Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie Jehovah se heilige gees bedroef nie

Moenie Jehovah se heilige gees bedroef nie

Moenie Jehovah se heilige gees bedroef nie

“Moenie God se heilige gees, waarmee julle verseël is . . . , bedroef nie.”—EF. 4:30.

1. Wat het Jehovah vir miljoene mense gedoen, en watter verantwoordelikheid het hulle?

 JEHOVAH het iets spesiaals gedoen vir miljoene mense wat in hierdie wêreld vol probleme lewe. Hy het dit vir hulle moontlik gemaak om na aan hom te kom deur middel van sy enigverwekte Seun, Jesus Christus (Joh. 6:44). Indien jy jou aan God toegewy het en jou toewyding naleef, is jy een van hierdie persone. As iemand wat in die naam van die heilige gees gedoop is, het jy die verantwoordelikheid om in ooreenstemming met daardie gees te handel.—Matt. 28:19.

2. Watter vrae sal ons bespreek?

2 Ons wat “met die oog op die gees saai”, beklee ons met die nuwe persoonlikheid (Gal. 6:8; Ef. 4:17-24). Maar die apostel Paulus vermaan en waarsku ons om God se heilige gees nie te bedroef nie. (Lees Efesiërs 4:25-32.) Ons sal nou die apostel se raad van naderby beskou. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat God se gees nie bedroef moet word nie? Hoe kan iemand wat aan Jehovah toegewy is, so iets doen? En hoe kan ons dit vermy om Jehovah se gees te bedroef?

Wat Paulus bedoel het

3. Hoe sou jy verduidelik wat die woorde beteken wat in Efesiërs 4:30 opgeteken staan?

3 Let in die eerste plek op Paulus se woorde wat in Efesiërs 4:30 opgeteken staan. Hy het geskryf: “Moenie God se heilige gees, waarmee julle verseël is vir ’n dag van bevryding deur ’n losprys, bedroef nie.” Paulus wou nie hê dat sy geliefde medegelowiges hulle geestelikheid in gevaar stel nie. Dit is met Jehovah se gees dat hulle “verseël is vir ’n dag van bevryding deur ’n losprys”. God se heilige gees was en is nog steeds ’n seël, of ’n “pand van wat gaan kom” vir gesalfde handhawers van onkreukbaarheid (2 Kor. 1:22). Die seël dui aan dat hulle God se besitting is en die vooruitsig het op hemelse lewe. Daardie finale verseëldes sal 144 000 tel.—Op. 7:2-4.

4. Waarom is dit belangrik om God se gees nie te bedroef nie?

4 As ’n Christen die gees bedroef, kan dit die eerste stap wees wat lei tot die algehele verlies van die invloed van God se werkende krag in sy lewe. Dat dit moontlik is, blyk uit wat Dawid gesê het nadat hy met Batseba gesondig het. Dawid het Jehovah berouvol gesmeek: “Moet my nie voor u aangesig wegwerp nie; en moet tog nie u heilige gees van my af wegneem nie” (Ps. 51:11). Slegs die gesalfdes wat “tot in die dood getrou” bly, sal die “kroon” van onsterflike lewe in die hemel ontvang (Op. 2:10; 1 Kor. 15:53). Christene met ’n aardse hoop het ook heilige gees nodig as hulle onkreukbaarheid teenoor God wil handhaaf en sy gawe van die lewe op grond van geloof in Christus se losprysoffer wil ontvang (Joh. 3:36; Rom. 5:8; 6:23). Gevolglik moet ons almal daarteen waak om Jehovah se heilige gees te bedroef.

Hoe kan ’n Christen die gees bedroef?

5, 6. Hoe kan ’n Christen Jehovah se gees bedroef?

5 As toegewyde Christene kan ons dit vermy om die gees te bedroef. Dit is moontlik as ons ‘aanhou om deur gees te wandel en te lewe’, want dan sal ons nie deur verkeerde vleeslike begeertes oorweldig word nie en sal ons nie goddelose eienskappe aan die dag lê nie (Gal. 5:16, 25, 26). Maar dit kan verander. Ons kan God se gees in ’n mate bedroef deur toe te laat dat ons stadig, moontlik selfs onbewustelik, al hoe nader dryf aan gedrag wat in God se geesgeïnspireerde Woord veroordeel word.

6 As ons voortdurend teen die leiding van die heilige gees gaan, sal ons dit sowel as Jehovah, die Bron van daardie gees, bedroef. ’n Ondersoek van Efesiërs 4:25-32 sal vir ons wys hoe ons ons moet gedra, en dit kan ons help om God se gees nie te bedroef nie.

Hoe ons dit kan vermy om die gees te bedroef

7, 8. Verduidelik waarom ons eerlik moet wees.

