Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verenig in liefde—Verslag oor die jaarvergadering

Verenig in liefde—Verslag oor die jaarvergadering

Verenig in liefde—Verslag oor die jaarvergadering

DIE opgewondenheid by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, VSA, was byna tasbaar. Op die oggend van 3 Oktober 2009 het meer as 5 000 vergader vir die 125ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. Duisende ander het na die program geluister of gekyk deur middel van oudio-/videoverbinding met die drie Bethelkomplekse in die Verenigde State en die Bethel in Kanada. Altesaam 13 235 het die drie uur lange vergadering geniet, verenig in hulle liefde vir Jehovah.

Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam het as voorsitter gedien. Hy het die program geopen deur aan te kondig dat ’n koor van Betheliete liedere uit ons nuwe liedereboek gaan sing. David Splane, ook ’n lid van die Bestuursliggaam, wat die koor gelei het, het kortliks die belangrikheid van musiek in rein aanbidding bespreek. Die gehoor is toe genooi om drie nuwe liedere by die vergadering te sing; eers het die koor dit gesing, en daarna het die koor en die gehoor dit saam gesing. Die gebruik van ’n koor was net vir hierdie spesiale geleentheid; dit moenie beskou word as ’n voorbeeld wat gemeentes, kringe of streke moet volg nie.

Verslae van takkantore

Besoekende Takkomiteelede het verslae oor vyf takke gegee. Kenneth Little het genoem dat Kanada binnekort die meeste van die tydskrifte vir die Verenigde State en Kanada sal begin druk, wat tot ’n tienvoudige toename in produksie by daardie takkantoor sal lei. Om dit te kan doen, sal ’n drukpers wat onlangs aangekoop is, twee skofte van altesaam 16 uur per dag werk.

Reiner Thompson het verslag gedoen oor die Koninkrykswerk in die Dominikaanse Republiek, en Albert Olih het oor ons werk in Nigerië gepraat. Emile Kritzinger van Mosambiek het verduidelik dat Jehovah se Getuies, ná dekades van vervolging in daardie land, in 1992 geregistreer is. Al drie lande het onlangs groot vermeerderings in die aantal verkondigers gehad. Viv Mouritz van die Australiese takkantoor het vertel van die ontwikkelinge in Oos-Timor, wat onder die toesig van die broers in Australië is.

Die Bestuursliggaam se komitees

In 1976 is al die bedrywighede van Jehovah se Getuies onder die toesig van die ses komitees van die Bestuursliggaam gebring. Later is lede van die ‘ander skape’-klas as helpers aangestel. Nou help 23 met die werk. ’n Onderhoud is met ses van hulle gevoer. Hulle het altesaam 341 jaar in die voltydse diens deurgebring—gemiddeld 57 jaar elk.

Don Adams, wat in 1943 Bethel toe gekom het, het verduidelik dat die Koördineerderskomitee uit die koördineerders van die ander vyf komitees bestaan, wat verseker dat al vyf goed saam werk. Hierdie komitee reageer op groot noodgevalle, vervolging, hofsake, rampe en ander dringende sake wat Jehovah se Getuies regoor die wêreld raak.

Dan Molchan het die werk van die Personeelkomitee beskryf, wat toesig hou oor die geestelike en fisiese welsyn van die 19 851 Betheliete regoor die wêreld. David Sinclair het vertel hoe die Uitgewerskomitee toesig hou oor die aankoop van voorraad en toerusting vir die takkantore. Daarna het Robert Wallen, wat al byna 60 jaar lank by Bethel dien, verduidelik hoe die Dienskomitee oor die bedrywighede van Jehovah se volk in die veld en in die gemeentes toesig hou. William Malenfant het ’n oorsig gegee van die harde werk wat die Onderrigtingskomitee doen om ’n streekbyeenkomsprogram voor te berei. Laastens het John Wischuk vertel hoe die Skryfkomitee toesig hou oor die sorgvuldige voorbereiding en samestelling van die materiaal vir ons publikasies. a

Die jaarteks vir 2010 vestig die aandag op liefde

Die volgende drie toesprake is deur lede van die Bestuursliggaam gehou. Gerrit Lösch het begin met die vraag: “Wil jy hê dat ander jou moet liefhê?” Liefde is ’n basiese behoefte van die mens, het hy verduidelik, en ons almal floreer daarop. Ons het ons bestaan aan liefde te danke, want Jehovah het ons uit onselfsugtige liefde geskep. Die vernaamste beweegrede vir ons predikings- en onderrigtingswerk is liefde vir Jehovah.

Liefde wat op beginsels gegrond is, word nie net aan ons naaste betoon nie, maar ook aan ons vyande (Matt. 5:43-45). Die gehoor is aangemoedig om na te dink oor wat Jesus vir ons deurgemaak het toe daar op hom gespoeg is, toe hy gegesel, bespot en deurboor is. Ten spyte hiervan het hy gebid vir die soldate wat hom aan die paal gehang het. Vergroot dit nie ons liefde vir hom nie? Toe het broer Lösch die jaarteks vir 2010 aangekondig: 1 Korintiërs 13:7, 8, ‘Die liefde verduur alles. Die liefde faal nooit nie.’ Ons het nie net die vooruitsig om vir ewig te lewe nie, maar ook om vir ewig liefde te gee en te ontvang.

