Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aangename woorde bevorder goeie verhoudings

Aangename woorde bevorder goeie verhoudings

Aangename woorde bevorder goeie verhoudings

“Laat julle woorde altyd aangenaam wees.”—KOL. 4:6.

1, 2. Watter goeie resultate het ’n broer se aangename woorde gehad?

 “TERWYL ek van deur tot deur gepreek het, het ek ’n man ontmoet wat so kwaad geword het dat sy lippe en sy hele liggaam gebewe het”, vertel een broer. “Ek het kalm uit die Skrif met hom probeer redeneer, maar hy het net kwater geword. Sy vrou en kinders het my ook begin uitskel, en ek het geweet dat dit tyd is om te gaan. Ek het die gesin verseker dat ek in vrede gekom het en in vrede wou gaan. Ek het Galasiërs 5:22 en 23 vir hulle gewys, waar liefde, sagmoedigheid, selfbeheersing en vrede gemeld word. Toe is ek daar weg.

2 “Later, toe ek huise oorkant die straat besoek het, het ek die gesin op die trap voor hulle huis sien sit. Hulle het my nader geroep. ‘Wat nou?’ het ek gedink. Die man het ’n beker koue water gehad en vir my daarvan aangebied. Hy het om verskoning gevra vir sy onbeskoftheid en my geprys vir my sterk geloof. Ons het op goeie voet uitmekaargegaan.”

3. Waarom moet ons nie toelaat dat ander ons laat kwaad word nie?

3 In vandag se wêreld vol druk kan ons dit dikwels, selfs in die bediening, nie vermy om mense te ontmoet wat kwaad is nie. Wanneer dit gebeur, is dit noodsaaklik dat ons “sagmoedigheid en diep respek” aan die dag lê (1 Pet. 3:15). As die broer wat hierbo genoem is, toegelaat het dat die huisbewoner se woede en onvriendelikheid hom laat kwaad word, sou die man se gesindheid heel waarskynlik nie versag het nie; hy sou dalk selfs kwater geword het. Omdat die broer hom beheers het en van aangename woorde gebruik gemaak het, het dinge goed afgeloop.

Wat maak ons woorde aangenaam?

4. Waarom is dit belangrik om aangename woorde te gebruik?

4 Hetsy ons te doen het met diegene buite of binne die gemeente, selfs met gesinslede, dit is baie belangrik dat ons die apostel Paulus se raad volg: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout” (Kol. 4:6). Sulke aangename, gepaste woorde is noodsaaklik vir goeie kommunikasie en vrede.

5. Wat beteken goeie kommunikasie nie? Verduidelik.

5 Goeie kommunikasie beteken nie dat ’n mens alles sê wat jy op enige gegewe oomblik dink en voel nie, veral nie wanneer jy ontsteld is nie. Die Skrif toon dat onbeheerste woede ’n teken van swakheid is, nie van krag nie. (Lees Spreuke 25:28; 29:11.) Moses—“verreweg die sagmoedigste” van al die mense wat destyds geleef het—het eenkeer toegelaat dat die opstandigheid van die nasie Israel hom sy humeur laat verloor en hy het nie aan God die heerlikheid gegee nie. Moses het sy gevoelens baie duidelik gekommunikeer, maar dit het Jehovah nie behaag nie. Nadat Moses die Israeliete 40 jaar lank gelei het, het hy nie die voorreg gehad om hulle in die Beloofde Land in te neem nie.—Num. 12:3; 20:10, 12; Ps. 106:32.

6. Wat beteken dit om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê wanneer ons praat?

6 Die Skrif beveel aan dat ons selfbeheersing en onderskeidingsvermoë, of goeie oordeel, aan die dag lê wanneer ons praat. “In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie, maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op” (Spr. 10:19; 17:27). Maar onderskeidingsvermoë beteken nie dat ons nooit ons gevoelens uitspreek nie. Dit beteken dat ons ‘aangename woorde’ gebruik wanneer ons praat en die tong eerder gebruik om te genees as om seer te maak.—Lees Spreuke 12:18; 18:21.

