Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hou aan om die kwaad te oorwin’ deur woede te beheers

‘Hou aan om die kwaad te oorwin’ deur woede te beheers

‘Hou aan om die kwaad te oorwin’ deur woede te beheers

“Moet julle nie wreek nie, geliefdes, . . . maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—ROM. 12:19, 21.

1, 2. Watter goeie voorbeeld het ’n paar Getuiereisigers gestel?

 ’N GROEP van 34 van Jehovah se Getuies was op reis na die toewyding van ’n takkantoor toe meganiese probleme hulle vlug vertraag het. Wat veronderstel was om ’n stop van een uur te wees om brandstof in te neem, het uiteindelik ’n beproewing van 44 uur geword by ’n afgesonderde lughawe sonder genoeg kos, water of toiletgeriewe. Baie passasiers het kwaad geword en die lughawepersoneel gedreig. Maar die broers en susters het kalm gebly.

2 Die Getuies het uiteindelik hulle bestemming bereik, net betyds vir die laaste deel van die toewydingsprogram. Al was hulle moeg, het hulle gebly om met die plaaslike broers te assosieer. Later het hulle gehoor dat hulle voorbeeld van geduld en selfbeheersing nie ongemerk verbygegaan het nie. Een van die ander passasiers het vir die lugredery gesê: “Was dit nie vir die 34 Christene op die vlug nie, sou daar ’n oproer by die lughawe gewees het.”

Die lewe in ’n woedende wêreld

3, 4. (a) Hoe en vir hoe lank al word mense deur gewelddadige woede geteister? (b) Kon Kain sy woede beheers het? Verduidelik.

3 Die druk van die lewe in hierdie teenswoordige goddelose stelsel kan veroorsaak dat mense gedurig kwaad is (Pred. 7:7). Hierdie woede lei dikwels tot haat en selfs tot geweld. Oorloë woed tussen lande en binne landsgrense, terwyl spanning in die gesin konflik selfs tot in baie huise bring. Sulke woede en geweld het ’n lang geskiedenis. Kain, die eerste seun van Adam en Eva, het sy jonger broer Abel uit jaloerse woede doodgemaak. Kain het hierdie bose daad gepleeg al het Jehovah hom aangespoor om sy emosies te beheers en belowe dat hy hom sou seën as hy dit doen.—Lees Genesis 4:6-8.

4 Ten spyte van sy oorgeërfde onvolmaaktheid het Kain ’n keuse gehad in die saak. Hy kon sy woede beheers het. Daarom was hy ten volle aanspreeklik vir sy gewelddaad. Ons onvolmaakte toestand maak dit eweneens vir ons moeiliker om woede en woedende dade te vermy. En ander sterk negatiewe kragte maak hierdie “kritieke tye” nog spanningsvoller (2 Tim. 3:1). Byvoorbeeld, ekonomiese probleme kan druk op ons emosies plaas. Polisie en gesinshulporganisasies verbind krisisse in die finansiële stelsel met ’n toename in woedeuitbarstings en gesinsgeweld.

5, 6. Watter wêreldse gesindheid ten opsigte van woede kan ons beïnvloed?

5 Daarbenewens is baie van die mense met wie ons in aanraking kom, “liefhebbers van hulleself”, “hoogmoedig” en selfs “wreedaardig”. Sulke slegte eienskappe kan ons maklik beïnvloed en woede in ons laat ontstaan (2 Tim. 3:2-5). Trouens, rolprente en TV-programme beeld wraak dikwels uit as edel en geweld as ’n natuurlike en verskoonbare oplossing vir probleme. Tipiese storielyne laat kykers uitsien na die oomblik wanneer die skurk “sy verdiende loon kry”—gewoonlik ’n gewelddadige einde deur die toedoen van die held in die verhaal.

6 Sulke propaganda bevorder nie God se weë nie, maar “die gees van die wêreld” en van sy woedende heerser, Satan (1 Kor. 2:12; Ef. 2:2; Op. 12:12). Hierdie gees is gemik op die bevrediging van die begeertes van die onvolmaakte vlees en is lynreg in stryd met God se heilige gees en die vrug daarvan. Trouens, ’n grondlering van die Christelike godsdiens is om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. (Lees Matteus 5:39, 44, 45.) Hoe kan ons Jesus se leringe dan in voller mate toepas?

