Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Aangesien Jehovah afgodediens verbied, waarom het hy Aäron nie gestraf omdat hy die goue kalf gemaak het nie?

Toe Aäron die goue kalf gemaak het, soos opgeteken in Eksodus hoofstuk 32, het hy God se wet in verband met afgodediens verbreek (Eks. 20:3-5). As gevolg daarvan het “Jehovah . . . baie vertoornd [op Aäron] geword, sodat hy hom wou verdelg; maar [Moses] het in dié tyd ook vir Aäron smeekbedes gedoen” (Deut. 9:19, 20). Het die smeking van die regverdige man Moses in Aäron se geval “groot krag” gehad? (Jak. 5:16). Ja. Weens hierdie smeekbedes en om ten minste twee ander redes het Jehovah blykbaar Moses se gebed verhoor en Aäron nie gestraf nie.

Een rede het klaarblyklik te doen gehad met Aäron se rekord van getrouheid. Toe Moses die opdrag ontvang het om voor Farao te verskyn en die Israeliete uit Egipte te bring, het Jehovah Aäron aangestel om Moses te vergesel en namens hom te praat (Eks. 4:10-16). Hierdie twee manne het gehoorsaam keer op keer voor die koning van Egipte verskyn en het Farao se hardvogtigheid op sy ergste gesien. Aäron het dus, terwyl hy nog in Egipte was, ’n rekord van lojale, standvastige diens aan Jehovah opgebou.—Eks. 4:21.

Dink ook aan wat daartoe gelei het dat Aäron die goue kalf gemaak het. Moses was 40 dae lank op die berg Sinai. Toe “die volk [sien] dat Moses lank neem om van die berg af te kom”, het hulle Aäron omgepraat om vir hulle ’n afgod te maak. Aäron het ingestem en ’n goue beeld van ’n kalf gemaak (Eks. 32:1-6). Maar Aäron se optrede daarna toon dat sy hart nie met hierdie afgodiese daad was nie. Hy het blykbaar voor druk geswig. Toe Moses byvoorbeeld die kwessie van afgodediens tot ’n dramatiese hoogtepunt gevoer het, het al die seuns van Levi—met inbegrip van Aäron—hulle onwrikbaar aan Jehovah se kant geskaar. Drieduisend afgodedienaars wat die grootste verantwoordelikheid gedra het vir die afgodiese gedrag, is doodgemaak.—Eks. 32:25-29.

Daarna het Moses vir die volk gesê: “Julle het ’n groot sonde begaan” (Eks. 32:30). Aäron was dus nie die enigste een wat ’n mate van die skuld gedra het vir die oortreding nie. Hy sowel as die volk het by Jehovah se groot barmhartigheid baat gevind.

Ná die voorval met die goue kalf het Jehovah beveel dat Aäron as hoëpriester ingehuldig word. “Jy moet vir Aäron die heilige klere aantrek en hom salf en hom heilig,” het God vir Moses gesê, “en so moet hy my as priester dien” (Eks. 40:12, 13). Jehovah het Aäron klaarblyklik vir sy swakheid vergewe. Aäron was in sy hart ’n lojale voorstander van ware aanbidding, nie ’n opstandige afgodedienaar nie.