“’n Tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat”

7. Aan watter soort dinge moet daar nie uiting gegee word nie, en waarom nie?

7 Net soos ons aangename woorde moet gebruik en selfbeheersing aan die dag moet lê wanneer ons met werksmaats of met vreemdelinge in die bediening praat, moet ons dit ook in die gemeente en by die huis doen. Om uiting te gee aan woede sonder om aan die gevolge te dink, kan ernstige skade doen aan ons eie en ander se geestelike, emosionele en fisiese gesondheid (Spr. 18:6, 7). Kwade gevoelens—blyke van ons onvolmaaktheid—moet beheers word. Smadende taal, bespotting, veragting en hatige toorn is verkeerd (Kol. 3:8; Jak. 1:20). Dit kan kosbare verhoudings met ander mense en met Jehovah vernietig. Jesus het geleer: “Elkeen wat toornig bly op sy broer, [sal] aan die geregshof rekenskap . . . moet gee; maar elkeen wat sy broer met ’n onuitspreeklike woord van minagting aanspreek, sal aan die Hoogste Geregshof rekenskap moet gee; terwyl elkeen wat sê: ‘Jou veragtelike dwaas!’ aan die vurige Gehenna blootgestel sal wees.”—Matt. 5:22.

8. Wanneer moet ons ons gevoelens uitspreek, maar hoe moet ons dit doen?

8 Maar daar is party sake waaroor ons dalk voel dat ons moet kommunikeer. As iets wat ’n broer gesê of gedoen het, jou so pla dat jy dit eenvoudig nie kan oorsien nie, moet jy nie toelaat dat hatige gevoelens aan jou hart knaag nie (Spr. 19:11). As iemand jou kwaad maak, moet jy jou emosies onder beheer kry en dan die nodige stappe doen om die saak op te los. Paulus het geskryf: “Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie.” Omdat die probleem jou bly kwel, moet jy dit op ’n gepaste tyd liefdevol aanspreek. (Lees Efesiërs 4:26, 27, 31, 32.) Bespreek die saak reguit maar vriendelik met jou broer met die doel om met hom versoen te raak.—Lev. 19:17; Matt. 18:15.

9. Waarom moet ons ons emosies onder beheer kry voordat ons met ander praat?

9 Jy moet natuurlik die regte tyd kies. Daar is “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:1, 7). Daarbenewens “[dink] die hart van die regverdige . . . na sodat hy kan antwoord” (Spr. 15:28). Dit beteken heel moontlik dat jy moet wag om probleme uit te praat. As ’n mens dit doen wanneer jy nog baie ontsteld is, kan dit sake vererger; maar dit is ook nie verstandig om te lank te wag nie.

Vriendelike dade bevorder goeie verhoudings

10. Hoe kan vriendelike dade verhoudings verbeter?

10 Aangename woorde en goeie kommunikasie help om vreedsame verhoudings aan te knoop en te behou. Trouens, as ons doen wat ons kan om beter verhoudings met ander te hê, kan dit ons kommunikasie met hulle verbeter. Dit kan tot openhartige kommunikasie bydra as ons die inisiatief neem in opregte, goedhartige dade—deur geleenthede te soek waar ons kan help, uit die hart ’n geskenk te gee of gasvryheid te betoon. Dit kan selfs “vurige kole op [’n persoon] hoop” en goeie eienskappe na vore bring, wat dit makliker maak om dinge uit te praat.—Rom. 12:20, 21.

11. Hoe het Jakob die inisiatief geneem met Esau, en met watter gevolg?

11 Die aartsvader Jakob het dit verstaan. Sy tweelingbroer, Esau, was so kwaad vir hom dat hy gevlug het omdat hy bang was dat Esau hom sou doodmaak. Ná baie jare het Jakob teruggekeer. Esau het hom tegemoetgegaan, saam met 400 manne. Jakob het vir Jehovah se hulp gebid. Toe het hy ’n groot geskenk van vee voor hom uitgestuur na Esau. Die geskenk het sy doel bereik. Toe hulle ontmoet het, was Esau se hart reeds sag, en hy het gehardloop en Jakob omhels.—Gen. 27:41-44; 32:6, 11, 13-15; 33:4, 10.

Moedig ander aan met aangename woorde

12. Waarom moet ons aangename woorde gebruik wanneer ons met ons broers praat?

12 Christene dien God, nie ander mense nie. Ons wil nogtans van nature die goedkeuring van ander hê. Ons aangename woorde kan die vrag van ons broers en susters verlig. Maar skerp kritiek kan daardie vrag swaarder laat voel en party selfs laat wonder of hulle Jehovah se goedkeuring verloor het. Laat ons dus op aanmoedigende wyse opreg met ander kommunikeer, “[woorde] wat goed is vir opbouing waar dit nodig is, sodat dit iets gunstigs aan die hoorders kan meedeel”.—Ef. 4:29.

