Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die vroeë Christelike godsdiens en die gode van Rome

Die vroeë Christelike godsdiens en die gode van Rome

Die vroeë Christelike godsdiens en die gode van Rome

IN ’N brief aan die Romeinse keiser Trajanus het Plinius die Jongere, die goewerneur van Bitinië, gesê: “Dít is wat ek gedoen het met dié wat voor my daarvan aangekla is dat hulle Christene is. Ek het hulle gevra of hulle Christene is, en as hulle dit erken het, het ek hulle ’n tweede en derde keer gevra terwyl ek hulle met straf gedreig het. As hulle daarby gehou het, het ek beveel dat hulle tereggestel word.” Aangaande dié wat die Christelike godsdiens verloën het deur Christus te vloek en ’n standbeeld van die keiser te aanbid sowel as die beelde van die gode wat Plinius in die hof ingebring het, het hy geskryf: “Ek het dit goedgedink om hulle vry te laat.”

Vroeë Christene is vervolg omdat hulle geweier het om die keiser en beelde van verskillende gode te aanbid. Wat van ander godsdienste dwarsdeur die Romeinse Ryk? Watter gode is aanbid, en hoe het die Romeine hulle beskou? Waarom is Christene vervolg omdat hulle geweier het om offerandes aan die gode van Rome te bring? Antwoorde op hierdie vrae sal ons help om soortgelyke kwessies wat vandag in verband met lojaliteit aan Jehovah ontstaan, te hanteer.

Godsdienste van die ryk

Die verskeidenheid gode wat dwarsdeur die Romeinse Ryk aanbid is, was net so groot soos die verskeidenheid tale en kulture daarin. Hoe vreemd Judaïsme ook al vir die Romeine gelyk het, hulle het dit as ’n religio licita, of erkende godsdiens, beskou en dit beskerm. Twee lammers en ’n os is twee keer per dag in die tempel in Jerusalem ten behoewe van die keiser en die Romeinse nasie geoffer. Of hierdie offerandes een god of baie gode gepaai het, was van geen belang vir die Romeine nie. Wat wel vir hulle saak gemaak het, is dat hierdie gebaar genoeg bewys was van Joodse lojaliteit aan Rome.

’n Verskeidenheid vorme van die heidendom is in plaaslike kultusse gesien. Griekse mitologie is oral aanvaar, en waarsêery was algemeen. Sogenaamde misteriegodsdienste uit die Ooste het aanbidders onsterflikheid belowe asook regstreekse openbarings en toegang tot die gode deur middel van mistieke ritusse. Hierdie godsdienste het deur die hele ryk versprei. Gewilde kultusse in die vroeë eeue HJ was dié van die Egiptiese god Serapis en die godin Isis, die Siriese visgodin Atargatis en die Persiese songod Mitra.

Die Bybelboek Handelinge beeld die heidense atmosfeer wat die vroeë Christelike godsdiens omring het, duidelik uit. Byvoorbeeld, die Romeinse prokonsul van Siprus het met ’n Joodse towenaar geassosieer (Hand. 13:6, 7). In Listra het die plaaslike mense Paulus en Barnabas aangesien vir die Griekse gode Hermes en Zeus (Hand. 14:11-13). Toe Paulus in Filippi was, het hy ’n diensmeisie teëgekom wat waarsêery beoefen het (Hand. 16:16-18). In Atene het die apostel gesê dat die inwoners “blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig [was] as ander”. In daardie stad het hy ook ’n altaar gesien met die inskripsie “Aan ’n Onbekende God” (Hand. 17:22, 23). Inwoners van Efese het die godin Artemis aanbid (Hand. 19:1, 23, 24, 34). Op die eiland Malta het mense gesê dat Paulus ’n god is omdat hy niks oorgekom het nadat ’n slang hom gebyt het nie (Hand. 28:3-6). Teen hierdie agtergrond moes Christene waak teen invloede wat hulle rein aanbidding kon besmet.

