Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Broers—Saai met die oog op die gees en streef voorregte na!

Broers—Saai met die oog op die gees en streef voorregte na!

Broers—Saai met die oog op die gees en streef voorregte na!

“Hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe . . . maai.”—GAL. 6:8.

1, 2. Hoe word Matteus 9:37, 38 vervul, en watter behoefte in die gemeentes het dit tot gevolg?

 JY IS ’n ooggetuie van geskiedenis wat gemaak word! ’n Werk waarvan Jesus Christus gepraat het, is in volle gang. “Die oes is groot, maar die werkers is min”, het Jesus gesê. “Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Jehovah God verhoor sulke gebede soos nog nooit tevore nie. Gedurende die 2009-diensjaar het die aantal gemeentes van Jehovah se Getuies wêreldwyd met 2 031 toegeneem, sodat daar nou 105 298 is. Gemiddeld 757 persone is elke dag gedoop!

2 Sulke groei skep ’n behoefte aan bekwame broers om die leiding te neem in onderrigting en herderswerk in die gemeentes (Ef. 4:11). Deur die dekades heen het Jehovah bekwame manne verwek om na die behoeftes van sy skape om te sien, en ons vertrou dat hy dit sal aanhou doen. Die profesie wat in Miga 5:5 opgeteken is, verseker ons dat Jehovah se volk gedurende die laaste dae “sewe herders” en “agt hertoë” sal hê, wat ’n aansienlike aantal bekwame manne verteenwoordig om die leiding onder hulle te neem.

3. Verduidelik wat dit beteken om “met die oog op die gees [te] saai”.

3 Wat kan jou, as ’n man en gedoopte Getuie van Jehovah, help om die begeerte te hê om na diensvoorregte te streef? ’n Sleutelfaktor is dat jy “met die oog op die gees saai” (Gal. 6:8). Dit behels dat jy op ’n manier lewe wat God se heilige gees toelaat om vryelik in jou lewe te werk. Wees vasbeslote om nie ‘met die oog op die vlees te saai’ nie. Moenie toelaat dat dinge soos gerief, ontspanning en vermaak jou begeerte demp om jou in God se diens in te span nie. Alle Christene moet “met die oog op die gees saai”, en mettertyd sal mans wat dit doen, heel moontlik kwalifiseer om voorregte in die gemeente te ontvang. Omdat daar vandag ’n groot behoefte aan bedieningsknegte en ouer manne is, is hierdie artikel spesifiek tot Christenmans gerig. Broers, ons spoor julle dus aan om dit biddend te bestudeer.

Streef na ’n voortreflike werk

4, 5. (a) Na watter voorregte in die gemeente word gedoopte mans aangespoor om te streef? (b) Hoe streef ’n mens na voorregte?

4 ’n Christenman word nie outomaties ’n opsiener nie. Hy moet na hierdie “voortreflike werk” streef (1 Tim. 3:1). Dit sluit in dat hy medegelowiges dien deur opreg besorg te wees oor hulle behoeftes. (Lees Jesaja 32:1, 2.) ’n Man wat met die regte beweegredes na voorregte streef, is nie ambisieus nie. Hy is eerder vervul met ’n onselfsugtige begeerte om ander te help.

5 Iemand wat as ’n bedieningskneg probeer kwalifiseer en na die opsienersamp streef, span hom in om aan die vereistes te voldoen wat in die Skrif opgeteken is (1 Tim. 3:1-10, 12, 13; Tit. 1:5-9). As jy ’n toegewyde man is, vra jou af: ‘Het ek ’n volle aandeel aan die predikingswerk, en help ek ander om ’n volle aandeel daaraan te hê? Bou ek my medeaanbidders op deur opregte belangstelling in hulle welsyn te toon? Het ek die reputasie dat ek ’n goeie student van God se Woord is? Verbeter ek die gehalte van my antwoorde? Voer ek die take wat die ouer manne aan my toevertrou, pligsgetrou uit?’ (2 Tim. 4:5). Sulke vrae verdien ernstige oorweging.