Goeie en slegte voorbeelde

7. Wat het gebeur toe Simeon en Levi nie hulle woede beheers het nie?

7 Die Bybel bevat baie raad oor hoe om woede te beheers, asook praktiese voorbeelde van wat kan gebeur wanneer ons dit doen en wanneer ons dit nie doen nie. Dink aan wat gebeur het toe Jakob se seuns Simeon en Levi wraak geneem het op Sigem omdat hy hulle suster Dina onteer het. Hulle “het gekrenk gevoel en hulle het baie kwaad geword” (Gen. 34:7). Daarna het die ander seuns van Jakob Sigem se stad aangeval, dit geplunder en die vroue en kinders gevange geneem. Hulle het dit nie net ter wille van Dina gedoen nie, maar ook omdat dit ’n saak van trots was, omdat hulle aansien verloor het. Hulle het gevoel dat Sigem hulle en hulle vader, Jakob, beledig het. Maar wat het Jakob van hulle gedrag gedink?

8. Wat toon die verslag oor Simeon en Levi oor wraak?

8 Dina se tragiese ondervinding het Jakob beslis diep bedroef, maar hy het sy seuns se wraaksugtige optrede veroordeel. Simeon en Levi het hulle dade nog probeer regverdig deur te sê: “Behoort enigiemand ons suster soos ’n prostituut te behandel?” (Gen. 34:31). Maar dit was nie die einde van die saak nie, want Jehovah was ontevrede daaroor. Baie jare later het Jakob voorspel dat die afstammelinge van Simeon en Levi onder die stamme van Israel verstrooi sou word weens die gewelddadige, woedende dade van hulle voorvaders. (Lees Genesis 49:5-7.) Ja, hulle onbeheerste woede het hulle die onguns van God en hulle vader op die hals gehaal.

9. Wanneer het Dawid byna voor woede geswig?

9 Dit was heeltemal anders met koning Dawid. Hy het baie geleenthede gehad om wraak te neem, maar hy het nie (1 Sam. 24:3-7). By een geleentheid het hy egter byna voor woede geswig. ’n Ryk man met die naam Nabal het Dawid se manne uitgeskel, al het hulle Nabal se kuddes en herders beskerm. Moontlik omdat hy beledig gevoel het, veral namens sy manne, was Dawid op die punt om met geweld te reageer. Terwyl Dawid en sy manne op pad was om Nabal en sy huis aan te val, het ’n jong man vir Abigail, Nabal se verstandige vrou, vertel wat gebeur het en haar gesmeek om iets te doen. Sy het onmiddellik ’n groot geskenk bymekaargemaak en Dawid tegemoetgegaan. Sy het nederig verskoning gevra vir Nabal se onbeskoftheid en het ’n beroep gedoen op Dawid se vrees vir Jehovah. Dawid het tot besinning gekom en gesê: “Mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word.”—1 Sam. 25:2-35.

Die Christelike gesindheid

10. Watter gesindheid moet Christene ten opsigte van wraak aan die dag lê?

10 Wat met Simeon en Levi en tussen Dawid en Abigail gebeur het, toon op onmiskenbare wyse dat Jehovah onbeheerste woede en geweld teëstaan en dat hy pogings om vrede te maak, seën. “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense”, het die apostel Paulus geskryf. “Moet julle nie wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die gramskap; want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’ Maar ‘as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, sal jy vurige kole op sy hoof hoop’. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—Rom. 12:18-21. a