Romeinse godsdiens

Namate hulle ryk uitgebrei het, het die Romeine nuwe gode wat hulle teëgekom het, aangeneem omdat hulle hulle beskou het as gode wat hulle reeds geken het, maar net in ’n ander vorm. Die Romeinse veroweraars het nie ontslae geraak van ander lande se kultusse nie, maar het dit aangeneem. Rome se godsdiens het dus net so uiteenlopend soos sy multikulturele bevolking geword. Die Romeinse godsdiensgevoel het nie uitsluitlike aanbidding vereis nie. Mense kon ’n hele paar gode tegelykertyd aanbid.

Die vernaamste onder Rome se plaaslike gode was Jupiter, wat Optimus Maximus, die beste en grootste, genoem is. Hy het hom glo in die wind, reën, weerlig en donderweer geopenbaar. Jupiter se suster en vrou, Juno, wat met die maan vereenselwig is, het na hulle mening oor alle aspekte van vroue se lewens gewaak. Sy dogter Minerva was die godin van kunsvlyt, ambagte, die kunste en oorlog.

Die Romeine het ’n skynbaar eindelose hoeveelheid gode gehad. Lare en Penate was huisgode. Vesta was die godin van die haardvuur. Janus met sy twee gesigte was die god van elke begin. Elke ambag het sy beskermgod gehad. Die Romeine het selfs abstrakte konsepte vergoddelik. Pax het vrede bewaar, Salus gesondheid, Pudicitia beskeidenheid en kuisheid, Fides trou, Virtus moed en Voluptas genot. Die Romeine het gedink dat alles wat hulle in hulle openbare en privaat lewe gedoen het, onderworpe was aan die wil van die gode. Om sukses in ’n strewe te verseker, moes die gepaste god dus gepaai word deur middel van rituele gebede, offerandes en feeste.

Een manier om uit te vind wat die wil van die gode was, was om voortekens te soek. Die vernaamste onder hierdie gebruike was om die ingewande van geofferde diere te ondersoek. Hulle het geglo dat die toestand en voorkoms van hierdie organe aangedui het of die gode die voorgenome onderneming goedgekeur of afgekeur het.

Teen die laat tweede eeu VHJ het Rome sy vernaamste gode met Griekse gode geïdentifiseer—Jupiter met Zeus, Juno met Hera, ensovoorts. Die Romeine het ook die mitologie aangeneem wat met die Griekse gode gepaardgegaan het. Hierdie legendes was allermins vleiend vir die gode, wat dieselfde tekortkominge en beperkings as mense gehad het. Zeus is byvoorbeeld uitgebeeld as ’n verkragter en ’n pedofiel wat geslagsomgang met mense en sogenaamde onsterflikes gehad het. Die skaamtelose avonture van die gode—wat dikwels geesdriftig toegejuig is in eertydse teaters—het aanbidders die vryheid gegee om hulle laagste hartstogte te bevredig.

Min geleerde mense het waarskynlik die legendes letterlik opgeneem. Party het dit as sinnebeeldig vertolk. Dit verklaar dalk Pontius Pilatus se beroemde vraag “Wat is waarheid?” (Joh. 18:38). Dit is beskou as verteenwoordigend van “’n algemene gevoel onder beskaafde mense, dat die poging om enigiets met absolute sekerheid oor hierdie dinge vas te stel, tevergeefs is”.

Keiseraanbidding

Tydens die bewind van Augustus (27 VHJ tot 14 HJ) het keiseraanbidding begin. Veral in die Griekssprekende provinsies van die Ooste was baie mense opreg dankbaar teenoor Augustus, wat voorspoed en vrede gebring het ná ’n lang tydperk van oorlog. Mense wou blywende beskerming deur ’n sigbare mag hê. Hulle wou graag ’n instelling hê wat in staat was om godsdiensverskille te bowe te kom, patriotisme te bevorder en die wêreld onder sy “verlosser” te verenig. Gevolglik is goddelike verering aan die keiser gegee.