6. Wat is ’n sleutelfaktor om te kan kwalifiseer vir gemeentelike voorregte?

6 ’n Ander manier waarop ’n mens vir gemeentelike verantwoordelikhede kan kwalifiseer, is om “met krag deur middel van [God se] gees sterk gemaak te word in die mens wat [jy] innerlik is” (Ef. 3:16). Om ’n bedieningskneg of ’n ouer man in die Christengemeente te word, beteken nie dat jy in ’n amp verkies is nie. Hierdie voorreg kan alleenlik deur geestelike groei verkry word. Hoe groei ’n mens geestelik? Een manier is om ‘aan te hou om deur gees te wandel’ en die vrug daarvan aan te kweek (Gal. 5:16, 22, 23). Namate jy die geestelike eienskappe openbaar wat nodig is om bykomende voorregte te hanteer en jy raad toepas om te verbeter, sal jou “vooruitgang vir almal duidelik . . . wees”.—1 Tim. 4:15.

’n Selfopofferende gees is nodig

7. Wat behels dit om ander te dien?

7 Om ander te dien, behels harde werk en verg ’n selfopofferende gees. Omdat Christenopsieners geestelike herders is, is hulle baie besorg oor die probleme van die kudde. Let op hoe die apostel Paulus geraak is deur die verantwoordelikhede van sy herderswerk. Hy het vir medegelowiges in Korinte gesê: “Uit groot verdrukking en hartsbeklemming het ek met baie trane aan julle geskryf, nie sodat julle bedroef gemaak sou word nie, maar sodat julle sou weet van die liefde wat ek in die besonder vir julle het” (2 Kor. 2:4). Dit is duidelik dat Paulus hom met hart en siel op sy werk toegelê het.

8, 9. Gee Bybelse voorbeelde wat toon hoe manne na die behoeftes van ander omgesien het.

8 ’n Selfopofferende gees was nog altyd die kenmerk van manne wat ten behoewe van Jehovah se knegte werk. Byvoorbeeld, ons kan ons skaars indink dat Noag vir ander in sy huisgesin sou sê: ‘Laat my weet wanneer die ark klaar gebou is sodat ek by julle kan aansluit.’ Moses het nie vir die Israeliete in Egipte gesê nie: ‘Ek kry julle by die Rooisee. Kyk maar hoe julle daar kan kom.’ Josua het nie gesê nie: ‘Laat my weet wanneer die mure van Jerigo geval het.’ En Jesaja het nie na iemand anders gewys en gesê nie: ‘Daar is hy! Stuur hom.’—Jes. 6:8.

9 Die beste voorbeeld van iemand wat toegelaat het dat God se gees hom aanspoor, is Jesus Christus. Hy het sy toewysing om as die mensdom se Verlosser op te tree, gewillig aanvaar (Joh. 3:16). Behoort Jesus se selfopofferende liefde nie ’n waarderende reaksie by ons uit te lok nie? Toe een ouer man wat al lank dien, sy gevoelens vir die kudde beskryf het, het hy gesê: “Jesus se woorde aan Petrus—hou as herder toesig oor my skapies—raak my diep in my hart. Deur die jare heen het ek al gesien hoe ’n paar liefdevolle woorde of ’n eenvoudige goedhartige daad iemand anders kan opbeur. Herderswerk is iets wat ek terdeë geniet.”—Joh. 21:16.

10. Wat kan Christenmans beweeg om Jesus se voorbeeld na te volg om ander te dien?

10 Waar dit by die kudde van God kom, wil toegewyde manne in die gemeente beslis die gesindheid weerspieël van Jesus, wat gesê het: “Ek sal julle verkwik” (Matt. 11:28). Geloof in God en liefde vir die gemeente beweeg Christenmans om na hierdie voortreflike werk te streef en nie te dink dat die opoffering te groot is of dat dit te veeleisend is nie. Maar sê nou jy het nie eintlik ’n begeerte om na voorregte te streef nie? Kan ’n broer die begeerte aankweek om die gemeente te dien?

