Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word verkwik deur geestelike dinge

Word verkwik deur geestelike dinge

Word verkwik deur geestelike dinge

“Neem my juk op julle . . . , en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—MATT. 11:29.

1. Wat het God by die berg Sinai gereël, en waarom?

 TOE die Wetsverbond by die berg Sinai ingestel is, het dit die weeklikse Sabbatsreëling ingesluit. Jehovah het deur sy woordvoerder Moses die nasie Israel beveel: “Ses dae moet jy jou werk doen; maar op die sewende dag moet jy jou daarvan onthou, sodat jou bul en jou esel kan rus en die seun van jou slavin en die inwonende vreemdeling hulleself kan verkwik” (Eks. 23:12). Ja, uit bedagsaamheid teenoor diegene onder die Wet het Jehovah liefdevol gereël dat daar ’n rusdag sal wees sodat sy volk “hulleself kan verkwik”.

2. Hoe het Israel daarby baat gevind om die Sabbat te hou?

2 Was die Sabbat net ’n dag om te ontspan? Nee, dit was ’n onontbeerlike deel van die Israeliete se aanbidding van Jehovah. Deur die Sabbat te hou, het gesinshoofde die geleentheid gekry om hulle gesin te leer om “Jehovah se weg [te] hou om regverdigheid . . . te doen” (Gen. 18:19). Dit het gesinne en vriende ook die geleentheid gebied om bymekaar te kom om oor Jehovah se dade na te dink en om vreugdevolle omgang te geniet (Jes. 58:13, 14). Nog belangriker, die Sabbat het profeties vooruitgewys na ’n tyd wanneer ware verkwikking deur Christus se Duisendjarige Heerskappy sal kom (Rom. 8:21). Maar wat van ons dag? Waar en hoe kan ware Christene, wat in Jehovah se weë belangstel, sulke verkwikking vind?

Word verkwik deur Christelike omgang

3. Op watter manier het eerste-eeuse Christene mekaar ondersteun, en met watter gevolg?

3 Die apostel Paulus het die Christengemeente as “’n pilaar en stut van die waarheid” beskryf (1 Tim. 3:15). Vroeë Christene het baie ondersteuning ontvang deur mekaar aan te moedig en mekaar in liefde op te bou (Ef. 4:11, 12, 16). Terwyl Paulus in Efese was, het hy ’n aanmoedigende besoek van lede van die gemeente in Korinte ontvang. Let op die uitwerking wat dit gehad het: “Ek verbly my oor die teenwoordigheid van Stefanas en Fortunatus en Agaïkus,” het Paulus gesê, “want hulle het my gees . . . verkwik” (1 Kor. 16:17, 18). Ook toe Titus na Korinte gegaan het om die broers daar te bedien, het Paulus aan die gemeente teruggeskryf en gesê: “Sy gees [is] deur julle almal verkwik” (2 Kor. 7:13). Jehovah se Getuies word vandag ook werklik verkwik deur opbouende Christelike omgang.

4. Hoe verkwik gemeentelike vergaderinge ons?

4 Jy weet uit ondervinding dat gemeentelike vergaderinge ’n bron van groot vreugde is. Daar vind ons ‘wedersydse aanmoediging, elkeen deur middel van die ander een se geloof’ (Rom. 1:12). Ons Christenbroers en -susters is nie blote kennisse, mense met wie ons net ’n oppervlakkige verhouding het nie. Hulle is ware vriende, mense wat ons liefhet en respekteer. Dit verskaf ons groot vreugde en vertroosting wanneer ons gereeld by ons vergaderinge saam met hulle byeenkom.—Filem. 7.

5. Hoe kan ons mekaar by byeenkomste verkwik?

5 ’n Ander bron van verkwikking is ons jaarlikse byeenkomste. Hierdie groter samekomste voorsien nie net lewegewende water van waarheid uit God se Woord, die Bybel, nie, maar bied ons ook die geleentheid om “verruim [te] word” in ons assosiasie (2 Kor. 6:12, 13). Maar sê nou ons is skaam en vind dit moeilik om met mense kennis te maak? Een manier om ons broers en susters te leer ken, is om by ’n byeenkoms van onsself te gee. Nadat ’n suster by ’n internasionale byeenkoms gehelp het, het sy gesê: “Buiten my familie en ’n handjie vol vriende, het ek nie baie daar geken nie. Maar toe ek met die skoonmaakwerk gehelp het, het ek baie broers en susters ontmoet! Dit was baie lekker!”

6. Wat is een manier waarop ons op vakansie verkwikking kan vind?

6 Die Israeliete het na Jerusalem gereis om elke jaar drie feeste vir aanbidding by te woon (Eks. 34:23). In baie gevalle het dit beteken dat hulle hulle landerye en winkels moes agterlaat en dae lank te voet op stowwerige paaie moes reis. Nogtans het dit “groot blydskap” meegebring om na die tempel te gaan omdat diegene wat daar was, “lof aan Jehovah gebring” het (2 Kron. 30:21). Baie van Jehovah se knegte vind vandag ook dat dit vir hulle groot blydskap meebring wanneer hulle Bethel, die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies, saam met hulle gesin besoek. Kan jy so ’n besoek in jou volgende gesinsvakansie insluit?

