Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Waarom moes die Messias sterf?

Jesus se dood het bewys dat ’n volmaakte mens godvrugtige toegewydheid kan handhaaf ten spyte van die hewigste toetse. Hy het ook betaal vir die sonde wat Adam se nageslag geërf het en sodoende ewige lewe moontlik gemaak.—12/15, bladsye 22-23.

• Wat kan ’n mens help om alkohol op sy plek te hou?

Gebed en Bybelstudie kan help. Dit is noodsaaklik om selfbeheersing aan te kweek, by jou besluit te bly en opbouende metgeselle te kies. Iemand wat besluit om te drink, moet besliste perke stel en leer om nee te sê.—1/1, bladsye 7-9.

• Wat behels betekenisvolle kommunikasie met kinders?

Dit behels meer as om net met hulle te praat; dit sluit ook in dat jy vrae vra en geduldig na hulle antwoorde luister. Baie het gevind dat etenstye goeie geleenthede vir kommunikasie is.—1/15, bladsye 18-19.

• Hoe kan Jehovah spyt voel, aangesien hy volmaak is?

Soms verander God sy gesindheid teenoor mense. Byvoorbeeld, die eertydse Israeliete het Jehovah meer as een keer verlaat en ander gode gevolg. Jehovah het dan sy beskerming van hulle onttrek. Maar wanneer die volk berou getoon het oor hulle sonde en tot God om hulp geroep het, het hy sy gevoelens teenoor hulle verander, of “spyt gevoel” (Rigt. 2:18).—2/1, bladsy 21.

• Onder watter omstandighede kan herdoop oorweeg word?

Dit sal die geval wees as ’n persoon ten tye van sy doop in die geheim in ’n situasie was of iets beoefen het wat tot uitsetting kon gelei het as hy reeds ’n geldige doop ondergaan het.—2/15, bladsy 22.

• Wat is drie ongeldige verskonings wat party vir oneerlikheid aanbied?

Party voel geregverdig om te steel omdat hulle arm is. Ander verskoon dit deur te sê: “Almal doen dit.” En sommige wat kosbare artikels gevind en dit gehou het, het geredeneer: “Optelgoed is hougoed.” Die Bybel verleen nie steun aan een van hierdie verskonings nie.—3/1, bladsye 12-14.

• Wat stel die saai van die goeie saad voor in Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid?

Die Seun van die mens, Jesus, het die saailand gedurende sy aardse bediening voorberei. Vanaf Pinkster 33 HJ is die goeie saad gesaai toe Christene as God se kinders, die kinders van die Koninkryk, gesalf is.—3/15, bladsy 20.

• Hoe word die simboliese koring van Jesus se gelykenis in Jehovah se voorraadskuur ingebring? (Matt. 13:30).

Die vervulling het oor ’n tydperk gedurende die voleinding van die stelsel van dinge plaasgevind. Die gesalfde kinders van die Koninkryk, die simboliese koring, word in Jehovah se voorraadskuur ingebring wanneer hulle in die herstelde Christengemeente ingebring word of wanneer hulle hulle hemelse beloning ontvang.—3/15, bladsy 22.

• Wie het die kanon bepaal van die boeke waaruit die Christelike Griekse Geskrifte bestaan?

Dit was nie die een of ander kerkkonsilie of godsdiensleier nie. Ware Christene het eerder, onder die leiding van God se heilige gees, die geskrifte wat werklik geïnspireer is, herken. Dit strook met die feit dat een van die wonderdadige gawes van die gees wat in die vroeë dekades van die Christengemeente gegee is, “die onderskeiding van geïnspireerde uitinge” was (1 Kor. 12:4, 10).—4/1, bladsy 28.