11. Hoe het een suster geleer om woede te hanteer?

11 Ons kan hierdie raad toepas. ’n Suster het byvoorbeeld by ’n ouer man gekla oor haar nuwe bestuurderes by die werk. Sy het haar as onregverdig en onvriendelik beskryf. Sy was kwaad vir die vrou en wou bedank. Die ouer man het haar aangespoor om niks oorhaastig te doen nie. Hy het agtergekom dat die suster se woedende reaksie op die bestuurderes se slegte behandeling die situasie net vererger het (Tit. 3:1-3). Die ouer man het daarop gewys dat sy, al kry sy uiteindelik ’n ander werk, nog steeds die manier waarop sy op slegte behandeling reageer, sal moet verander. Hy het haar aangespoor om die bestuurderes te behandel soos sy behandel wil word, soos Jesus ons geleer het. (Lees Lukas 6:31.) Die suster het ingestem om dit te probeer. Die resultaat? Ná ’n ruk het die bestuurderes se gesindheid versag, en sy het die suster selfs bedank vir haar werk.

12. Waarom kan verskille tussen Christene groot pyn veroorsaak?

12 Dit verbaas ons dalk nie wanneer sulke probleme met iemand buite die Christengemeente ontstaan nie. Ons weet dat die lewe in Satan se stelsel dikwels onregverdig is en dat ons nie moet toelaat dat kwaaddoeners ons vertoorn nie (Ps. 37:1-11; Pred. 8:12, 13; 12:13, 14). Maar wanneer probleme met ’n geestelike broer of suster ontstaan, kan die pyn baie erger wees. Een Getuie het gesê: “My grootste struikelblok toe ek in die waarheid gekom het, was om die feit te aanvaar dat Jehovah se knegte nie volmaak is nie.” Ons het uit ’n koue, ongevoelige wêreld gekom en gehoop dat almal in die Christengemeente mekaar met Christelike goedhartigheid sal behandel. As ’n mede-Christen, veral iemand met voorregte in die gemeente, onbedagsaam is of op ’n onchristelike manier optree, kan dit ons dus seermaak of kwaad laat word. ‘Hoe kan sulke dinge onder Jehovah se volk gebeur?’ vra ons dalk. Sulke dinge het in die dae van die apostels in werklikheid selfs onder gesalfde Christene gebeur (Gal. 2:11-14; 5:15; Jak. 3:14, 15). Hoe moet ons reageer wanneer dit ons raak?

13. Waarom en hoe moet ons ons inspan om verskille te bowe te kom?

13 “Ek het geleer om te bid vir enigiemand wat my seergemaak het”, het die suster wat so pas genoem is, gesê. “Dit help altyd.” Soos ons reeds gelees het, het Jesus ons geleer om te bid vir diegene wat ons vervolg (Matt. 5:44). Hoeveel te meer moet ons vir ons geestelike broers en susters bid! Net soos ’n vader wil hê dat sy kinders mekaar moet liefhê, wil Jehovah ook hê dat sy knegte op die aarde goed met mekaar moet klaarkom. Ons sien daarna uit om vir ewig in vrede en geluk saam te lewe, en Jehovah leer ons om dit nou te doen. Hy wil hê dat ons moet saamwerk om sy groot werk uit te voer. Laat ons probleme dus probeer uitstryk of oortredings bloot ‘oorsien’ en saam vooruitgaan. (Lees Spreuke 19:11.) In plaas daarvan om ons van ons broers af te sonder wanneer probleme ontstaan, moet ons mekaar help om onder God se volk te bly, veilig in Jehovah se “ewige arms”.—Deut. 33:27, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Teerheid teenoor almal bring goeie resultate mee

14. Hoe kan ons Satan se verdelende invloed teëwerk?

14 Om ons te keer om die goeie nuus te versprei, wend Satan en die demone ’n daadwerklike poging aan om gelukkige gesinne en gemeentes te ontwrig. Hulle probeer onmin saai omdat hulle weet dat interne verdeeldheid vernietigend is (Matt. 12:25). Om hulle bose invloed teë te werk, sal dit goed wees as ons Paulus se raad volg: “’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie, maar moet teer wees teenoor almal” (2 Tim. 2:24). Onthou dat ons stryd “nie teen bloed en vlees [is] nie, maar . . . teen die bose geesmagte”. As ons suksesvol wil wees in hierdie stryd, moet ons van die geestelike wapenrusting gebruik maak, wat “die toerusting van die goeie nuus van vrede” insluit.—Ef. 6:12-18.