Kweek die begeerte aan om te dien

11. Hoe kan ’n mens die begeerte om ander te dien, aankweek?

11 As gevoelens van onbevoegdheid jou daarvan weerhou het om na voorregte te streef, is dit gepas dat jy vir heilige gees bid (Luk. 11:13). Jehovah se gees sal jou help om enige bekommernis wat jy in hierdie verband het, te bowe te kom. Selfs die begeerte om te dien, kom van God, want dit is Jehovah se gees wat ’n broer beweeg om na voorregte te streef en hom dan die krag gee om heilige diens te verrig (Fil. 2:13; 4:13). Dit is dus gepas om Jehovah te vra om jou te help om ’n begeerte aan te kweek om diensvoorregte te aanvaar.—Lees Psalm 25:4, 5.

12. Hoe kan ’n mens genoeg wysheid verkry om die verantwoordelikhede wat aan hom toevertrou word, na te kom?

12 ’n Christen besluit dalk om nie na voorregte te streef nie omdat die behoeftes van die kudde vir hom veeleisend en gekompliseerd lyk. Of hy voel dalk dat hy nie genoeg wysheid het om verantwoordelikhede na te kom nie. As dit die geval is, kan hy moontlik wysheid verkry deur ’n yweriger student van God se Woord en Bybelpublikasies te word. Hy kan hom afvra: ‘Sit ek tyd opsy om God se Woord te bestudeer, en bid ek vir wysheid?’ Die dissipel Jakobus het geskryf: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5). Glo jy hierdie geïnspireerde woorde? In antwoord op Salomo se gebed het God hom “’n wyse hart met begrip” gegee wat hom in staat gestel het om tussen goed en kwaad te onderskei wanneer hy reggespreek het (1 Kon. 3:7-14). Salomo se geval was weliswaar spesiaal. Maar ons kan vertrou dat God die manne aan wie gemeentelike verantwoordelikhede toevertrou word, wysheid sal gee sodat hulle behoorlik vir sy skape sal kan sorg.—Spr. 2:6.

13, 14. (a) Verduidelik hoe Paulus geraak is deur “die liefde wat die Christus het”. (b) Hoe moet “die liefde wat die Christus het”, ons raak?

13 Nog iets wat help om die begeerte aan te wakker om ander te dien, is om diep na te dink oor alles wat Jehovah en sy Seun vir ons gedoen het. Kyk byvoorbeeld na 2 Korintiërs 5:14, 15. (Lees.) Waarom kan ons sê dat “die liefde wat die Christus het, [ons] dring”? Die liefde wat Christus betoon het deur sy lewe ooreenkomstig God se wil ten behoewe van ons af te lê, is so merkwaardig dat ons hart diep geraak word namate ons waardering toeneem. Paulus is deur Christus se liefde gerig. Dit het hom daarvan weerhou om selfsugtig op te tree en hom gehelp om sy oogmerke te bepaal by diens aan God en sy medemens, binne sowel as buite die gemeente.

14 As ons peins oor die liefde wat Christus vir mense het, wek dit dankbaarheid in ons. Gevolglik besef ons dat dit uiters ongepas sal wees as ons aanhou om ‘met die oog op die vlees te saai’ deur selfsugtige doelwitte na te streef en hoofsaaklik te lewe om ons eie begeertes te bevredig. In teenstelling hiermee pas ons ons omstandighede so aan dat ons die werk wat God ons gegee het, eerste stel. Ons word beweeg om ons broers uit liefde ‘soos slawe te dien’. (Lees Galasiërs 5:13.) As ons ons beskou as slawe wat nederig ten behoewe van Jehovah se toegewyde knegte werk, sal ons hulle met waardigheid en respek behandel. Ons sal beslis nie die kritiese, veroordelende gees navolg wat deur Satan bevorder word nie.—Op. 12:10.

’n Gesinspoging

15, 16. Watter rol speel gesinslede as ’n man wil kwalifiseer om as ’n bedieningskneg of ’n ouer man aangestel te word?

15 As ’n broer getroud is en kinders het, word die situasie in sy gesin in aanmerking geneem wanneer daar bepaal word of hy kwalifiseer om ’n bedieningskneg of ’n ouer man te wees. Trouens, die geestelikheid en reputasie van sy gesin hou regstreeks verband met sy aanstelling. Dit onderstreep die belangrikheid van die gesin se rol om die man en vader te ondersteun in sy poging om die gemeente se belange as ’n bedieningskneg of ouer man te dien.—Lees 1 Timoteus 3:4, 5, 12.

