Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly geestelik sterk terwyl jy vir ’n siek familielid sorg

Bly geestelik sterk terwyl jy vir ’n siek familielid sorg

Bly geestelik sterk terwyl jy vir ’n siek familielid sorg

NADAT ’n gewas naby haar ruggraat gevind is, is Kim, ’n Getuie, met kanker gediagnoseer. a “Nadat die gewas verwyder is”, sê haar man, Steve, “het Kim bestraling en chemoterapie gekry. As ’n newe-effek van die behandeling het sy baie swak geword. Haar vermoë om te beweeg, is ernstig belemmer.”

Kan jy jou Steve se benoudheid voorstel terwyl hy sy geliefde metgesel teen hierdie verswakkende siekte sien stry het? Miskien het jy ’n nabye familielid wat aan ’n degenerasiesiekte of weens die gevolge van die ouderdom ly (Pred. 12:1-7). Indien wel, weet jy dat jy na jouself moet kyk as jy jou geliefde doeltreffend wil versorg. As jy geestelik swak word, kan jou emosionele en fisiese gesondheid ook begin ly en sal jy dalk nie in staat wees om die ondersteuning te voorsien wat jou familielid nodig het nie. Hoe kan jy geestelik gebalanseerd bly terwyl jy vir ’n siek of bejaarde familielid sorg? Is daar enigiets wat ander lede van die Christengemeente kan doen om bedagsaamheid teenoor sulke siekes te toon?

Bly gebalanseerd—Hoe?

Om geestelik gebalanseerd en fisies gesond te bly terwyl jy vir ’n siek familielid sorg, moet jy aanpasbaar wees en vooraf besluit hoe jy jou tyd en energie gaan gebruik. “Wysheid is by die beskeidenes”, sê Spreuke 11:2. In hierdie konteks beteken ‘beskeidenheid’ dat ’n mens bewus is van jou beperkings. Om te sorg dat jy jou nie ooreis nie, moet jy dalk jou rooster en jou verantwoordelikhede ondersoek.

Steve het wysheid en beskeidenheid aan die dag gelê deur sy werklas weer in oënskou te neem. Buiten sy sekulêre werk het hy as die koördineerder van die liggaam van ouer manne en die diensopsiener in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Ierland gedien. Hy was ook ’n lid van die Hospitaalskakelkomitee vir sy gebied. “Kim het nooit gekla dat ek haar afskeep omdat ek te veel aandag aan hierdie verantwoordelikhede gee nie”, sê Steve. “Maar ek het geweet dat ek my ooreis.” Wat het Steve omtrent die saak gedoen? “Ná biddende oorweging”, sê hy, “het ek besluit om uit te tree as die koördineerder. Ek het nog steeds as ’n ouer man gedien, maar omdat ek van my gemeentelike verantwoordelikhede aan ander gegee het, kon ek aan Kim die tyd en aandag gee wat sy nodig gehad het.”

Mettertyd het Kim se gesondheid gestabiliseer. Steve en Kim het weer na hulle situasie gekyk, en met sy vrou se ondersteuning kon Steve weer sy vorige verantwoordelikhede in die gemeente opneem. “Ons het albei geleer om te werk binne die perke wat die siekte stel”, verduidelik Steve. “Ek is baie dankbaar teenoor Jehovah vir sy hulp en teenoor my vrou omdat sy my ondersteun sonder om te kla ten spyte van haar swak gesondheid.”

Kyk ook na die ondervinding van Jerry, ’n reisende opsiener, en sy vrou, Maria. Hulle moes hulle doelwitte aanpas sodat hulle vir hulle bejaarde ouers kon sorg. “Ek en my man het albei die doelwit gehad om as sendelinge in ’n ander land te dien”, sê Maria. “Maar Jerry is ’n enigste kind, en sy ouers het versorging nodig gehad. Daarom het ons besluit om in Ierland te bly om vir hulle te sorg. Deur dit te doen, kon ons altyd byderhand wees toe Jerry se pa voor sy dood in die hospitaal opgeneem is. Nou bly ons elke dag in kontak met Jerry se ma, en as sy hulp nodig het, is ons nie ver nie. Die gemeente waarmee Jerry se ma assosieer, is baie behulpsaam en ondersteunend, wat dit vir ons moontlik maak om in die reisende werk te bly.”

Hoe ander kan help

Toe die apostel Paulus bespreek het watter materiële voorsienings vir die bejaarde weduwees in die gemeente gemaak moet word, het hy geskryf: “As iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.” Paulus het mede-Christene daaraan herinner dat hulle finansieel vir hulle eie bejaarde ouers en grootouers moet sorg as hulle wil hê dat hulle lewenswandel “aangenaam in God se oë” moet wees (1 Tim. 5:4, 8). Maar ander in die gemeente kan en moet praktiese hulp verleen.

Let op die geval van Hakan en Inger, ’n bejaarde egpaar wat in Swede woon. “Toe my vrou met kanker gediagnoseer is”, sê Hakan, “was dit vir ons albei ’n skok. Inger was altyd gesond en sterk. Nou moes ons elke dag hospitaal toe gaan vir behandeling, en die newe-effekte van haar medisyne het haar baie swak laat word. Inger het gedurende hierdie tyd by die huis gebly, en ek moes by haar bly om haar te versorg.” Hoe het die plaaslike gemeente vir Hakan en Inger gehelp?

Die ouer manne in die gemeente het gereël dat die egpaar deur middel van die telefoon by Christelike vergaderinge kon inskakel. Daarbenewens het die broers en susters in kontak gebly deur persoonlike besoeke en telefoonoproepe. Hulle het ook briewe en kaartjies gestuur. “Ons het die ondersteuning van al die broers gevoel, sowel as Jehovah se hulp”, sê Hakan. “Hierdie aandag was vir ons noodsaaklik om geestelik sterk te bly. Ons is dankbaar dat Inger herstel het en dat ons Christelike vergaderinge weer by die Koninkryksaal kan bywoon.” Wanneer gemeentelede doen wat hulle kan om die siekes en bejaardes onder hulle te help, toon hulle dat hulle ‘ware metgeselle is wat te alle tye liefhet en broers is wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is’.—Spr. 17:17.

Jehovah waardeer jou pogings

Dit kan baie veeleisend wees om vir ’n siek familielid te sorg. Maar koning Dawid het geskryf: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe”, soos ’n persoon wat weens siekte hulp nodig het.—Ps. 41:1.

Waarom kan diegene wat omsien na siekes of dié wat ly, gelukkig wees? “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah,” sê Spreuke 19:17, “en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon.” Die ware God toon besondere belangstelling in sy lojale knegte wat siek is, en hy seën dié wat aan hulle guns betoon. Die psalmis Dawid het gesing: “Jehovah sal [so ’n persoon] op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Ps. 41:3). Ons kan seker wees dat Jehovah die persoon wat liefdevolle sorg voorsien, sal help as hý ontberinge of rampspoed verduur.

Hoe goed is dit tog om te weet dat Jehovah God ons pogings om vir ’n siek familielid te sorg, raaksien en goedkeur! Hoewel dit inspanning van ons verg om sulke hulp te verleen, verseker die Skrif ons dat “sulke offerandes . . . vir God welbehaaglik” is.—Heb. 13:16.

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prente op bladsy 18]

Bly geestelik gebalanseerd en aanvaar hulp van ander