Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind sekuriteit onder God se volk

Vind sekuriteit onder God se volk

Vind sekuriteit onder God se volk

“Ek sal u in die groot gemeente prys.”—PS. 35:18.

1-3. (a) Wat kan party Christene in ’n geestelik gevaarlike situasie laat beland? (b) Waar kan God se volk beskerming vind?

 TERWYL Joe en sy vrou met vakansie was, het hulle gesnorkel op ’n tropiese koraalrif wat gewemel het van visse van alle kleure en groottes. Hulle het ’n bietjie dieper in geswem om die rif te bewonder. Toe die seebodem skielik tot ’n peillose blou diepte wegval, het Joe se vrou gesê: “Ek dink ons gaan te ver.” “Ontspan”, het Joe geantwoord. “Ek weet wat ek doen.” Joe onthou dat hy kort daarna gewonder het: ‘Wat het van al die visse geword?’ Met ’n skok het hy gesien waarom daar geen visse was nie. Uit die dieptes het ’n haai reguit op hom afgepyl. Daar was geen uitkomkans nie. Toe die haai net sowat ’n meter van hom af was, het dit weggedraai en verdwyn.

2 ’n Christen kan so betower word deur die verloklikhede van Satan se stelsel van dinge—vermaak, werk, besittings—dat hy nie besef dat hy al hoe dieper in gevaarlike waters inbeweeg nie. “My ondervinding het my laat dink aan die vriende met wie ons assosieer”, sê Joe, wat ’n Christen- ouer man is. “Swem waar dit veilig en aangenaam is—in die gemeente!” Moenie tot in diep water swem, waar jy jou geestelik afgesonderd en in gevaar kan bevind nie. As jy jou ooit daar bevind, moet jy onmiddellik na ‘veilige water’ terugdraai. Anders loop jy dalk die gevaar om geestelik verslind te word.

3 Vandag is die wêreld ’n gevaarlike plek vir Christene (2 Tim. 3:1-5). Satan weet dat sy dae getel is, en hy is daarop uit om dié te verslind wat nie op hulle hoede is nie (1 Pet. 5:8; Op. 12:12, 17). Maar ons is nie sonder beskerming nie. Jehovah het sy volk voorsien van ’n veilige geestelike toevlug—die Christengemeente.

4, 5. Hoe voel baie mense oor hulle toekoms, en waarom?

4 Die sekulêre gemeenskap bied net beperkte sekuriteit—hetsy fisies of emosioneel. Baie mense voel dat hulle fisiese sekuriteit bedreig word deur misdaad, geweld, die hoë lewenskoste en selfs omgewingskwessies. Almal kom voor die probleme van veroudering en swak gesondheid te staan. En diegene wat ’n werk, ’n huis, genoeg finansies en ’n redelike mate van gesondheid het, wonder dalk hoe lank hulle hierdie dinge sal hê.

5 Emosionele sekuriteit is eweneens vir baie ontwykend. Menigtes wat gehoop het om vrede en vervulling in die huwelik en ’n gesin te vind, het ongelukkig gevind dat hulle verwagtinge onvervuld gebly het. Op geestelike gebied is baie kerkgangers verward en verbyster, en hulle bevraagteken die waarde van die leiding wat hulle ontvang het. Dit is veral na aanleiding van die twyfelagtige gedrag en onskriftuurlike leringe van hulle godsdiensleiers. Gevolglik meen baie mense dat hulle geen ander keuse het as om hulle hoop te plaas op die wetenskap of die welwillendheid en gesonde verstand van hulle medemens nie. Dit is dus geen wonder dat mense om ons baie onveilig voel of dat hulle eenvoudig verkies om nie te diep oor hulle toekoms na te dink nie.

6, 7. (a) Wat is die rede vir die verskil in lewensuitkyk tussen dié wat God dien en dié wat hom nie dien nie? (b) Wat gaan ons bespreek?