7. (a) Hoe kan gesellighede voordelig wees? (b) Wat kan tot ’n onvergeetlike en opbouende geselligheid bydra?

7 Dit kan ook aanmoedigend wees om die geselskap van familie en vriende by gesellighede te geniet. Wyse koning Salomo het gesê: “Vir ’n mens is daar niks beters nie as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk” (Pred. 2:24). Gesellighede verkwik nie net die siel nie, maar versterk ook ons band van liefde met mede-Christene namate ons hulle beter leer ken. As ons tot ’n onvergeetlike en opbouende geleentheid wil bydra, sal dit goed wees as ons gesellighede klein hou en toesien dat daar behoorlike toesig is, veral as alkohol bedien word.

Die bediening bring verkwikking

8, 9. (a) Stel Jesus se boodskap teenoor dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs. (b) Hoe vind ons daarby baat as ons ander van Bybelwaarhede vertel?

8 Jesus was ywerig vir die bediening, en hy het sy dissipels aangespoor om ook so te wees. Dit kan gesien word aan sy woorde: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Die boodskap wat Jesus ander geleer het, was werklik verkwikkend; dit was “goeie nuus” (Matt. 4:23; 24:14). Dit het ’n skerp teenstelling gevorm met die swaar reëls wat die Fariseërs die volk opgelê het.—Lees Matteus 23:4, 23, 24.

9 Wanneer ons ander van die Koninkryksboodskap vertel, bied ons aan hulle geestelike verkwikking, en terselfdertyd skerp ons kosbare Bybelwaarhede in ons eie verstand en hart in. Die psalmis het tereg gesê: “Loof Jah, want dit is goed om ons God met melodieë te besing; want dit is lieflik” (Ps. 147:1). Kan jy meer vreugde daaruit put om Jehovah voor jou naaste te loof?

10. Hang ons sukses in die bediening af van ’n positiewe reaksie op ons boodskap? Verduidelik.

10 Toegegee, in party gebiede is mense ontvankliker vir die goeie nuus as in ander. (Lees Handelinge 18:1, 5-8.) As jy in ’n gebied woon waar min mense na die Koninkryksboodskap luister, probeer om te fokus op die goeie dinge wat jy in die bediening bereik. Onthou dat jou volgehoue pogings om Jehovah se naam bekend te maak, nie tevergeefs is nie (1 Kor. 15:58). Daarbenewens meet ons nie ons sukses aan mense se reaksie op die goeie nuus nie. Ons kan seker wees dat Jehovah sal toesien dat regskapenes die geleentheid kry om gehoor te gee aan die Koninkryksboodskap.—Joh. 6:44.

Gesinsaanbidding verkwik

11. Watter verantwoordelikheid het Jehovah aan ouers gegee, en hoe kan hulle dit nakom?

11 Godvresende ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders oor Jehovah en sy weë te leer (Deut. 11:18, 19). Sit jy as ouer tyd opsy om jou kinders oor ons liefdevolle hemelse Vader te leer? Om jou te help om hierdie ernstige verantwoordelikheid na te kom en in jou gesin se behoeftes te voorsien, het Jehovah ’n oorvloed van heilsame geestelike voedsel in die vorm van boeke, tydskrifte, video’s en klankopnames voorsien.

12, 13. (a) Hoe kan gesinne baat vind by die aand vir Gesinsaanbidding? (b) Hoe kan ouers verseker dat hulle gesinsaanbidding ’n bron van verkwikking is?

12 Daarbenewens het die “getroue en verstandige slaaf”-klas die reëling ingestel van ’n aand vir Gesinsaanbidding. Dit is ’n aand wat weekliks vir gesinsbybelstudie opsygesit word. Baie het gevind dat hierdie reëling hulle in liefde nader aan mekaar laat kom het en hulle verhouding met Jehovah versterk het. Maar hoe kan ouers verseker dat hulle gesinsaanbidding ’n bron van geestelike verkwikking is?

13 Die aand vir Gesinsaanbidding moenie ’n vervelige, sombere geleentheid wees nie. Ons aanbid immers “die gelukkige God”, en hy wil hê dat ons vreugdevol moet wees in ons aanbidding (1 Tim. 1:11; Fil. 4:4). Dit is ’n ware seën om ’n ekstra aand te hê om geestelike juwele uit die Bybel te bespreek. Ouers kan aanpasbaar wees in hulle onderrigmetodes en kan hulle verbeelding en vindingrykheid gebruik. Een gesin het byvoorbeeld hulle tienjarige seun, Brandon, die geleentheid gegee om te praat oor die tema “Waarom het Jehovah ’n slang gebruik om Satan te verteenwoordig?” Hierdie vraag het Brandon gepla omdat hy van slange hou, en hy was ontsteld dat hulle met Satan verbind word. Party gesinne het soms Bybeldramas aangebied deur aan elke gesinslid ’n rol toe te ken en hom sy deel uit die Bybel te laat voorlees, of deur ’n gebeurtenis op te voer. Hierdie onderrigmetodes is nie net pret nie, maar dit kan jou kinders se aandag boei sodat Bybelbeginsels hulle hart kan bereik. a

Vermy dinge wat jou kan belas

14, 15. (a) Hoe het spanning en onsekerheid in die laaste dae toegeneem? (b) Voor watter ander druk kan ons te staan kom?

