Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n huweliksmaat jou vertroue skend

Wanneer ’n huweliksmaat jou vertroue skend

Wanneer ’n huweliksmaat jou vertroue skend

MARGARITA en haar man, Raúl, het Jehovah baie jare lank as voltydse bedienaars saam gedien. a Maar kort ná die geboorte van hulle eerste kind het Raúl hom van Jehovah begin terugtrek. Mettertyd het Raúl ’n onsedelike lewe begin lei en is hy uit die Christengemeente gesit. “Toe dit alles gebeur het”, sê Margarita, “het ek gedink ek gaan sterf. My hart was gebreek, en ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Kort nadat Jane getroud is, het haar man haar vertroue en liefde op ’n ander manier geskend. Hy het haar fisies begin mishandel.

“Die eerste keer toe hy my met die vuis geslaan het”, sê Jane, “was ek verstom en het ek verleë en vernederd gevoel. Dit het toe ’n patroon geword dat hy my sou slaan en daarna om vergifnis sou smeek. Ek het gedink dat dit my Christelike plig is om altyd te vergewe en te vergeet. Ek het ook gedink dat dit dislojaal sou wees om enigiemand van ons probleem te vertel—selfs die ouer manne in ons gemeente. Hierdie patroon van mishandeling en vergifnis het jare lank voortgeduur. Ek het die hele tyd gedink dat daar iets moet wees wat ek kan doen om my man se liefde te wen. Toe hy my en ons dogter uiteindelik verlaat het, het ek gevoel dat ek misluk het, dat ek meer moes gesê of gedoen het om die huwelik te red.”

Soos Margarita en Jane, ly jy dalk emosioneel, finansieel en geestelik omdat jou man jou vertroue geskend het. Of dalk is jy ’n man met ’n gebroke hart wat swaar kry omdat jou vrou ontrou was. Dit ly geen twyfel nie, ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, soos die Bybel voorspel het. Hierdie profesie dui aan dat die gesinseenheid gedurende “die laaste dae” aangeval sou word, en dat daar in baie gevalle hoegenaamd geen natuurlike geneentheid sou wees nie. Party sou hulle bewering dat hulle God dien, deur hulle dade weerspreek (2 Tim. 3:1-5). Ware Christene is nie immuun teen hierdie probleme nie. Wat kan jou dus help om die situasie die hoof te bied as jou huweliksmaat jou vertroue geskend het?

Beskou jouself soos Jehovah jou beskou

Aan die begin sal dit miskien vir jou moeilik wees om te glo dat iemand wat jy liefhet, jou so seer kon maak. Jy begin jou dalk selfs vir sy of haar sondige gedrag blameer.

Maar onthou dat selfs die volmaakte man Jesus verraai is deur iemand wat hy vertrou en liefgehad het. Jesus het sy intiemste metgeselle, die apostels, gekies nadat hy dit lank biddend oorweeg het. Al 12 was op daardie stadium betroubare knegte van Jehovah. Daarom was Jesus ongetwyfeld diep bedroef toe Judas “’n verraaier geword het” (Luk. 6:12-16). Maar Jehovah het Jesus nie aanspreeklik gehou vir Judas se dade nie.

Toegegee, vandag is geen huweliksmaat volmaak nie. Albei huweliksmaats sal foute maak. ’n Geïnspireerde psalmis was realisties toe hy geskryf het: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, o Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Ps. 130:3). In navolging van Jehovah moet albei huweliksmaats bereid wees om mekaar se onvolmaakthede oor die hoof te sien.—1 Pet. 4:8.

Maar “elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12). As ’n huweliksmaat hom of haar gereeld aan smadende taal en fisiese mishandeling skuldig maak, is dit die skuldige huweliksmaat wat aanspreeklik is voor Jehovah. Jehovah veroordeel geweld en smadende taal, en daarom is daar nooit enige geldige rede om ’n huweliksmaat met so ’n growwe gebrek aan liefde en respek te behandel nie (Ps. 11:5; Ef. 5:33; Kol. 3:6-8). Trouens, as ’n Christen herhaaldelik en onberouvol aan vlae van toorn toegee en nie wil verander nie, moet hy of sy uit die Christengemeente gesit word (Gal. 5:19-21; 2 Joh. 9, 10). ’n Huweliksmaat hoef nie skuldig te voel as hy of sy sulke onchristelike gedrag by die ouer manne aanmeld nie. Ja, Jehovah het medelye met die slagoffers van sulke mishandeling.

