Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Haran—’n Eertydse miernes van bedrywigheid

Haran—’n Eertydse miernes van bedrywigheid

Haran—’n Eertydse miernes van bedrywigheid

WANNEER mense wat vertroud is met die Skrif, die naam Haran hoor, dink hulle onmiddellik aan die getroue aartsvader Abraham. Op sy reis uit Ur na die land Kanaän het hy en sy vrou, Sara, sowel as sy vader, Tera, en sy broerskind Lot in Haran gebly. Daar het Abraham baie materiële besittings versamel. Ná sy vader se dood het Abraham sy reis voortgesit na die land wat die ware God hom belowe het (Gen. 11:31, 32; 12:4, 5; Hand. 7:2-4). Later het Abraham sy oudste kneg na Haran of ’n nabygeleë gebied gestuur om vir Isak ’n vrou te vind. Abraham se kleinseun Jakob het ook etlike jare lank daar gewoon.—Gen. 24:1-4, 10; 27:42-45; 28:1, 2, 10.

In die ultimatum wat die Assiriese koning Sanherib aan koning Hiskia van Juda gestel het, noem hy Haran onder die “nasies” wat deur die konings van Assirië verower is. Die naam “Haran” het hier nie net na die stad verwys nie, maar ook na die omliggende gebied (2 Kon. 19:11, 12). Esegiël se profesie noem Haran as een van Tirus se vernaamste handelsvennote, wat bevestig dat Haran ’n belangrike handelstad was.—Eseg. 27:1, 2, 23.

Vandag is Haran net ’n klein dorpie naby Şanlıurfa, in Oos-Turkye. Maar daar was ’n tyd toe die eertydse stad Haran ’n ware miernes van bedrywigheid was. Haran is een van baie min eertydse nedersettings wat die naam behou het wat die Bybel daarvoor gebruik. Die Assiriese vorm, Harranu, kan “Pad”of “Karavaanpad” beteken, wat daarop dui dat Haran op vername handelsroetes tussen groter stede geleë was. Inskripsies wat in Haran opgegrawe is, toon dat die moeder van koning Nabonidus van Babilon die hoëpriesteres was by die tempel van Sin, die maangod van Haran. Nabonidus het na bewering hierdie tempel herstel. Daarna het Haran die opkoms en ondergang van verskeie ryke gesien.

Vandag is Haran baie anders as wat dit in die verlede was. Eertydse Haran was ’n hoogs ontwikkelde en belangrike stad, veral gedurende sekere tydperke. Maar hedendaagse Haran is net ’n groepie koepeldakhuise. Dit word omring deur ruïnes van eertydse beskawings. In die nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring, sal baie mense wat vroeër in Haran gewoon het—insluitende Abraham, Sara en Lot—opgewek word. Hulle sal ons heel waarskynlik baie meer kan vertel oor Haran, ’n eertydse miernes van bedrywigheid.

[Prent op bladsy 20]

Ruïnes van Haran

[Prent op bladsy 20]

Koepeldakhuise

[Prent op bladsy 20]

Panoramiese uitsig oor hedendaagse Haran