Is jou tenk amper leeg?

Samuel Herd het sy toespraak met ’n illustrasie begin. Gestel ’n vriend laai jou op om op ’n 50 kilometer lange reis te gaan. Terwyl jy in die passasiersitplek sit, sien jy dat die brandstofmeter aandui dat die tenk amper leeg is. Jy sê vir jou vriend dat die brandstof amper op is. Hy sê dat jy jou nie daaroor moet bekommer nie, want daar is nog sowat vier liter in die tenk. Maar kort voor lank raak die brandstof op. Is dit die moeite werd om met ’n tenk te ry wat amper leeg is en die risiko te loop om langs die pad te gaan staan? Hoeveel beter is dit tog om die tenk vol te hou! Figuurlik gesproke moet ons ons tenk volhou, en die brandstof is ons kennis van Jehovah.

Om dié rede moet ons gereeld brandstof inneem. Ons doen dit op vier maniere. Eerstens, persoonlike studie, om vertroud te raak met die Bybel deur dit elke dag te lees. Ons moenie net woorde lees nie; ons moet verstaan wat ons lees. Tweedens, deur goed gebruik te maak van ons aand vir Gesinsaanbidding. Maak ons elke week ons tenk vol of gooi ons net ’n bietjie brandstof in? Derdens, gemeentelike studie en vergaderingbywoning. Vierdens, stille, ongestoorde bepeinsing, waartydens ons nadink oor Jehovah se weë. Psalm 143:5 sê: “Ek het gedink aan dae van lank gelede; ek het gepeins oor al u dade.”

‘Die regverdiges sal skyn’

John Barr het die derde en laaste toespraak gehou, wat Jesus se illustrasie van die koring en die onkruid verduidelik het (Matt. 13:24-30, 38, 43). Hierdie illustrasie verwys na ’n “oes” waartydens “die kinders van die koninkryk” ingesamel word en die onkruid bymekaargemaak word om verbrand te word.

Broer Barr het dit duidelik gemaak dat die insameling nie vir altyd sou voortduur nie. Hy het na Matteus 24:34 verwys, wat sê: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.” Hy het die volgende stelling twee keer gelees: “Jesus het klaarblyklik bedoel dat die lewens van die gesalfdes wat daar was toe die teken in 1914 begin duidelik word het, sou oorvleuel met die lewens van ander gesalfdes wat die begin van die groot verdrukking sal sien.” Ons weet nie presies hoe lank “hierdie geslag” is nie, maar dit sluit hierdie twee groepe in wie se lewens oorvleuel. Hoewel die gesalfdes uit verskillende ouderdomsgroepe is, is diegene in die twee groepe wat die geslag uitmaak, tydgenote gedurende ’n deel van die laaste dae. Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat die jonger gesalfde tydgenote van hierdie ouer gesalfdes wat die teken onderskei het toe dit in 1914 begin duidelik word het, nie almal sal sterf voordat die groot verdrukking begin nie!

“Die kinders van die koninkryk” wag gretig op hulle hemelse beloning, maar almal van ons moet getrou bly en aanhou om tot die einde toe helder te skyn. Wat ’n voorreg het ons tog om die insameling van die “koring” in ons tyd te sien.

Ná die laaste lied het Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam die slotgebed gedoen. Wat ’n opbouende program was die jaarvergadering tog!

[Voetnoot]

a Vir ’n beskrywing van die werk van die Bestuursliggaam se ses komitees, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2008, bladsy 29.

[Venster op bladsy 5]

SKOOL VIR OUER MANNE

By die jaarvergadering het Anthony Morris, ’n lid van die Bestuursliggaam, aangekondig dat daar voortgesette opleiding vir gemeentelike ouer manne sal wees. ’n Skool vir ouer manne van die Verenigde State het vroeg in 2008 by die onderrigsentrum by Patterson, New York, begin. Die 72ste klas het pas geëindig, en 6 720 ouer manne is tot dusver al opgelei. Daar is nog baie om te doen. In die Verenigde State alleen is daar meer as 86 000 ouer manne. Daarom het die Bestuursliggaam goedgekeur dat ’n bykomende skool vanaf 7 Desember 2009 in Brooklyn, New York, gehou word.

Vier reisende opsieners sou twee maande lank as instrukteurs by Patterson opgelei word. Hulle sou dan na Brooklyn gaan om daar klas te gee, en nog vier sou opgelei word. Daarna sou hulle die skool in Brooklyn behartig, en die oorspronklike vier sou die skool in Byeenkomssale en Koninkryksale hou. Dit sou herhaal word totdat daar 12 instrukteurs is wat elke week ses skole in Engels in die Verenigde State hou. Vier instrukteurs sou dan opgelei word om in Spaans klas te gee. Hierdie skool sal nie die huidige Koninkryksbedieningskool vervang nie; die doel daarvan is om ouer manne se geestelikheid op te bou. Takkantore regoor die wêreld sal gedurende die 2011-diensjaar skole by Byeenkomssale en Koninkryksale begin hou.

[Prente op bladsy 4]

Die jaarvergadering is geopen met liedere wat uit ons nuwe liedereboek, “Sing vir Jehovah”, gesing is