6 Wat ’n kontras is daar tog tussen die lewensuitkyk van dié wat deel van die Christengemeente is en dié wat dit nie is nie! Hoewel ons as Jehovah se volk voor baie van dieselfde kwessies en probleme as ons medemens te staan kom, is ons reaksie heeltemal anders. (Lees Jesaja 65:13, 14; Maleagi 3:18.) Waarom? Omdat ons in die Bybel ’n bevredigende verklaring vind vir die toestand waarin die mensdom verkeer en toegerus is om die uitdagings en probleme in die lewe die hoof te bied. Gevolglik kwel ons ons nie oormatig oor die toekoms nie. Aangesien ons aanbidders van Jehovah is, geniet ons beskerming teen ongegronde en onskriftuurlike redenasies, onsedelike gebruike en die gevolge daarvan. Lede van die Christengemeente ervaar dus ’n rustigheid wat ander nie ken nie.—Jes. 48:17, 18; Fil. 4:6, 7.

7 ’n Paar voorbeelde kan ons help om te peins oor die sekuriteit wat diegene geniet wat Jehovah dien in teenstelling met dié wat hom nie dien nie. Hierdie voorbeelde beweeg ons dalk om ons eie redenasies en gewoontes te ondersoek en te kyk of ons God se raad, wat bedoel is om ons te beskerm, moontlik in groter mate kan toepas.—Jes. 30:21.

“My voete het amper afgewyk”

8. Wat moes Jehovah se knegte nog altyd doen?

8 Van vroeg in die mensdom se geskiedenis af het diegene wat gekies het om Jehovah te dien en te gehoorsaam, noue omgang probeer vermy met mense wat dit nie gedoen het nie. Trouens, Jehovah het aangedui dat daar vyandskap sal wees tussen sy aanbidders en dié wat Satan volg (Gen. 3:15). Weens die ferm standpunt wat God se volk vir goddelik geïnspireerde beginsels inneem, het hulle anders as mense om hulle opgetree (Joh. 17:15, 16; 1 Joh. 2:15-17). Dit was nie altyd maklik om so ’n standpunt in te neem nie. Ja, party onder Jehovah se knegte het soms die wysheid van ’n selfopofferende lewenswyse in twyfel getrek.

9. Beskryf die stryd wat die skrywer van Psalm 73 gehad het.

9 Een van Jehovah se knegte wat begin twyfel het of hy wyse besluite geneem het, was die skrywer van Psalm 73, waarskynlik een van Asaf se afstammelinge. Die psalmis het gevra waarom die goddeloses dikwels suksesvol, gelukkig en voorspoedig lyk, terwyl party wat God probeer dien, beproewinge en ontberinge ly.—Lees Psalm 73:1-13.

10. Waarom is die sake wat die psalmis aangeroer het, vir jou van belang?

10 Het jy al ooit gewonder oor vrae soos dié wat die psalmis opgeteken het? Indien wel, hoef jy nie uitermatig skuldig te voel of te dink dat jy besig is om jou geloof te verloor nie. In werklikheid het ’n hele aantal van Jehovah se knegte, insluitende party wat deur Jehovah gebruik is om die Bybel te skryf, al soortgelyke gedagtes gehad (Job 21:7-13; Ps. 37:1; Jer. 12:1; Hab. 1:1-4, 13). Trouens, almal wat Jehovah wil dien, moet goed nadink oor hierdie vraag en die antwoord daarop aanvaar: Is diens aan God en gehoorsaamheid aan hom die beste weg om te volg? Dit hou verband met die geskil wat Satan in die tuin van Eden geopper het. Dit vorm die kern van die universele kwessie van goddelike soewereiniteit (Gen. 3:4, 5). Ons kan dus almal gerus die saak ondersoek wat die psalmis aangeroer het. Moet ons afgunstig wees op goddelose grootpraters met wie dit blykbaar goed gaan? Moet ons ‘afwyk’ van ons diens aan Jehovah en hulle navolg? Dit is natuurlik presies wat Satan wil hê ons moet doen.

11, 12. (a) Hoe het die psalmis sy twyfelgedagtes te bowe gekom, en wat leer dit ons? (b) Wat het jou gehelp om tot dieselfde gevolgtrekking as die psalmis te kom?

