Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om jou waarnemingsvermoëns te oefen

Hou aan om jou waarnemingsvermoëns te oefen

Hou aan om jou waarnemingsvermoëns te oefen

HOE aangenaam is dit tog om te sien hoe ’n vaardige gimnas grasieuse bewegings rats uitvoer! Die Bybel spoor Christene aan om hulle denkvermoë te oefen soos ’n gimnas sy liggaam oefen.

In sy brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus geskryf: “Vaste voedsel is vir volwasse mense, vir dié wie se waarnemingsvermoëns [lett., “sintuie”] deur gebruik [soos ’n gimnas] geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Heb. 5:14, vtn. in NW). Waarom het Paulus die Hebreeuse Christene vermaan om hulle denkvermoë te oefen soos ’n ervare gimnas sy spiere oefen? Hoe kan ons ons waarnemingsvermoëns oefen?

‘Julle behoort onderrigters te wees’

Toe Paulus Jesus se posisie as “’n hoëpriester volgens die wyse van Melgisedek” verduidelik het, het hy geskryf: “Oor hom [Jesus] het ons baie te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle afgestomp geword het in julle gehoor. Want hoewel julle vanweë die tyd inderdaad onderrigters behoort te wees, het julle weer nodig dat iemand julle van die begin af die elementêre dinge van die heilige verklarings van God moet leer; en julle het mense geword wat melk nodig het, nie vaste voedsel nie.”—Heb. 5:10-12.

Party eerste-eeuse Joodse Christene het klaarblyklik nie gevorder in hulle begrip en het geen geestelike vooruitgang gemaak nie. Byvoorbeeld, dit was vir hulle moeilik om die helderder lig met betrekking tot die Wet en die besnydenis te aanvaar (Hand. 15:1, 2, 27-29; Gal. 2:11-14; 6:12, 13). Party het dit moeilik gevind om tradisionele gebruike agter te laat wat met die weeklikse Sabbat en die jaarlikse Versoendag verband gehou het (Kol. 2:16, 17; Heb. 9:1-14). Daarom het Paulus hulle aangespoor om hulle waarnemingsvermoëns te oefen sodat hulle tussen reg en verkeerd kon onderskei en het hy vir hulle gesê om ‘tot volwassenheid voort te beur’ (Heb. 6:1, 2). Sy vermaning het ongetwyfeld sekere persone beweeg om na te dink oor hoe hulle hulle denkvermoë gebruik en het hulle waarskynlik gehelp om geestelike vooruitgang te maak. Wat van ons?

Oefen jou waarnemingsvermoëns

Hoe kan ons ons denkvermoë oefen sodat ons geestelik volwasse kan word? “Deur gebruik”, het Paulus gesê. Soos gimnaste, wat hulle spiere en liggaam oefen om pragtige en komplekse bewegings uit te voer, moet ons ons denkvermoë oefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.

“Oefening is die heel beste ding wat jy vir jou brein kan doen”, sê John Ratey, ’n kliniese medeprofessor in psigiatrie aan die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit. “Wanneer ons ons brein inspan, vorm die breinselle nuwe dendriete, wat meer sinapse, of kontakpunte, tot gevolg het”, sê Gene Cohen, die direkteur van die Sentrum vir Veroudering, Gesondheid en die Geesteswetenskappe by die George Washington-universiteit.

Dit sal dus verstandig van ons wees om ons denkvermoë te oefen en meer kennis van God se Woord in te neem. Deur dit te doen, sal ons beter toegerus wees om die “volmaakte wil van God” te doen.—Rom. 12:1, 2.

Kweek ’n begeerte aan na “vaste voedsel”

As ons “tot volwassenheid [wil] voortbeur”, moet ons ons afvra: ‘Maak ek vordering in my begrip van Bybelwaarheid? Beskou ander my as ’n geestelik volwasse persoon?’ ’n Ma is tevrede om haar baba melk en babakos te voer terwyl hy nog ’n babatjie is. Maar stel jou voor hoe besorg sy sal wees as die jare verbygaan en die kind nie vaste voedsel eet nie. Ons is eweneens bly wanneer ons iemand met wie ons die Bybel studeer, tot toewyding en doop sien vorder. Maar sê nou die persoon maak daarna geen geestelike vooruitgang nie? Sou dit nie teleurstellend wees nie? (1 Kor. 3:1-4). Die onderrigter hoop dat die nuwe dissipel mettertyd ook ’n onderrigter sal word.

Om ons waarnemingsvermoëns te gebruik om oor sake te redeneer, vereis bepeinsing, en dít verg inspanning (Ps. 1:1-3). Ons moenie toelaat dat afleidings—soos televisiekykery of stokperdjies, wat nie veel verstandelike inspanning verg nie—die plek van betekenisvolle bepeinsing inneem nie. As ons ons denkvermoë wil ontwikkel, moet ons ’n begeerte aankweek om die Bybel en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” te bestudeer en dan daardie begeerte bevredig (Matt. 24:45-47). Benewens ’n gereelde program van persoonlike Bybellees is dit vir ons belangrik om tyd opsy te sit vir Gesinsaanbidding en ’n diep studie van Bybelonderwerpe.

Jerónimo, ’n reisende opsiener in Mexiko, sê dat hy elke nommer van Die Wagtoring bestudeer sodra dit beskikbaar is. Hy sit ook tyd opsy om saam met sy vrou te studeer. Jerónimo sê: “As ’n egpaar het ons die gewoonte om die Bybel elke dag saam te lees, en ons gebruik hulpmiddele soos die ‘Goeie land’-brosjure.” ’n Christen met die naam Ronald vertel dat hy altyd byhou met die gemeentelike Bybellees. Hy het ook een of twee langtermynprojekte vir persoonlike studie. “Dié projekte laat my uitsien na my volgende studieperiode”, sê Ronald.

Wat van ons? Wy ons genoeg tyd aan Bybelstudie en bepeinsing oor die Woord van God? Oefen ons ons denkvermoë en bou ons ondervinding op om volgens skriftuurlike beginsels besluite te neem? (Spr. 2:1-7). Mag ons daarna strewe om geestelik volwasse persone te word, geseën met die kennis en wysheid wat die besitting is van dié wat hulle waarnemingsvermoëns geoefen het om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is!

[Prent op bladsy 23]

Ons oefen ons denkvermoë “deur gebruik”