Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wend jou oë af van waardelose dinge!

Wend jou oë af van waardelose dinge!

Wend jou oë af van waardelose dinge!

“Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie; hou my in die lewe op u weg.”—PS. 119:37.

1. Hoe belangrik is die gawe van sig?

 HOE kosbaar is ons sig tog! Deur middel daarvan kan ons ons omgewing in ’n oomblik waarneem—in drie dimensies en in kleur. Ons sig stel ons in staat om dierbare vriende of onwelkome gevare te sien. Daardeur kan ons skoonheid waarneem, die wondere van die skepping waardeer en bewyse van God se bestaan en heerlikheid sien (Ps. 8:3, 4; 19:1, 2; 104:24; Rom. 1:20). En omdat sig ’n uiters belangrike kommunikasiekanaal na die verstand is, speel dit ’n groot rol daarin om kennis van Jehovah te verkry en geloof in hom op te bou.—Jos. 1:8; Ps. 1:2, 3.

2. Waarom moet ons besorg wees oor wat ons sien, en wat kan ons leer uit die psalmis se opregte versoek?

2 Maar die dinge waarna ons kyk, kan ook vir ons skadelik wees. Die skakel tussen ons sig en ons verstand is so sterk dat wat ons met ons oë sien, ambisies en begeertes in ons hart kan laat ontstaan of kan versterk. En omdat ons in ’n verdorwe en genotsugtige wêreld lewe waaroor Satan die Duiwel regeer, word ons gebombardeer met beelde en propaganda wat ons maklik kan verlei—al kyk ons net vlugtig daarna (1 Joh. 5:19). Dit is dus geen wonder nie dat die psalmis God gesmeek het: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie; hou my in die lewe op u weg.”—Ps. 119:37.

Hoe ons oë ons kan verlei

3-5. Watter Bybelverslae lig toe hoe gevaarlik dit is om toe te laat dat ons oë ons verlei?

3 Dink aan wat met die eerste vrou, Eva, gebeur het. Satan het te kenne gegee dat haar oë “sekerlik geopen sal word” as sy die vrug van “die boom van die kennis van goed en kwaad” sou eet. Eva was ongetwyfeld nuuskierig oor die gedagte dat haar oë “geopen” sou word. Haar begeerte om die verbode vrug te eet, is verder geprikkel toe sy sien “dat die boom goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is, ja, die boom was begeerlik om na te kyk”. Eva het met verlange na die boom gekyk, en dit het daartoe gelei dat sy ongehoorsaam was aan God se bevel. Haar man, Adam, was ook ongehoorsaam, met rampspoedige gevolge vir die hele mensdom.—Gen. 2:17; 3:2-6; Rom. 5:12; Jak. 1:14, 15.

4 In die dae van Noag is party engele ook beïnvloed deur wat hulle gesien het. Genesis 6:2 verwys na hulle en sê: “Die seuns van die ware God [het] die dogters van die mense begin opmerk, dat hulle mooi is; en hulle het vir hulle vrouens geneem, naamlik almal wat hulle verkies het.” Omdat die opstandige engele met wellus na die dogters van die mense gekyk het, het dit ’n onnatuurlike begeerte na geslagsomgang met mense in hulle opgewek, en daardie engele het gewelddadige nakomelinge verwek. Die slegtheid van die mens in daardie tyd het gelei tot die vernietiging van die hele mensdom, met die uitsondering van Noag en sy gesin.—Gen. 6:4-7, 11, 12.

5 Eeue later het die Israeliet Agan se oë hom verlei sodat hy ’n paar artikels uit die verowerde stad Jerigo gesteel het. God het beveel dat alles in daardie stad vernietig moet word, behalwe sekere dinge wat aan die skatkis van Jehovah gegee moes word. Die Israeliete is gewaarsku: “Bly . . . weg van dit wat aan vernietiging oorgegee is”, sodat daar nie ’n begeerte by hulle sou ontstaan en hulle van die artikels uit die stad neem nie. Toe Agan ongehoorsaam was, het die volk Israel ’n nederlaag gely by die stad Ai, en ’n aantal van hulle het gesneuwel. Agan het nie erken dat hy gesteel het totdat hy aan die kaak gestel is nie. Agan het gesê: “Toe ek [die artikels] sien . . . , wou ek dit hê, en ek het dit geneem.” Die begeerte van sy oë het tot sy vernietiging gelei, saam met “alles wat aan hom behoort” het (Jos. 6:18, 19; 7:1-26). Agan het in sy hart begeer wat vir hom verbode was.

