte van die goddelose wêreld om ons. Maar elke keer as jy doen wat reg is en weier om jou aan goddelose gedrag skuldig te maak, toon jy dat jy aan Jehovah se kant van die geskil oor universele soewereiniteit is (Job 2:3, 4). Jy sal ook tevrede voel omdat jy weet dat jy reageer op Jehovah se hartlike versoek: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spr. 27:11). Wat meer is, die feit dat jy weet dat jy Jehovah se goedkeuring wegdra, sal jou begeerte versterk om hom te dien.

16. Hoe het een suster Jehovah se hart bly gemaak?

16 ’n Christensuster met die naam Carol het as tiener op skool by Bybelbeginsels gebly, en ander het haar goeie gedrag opgemerk. Wat was die gevolg? Carol is deur haar klasmaats bespot omdat haar Bybelopgeleide gewete haar nie toegelaat het om vakansiedae te vier en aan patriotiese seremonies deel te neem nie. By sulke geleenthede kon sy soms haar geloofsoortuigings aan ander verduidelik. Baie jare later het Carol ’n kaartjie van ’n gewese klasmaat ontvang, wat geskryf het: “Ek wou nog altyd met jou in kontak kom en vir jou dankie sê. Jou goeie gedrag en voorbeeld as ’n jong Christen, tesame met jou moedige standpunt wat vakansiedae betref, het nie ongemerk verbygegaan nie. Jy was my eerste kontak met Jehovah se Getuies.” Carol se voorbeeld het so ’n diep indruk op haar klasmaat gemaak dat sy later die Bybel begin studeer het. Sy het in haar kaartjie aan Carol geskryf dat sy al meer as 40 jaar lank ’n gedoopte Getuie is! Vandag kan jongmense wat moedig by Bybelbeginsels bly, soos Carol, opregtes van hart beweeg om Jehovah te leer ken.

Jongmense loof Jehovah

17, 18. (a) Hoe voel jy oor die jongmense in julle gemeente? (b) Watter toekoms wag op godvresende jongmense?

17 In Jehovah se wêreldwye organisasie is ons almal verheug om die derduisende ywerige jongmense te sien wat ware aanbidding beoefen! Hierdie jongmense versterk hulle begeerte om Jehovah te aanbid deur die Bybel daagliks te lees, te bid en hulle in ooreenstemming met God se wil te gedra. Hierdie voorbeeldige jongmense is ’n bron van verkwikking vir hulle ouers en vir al Jehovah se knegte.—Spr. 23:24, 25.

18 In die toekoms sal getroue jongmense gereken word onder diegene wat sal oorleef tot in God se beloofde nuwe wêreld (Op. 7:9, 14). Daar sal hulle ongekende seëninge ontvang terwyl hulle aanhou om in waardering vir Jehovah toe te neem, en hulle sal hom tot in alle ewigheid kan loof.—Ps. 148:12, 13.

Kan jy verduidelik?

• Hoe kan jongmense vandag ware aanbidding beoefen?

• Waarom is dit baie belangrik om te peins as jy by Bybellees wil baat vind?

• Hoe help gebed jou om nader aan Jehovah te kom?

• Wat word deur ’n Christen se goeie gedrag bereik?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 5]

Is dit jou gewoonte om die Bybel daagliks te lees?