Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om die gemeente op te bou

Hou aan om die gemeente op te bou

Hou aan om die gemeente op te bou

“Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou.”—1 TESS. 5:11.

1. Watter seëninge geniet diegene in die Christengemeente, maar voor watter uitdagings kom hulle steeds te staan?

 DIT is inderdaad ’n groot seën om ’n lid van die Christengemeente te wees. Jy het ’n goeie verhouding met Jehovah. Jou vertroue op sy Woord as ’n gids beskerm jou teen die slegte gevolge van ’n onchristelike lewenswyse. Jy word omring deur opregte vriende, wat die beste vir jou wil hê. Ja, daar is baie seëninge. Maar die meeste Christene sukkel met probleme van die een of ander aard. Party van hulle het dalk hulp nodig om die dieper dinge van God se Woord te verstaan. Ander is siek of terneergedruk, of hulle dra dalk die gevolge van onwyse besluite. En ons almal moet in ’n goddelose wêreld lewe.

2. Hoe moet ons op ons broers se probleme reageer, en waarom?

2 Nie een van ons hou daarvan om te sien dat mede-Christene ly of sukkel nie. Die apostel Paulus het die gemeente vergelyk met ’n liggaam en gesê: “As een lid ly, ly al die ander lede saam met hom” (1 Kor. 12:12, 26). In sulke omstandighede moet ons ons broers en susters probeer ondersteun. Daar is ’n aantal skriftuurlike verslae waarin gemeentelede ander gehelp het om uitdagings die hoof te bied. Terwyl ons nou hierdie verslae ondersoek, dink aan hoe jy dalk hulp kan aanbied op ’n soortgelyke wyse as wat hier beskryf word. Hoe kan jy jou broers geestelik help en sodoende Jehovah se gemeente opbou?

‘Hulle het hom by hulle geneem’

3, 4. Hoe het Aquila en Priscilla vir Apollos gehelp?

3 Toe Apollos in Efese gaan woon het, was hy reeds ’n ywerige evangeliedienaar. “Aangesien hy gegloei het van die gees,” sê die verslag in Handelinge, “het hy die dinge omtrent Jesus met juistheid gespreek en geleer, hoewel hy net met die doop van Johannes bekend was.” Die feit dat Apollos onbekend was met die doop “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees”, het waarskynlik beteken dat dissipels van Johannes die Doper of Jesus se volgelinge voor Pinkster 33 HJ vir hom getuig het. Hoewel Apollos ywerig was, was daar aansienlike leemtes in sy kennis. Hoe het assosiasie met medegelowiges hom gehelp?—Hand. 1:4, 5; 18:25; Matt. 28:19.

4 Die Christenegpaar Aquila en Priscilla het gehoor hoe Apollos moedig in die sinagoge preek, het hom by hulle geneem en hom verder geleer. (Lees Handelinge 18:24-26.) Dit was ’n liefdevolle daad. Aquila en Priscilla sou Apollos natuurlik op ’n taktvolle en hulpvaardige manier genader het en hom nie laat voel het dat hy gekritiseer word nie. Hy het bloot nie die geskiedenis van die vroeë Christengemeente geken nie. En Apollos was ongetwyfeld dankbaar teenoor sy nuwe metgeselle dat hulle hom omtrent hierdie belangrike besonderhede ingelig het. Toegerus met hierdie inligting het Apollos sy broers in Agaje “grootliks gehelp” en ’n kragtige getuienis gegee.—Hand. 18:27, 28.

5. Watter liefdevolle hulp gee duisende Koninkryksverkondigers, en met watter resultaat?

5 Baie in die Christengemeente van vandag is baie dankbaar teenoor diegene wat hulle gehelp het om die Bybel te verstaan. Talle blywende vriendskappe is tussen studente en hulle onderrigters gesmee. In die meeste gevalle moet gereelde besprekings oor ’n tydperk van etlike maande met mense gehou word om hulle te help om die waarheid te verstaan. Maar Koninkryksverkondigers is bereid om hierdie opoffering te maak omdat hulle besef dat dit ’n kwessie van lewe en dood is (Joh. 17:3). En wat ’n vreugde is dit tog wanneer ons sien dat mense die waarheid begryp, daarvolgens lewe en hulle lewe gebruik om Jehovah se wil te doen!

