Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die gees ondersoek . . . die diep dinge van God”

“Die gees ondersoek . . . die diep dinge van God”

“Die gees ondersoek . . . die diep dinge van God”

“Die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God.”—1 KOR. 2:10.

1. Watter rol van die heilige gees bring Paulus na vore in 1 Korintiërs 2:10, en watter vrae ontstaan?

 HOE dankbaar kan ons tog wees vir die werking van Jehovah se heilige gees! Die Skrif praat van die gees as ’n helper, ’n gawe, ’n getuie en een wat vir ons pleit (Joh. 14:16; Hand. 2:38; Rom. 8:16, 26, 27). Die apostel Paulus het die aandag gevestig op nog ’n noodsaaklike rol van die heilige gees: “Die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God” (1 Kor. 2:10). Ja, Jehovah gebruik sy heilige gees om diep geestelike waarhede te openbaar. Hoeveel sou ons omtrent Jehovah se voornemens verstaan het as ons nie hierdie hulp ontvang het nie? (Lees 1 Korintiërs 2:9-12.) Maar etlike vrae ontstaan: Hoe ‘ondersoek die gees die diep dinge van God’? Deur wie het Jehovah hierdie dinge in die eerste eeu HJ geopenbaar? Hoe en deur wie ondersoek die gees hierdie diep dinge in ons dag?

2. Watter tweeledige werking sou die gees hê?

2 Jesus het aangedui dat die gees ’n tweeledige werking sou hê. Kort voor sy dood het hy vir sy apostels gesê: “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Joh. 14:26). Die heilige gees sou hulle dus onderrig en hulle help om dinge te herroep. Dit sou onderrig deur Christene te help om dinge te begryp wat hulle voorheen nie verstaan het nie. Dit sou hulle help om dinge wat verduidelik is, te herroep en dit reg toe te pas.

In die eerste eeu

3. Watter woorde van Jesus het getoon dat “die diep dinge van God” stelselmatig geopenbaar sou word?

3 Jesus self het sy dissipels baie waarhede geleer wat vir hulle nuut was. Maar daar was nog baie wat hulle moes leer. Jesus het vir die apostels gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. Wanneer hy, die gees van die waarheid, egter kom, sal hy julle in die hele waarheid inlei” (Joh. 16:12, 13). Jesus het dus daarop gewys dat diep geestelike dinge stelselmatig deur die heilige gees geopenbaar sou word.

4. Hoe het die heilige gees op Pinksterdag 33 HJ die dissipels onderrig en gehelp om dinge te herroep?

4 Op Pinksterdag 33 HJ het “die gees van die waarheid” gekom in die sin dat dit uitgestort is op omtrent 120 Christene wat in Jerusalem vergader het. Daar was sigbare en hoorbare bewyse hiervan (Hand. 1:4, 5, 15; 2:1-4). Die dissipels het in verskillende tale gepraat “oor die luisterryke dinge van God” (Hand. 2:5-11). Dit was nou die tyd vir iets nuuts om geopenbaar te word. Die profeet Joël het hierdie uitstorting van heilige gees voorspel (Joël 2:28-32). Omstanders het die vervulling hiervan gesien op ’n manier wat nie een van hulle verwag het nie, en die apostel Petrus het die leiding daarin geneem om hierdie verwikkeling te verduidelik. (Lees Handelinge 2:14-18.) Die heilige gees het hulle dus onderrig deur aan Petrus duidelik te maak dat wat die dissipels ondervind het, ter vervulling van daardie eertydse profesie was. Die gees het Petrus ook gehelp om dinge te herroep, want hy het nie net uit Joël aangehaal nie, maar ook uit twee psalms van Dawid (Ps. 16:8-11; 110:1; Hand. 2:25-28, 34, 35). Wat al daardie aanwesiges gesien en gehoor het, was waarlik diep dinge van God.

5, 6. (a) Watter belangrike vrae aangaande die nuwe verbond moes ná Pinkster 33 HJ beantwoord word? (b) Deur wie is hierdie kwessies geopper, en hoe is besluite geneem?

5 Baie sake moes nog vir die eerste-eeuse Christene duidelik gemaak word. Daar was byvoorbeeld vrae in verband met die nuwe verbond wat op daardie Pinksterdag van krag geword het. Was die nuwe verbond beperk tot Jode en Joodse proseliete? Kon nie-Jode ook deel daarvan word en met heilige gees gesalf word? (Hand. 10:45). Sou nie-Joodse mans eers besny moes word en hulle aan die Mosaïese Wet moes onderwerp? (Hand. 15:1, 5). Dit was baie belangrike vrae. Jehovah se gees was nodig om hierdie diep dinge te ondersoek. Maar deur wie sou dit werk?

6 Dit was deur verantwoordelike broers wat elke kwessie vir bespreking geopper het. Petrus, Paulus en Barnabas was by daardie vergadering van die bestuursliggaam en het vertel hoe Jehovah met onbesnede nie-Jode gehandel het (Hand. 15:7-12). Nadat hierdie getuienis in die lig van aanduidings in die Hebreeuse Geskrifte en met behulp van die heilige gees ondersoek is, het die bestuursliggaam ’n besluit geneem. Daarna het hulle die gemeentes skriftelik van hierdie besluit in kennis gestel.—Lees Handelinge 15:25-30; 16:4, 5; Ef. 3:5, 6.