Selfdissipline is belangrik

6, 7. Watter van die “planne” van Satan word dikwels gebruik om ons te verstrik, en hoe maak adverteerders daarvan gebruik?

6 Die mensdom word vandag op ’n soortgelyke manier versoek as Eva, die ongehoorsame engele en Agan. Van al die “planne” wat Satan gebruik om die mensdom te mislei, het dié wat op “die begeerte van die oë” gemik is, die kragtigste uitwerking (2 Kor. 2:11; 1 Joh. 2:16). Hedendaagse adverteerders weet goed dat mense nog altyd beïnvloed word deur wat hulle sien. “Sig is die verleidelikste van al die sintuie”, sê ’n vooraanstaande Europese bemarkingsdeskundige. “Dit oorheers dikwels die ander sintuie en kan ons teen alle logika in oorreed.”

7 Dit is geen wonder nie dat adverteerders ons bombardeer met beelde wat slim ontwerp is om die grootste visuele impak te hê en ’n begeerte na hulle goedere of dienste te wek! ’n Navorser in die Verenigde State wat die uitwerking van advertensies op mense bestudeer het, het gesê dat dit “ontwerp is om nie net kognitiewe inligting oor te dra nie, maar nog belangriker, om spesifieke emosies en dade uit te lok”. Prikkelende seksuele beelde is een vorm wat dikwels gebruik word. “Seks verkoop” is ’n bekende spreekwoord. Hoe belangrik is dit dan dat ons beheer het oor waarna ons kyk en wat ons toelaat om in ons verstand en hart te kom!

8. Hoe beklemtoon die Bybel die belangrikheid daarvan om ons oë te bewaak?

8 Ware Christene is nie immuun teen die begeerte van die oë en van die vlees nie. Daarom spoor God se Woord ons aan om selfdissipline aan die dag te lê ten opsigte van die dinge waarna ons kyk en wat ons begeer. (1 Kor. 9:25, 27; lees 1 Johannes 2:15-17.) Die regskape man Job was iemand wat besef het dat daar ’n sterk verband is tussen wat ons sien en wat ons begeer. Hy het gesê: “’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd?” (Job 31:1). Job het nie net geweier om op ’n onsedelike manier aan ’n vrou te raak nie, maar hy wou nie eers sy verstand toelaat om aan so iets te dink nie. Jesus het beklemtoon dat die verstand rein van onsedelike gedagtes gehou moet word toe hy gesê het: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matt. 5:28.

Waardelose dinge wat vermy moet word

9. (a) Waarom moet ons besonder versigtig wees wanneer ons die Internet gebruik? (b) Wat kan die gevolg wees van selfs vlugtige kontak met pornografie?

9 In vandag se wêreld word dit al hoe algemener om ‘aan te hou kyk’ na pornografie, veral op die Internet. Ons hoef nie na sulke webwerwe te soek nie—hulle soek na ons! Hoe? ’n Advertensie met ’n verleidelike prent kan skielik op jou rekenaarskerm verskyn. Of ’n skynbaar onskuldige e-pos kan, as jy dit oopmaak, skielik ’n pornografiese prent laat verskyn wat so ontwerp is dat dit moeilik is om daarvan ontslae te raak. Al sien ’n mens die beeld net skrams voordat jy daarvan ontslae raak, het dit reeds ’n indruk op jou verstand gemaak. Selfs vlugtige kontak met pornografie kan droewige gevolge hê. Dit kan iemand met ’n skuldige gewete laat en dit vir hom moeilik maak om onsedelike tonele uit sy verstand te wis. Dit is nog erger as iemand opsetlik ‘aanhou kyk’, want hy moet sy ongepaste begeertes doodmaak.—Lees Efesiërs 5:3, 4, 12; Kol. 3:5, 6.