14 Spanning en onsekerheid het in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge toegeneem. Werkloosheid en ander ekonomiese probleme raak miljoene. Selfs diegene wat ’n werk het, voel dikwels dat hulle die geld wat hulle verdien, in ’n sak vol gate huis toe dra, omdat hulle gesin nie veel daarby baat vind nie. (Vergelyk Haggai 1:4-6.) Politici en ander leiers lyk hulpeloos in hulle stryd teen terrorisme en ander euwels. Baie mense word geteister deur hulle eie tekortkominge.—Ps. 38:4.

15 Ware Christene is nie immuun teen die probleme en druk van Satan se stelsel van dinge nie (1 Joh. 5:19). In party gevalle kan Christus se dissipels voor ander druk te staan kom terwyl hulle aan Jehovah probeer getrou bly. “As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg”, het Jesus gesê (Joh. 15:20). Maar al word “ons . . . vervolg”, word ons “nie in die steek gelaat nie” (2 Kor. 4:9). Hoe so?

16. Wat kan ons help om ons vreugde te behou?

16 Jesus het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik” (Matt. 11:28). Deur vaste geloof in die losprysvoorsiening van Christus te hê, plaas ons ons as ’t ware in Jehovah se hande. Op dié manier verkry ons “krag wat bo die normale is” (2 Kor. 4:7). “Die helper”, God se heilige gees, versterk ons geloof aansienlik sodat ons nie net die beproewinge en verdrukkinge waarvoor ons te staan kom, kan verduur nie, maar ook vreugdevol kan bly.—Joh. 14:26; Jak. 1:2-4.

17, 18. (a) Teen watter gees moet ons waak? (b) Wat kan die gevolg wees wanneer ons klem op die normale genietinge van die lewe lê?

17 Ware Christene moet vandag daarteen waak om deur die genotsieke gees van hierdie wêreld beïnvloed te word. (Lees Efesiërs 2:2-5.) Andersins kan ons verstrik word deur “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Joh. 2:16). Of ons kan verkeerdelik dink dat dit verkwikking sal bring as ons aan die begeertes van die vlees toegee (Rom. 8:6). Party mense het hulle byvoorbeeld tot dwelm- en alkoholmisbruik, pornografie, waagsport of verskeie ongeoorloofde aktiwiteite gewend in ’n poging om opwinding te vind. Die “sette” van Satan is bedoel om te mislei deur ’n mens ’n valse gevoel van verkwikking te gee.—Ef. 6:11.

18 Daar is weliswaar niks daarmee verkeerd om te eet, te drink en aan heilsame vorme van vermaak deel te neem wanneer dit in matigheid gedoen word nie. Ons laat nogtans nie toe dat sulke dinge die middelpunt van ons lewe word nie. Balans en selfbeheersing is noodsaaklik, veral met die oog op die tye waarin ons leef. Persoonlike strewes kan ons soveel belas dat ons “onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus”.—2 Pet. 1:8.

19, 20. Hoe kan ons ware verkwikking vind?

19 Wanneer ons denke in ooreenstemming is met Jehovah se voorskrifte, besef ons dat enige genot wat hierdie wêreld kan bied, tydelik is. Moses het dit besef, en ons besef dit ook (Heb. 11:25). Die feit is dat ware verkwikking, die soort wat ’n diep, langdurige gevoel van vreugde en tevredenheid meebring, verkry word wanneer ons ons hemelse Vader se wil doen.—Matt. 5:6.

20 Mag ons aanhou om verkwikking te vind in geestelike dinge. Deur dit te doen, “[verwerp ons] goddeloosheid en wêreldse begeertes . . . , terwyl ons wag op die gelukkige hoop en glorieryke openbaarwording van die groot God en van ons Redder, Christus Jesus” (Tit. 2:12, 13). Laat ons dus vasbeslote wees om onder Jesus se juk te bly deur ons aan sy gesag en leiding te onderwerp. As ons dit doen, sal ons ware geluk en verkwikking vind!

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor hoe om ’n gesinstudie interessant en leersaam te maak, sien Ons Koninkryksbediening vir Desember 1990, bladsye 1-2.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe word Jehovah se volk vandag verkwik?

• Op watter manier verkwik die bediening ons sowel as dié met wie ons praat?

• Wat kan gesinshoofde doen om te verseker dat hulle gesinsaanbidding verkwikking bring?

• Wat kan ons geestelik belas?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 26]

Deur Jesus se juk op ons te neem, vind ons baie bronne van verkwikking