11 Wat het die psalmis gehelp om sy twyfelgedagtes te bowe te kom? Hoewel hy erken het dat hy amper van regverdigheid afgewyk het, het sy beskouing verander toe hy in “die grootse heiligdom van God” ingegaan het—dit wil sê, toe hy met geestelike mense in God se tabernakel of tempel geassosieer het en oor God se voorneme nagedink het. Toe het dit vir die psalmis duidelik geword dat hy nie die lot van kwaaddoeners wou deel nie. Hy kon sien dat hulle weg en keuses in die lewe hulle op “glibberige grond” geplaas het. Die psalmis het onderskei dat almal wat Jehovah op onsedelike wyse verlaat, onvermydelik tot hulle einde sal kom in “skielike verskrikkinge”, terwyl dié wat Jehovah dien, deur hom ondersteun sal word. (Lees Psalm 73:16-19, 27, 28.) Jy het ongetwyfeld al die waarheid van hierdie stelling gesien. Om net vir jouself te lewe sonder om goddelike wette in ag te neem, lyk dalk vir baie mense aantreklik, maar die slegte gevolge van so ’n weg is onvermydelik.—Gal. 6:7-9.

12 Wat anders leer ons uit die ondervinding van die psalmis? Hy het sekuriteit en wysheid onder God se volk gevind. Hy het helder en logies begin redeneer toe hy na die plek gegaan het waar Jehovah aanbid is. Ons kan vandag eweneens by gemeentelike vergaderinge wyse raadgewers vind en heilsame geestelike voedsel geniet. Jehovah sê dus tereg vir sy knegte om Christelike vergaderinge by te woon. Daar sal hulle bemoedig voel en aangespoor word om wys op te tree.—Jes. 32:1, 2; Heb. 10:24, 25.

Kies jou vriende wyslik

13-15. (a) Watter ondervinding het Dina gehad, en wat lig dit toe? (b) Waarom is assosiasie met mede-Christene ’n beskerming?

13 Jakob se dogter Dina was ’n voorbeeld van iemand wat in ernstige moeilikheid beland het omdat sy met wêreldse vriende geassosieer het. Die verslag oor haar in Genesis sê vir ons dat sy die gewoonte gehad het om te assosieer met die jong Kanaänitiese vroue in die gebied waar haar gesin gewoon het. Die Kanaäniete het nie dieselfde hoë sedelike standaarde as Jehovah se aanbidders gehad nie. Inteendeel, die bevindings van argeoloë toon dat die Kanaäniete se lewenswyse daartoe aanleiding gegee het dat hulle land met afgodediens, onsedelikheid, verdorwe seksaanbidding en geweld gevul is (Eks. 23:23; Lev. 18:2-25; Deut. 18:9-12). Onthou wat die gevolg was van Dina se assosiasie met hierdie mense.

14 ’n Plaaslike inwoner, Sigem, wat beskryf word as “die mees geëerde van die hele huis van sy vader”, het Dina gesien “en haar toe geneem en by haar gaan lê en haar onteer” (Gen. 34:1, 2, 19). Wat ’n tragedie! Dink jy dat Dina ooit gedink het dat so iets met haar kon gebeur? Sy wou dalk net vriende maak met die plaaslike jongmense, wat sy as onskadelik beskou het. Maar Dina het haar hopeloos misgis.

15 Wat leer hierdie verslag ons? Dat ons eenvoudig nie sosiaal kan verkeer met ongelowiges en hoop dat ons geen skadelike gevolge sal ly nie. Die Skrif sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Kor. 15:33). Aan die ander kant is dit ’n beskerming om te assosieer met mense wat jou oortuigings, jou hoë sedelike standaarde en jou liefde vir Jehovah deel. Sulke goeie vriende sal jou aanspoor om wys op te tree.—Spr. 13:20.