15. Hoe moet ons reageer op aanvalle van buite die gemeente?

15 Van buite die gemeente maak Jehovah se vyande wrede aanvalle op sy vreedsame volk. Party van hierdie vyande rand Jehovah se Getuies fisies aan. Ander belaster ons in die pers of in die hof. Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle dit kan verwag (Matt. 5:11, 12). Hoe moet ons daarop reageer? Ons moet nooit, in woord of in daad, “kwaad vir kwaad vergeld” nie.—Rom. 12:17; lees 1 Petrus 3:16.

16, 17. Voor watter moeilike situasie het een gemeente te staan gekom?

16 Ongeag wat die Duiwel oor ons bring, ons kan ’n goeie getuienis gee deur “die kwaad met die goeie te oorwin”. Byvoorbeeld, ’n gemeente op een eiland in die Stille Oseaan het ’n saal vir die Gedenkmaal gehuur. Toe plaaslike kerkamptenare daarvan hoor, het hulle vir hulle lidmate gesê om op die tyd wat vir ons vergadering gereël is, in daardie saal te vergader vir ’n kerkdiens. Die polisiehoof het die kerkamptenare egter beveel om die saal teen daardie tyd vir die Getuies beskikbaar te stel. Maar toe die tyd aanbreek, was die saal vol kerklidmate en het hulle diens begin.

17 Terwyl die polisie hulle gereedgemaak het om die saal met geweld te ontruim, het die kerkvoog na een van ons ouer manne toe gekom en gevra: “Het julle iets spesiaals vir vanaand beplan?” Die broer het hom van die Gedenkmaal vertel, en die man het geantwoord: “O, ek het nie geweet nie!” Daarop het ’n polisieman uitgeroep: “Maar ons het julle vanoggend daarvan vertel!” Die kerkleier het na die ouer man gedraai en met ’n geveinsde glimlag gesê: “Wat gaan julle nou doen? Ons het ’n saal vol mense. Gaan julle die polisie ons laat uitjaag?” Hy het sake op geslepe wyse gemanipuleer sodat die Getuies soos die vervolgers sou lyk! Hoe sou ons broers reageer?

18. Hoe het die broers op die situasie gereageer, en met watter gevolg?

18 Die Getuies het aangebied om die kerk toe te laat om ’n halfuur lange diens te hou, waarna die broers met die Gedenkmaal sou voortgaan. Die kerkdiens het die tydgrens oorskry, maar nadat die kerklidmate die saal verlaat het, is die Gedenkmaal gehou. Die volgende dag het die regering ’n amptelike kommissie van ondersoek byeengeroep. Nadat die feite ondersoek is, het die kommissie die kerk verplig om aan te kondig dat die probleem nie deur die Getuies veroorsaak is nie, maar deur die kerkvoog. Die kommissie het Jehovah se Getuies ook bedank vir hulle geduldige hantering van ’n moeilike situasie. Die Getuies se pogings om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees, het goeie vrugte afgewerp.

19. Wat anders kan vreedsame verhoudings bevorder?

19 Nog ’n sleutel om vreedsame verhoudings met ander te bewaar, is om aangename woorde te gebruik. Die volgende artikel sal bespreek wat aangename woorde behels en hoe ons kan leer om dit te gebruik.

[Voetnoot]

a “Vurige kole” is ’n verwysing na ’n ou metode om erts te smelt deur dit van bo en onder te verhit om die metaal te onttrek. As ons vriendelik is met dié wat onvriendelik is, kan dit hulle gesindheid versag en hulle beter eienskappe na vore laat kom.

Kan jy verduidelik?

• Waarom is mense in die wêreld vandag gedurig kwaad?

• Watter Bybelse voorbeelde toon wat die gevolge is wanneer woede beheers word of nie beheers word nie?

• Hoe moet ons reageer as ’n mede-Christen ons seermaak?

• Hoe moet ons op aanvalle van buite die gemeente reageer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 16]

Simeon en Levi keer terug nadat hulle voor woede geswig het

[Prente op bladsy 18]

Goedhartigheid kan die gesindheid van ander versag