Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons aan bejaardes eer betoon?

Waarom moet ons aan bejaardes eer betoon?

Waarom moet ons aan bejaardes eer betoon?

LANGS die kus van Kalifornië, VSA, word een van die mees gefotografeerde bome in die wêreld gevind. Dit staan bekend as die Eensame Sipres. Na bewering is hierdie boom meer as 250 jaar oud. Hierdie pragtige, ou boom het al op verskeie maniere aandag gekry. Dit is byvoorbeeld met ondersteunende kabels en met klipwerk onderom die stam verstewig.

Die Eensame Sipres laat ons dalk aan die ouer Christene onder ons dink, wat merkwaardige volharding aan die dag lê. Een uitstekende manier waarop hulle dit doen, is deur die goeie nuus te verkondig. Die profeet Joël het voorspel dat “ou manne” die Bybel se boodskap bekend sou maak (Joël 2:28-32; Hand. 2:16-21). Dink net aan die tallose ure wat hulle daaraan bestee om ander ywerig te help om van die “goeie nuus van die koninkryk” te leer! (Matt. 24:14). Party van hierdie bejaarde Koninkryksverkondigers het jare van vervolging of ander beproewinge verduur. As ’n eenvoudige sipresboom weens sy ouderdom erkenning ontvang en met klipwerk en kabels verstewig word, hoeveel te meer verdien die bejaardes onder ons om erkenning te ontvang en met waardigheid en eer behandel te word!

Jehovah God het sy eertydse volk beveel: “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon” (Lev. 19:32). Onder Jehovah se knegte van vandag vind ons uitstekende voorbeelde van getroues wat al dekades lank ‘met God wandel’ (Miga 6:8). Terwyl hulle aanhou om skriftuurlike beginsels toe te pas, is hulle grysheid inderdaad “’n pragtige kroon”.—Spr. 16:31.

Die apostel Paulus het jong Timoteus die opdrag gegee: “Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie.” Timoteus moes hom eerder “soos ’n vader” en “ouer vroue soos moeders” vermaan (1 Tim. 5:1, 2). Timoteus moes as ’t ware “opstaan” voor grys hare. Dit is dus duidelik dat Jehovah verwag dat ons spraak sulke eer moet weerspieël.

“Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar”, sê Romeine 12:10. Opsieners in die gemeente betoon ongetwyfeld eer aan bejaarde Christene. Maar ons moet almal die leiding neem in eerbetoning aan mekaar.

Familielede het natuurlik ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor hulle ouers en grootouers. In die geval van die Eensame Sipres het mense gesoek na maniere om dit te bewaar, en hulle doen dit nog steeds. Ons moet sekerlik ook soek na maniere om die waardigheid van ons bejaarde ouers en grootouers te bewaar. As ons goeie luisteraars is, sal ons byvoorbeeld nie daarop aandring om dinge op óns manier te doen sonder om hulle gevoelens in ag te neem nie.—Spr. 23:22; 1 Tim. 5:4.

Die bejaardes onder ons is baie kosbaar in Jehovah se oë. Hy verlaat hulle nooit nie (Ps. 71:18). Die ware God versterk hulle in werklikheid om aan te hou om hom getrou te dien. Mag ons ook voortgaan om die bejaardes te ondersteun en eer aan hulle te betoon.

[Prente op bladsy 7]

Soos die Eensame Sipres ondersteun moet word, moet ouer persone met waardigheid en eer behandel word

[Erkenning]

American Spirit Images/age fotostock