“Julle is skoon gewas”

16. Wat het die apostel Paulus van party in die gemeente in Korinte gesê?

16 Die Christengemeente het al baie mense gehelp om hulle van verontreinigende gebruike te reinig. Toe die apostel Paulus sy eerste brief aan die gemeente in Korinte geskryf het, het hy kommentaar gelewer oor veranderinge wat Christene daar gemaak het om volgens God se standaarde te lewe. Party was hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, homoseksuele, diewe, dronkaards, ensovoorts. “Maar julle is skoon gewas”, het Paulus vir hulle gesê.—Lees 1 Korintiërs 6:9-11.

17. Hoe is die lewe van baie verander deur volgens Bybelbeginsels te lewe?

17 Mense wat geen geloof het nie, het nie betroubare riglyne nie. Hulle stel hulle eie koers vas of dryf dalk eenvoudig in ’n see van losbandigheid, soos party van daardie eertydse Korintiërs gedoen het voordat hulle gelowiges geword het (Ef. 4:14). Juiste kennis van God se Woord en voornemens het egter die krag om die lewens van almal wat die Skrif toepas, ten goede te verander (Kol. 3:5-10; Heb. 4:12). Baie wat vandag lede van die Christengemeente is, kan jou vertel dat hulle, voordat hulle van Jehovah se regverdige standaarde geleer en dit aanvaar het, sonder sedelike perke gelewe het. Maar hulle was onvervuld en ongelukkig. Hulle het eers vrede gevind toe hulle met God se volk begin assosieer en in ooreenstemming met Bybelbeginsels begin lewe het.

18. Watter ondervinding het een jong persoon gehad, en wat bewys dit?

18 In teenstelling hiermee is party wat in die verlede gekies het om die ‘veilige water’ van die Christengemeente te verlaat, nou bitter spyt daaroor. Een suster, wat ons Tanya sal noem, verduidelik dat sy “half in die waarheid grootgemaak is”, maar toe sy 16 was, het sy die gemeente verlaat om “wêreldse verloklikhede na te jaag”. Van die gevolge was ’n ongewenste swangerskap en ’n aborsie. Sy sê nou: “Die drie jaar buite die gemeente het aaklige letsels op my emosies gelaat wat nie sal weggaan nie. Iets wat gedurig by my spook, is dat ek my ongebore kind doodgemaak het. . . . Ek wil vir al die jongmense wat wens dat hulle die wêreld net vir ’n rukkie kan ‘proe’, sê: ‘Moenie!’ Aan die begin smaak dit dalk lekker, maar dit laat ’n baie bitter nasmaak. Die wêreld het niks behalwe ellende om aan te bied nie. Ek weet. Ek het dit geproe. Bly in Jehovah se organisasie! Dit is die enigste lewensweg wat geluk bring.”

19, 20. Watter beskerming bied die Christengemeente, en hoe?

19 Dink net wat van jou sou word as jy die beskerming van die Christengemeente sou verlaat. Baie wat terugdink aan hulle sinlose lewenswyse voordat hulle die waarheid aanvaar het, sidder by die blote gedagte daaraan om dit te doen (Joh. 6:68, 69). Jy kan steeds sekuriteit vind en beskerm word teen die probleme en ellendes wat so algemeen in Satan se wêreld is, as jy na aan jou Christenbroers en -susters bly. Assosiasie met hulle en gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge sal jou voortdurend herinner aan die wysheid van Jehovah se regverdige standaarde en sal jou aanspoor om daarvolgens te lewe. Jy het alle rede om ‘Jehovah in die groot gemeente te prys’, net soos die psalmis gedoen het.—Ps. 35:18.

20 Daar is natuurlik tye wanneer alle Christene dit om verskeie redes moeilik vind om hulle Christelike onkreukbaarheid te handhaaf. Hulle moet dalk net die regte weg gewys word. Wat kan jy—en ook die res van die gemeente—doen om medegelowiges op sulke tye by te staan? Die volgende artikel sal ondersoek hoe jy jou broers kan ‘aanhou vertroos en opbou’.—1 Tess. 5:11.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat leer ons uit die ondervindinge van die skrywer van Psalm 73?

• Wat leer Dina se ondervinding ons?

• Waarom kan jy sekuriteit vind in die Christengemeente?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 7]

Swem waar dit veilig is; bly in die gemeente!