13. Wat moet ouer manne in gedagte hou (a) wanneer hulle raad gee? (b) wanneer hulle briewe skryf?

13 Veral ouer manne moet “teergevoelig” wees en die kudde met teerheid behandel (1 Tess. 2:7, 8). Wanneer ouer manne moet raad gee, is hulle doel om dit “met sagmoedigheid” te doen, selfs wanneer hulle praat met diegene “wat nie gunstiggesind is nie” (2 Tim. 2:24, 25). Ouer manne moet ook aangename woorde gebruik wanneer hulle ’n brief aan ’n ander liggaam van ouer manne of die takkantoor skryf. Hulle moet vriendelik en taktvol wees, in ooreenstemming met wat ons in Matteus 7:12 lees.

Aangename woorde in die gesin

14. Watter vermaning gee Paulus aan mans, en waarom?

14 Dit is maklik om die impak wat ons woorde, gesigsuitdrukkings en lyftaal op ander het, te onderskat. Party mans besef byvoorbeeld moontlik nie ten volle hoe groot die uitwerking van hulle woorde op ’n vrou is nie. Een suster het gesê: “Dit maak my bang wanneer my man op my skreeu as hy vir my kwaad is.” Sterk woorde kan ’n groter uitwerking op ’n vrou hê as op ’n man en kan haar lank bybly (Luk. 2:19). Dit geld veral vir die woorde van iemand vir wie ’n vrou lief is en wat sy wil respekteer. Paulus het mans vermaan: “Hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie.”—Kol. 3:19.

15. Lig toe waarom ’n man sy vrou sagkens moet behandel.

15 In hierdie opsig het ’n ervare getroude broer toegelig waarom ’n man sy vrou sagkens moet behandel, soos “’n swakker vat”. “Wanneer ’n mens ’n kosbare en delikate vaas vashou, moet jy dit nie te styf vashou nie, anders kraak dit dalk. Al word dit herstel, sal ’n mens moontlik nog die kraak kan sien”, het hy gesê. “As ’n man hom te sterk teenoor sy vrou uitdruk, kan hy haar seermaak. Dit kan ’n blywende kraak in hulle verhouding veroorsaak.”—Lees 1 Petrus 3:7.

16. Hoe kan ’n vrou haar gesin opbou?

16 Mans kan ook aangemoedig of ontmoedig word deur die woorde van ander, insluitende dié van hulle vrou. “’n Verstandige vrou”, een in wie haar man werklik ‘vertroue kan stel’, neem sy gevoelens in ag, net soos sy wil hê dat hy hare in ag moet neem (Spr. 19:14; 31:11). Ja, ’n vrou kan ’n groot invloed in die gesin hê, ten goede of ten kwade. “Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou, maar die dwase breek dit met haar eie hande af.”—Spr. 14:1.

17. (a) Hoe moet jongmense met hulle ouers praat? (b) Hoe moet ouer persone met jongmense praat, en waarom?

17 Ouers en kinders moet ook aangename woorde gebruik wanneer hulle met mekaar praat (Matt. 15:4). Wanneer ons met jongmense praat, sal bedagsaamheid ons daarvan weerhou om hulle te “vertoorn” of ‘tot toorn te prikkel’ (Kol. 3:21; Ef. 6:4, vtn. in NW). Selfs as die kinders gedissiplineer moet word, moet ouers en ouer manne met respek met hulle praat. Op hierdie manier kan ouer persone dit vir die jongmense makliker maak om hulle weg reg te stel en hulle verhouding met God te handhaaf. Dit is soveel beter as om die indruk te skep dat ons geen hoop vir hulle het nie, wat hulle op die ou end so oor hulleself kan laat voel. Jonger persone onthou dalk nie al die raad wat hulle gekry het nie, maar hulle sal onthou hoe ander met hulle gepraat het.