10. Waarom is pornografie veral vir kinders gevaarlik, en wat kan die gevolg wees as hulle daarna kyk?

10 Kinders kan deur hulle natuurlike nuuskierigheid na pornografie aangetrek word. As dit gebeur, kan dit ’n blywende uitwerking op hulle beskouing van seksualiteit hê. Hierdie uitwerking, sê ’n verslag, kan wissel van verwronge seksuele norme tot “probleme met die handhawing van ’n gesonde, liefdevolle verhouding; ’n onrealistiese beskouing van vroue en moontlik verslawing aan pornografie, wat inbreuk kan maak op skoolwerk, vriendskappe en gesinsverhoudings”. Die uitwerking wat dit later op ’n huweliksverhouding kan hê, kan selfs verwoestender wees.

11. Gee ’n voorbeeld wat toelig hoe gevaarlik dit is om na pornografie te kyk.

11 “Van al die verslawings wat ek gehad het voordat ek ’n Getuie geword het, was pornografie verreweg die moeilikste om van los te breek”, het ’n Christenbroer geskryf. “Ek sien nou nog daardie beelde op die vreemdste tye—soms as gevolg van ’n reuk, musiek, iets wat ek sien of selfs ’n toevallige gedagte. Dit is ’n daaglikse en voortdurende stryd.” ’n Ander broer het as kind na sy ongelowige pa se pornografiese tydskrifte gekyk terwyl sy ouers nie tuis was nie. Hy het geskryf: “Wat ’n aaklige uitwerking het daardie prente tog op my jong verstand gehad! Nou nog, 25 jaar later, is van daardie beelde nog steeds in my brein geëts. Al stry ek ook hoe hard, dit is nog altyd daar. Dit laat my skuldig voel, al bly ek nie daaraan dink nie.” Hoe verstandig is dit tog om sulke kwellende gevoelens te vermy deur nie na waardelose dinge te kyk nie! Hoe kan ’n mens dit regkry? Jy moet daarna streef om “elke gedagte in gevangenskap [te bring] om dit aan die Christus gehoorsaam te maak”.—2 Kor. 10:5.

12, 13. Na watter waardelose dinge moet Christene nie kyk nie, en waarom nie?

12 Nog ’n “waardelose” ding wat vermy moet word, is vermaak wat materialisme of die okkulte bevorder of wat geweld, bloedvergieting en doodslag uitbeeld. (Lees Psalm 101:3.) Christenouers het voor Jehovah die verantwoordelikheid om selektief te wees ten opsigte van die materiaal waarna daar in hulle huis gekyk mag word. Geen ware Christen sou natuurlik moedswillig by spiritisme betrokke raak nie. Maar ouers moet bewus wees van rolprente, TV-reekse, videospeletjies en selfs strokiesverhale en kinderboeke wat die aandag op bonatuurlike kragte vestig.—Spr. 22:5.

13 Of ons nou jonk of oud is, ons oë moet geen behae skep in videospeletjies wat geweld en doodslag met bloedige realisme uitbeeld nie. (Lees Psalm 11:5.) Ons moet weier om ons verstand te rig op enige bedrywigheid wat Jehovah veroordeel. Onthou, Satan wil ons gedagtes beïnvloed (2 Kor. 11:3). As ’n mens te veel tyd aan vermaak bestee, selfs dié wat moontlik aanvaarbaar is, kan dit inbreuk maak op gesinsaanbidding, daaglikse Bybellees en ons voorbereiding vir vergaderinge.—Fil. 1:9, 10.

Volg Jesus se voorbeeld

14, 15. Wat is opmerkenswaardig omtrent Satan se derde versoeking van Christus, en hoe kon Jesus dit weerstaan?

14 In hierdie goddelose wêreld kan ons dit ongelukkig nie vermy om party waardelose dinge te sien nie. Dit was selfs die geval met Jesus. In Satan se derde poging om Jesus sover te kry om nie God se wil te doen nie, “het die Duiwel hom saamgeneem na ’n buitengewoon hoë berg en hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys” (Matt. 4:8). Waarom het Satan dit gedoen? Hy wou ongetwyfeld gebruik maak van die kragtige invloed van die oog. ’n Kykie na die heerlikheid van al die wêreld se koninkryke sou Jesus dalk voor ’n begeerte na wêreldse vernaamheid laat swig. Hoe het Jesus gereageer?