“Hy is gunstig vermeld”

6, 7. (a) Waarom het Paulus Timoteus as ’n reisgenoot gekies? (b) Watter vordering het Timoteus gemaak danksy die hulp wat hy ontvang het?

6 Toe die apostels Paulus en Silas gedurende die tweede sendingreis Listra besoek het, het hulle daar ’n jong man met die naam Timoteus gevind, wat moontlik in sy laat tiener- of vroeë twintigerjare was. “Hy is gunstig vermeld deur die broers in Listra en Ikonium.” Timoteus se moeder, Eunice, en sy grootmoeder Loïs was toegewyde Christene, maar sy vader was ’n ongelowige (2 Tim. 1:5). Paulus het moontlik ’n paar jaar vroeër op sy eerste besoek aan die gebied met hierdie gesin kennis gemaak. Maar die apostel het nou spesiale belangstelling in Timoteus getoon omdat hy na ’n uitsonderlike jong man gelyk het. Gevolglik het Timoteus, met die goedkeuring van die plaaslike liggaam van ouer manne, ’n helper van Paulus in die sendingwerk geword.—Lees Handelinge 16:1-3.

7 Timoteus kon baie by sy ouer metgesel leer. En hy het ook, in so ’n mate dat Paulus hom mettertyd met vertroue kon stuur om gemeentes te besoek en as sy verteenwoordiger op te tree. In die sowat 15 jaar dat Timoteus met Paulus geassosieer het, het die onervare en dalk skaam jong man so goed gevorder dat hy ’n uitstekende opsiener geword het.—Fil. 2:19-22; 1 Tim. 1:3.

8, 9. Wat kan gemeentelede doen om jongmense aan te moedig? Gee ’n voorbeeld.

8 Vandag het talle jong mans en vroue in die Christengemeente groot potensiaal. As hierdie jongmense deur geestelikgesinde metgeselle aangemoedig en gehelp word om te ontwikkel, kan hulle groter verantwoordelikhede onder Jehovah se volk nastreef en aanvaar. Kyk om jou in julle gemeente! Sien jy enige jongmense daar wat hulle kan beskikbaar stel, soos Timoteus gedoen het? Met jou hulp en aanmoediging word hulle dalk pioniers, Betheliete, sendelinge of reisende opsieners. Wat kan jy doen om hulle te help om sulke doelwitte na te streef?

9 Martin, wat al 20 jaar lank ’n lid van die Bethelgesin is, onthou met dankbaarheid die belangstelling wat ’n kringopsiener 30 jaar gelede in hom getoon het terwyl hulle twee saam velddiens gedoen het. Die opsiener het met geesdrif gepraat oor sy eie diens by Bethel toe hy nog ’n jong man was. Hy het Martin aangemoedig om die moontlikheid te oorweeg om hom ook so aan Jehovah se organisasie beskikbaar te stel. Martin meen dat hierdie onvergeetlike gesprek die keuses wat hy later gemaak het, grootliks beïnvloed het. Wie weet wat jy vir jongmense kan doen deur met hulle oor teokratiese doelwitte te gesels?

“Praat vertroostend met die terneergedrukte siele”

10. Hoe het Epafroditus gevoel, en waarom?

10 Epafroditus het ’n lang, vermoeiende reis van Filippi na Rome onderneem om die apostel Paulus te besoek, wat weens sy geloof in die gevangenis was. Hierdie reisiger was ’n gesant van die Filippense. Hy het nie net hulle geskenk vir die apostel geneem nie, maar was ook van plan om by Paulus te bly sodat hy Paulus soveel moontlik in sy moeilike situasie kon help. Maar terwyl Epafroditus in Rome was, het hy “tot die dood toe siek geword”. Omdat hy gevoel het dat hy in sy sending misluk het, het Epafroditus terneergedruk geword.—Fil. 2:25-27.