Wanneer ’n huweliksmaat egbreuk pleeg, sondig hy of sy nie net teen die onskuldige maat nie, maar ook teen Jehovah (Matt. 19:4-9; Heb. 13:4). As die onskuldige maat daarna gestreef het om volgens Bybelbeginsels te lewe, is daar geen rede om skuldig te voel oor die egbreker se sondige skending van vertroue nie.

Onthou dat Jehovah weet hoe jy voel. Hy beskryf hom as die eggenoot-eienaar van die nasie Israel, en sy Woord bevat baie hartroerende gedeeltes wat die hartseer beskryf wat hy verduur het weens daardie nasie se geestelik owerspelige dade (Jes. 54:5, 6; Jer. 3:1, 6-10). Wees verseker dat Jehovah terdeë bewus is van die trane wat jy stort as jou huweliksmaat jou vertroue op die een of ander manier geskend het (Mal. 2:13, 14). Hy weet dat jy vertroosting en aanmoediging nodig het.

Hoe Jehovah vertroosting voorsien

Een van die maniere waarop Jehovah vertroosting voorsien, is deur die Christengemeente. Jane het sulke ondersteuning ontvang. “Die kringopsiener se besoek het gekom op ’n tyd toe ek ’n emosionele laagtepunt bereik het”, vertel Jane. Hy het geweet hoe terneergedruk ek was omdat my man ’n egskeiding aangevra het. Hy het die tyd geneem om my te help redeneer oor tekste soos 1 Korintiërs 7:15. Die Bybelverse en sy liefdevolle woorde het gehelp om my skuldgevoelens te verlig en het my ’n mate van gemoedsrus gegee.” b

Margarita, wat vroeër genoem is, het ook geleer dat Jehovah praktiese hulp deur middel van die Christengemeente voorsien. “Toe dit duidelik geword het dat my man onberouvol was”, sê Margarita, “het ek my kinders geneem en na ’n ander stad getrek.” Toe ek daar aankom, het ek twee kamers gekry om te huur. Die volgende dag toe ek, oorweldig deur hartseer, besig was om ons tasse uit te pak, was daar ’n klop aan die deur. Ek het gedink dat dit die huiseienares was, wat langsaan gewoon het. Tot my verbasing was dit die suster wat die Bybel met my ma gestudeer het en ons gesin gehelp het om die waarheid te leer. Sy het nie verwag om my te sien nie, want sy het eintlik na hierdie huis gekom omdat sy die Bybel met die huiseienares gestudeer het. Ek het so verlig gevoel dat ek in trane uitgebars het. Ek het my situasie verduidelik, en ons het saam gehuil. Sy het onmiddellik gereël dat ons die vergadering daardie dag bywoon. Die gemeente het ons verwelkom, en die ouer manne het praktiese reëlings getref om my te help om na my gesin se geestelike behoeftes om te sien.”

Hoe ander kan help

Lede van die Christengemeente kan beslis op baie maniere praktiese ondersteuning gee. Byvoorbeeld, Margarita moes ’n werk vind. ’n Gesin in die gemeente het aangebied om haar kinders ná skool op te pas wanneer dit nodig was.

“Wat ek werklik waardeer”, vertel Margarita, “is wanneer broers en susters aanbied om saam met my en my kinders velddiens te doen.” Deur sulke praktiese hulp te verleen, help gemeentelede “om mekaar se laste te dra” en vervul hulle sodoende “die wet van die Christus”.—Gal. 6:2.

Diegene wat weens die sondes van ander ly, waardeer werklik sulke praktiese hulp. Mo­nique, wie se man haar verlaat het en haar met kredietkaartskuld van R110 000 en vier kinders agtergelaat het, sê: “My geestelike broers en susters was so liefdevol. Ek kan my nie indink hoe ek sonder hulle ondersteuning sou klaargekom het nie. Ek voel dat Jehovah die wonderlikste broers voorsien het, wat van hulleself aan my kinders gegee het. Ek het die vreugde gehad om te sien hoe my kinders met hierdie hulp tot geestelike volwassenheid groei. Wanneer ek raad nodig gehad het, het die ouer manne my gehelp. Wanneer ek iemand nodig gehad het om mee te praat, het hulle geluister.”—Mark. 10:29, 30.