7 Ons moet eerlik wees. Volgens Efesiërs 4:25 het Paulus geskryf: “Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle . . . die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste, want ons is lede wat aan mekaar behoort.” Aangesien ons verenig is as “lede wat aan mekaar behoort”, moet ons beslis nie slinks wees of ons medeaanbidders opsetlik probeer mislei nie, want dit is dieselfde as om vir hulle te lieg. Enigiemand wat in so ’n weg volhard, sal op die ou end geen verhouding met God hê nie.—Lees Spreuke 3:32.

8 Bedrieglike woorde en dade kan die eenheid van die gemeente versteur. Om dié rede moet ons soos die betroubare profeet Daniël wees, in wie ander niks verdorwe kon vind nie (Dan. 6:4). En ons moet Paulus se raad aan Christene met ’n hemelse hoop in gedagte hou, naamlik dat elke lid van “die liggaam van die Christus” aan al die ander behoort en verenig moet bly met Jesus se eerlike gesalfde volgelinge (Ef. 4:11, 12). As ons hoop om vir ewig op die Paradysaarde te lewe, moet ons ook die waarheid praat en sodoende bydra tot die eenheid van ons wêreldwye broederskap.

9. Waarom is dit noodsaaklik dat ons gehoor gee aan Efesiërs 4:26, 27?

9 Ons moet die Duiwel teëstaan en hom geen geleentheid gee om ons geestelik skade aan te doen nie (Jak. 4:7). Heilige gees help ons om Satan te weerstaan. Ons kan dit doen deur byvoorbeeld te waak teen onbeheerste woede. Paulus het geskryf: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Ef. 4:26, 27). As ons wel met reg kwaad word, kan ’n stille gebed op daardie oomblik ons help om “kalm van gees” te wees deur selfbeheersing te openbaar en nie op te tree op ’n manier wat God se gees kan bedroef nie (Spr. 17:27). Laat ons dan nie in ’n ergerlike gemoedstemming bly en Satan ’n kans gee om ons oor te haal om iets goddeloos te doen nie (Ps. 37:8, 9). Een manier om hom te weerstaan, is om geskille gou op te los in ooreenstemming met Jesus se raad.—Matt. 5:23, 24; 18:15-17.

10, 11. Waarom moet ons nie steel of oneerlike dinge doen nie?

10 Ons moenie swig voor enige versoeking om te steel of oneerlik te wees nie. Aangaande diefstal het Paulus geskryf: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Ef. 4:28). As ’n toegewyde Christen steel, sou hy in werklikheid ‘die naam van God skend’ deur dit oneer aan te doen (Spr. 30:7-9). Selfs armoede regverdig nie diefstal nie. Diegene wat God en hulle naaste liefhet, besef dat dit nooit geregverdig is om te steel nie.—Mark. 12:28-31.

11 Paulus sê nie net wat ons nie moet doen nie; hy wys ook op wat ons moet doen. As ons deur heilige gees lewe en wandel, sal ons hard werk sodat ons vir ons gesin kan sorg en ook “iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (1 Tim. 5:8). Jesus en sy apostels het geld opsygesit om die armes te help, maar die verraaier Judas Iskariot het van die geld weggedra (Joh. 12:4-6). Hy is beslis nie deur heilige gees gelei nie. Ons wat deur God se gees gelei word, ‘gedra ons in alles eerlik’, net soos Paulus (Heb. 13:18). So vermy ons dit om Jehovah se heilige gees te bedroef.

Ander maniere waarop ons dit kan vermy om die gees te bedroef

12, 13. (a) Watter soort spraak moet ons vermy, soos Efesiërs 4:29 toon? (b) Hoe behoort ons spraak te wees?

12 Ons moet op ons spraak let. Paulus het gesê: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel” (Ef. 4:29). Die apostel sê weer eens nie bloot wat ons nie moet doen nie; hy sê ook vir ons wat ons moet doen. Onder die invloed van God se gees sal ons beweeg word om te sê ‘wat goed is vir opbouing, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel’. Daarbenewens moet ons nie ’n “slegte woord” uit ons mond laat uitkom nie. Die Griekse woord wat met ‘sleg’ vertaal word, is gebruik om vrot vrugte, vis of vleis te beskryf. Net soos ons afgestoot word deur sulke kos, haat ons spraak wat Jehovah as sleg beskou.

13 Ons spraak moet welvoeglik wees, vriendelik, “smaaklik gemaak met sout” (Kol. 3:8-10; 4:6). Mense moet kan agterkom dat ons anders is wanneer hulle hoor wat ons sê. Laat ons ander dus help deur dinge te sê wat “goed is vir opbouing”. En mag ons voel soos die psalmis wat gesing het: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser.”—Ps. 19:14.