11. (a) Waarom moet ons nie verbaas wees as party in die gemeente aan depressie ly nie? (b) Wat het Paulus in Epafroditus se geval aanbeveel?

11 Verskeie vorme van druk veroorsaak vandag dat mense aan depressie ly. Statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie toon dat tot 1 uit 5 van die bevolking op die een of ander tyd in hulle lewe dalk aan depressie sal ly. Jehovah se volk is nie immuun nie. Probleme om vir jou gesin te sorg, swak gesondheid, mismoedigheid weens jou tekortkominge of ander faktore kan daartoe bydra dat jy neerslagtig voel. Wat kon die Filippense doen om Epafroditus te help? Paulus het geskryf: “Verwelkom hom . . . met alle vreugde op die gebruiklike wyse in die Here; en hou sulke manne in eer, want weens die Here se werk het hy baie na aan die dood gekom, deurdat hy sy siel aan gevaar blootgestel het, om ten volle daarvoor te vergoed dat julle nie hier was om persoonlike diens aan my te verrig nie.”—Fil. 2:29, 30.

12. Wat kan ’n bron van vertroosting vir die terneergedruktes wees?

12 Ons moet ook broers wat mismoedig of terneergedruk voel, aanmoedig. Daar is ongetwyfeld positiewe dinge wat ons oor hulle diens aan Jehovah kan sê. Dalk het hulle groot veranderinge in hulle lewe aangebring om Christene te word of aan die voltydse bediening deel te neem. Ons waardeer hulle pogings, en ons kan hulle verseker dat Jehovah dit ook waardeer. Al word party getroues deur bejaardheid of swak gesondheid verhinder om soveel te doen as wat hulle voorheen kon doen, verdien hulle nietemin al ons respek vir hulle jare van diens. Hoe dit ook al sy, Jehovah se aanbeveling aan al sy getroue knegte is: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Tess. 5:14.

‘Vergewe en vertroos hom goedgunstig’

13, 14. (a) Watter ernstige stappe het die gemeente in Korinte gedoen, en waarom? (b) Watter uitwerking het die uitsetting gehad?

13 In die eerste-eeuse gemeente in Korinte was daar ’n man wat onberouvol hoerery beoefen het. Sy gedrag het die reinheid van die gemeente bedreig en het selfs onder ongelowiges opspraak verwek. Daarom het Paulus tereg beveel dat die man uit die gemeente gesit word.—1 Kor. 5:1, 7, 11-13.

14 Dié dissipline het ’n goeie uitwerking gehad. Die gemeente is teen ’n verderflike invloed beskerm, en die sondaar is tot besinning gebring asook tot opregte berou. Op grond van die man se werke wat by berou gepas het, het Paulus in sy tweede brief aan daardie gemeente gesê dat die man herstel moet word. Maar dit is nie al wat nodig was nie. Paulus het ook beveel dat die gemeente die berouvolle sondaar “goedgunstig moet vergewe en vertroos, sodat so iemand nie dalk op die een of ander wyse deur sy oormatige droefheid verswelg word nie”.—Lees 2 Korintiërs 2:5-8.

15. Hoe moet ons berouvolle oortreders wat in die gemeente herstel word, beskou?

15 Wat leer ons uit hierdie verslag? Ons is hartseer wanneer mense uitgesit moet word. Hulle het moontlik God se naam oneer aangedoen en skande oor die gemeente gebring. Hulle het dalk selfs teen ons persoonlik gesondig. Maar wanneer die ouer manne wat aangestel is om die saak te ondersoek, in ooreenstemming met Jehovah se leiding vasstel dat ’n berouvolle sondaar in die gemeente herstel moet word, toon dit dat Jehovah hom vergewe het (Matt. 18:17-20). Moet ons Hom nie probeer navolg nie? Trouens, as ons ongevoelig en onvergewensgesind is, sou dit daarop neerkom dat ons Jehovah teëstaan. As ons wil bydra tot die vrede en eenheid van God se gemeente en Jehovah se goedkeuring wil geniet, moet ons dan nie eerder ‘ons liefde bevestig’ vir sondaars wat waarlik berouvol is en herstel word nie?—Matt. 6:14, 15; Luk. 15:7.