’n Liefdevolle vriend sal natuurlik onderskei wanneer dit beter is om nie oor die droewige ondervinding te praat nie (Pred. 3:7). “Die meeste van die tyd”, vertel Margarita, “het ek dit geniet om met die susters in my nuwe gemeente te praat oor die predikingswerk, ons Bybelstudies, ons kinders—alles behalwe my probleme. Ek was bly dat hulle my toegelaat het om my verlede agter te laat en my gehelp het om ’n nuwe begin te maak.”

Weerstaan die drang om terug te betaal

Soms voel jy dalk nie soseer verantwoordelik vir jou huweliksmaat se sondes nie, maar eerder gegrief omdat jy soveel moet ly as gevolg van sy of haar oortredings. As jy toelaat dat hierdie gegriefdheid soos ’n kanker aan jou knaag, kan dit jou voorneme om aan Jehovah getrou te bly, ondermyn. Jy kan byvoorbeeld in die versoeking kom om na maniere te soek om jou ontroue maat terug te betaal.

As jy agterkom dat jy sulke gevoelens koester, kan jy oor die voorbeeld van Josua en Kaleb nadink. Hierdie getroue manne het hulle lewe gewaag om die Beloofde Land te verken. Die ander spioene het ’n gebrek aan geloof geopenbaar en het die volk oorgehaal om ongehoorsaam aan Jehovah te wees. Party van die Israeliete wou Josua en Kaleb selfs met klippe gooi toe hulle die nasie probeer aanmoedig het om getrou te bly (Num. 13:25–14:10). Weens Israel se optrede moes Josua en Kaleb noodgedwonge 40 jaar lank in die wildernis rondtrek, nie weens hulle eie sonde nie, maar weens die sonde van ander.

Hoewel Josua en Kaleb waarskynlik teleurgesteld was, het hulle nie toegelaat dat die sondes van hulle broers hulle verbitter nie. Hulle het hulle eerder daarop toegespits om hulle geestelike balans te behou. Aan die einde van die 40 jaar in die wildernis is hulle, sowel as die Leviete, beloon deur daardie geslag te oorleef en toegelaat te word om in die Beloofde Land in te gaan.—Num. 14:28-30; Jos. 14:6-12.

Die dade van jou ontroue maat kan jou vir ’n lang tyd laat ly. Selfs al eindig die huwelik, sal jy daarna dalk nog steeds emosionele en finansiële probleme ondervind. Maar moenie toelaat dat donker gedagtes jou denke benewel nie; onthou eerder dat Jehovah die beste weet hoe om diegene te behandel wat sy standaarde opsetlik verontagsaam, net soos die ontroue Israeliete in die wildernis uitgevind het.—Heb. 10:30, 31; 13:4.

Jy kan dit verwerk!

Moenie toelaat dat negatiewe gedagtes jou oorweldig nie, maar vul eerder jou verstand met Jehovah se gedagtes. “Ek het gevind dat dit my gehelp het om my situasie te verwerk wanneer ek na die bandopnames van Die Wagtoring en Ontwaak! geluister het”, sê Jane. “Die vergaderinge was ook ’n groot bron van krag. ’n Aktiewe aandeel aan die vergaderinge het gehelp om my gedagtes van my probleme af te lei. Die predikingswerk het my op dieselfde manier gehelp. Deur ander te help om geloof in Jehovah op te bou, het ek my eie geloof versterk. En wanneer ek na Bybelstudente omgesien het, het dit my gehelp om my gedagtes op die belangriker dinge toe te spits.”

Monique, wat vroeër genoem is, sê: “Deur die vergaderinge gereeld by te woon en so dikwels moontlik velddiens te doen, kon ek volhard. My gesin het nader aan mekaar en aan die gemeente gekom. My beproewing het my gehelp om van my eie swakhede bewus te word. Ek is op die proef gestel, maar met Jehovah se hulp kan ek dit verwerk.”

Jy kan ook soortgelyke beproewinge verwerk. Ondanks die pyn wat jy verduur omdat jou vertroue geskend is, kan jy daarna streef om Paulus se geïnspireerde raad te volg: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”—Gal. 6:9.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Vir ’n breedvoerige bespreking van die Bybel se beskouing oor skeiding en egskeiding, sien ‘Hou julle in God se liefde’, bladsye 125-130, 219-221.

[Prent op bladsy 31]

Verworpe huweliksmaats waardeer dié wat hulle in die veldbediening help