Spreek goeie dinge uit die hart

18. Hoe kan ons ontslae raak van skadelike gedagtes en gevoelens?

18 Om woede op ’n bedaarde manier te hanteer, beteken nie dat ’n mens net probeer kalm lyk nie. Ons doelwit moenie net wees om ons sterk gevoelens te onderdruk nie. Om uiterlik kalm te bly terwyl ons innerlik kook van woede, plaas ons onder druk. Dit is soos om ’n motor se rempedaal en die petrolpedaal gelyktydig te trap. Dit plaas die motor onder ekstra druk en kan skade veroorsaak. Moet dus nie woede opkrop en dit later laat uitbars nie. Bid vir Jehovah se hulp om jou hart van kwade gevoelens te bevry. Laat Jehovah se gees jou verstand en hart hervorm sodat dit in ooreenstemming met sy wil sal wees.—Lees Romeine 12:2; Efesiërs 4:23, 24.

19. Watter stappe kan ons help om woedende konfrontasies te vermy?

19 Doen praktiese stappe. As jy jou in ’n gespanne situasie bevind en jy kom agter dat woede in jou opwel, sal dit dalk help as jy wegstap om jou emosies tyd te gee om te bedaar (Spr. 17:14). As die persoon met wie jy praat, begin kwaad word, moet jy ’n groter poging aanwend om aangename woorde te gebruik. Onthou: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spr. 15:1). ’n Bitsige of aggressiewe aanmerking sal olie op die vuur gooi, al sê jy dit in ’n sagte stemtoon (Spr. 26:21). Wanneer ’n situasie jou selfbeheersing beproef, moet jy dus “stadig [wees] om te praat, stadig om toornig te word”. Bid vir Jehovah se gees om jou te help om goeie dinge te sê, nie slegte dinge nie.—Jak. 1:19.

Vergewe uit die hart

20, 21. Wat kan ons help om ander te vergewe, en waarom moet ons dit doen?

20 Ongelukkig het nie een van ons volmaakte beheer oor die tong nie (Jak. 3:2). Al probeer hulle hoe hard om dit nie te doen nie, kan selfs gesinslede of ons dierbare geestelike broers en susters soms iets sê wat ons gevoelens seermaak. Pleks van gou aanstoot te neem, moet ons geduldig ontleed waarom hulle dit dalk gesê het. (Lees Prediker 7:8, 9.) Was hulle onder druk, angstig, het hulle nie goed gevoel nie of het hulle met die een of ander uiterlike of innerlike probleem gesukkel?

21 Sulke faktore is nie ’n verskoning vir uitbarstings nie. Maar as ons die faktore erken, kan dit ons dalk help om te verstaan waarom mense soms dinge sê en doen wat hulle nie moet nie en sal dit ons dalk aanspoor om vergewensgesind te wees. Ons het al almal dinge gesê en gedoen wat ander seergemaak het, en ons hoop dat hulle ons goedgunstiglik sal vergewe (Pred. 7:21, 22). Jesus het gesê dat ons ander moet vergewe as ons God se vergifnis wil ontvang (Matt. 6:14, 15; 18:21, 22, 35). Ons moet dus gou wees om verskoning te vra en gou wees om te vergewe; so sal ons liefde—die “volmaakte band van eenheid”—in ons gesin en in die gemeente behou.—Kol. 3:14.

22. Waarom is dit beslis die moeite werd om aangename woorde te gebruik?

22 Dit sal waarskynlik al hoe moeiliker word om ons vreugde en eenheid te behou namate hierdie woedende teenswoordige stelsel sy einde nader. As ons die praktiese beginsels in God se Woord toepas, sal dit ons help om ons tong ten goede te gebruik, nie ten kwade nie. Ons sal vreedsamer verhoudings in die gemeente en in die gesin geniet, en ons voorbeeld sal ’n uitstekende getuienis oor ons “gelukkige God”, Jehovah, aan ander voorsien.—1 Tim. 1:11.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is dit belangrik om ’n gepaste tyd te kies om probleme te bespreek?

• Waarom moet gesinslede altyd ‘aangename woorde’ gebruik wanneer hulle met mekaar praat?

• Hoe kan ons dit vermy om kwetsende dinge te sê?

• Wat kan ons help om vergewensgesind te wees?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 21]

Laat jou emosies bedaar en vind dan ’n gepaste tyd om te praat

[Prent op bladsy 23]

’n Man moet altyd mooi met sy vrou praat