14. Waarvan moet ons volgens Efesiërs 4:30, 31 ontslae raak?

14 Ons moet ontslae raak van bitterheid, gramskap, smadende taal en alle slegtheid. Nadat Paulus gewaarsku dat God se gees nie bedroef moet word nie, het hy geskryf: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid” (Ef. 4:30, 31). As onvolmaakte mense moet ons ons almal inspan om ons gedagtes en dade te beheers. As ons vrye teuels sou gee aan “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap”, sal ons God se gees bedroef. Dit geld ook as ons boekhou van onregte wat teen ons gepleeg word, ’n haatdraende gesindheid openbaar en weier om versoen te word met die persoon wat teen ons oortree het. As ons net begin om die Bybel se raad te ignoreer, kan ons eienskappe ontwikkel wat daartoe kan lei dat ons teen die gees sondig en kan dit vir ons rampspoedige gevolge hê.

15. Wat moet ons doen as ons die een of ander onreg aangedoen word?

15 Ons moet goedhartig, medelydend en vergewensgesind wees. Paulus het geskryf: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Ef. 4:32). Al is ons diep seergemaak deur die een of ander onreg wat ons aangedoen is, laat ons vergewe, soos God vergewe (Luk. 11:4). Sê nou ’n medegelowige het iets negatiefs oor ons gesê? In ’n poging om die saak uit te stryk, nader ons hom. Hy sê dat hy innig spyt is en vra vergifnis. Ons vergewe hom, maar ons moet meer doen. “Jy mag nie wraak neem of ’n wrok koester teen die kinders van jou volk nie”, sê Levitikus 19:18, “en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is Jehovah.”

Waaksaamheid is nodig

16. Gee ’n voorbeeld wat toon dat ons dalk aanpassings moet maak sodat ons Jehovah se gees nie bedroef nie.

16 Selfs wanneer ons alleen is, kan ons in die versoeking kom om iets te doen wat God mishaag. Byvoorbeeld, ’n broer het dalk die gewoonte gehad om na twyfelagtige musiek te luister. Eindelik pla sy gewete hom omdat hy Bybelraad in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” ignoreer (Matt. 24:45). Hy bid moontlik oor hierdie probleem en dink miskien aan Paulus se woorde in Efesiërs 4:30. Vasbeslote om niks te doen wat God se gees sal bedroef nie, neem hy hom voor om van nou af twyfelagtige musiek te vermy. Jehovah sal die gees wat hierdie broer aan die dag lê, seën. Laat ons dus voortdurend daarteen waak om God se gees te bedroef.

17. Wat kan gebeur as ons nie waaksaam is en bly bid nie?

17 Tensy ons waaksaam is en bly bid, kan ons swig voor ’n onrein of verkeerde gebruik waardeur ons die gees bedroef. Omdat die heilige gees eienskappe voortbring wat ons hemelse Vader se persoonlikheid weerspieël, bedroef ons hom wanneer ons die gees bedroef—iets wat ons beslis nie wil doen nie (Ef. 4:30). Eerste-eeuse Joodse skrifgeleerdes het gesondig deur Jesus se wonderwerke aan Satan toe te skryf. (Lees Markus 3:22-30.) Daardie vyande van Christus het ‘teen die heilige gees gelaster’ en sodoende ’n onvergeeflike sonde gepleeg. Mag ons dit nooit doen nie!

18. Hoe weet ons dat ons nie ’n onvergeeflike sonde gepleeg het nie?

18 Aangesien ons so ver as moontlik daarvan wil wegbly om ’n onvergeeflike sonde te pleeg, moet ons onthou wat Paulus daaroor gesê het om die gees nie te bedroef nie. Maar sê nou ons het ernstig oortree? As ons berou getoon het en deur die ouer manne gehelp is, kan ons aanneem dat God ons vergewe het en dat ons nie teen die heilige gees gesondig het nie. Met God se hulp kan ons dit ook vermy om ooit weer iets te doen wat die gees sal bedroef.

19, 20. (a) Wat is van die dinge wat ons moet vermy? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

19 Deur middel van sy heilige gees bevorder God die liefde, vreugde en eenheid van sy volk (Ps. 133:1-3). Ons moet dus nie die gees bedroef deur ons skuldig te maak aan skadelike skinderpraatjies of deur dinge te sê wat respek vir diegene wat geesaangestelde herders is, ondermyn nie (Hand. 20:28; Jud. 8). Ons moet eerder eenheid en respek vir mekaar in die gemeente bevorder. Ons moet beslis nie klieke, of eksklusiewe groepe, onder God se volk vorm nie. Paulus het geskryf: “Ek vermaan julle . . . , broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet praat en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.”—1 Kor. 1:10.

20 Jehovah wil en kan ons help om sy gees nie te bedroef nie. Laat ons aanhou bid vir heilige gees en vasbeslote wees om dit nie te bedroef nie. Mag ons voortgaan om “met die oog op die gees [te] saai” en die leiding daarvan ernstig te soek, nou en tot in ewigheid.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat beteken dit om God se gees te bedroef?

• Hoe kan iemand wat aan Jehovah toegewy is, sy gees bedroef?

• Op watter maniere kan ons dit vermy om die heilige gees te bedroef?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 30]

Stryk geskille gou uit

[Prent op bladsy 31]

Soos watter vrugte is jou spraak?