“Hy is vir my nuttig”

16. Waarom was Paulus teleurgesteld in Markus?

16 ’n Ander skriftuurlike verslag toon dat ons nie negatiewe gevoelens moet koester teen dié wat ons teleurgestel het nie. Johannes Markus het byvoorbeeld die apostel Paulus diep teleurgestel. Hoe so? Toe Paulus en Barnabas hulle eerste sendingreis begin het, het Markus saamgegaan om hulle te help. Maar op ’n sekere stadium van hulle reis en om ’n ongenoemde rede het Johannes Markus sy metgeselle verlaat en teruggegaan huis toe. Paulus was so teleurgesteld oor hierdie besluit dat hy, toe ’n tweede sendingreis beplan is, ’n meningsverskil met Barnabas gehad het oor die kwessie of Markus hulle weer moet vergesel. Met die oog op wat gedurende die eerste reis gebeur het, wou Paulus nie hê dat Markus saam met hulle moet gaan nie.—Lees Handelinge 13:1-5, 13; 15:37, 38.

17, 18. Hoe weet ons dat die probleem tussen Paulus en Markus opgelos is, en wat kan ons hieruit leer?

17 Klaarblyklik het Markus nie toegelaat dat hy uitermate mismoedig raak oor Paulus se verwerping nie, want hy het voortgegaan om in ’n ander gebied saam met Barnabas sendingwerk te doen (Hand. 15:39). Wat Paulus ’n paar jaar later oor Markus geskryf het, toon dat hy bewys het dat hy ’n getroue, betroubare persoon is. Paulus, wat toe ’n gevangene in Rome was, het Timoteus per brief laat roep. In dieselfde brief het Paulus gesê: “Neem Markus en bring hom saam met jou, want hy is vir my nuttig om diens te verrig” (2 Tim. 4:11). Ja, Markus het in Paulus se agting gestyg.

18 Ons kan hieruit ’n les leer. Markus het die eienskappe van ’n goeie sendeling aangekweek. Hy het hom nie laat struikel deur Paulus se aanvanklike verwerping nie. Hy sowel as Paulus was geestelike manne, en daar was geen blywende kwade gevoelens tussen hulle nie. Inteendeel, Paulus het Markus later as ’n waardevolle helper beskou. Wanneer broers geskille uitstryk en die probleem opgelos is, is dit dus net reg om aan te beweeg en ander steeds te help om geestelike vooruitgang te maak. ’n Positiewe gesindheid bou die gemeente op.

Die gemeente en jy

19. Hoe kan alle lede van die Christengemeente mekaar help?

19 In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, het jy die hulp van jou broers en susters in die gemeente nodig, en hulle het jou hulp nodig (2 Tim. 3:1). Individuele Christene weet dalk nie altyd hoe om die situasies waarvoor hulle te staan kom, suksesvol te hanteer nie, maar Jehovah weet. En hy kan verskillende lede van die gemeente gebruik—ook vir jou—om ander te help om die regte weg te volg (Jes. 30:20, 21; 32:1, 2). Laat ons dan die apostel Paulus se vermaning ter harte neem! Hou aan “om mekaar te vertroos en mekaar op te bou, net soos julle ook reeds doen”.—1 Tess. 5:11.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom is dit nodig om ander in die Christengemeente op te bou?

• Watter soort probleme kan jy ander help om te bowe te kom?

• Waarom het ons die hulp van ander in ons gemeente nodig?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 11]

Wanneer ’n mede-Christen in ’n moeilike situasie verkeer, kan ons hom ondersteun

[Prent op bladsy 12]

Vandag het talle jong mans en vroue in die Christengemeente groot potensiaal