15 Jesus het nie op hierdie aanloklike aanbod gefokus nie. Hy het nie toegelaat dat sy hart verkeerde begeertes koester nie. En dit was nie vir hom nodig om die Duiwel se aanbod te oorweeg voordat hy dit verwerp het nie. Jesus het onmiddellik gereageer. “Gaan weg, Satan!” het hy beveel (Matt. 4:10). Jesus het sy aandag op sy verhouding met Jehovah gerig gehou en het geantwoord in ooreenstemming met sy doel in die lewe—naamlik om God se wil te doen (Heb. 10:7). Gevolglik het Jesus Satan se slinkse plan verydel.

16. Watter lesse kan ons leer uit Jesus se voorbeeld toe hy Satan se versoekings weerstaan het?

16 Ons kan baie uit Jesus se voorbeeld leer. Eerstens, niemand is immuun teen Satan se taktiek nie (Matt. 24:24). Tweedens, die dinge waarop ons ons oë vestig, kan die begeertes van ons hart ten goede of ten kwade beïnvloed. Derdens, Satan sal “die begeerte van die oë” soveel uitbuit as wat hy kan in sy poging om ons te verlei (1 Pet. 5:8). En vierdens, ons kan Satan ook teëstaan, veral as ons sonder versuim optree.—Jak. 4:7; 1 Pet. 2:21.

Hou jou oog “eenvoudig”

17. Waarom is dit onverstandig om te wag totdat ons voor iets waardeloos te staan kom voordat ons besluit wat om te doen?

17 Ons toewyding aan Jehovah sluit ’n plegtige belofte in om ons af te wend van wat waardeloos is. Wanneer ons ’n gelofte aflê om God se wil te doen, sê ons saam met die psalmis: “Van elke slegte pad het ek my voete teruggehou, sodat ek u woord kan onderhou” (Ps. 119:101). Dit is onverstandig om te wag totdat ons voor iets waardeloos te staan kom voordat ons besluit wat ons sal doen. Sake wat in die Skrif veroordeel word, is vir ons duidelik gemaak. Ons is nie onkundig omtrent Satan se planne nie. Wanneer is Jesus in die versoeking gebring om klippe in brode te verander? Nadat hy 40 dae en nagte lank gevas het en ‘honger was’ (Matt. 4:1-4). Satan kan sien wanneer ons swak is en dit waarskynliker is dat ons voor versoeking sal swig. Dit is dus nou die tyd om sorgvuldig oor hierdie sake na te dink. Moet dit nie uitstel nie! As ons ons toewydingsgelofte aan Jehovah dag ná dag in gedagte hou, sal ons vasbeslote wees om ons af te wend van wat waardeloos is.—Spr. 1:5; 19:20.

18, 19. (a) Beskryf die kontras tussen ’n oog wat “eenvoudig” is en een wat “goddeloos” is. (b) Waarom is dit belangrik om altyd te bedink wat waardevol is, en watter raad gee Filippense 4:8 in hierdie verband?

18 Ons kom elke dag te staan voor ’n groot verskeidenheid afleidings wat baie aantreklik lyk, en dit word by die dag meer. Dit is dus belangriker as ooit om Jesus se vermaning te volg om ons oog “eenvoudig” te hou (Matt. 6:22, 23). ’n Oog wat “eenvoudig” is, is gefokus op net een doel—naamlik om God se wil te doen. In teenstelling hiermee is ’n oog wat “goddeloos” is, slinks, hebsugtig en word dit aangetrek na dinge wat waardeloos is.

19 Onthou, ons oë voed ons verstand en ons verstand voed ons hart. Hoe belangrik is dit dus dat ons aanhou bedink wat waardevol is. (Lees Filippense 4:8.) Ja, mag ons steeds die gebed van die psalmis beaam: “Wend my oë af, sodat hulle niks sien wat waardeloos is nie.” Dan, terwyl ons daarna streef om in ooreenstemming met daardie gebed op te tree, kan ons die vertroue hê dat Jehovah ‘ons op sy weg in die lewe sal hou’.—Ps. 119:37; Heb. 10:36.

Wat moet ons onthou omtrent . . . 

• die verband tussen ons oë, verstand en hart?

• die gevare daarvan om na pornografie te kyk?

• die belangrikheid daarvan om ons oog “eenvoudig” te hou?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23]

Na watter waardelose dinge moet Christene nie kyk nie?