16 Jehovah skep behae daarin wanneer die lede van ’n Christengesin met mekaar saamwerk (Ef. 3:14, 15). Dit verg balans vir ’n gesinshoof om gemeentelike verantwoordelikhede na te kom en “goeie leiding” aan sy huisgesin te gee. Daarom is dit noodsaaklik dat ’n ouer man of bedieningskneg die Bybel saam met sy vrou en kinders studeer sodat almal elke week by Gesinsaanbidding kan baat vind. Hy moet gereeld saam met hulle aan die veldbediening deelneem. Dit is dus belangrik dat gesinslede met die pogings van die hoof van die huis saamwerk.

Sal jy weer dien?

17, 18. (a) As ’n broer nie meer aan die vereistes voldoen om in ’n aangestelde posisie te dien nie, wat is dalk nodig? (b) Hoe moet ’n broer wat in die verlede as ’n ouer man of bedieningskneg gedien het, die saak beskou?

17 Dalk was jy vroeër ’n ouer man of bedieningskneg, maar jy dien tans nie in daardie hoedanigheid nie. Jy het Jehovah lief en kan daarvan seker wees dat hy nog altyd oor jou besorg is (1 Pet. 5:6, 7). Is daar vir jou gesê dat jy aanpassings moet maak? Wees bereid om jou tekortkominge te erken en span jou in om dit met God se hulp te bowe te kom. Waak daarteen om bitter te word. Wees verstandig en openbaar ’n positiewe gesindheid. ’n Ouer man wat jare lank gedien het maar sy diensvoorregte verloor het, het gesê: “Ek was vasbeslote om net so gereeld vergaderinge by te woon, velddiens te doen en die Bybel te lees as toe ek ’n ouer man was—’n doelwit wat ek bereik het. Ek het geduld geleer, want ek het gedink dat ek my voorregte binne ’n jaar of twee sou terugkry, maar dit was byna sewe jaar voordat ek weer as ’n ouer man kon dien. Gedurende dié tyd het die aansporing om nie moeg te word nie maar aan te hou om na voorregte te streef, my grootliks gehelp.”

18 As jy ’n broer in die situasie is wat ons nou net beskryf het, moet jy nie mismoedig raak nie. Dink na oor hoe Jehovah jou bediening en jou huisgesin seën. Bou jou gesin geestelik op, besoek die siekes en moedig die swakkes aan. Waardeer bowenal jou voorreg om God te loof en die goeie nuus van die Koninkryk as een van Jehovah se Getuies te verkondig. aPs. 145:1, 2; Jes. 43:10-12.

Kyk met nuwe oë

19, 20. (a) Wat word alle gedoopte mans aangespoor om te doen? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Die behoefte aan opsieners en bedieningsknegte is vandag groter as ooit. Daarom spoor ons alle gedoopte mans aan om met nuwe oë na hulle omstandighede te kyk en hulle af te vra: ‘As ek nie ’n bedieningskneg of ouer man is nie, moet ek die redes ontleed waarom ek nie in hierdie hoedanigheid dien nie?’ Laat God se gees jou help om die regte beskouing van hierdie belangrike saak te kry.

20 Alle lede van die gemeente kan baat vind by die godvrugtige, selfopofferende pogings van hulle medegelowiges. Wanneer ons goedhartige, onselfsugtige dade verrig, maai ons die vreugde wat dit meebring wanneer ons ander dien en met die oog op die gees saai. Maar soos die volgende artikel sal toon, moet ons God se heilige gees nie bedroef nie. Hoe kan dit vermy word?

[Voetnoot]

Hoe sal jy antwoord?

• Waarvan verseker die profesie in Miga 5:5 ons?

• Verduidelik wat ’n selfopofferende gees behels.

• Hoe kan ’n mens die begeerte om ander te dien, aankweek?

• Hoe belangrik is die samewerking van sy gesin as ’n man wil kwalifiseer om as ’n bedieningskneg of ouer man te dien?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 25]

Wat kan jy doen om na voorregte te streef?