Hoewel Augustus ander nie toegelaat het om hom ’n god te noem toe hy nog gelewe het nie, het hy daarop aangedring dat Rome verpersoonlik as ’n godin—Roma Dea—aanbid moes word. Augustus is ná sy dood vergoddelik. Plaaslike godsdiensgevoel en patriotisme in die provinsies is dus tot die sentrum van die ryk sowel as die heersers daarvan gerig. Die nuwe keiserkultus, wat spoedig na al die provinsies versprei het, het ’n manier geword om eer en lojaliteit aan die Staat te bewys.

Domitianus, keiser vanaf 81 tot 96 HJ, was die eerste Romeinse heerser wat geëis het dat hy as ’n god aanbid word. Teen sy tyd het die Romeine ’n onderskeid tussen Christene en Jode getref, en hulle het wat hulle as ’n nuwe kultus beskou het, teëgestaan. Dit was waarskynlik gedurende Domitianus se bewind dat die apostel Johannes op die eiland Patmos in ballingskap was omdat hy “van Jesus getuig het”.—Op. 1:9.

Die boek Openbaring is gedurende Johannes se ballingskap geskryf. Daarin verwys hy na Antipas, ’n Christen wat doodgemaak is in Pergamum, ’n vername sentrum van keiseraanbidding (Op. 2:12, 13). Teen dié tyd het die keiserlike regering moontlik begin vereis dat Christene die rituele van die staatsgodsdiens uitvoer. Hoe dit ook al sy, teen 112 HJ het Plinius beveel dat die Christene in Bitinië hierdie rituele uitvoer, soos aangedui is in die brief aan Trajanus wat aan die begin van hierdie bespreking genoem word.

Trajanus het Plinius geprys vir die manier waarop hy die sake wat voor hom gebring is, hanteer het en het opdrag gegee dat Christene wat geweier het om Romeinse gode te aanbid, tereggestel moet word. “Maar”, het Trajanus geskryf, “as die persoon ontken dat hy ’n Christen is, en duidelik toon dat hy nie een is nie deur ons gode aan te roep, laat hom (ondanks enige vorige verdenking) vrygespreek word nadat hy berou getoon het.”

Volgens Romeinse denke was dit onbegryplik dat ’n godsdiens uitsluitlike toegewydheid van sy aanhangers sou vereis. Romeinse gode het dit nie vereis nie, waarom sou die God van die Christene dit dan doen? Na hulle mening het aanbidding van die staatsgode bloot erkenning van die politieke stelsel aangedui. Daarom is weiering om hulle te aanbid, as verraad beskou. Soos Plinius uitgevind het, was daar geen manier om die meeste Christene te dwing om toe te gee nie. Vir hulle sou so ’n daad dui op ontrouheid aan Jehovah, en baie vroeë Christene het verkies om te sterf as om ’n daad van afgodiese keiseraanbidding te verrig.

Waarom behoort dit vandag vir ons van belang te wees? In party lande word daar van burgers verwag om nasionale simbole te vereer. As Christene respekteer ons beslis die gesag van sekulêre regerings (Rom. 13:1). Maar wanneer dit by seremonies kom waarby nasionale vlae betrokke is, beweeg Jehovah God se aandrang op uitsluitlike toegewydheid en die raad van sy Woord ons om te “vlug vir die afgodediens” en ons te “bewaar . . . van afgode” (1 Kor. 10:14; 1 Joh. 5:21; Nah. 1:2). Jesus het gesê: “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig” (Luk. 4:8). Mag ons dus aanhou om lojaal te bly aan die God wat ons aanbid.

[Lokteks op bladsy 5]

Ware Christene gee hulle uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah

[Prente op bladsy 3]

Vroeë Christene het geweier om die keiser of beelde van die gode te aanbid

Keiser Domitianus

Zeus

[Erkennings]

Keiser Domitianus: Todd Bolen/Bible Places.com; Zeus: Photograph by Todd Bolen/Bible Places.com, taken at Archaeological Museum of Istanbul

[Prent op bladsy 4]

Christene in Efese het geweier om die gewilde godin Artemis te aanbid.—Hand. 19:23-41