7. Deur middel waarvan is diep waarhede geopenbaar?

7 Baie ander sake is duidelik gemaak deur middel van die geïnspireerde geskrifte van Johannes, Petrus, Jakobus en Paulus. Maar op die een of ander tydstip nadat die Christelike Geskrifte voltooi is, het die gawes van profesie en wonderdadig geopenbaarde kennis opgehou (1 Kor. 13:8). Sou die gees voortgaan om te onderrig en te help om dinge te herroep? Sou dit voortgaan om Christene te help om die diep dinge van God te ondersoek? Ja, volgens profesie sou dit.

Gedurende die tyd van die einde

8, 9. Wie sou gedurende die tyd van die einde met geestelike insig “skyn”?

8 Aangaande die tyd van die einde het ’n engel voorspel: “Dié wat insig het, sal skyn soos die glans van die uitspansel; en dié wat baie tot regverdigheid bring, soos die sterre tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig. . . . En die ware kennis sal oorvloedig word” (Dan. 12:3, 4). Wie sou dié wees wat insig het en wat sou skyn? Jesus het ’n leidraad in sy illustrasie van die koring en die onkruid gegee. Hy het oor die “voleinding van ’n stelsel van dinge” gepraat en gesê: “In dié tyd sal die regverdiges so helder soos die son skyn in die koninkryk van hulle Vader” (Matt. 13:39, 43). In sy verduideliking het Jesus “die regverdiges” geïdentifiseer as “die kinders van die koninkryk”, gesalfde Christene.—Matt. 13:38.

9 Sou alle gesalfde Christene “skyn”? In sekere sin, ja, want alle Christene sou deelneem aan die predikings- en dissipelmaakwerk en mekaar by vergaderinge opbou. Gesalfdes sou die voorbeeld stel (Sag. 8:23). Daarbenewens sou diep dinge gedurende die tyd van die einde geopenbaar word. Die profesie wat Daniël opgeteken het, is “verseël” tot hierdie tyd toe (Dan. 12:9). Hoe en deur wie sou die gees hierdie diep dinge ondersoek?

10. (a) Deur wie openbaar die gees diep waarhede gedurende die laaste dae? (b) Verduidelik hoe waarhede aangaande Jehovah se groot geestelike tempel duidelik gemaak is.

10 Wanneer die tyd aanbreek om ’n geestelike saak in ons dag duidelik te maak, help die heilige gees verantwoordelike verteenwoordigers van “die getroue en verstandige slaaf” by die wêreldhoofkwartier om diep waarhede te onderskei wat nie voorheen verstaan is nie (Matt. 24:45; 1 Kor. 2:13). Die Bestuursliggaam as ’n geheel ondersoek gewysigde verduidelikings (Hand. 15:6). Wat hulle leer, publiseer hulle sodat almal daarby kan baat vind (Matt. 10:27). Met verloop van tyd is verdere verfynings dalk nodig, en dit word ook eerlik verduidelik.—Sien die venster  “Hoe die gees die betekenis van die geestelike tempel geopenbaar het”.

Vind vandag baat by die gees se rol

11. Hoe vind alle Christene vandag baat by die rol wat die heilige gees daarin speel om die diep dinge van God te openbaar?

11 Alle getroue Christene vind baat by die rol wat die heilige gees daarin speel om die diep dinge van God te openbaar. Soos die eerste-eeuse Christene, bestudeer ons ook vandag die inligting wat die heilige gees ons help om te verstaan, en later herroep ons dit en pas ons dit toe (Luk. 12:11, 12). Ons hoef nie hooggeleerd te wees om diep geestelike waarhede wat gepubliseer is, te verstaan nie (Hand. 4:13). Hoe kan ons ons begrip van die diep dinge van God verbeter? Kyk na ’n paar wenke.

12. Wanneer moet ons bid vir heilige gees?

12 Bid vir heilige gees. Wanneer ons skriftuurlike inligting gaan ondersoek, moet ons eers in gebed vra dat die heilige gees ons lei. Dit geld selfs wanneer ons alleen is of as ons min tyd beskikbaar het. Sulke nederige versoeke sal beslis ons hemelse Vader se hart verbly. Soos Jesus getoon het, sal Jehovah sy heilige gees vryelik voorsien as ons hom opreg daarvoor vra.—Luk. 11:13.

13, 14. Watter rol speel voorbereiding vir vergaderinge in ons begrip van die diep dinge van God?

13 Berei voor vir vergaderinge. Ons ontvang “voedsel op die regte tyd” deur die slaafklas. Die “slaaf” vervul sy toewysing deur skriftuurlike inligting te verskaf en programme vir studie en vergaderinge te reël. Daar is weldeurdagte redes waarom “die hele gemeenskap van broers” gevra word om sekere inligting te bestudeer (1 Pet. 2:17; Kol. 4:16; Jud. 3). Ons werk saam met die heilige gees wanneer ons ons bes doen om die aanbevelings wat voorsien word, te volg.—Op. 2:29.

14 Wanneer ons vir Christelike vergaderinge voorberei, sal dit goed wees as ons die teksverwysings naslaan en probeer onderskei hoe elkeen van toepassing is op die onderwerp wat bespreek word. Hierdie gewoonte sal ons begrip van die Bybel stelselmatig verruim (Hand. 17:11, 12). As ons tekste naslaan, maak dit ’n verstandelike indruk wat die heilige gees ons kan help om te herroep. En as ons die Skrifgedeelte op die bladsy in die Bybel self sien, sal dit ’n visuele indruk laat wat ons kan help om die teks te vind wanneer ons dit nodig het.

15. Waarom moet ons op hoogte bly van gepubliseerde inligting, en hoe doen jy dit?

15 Bly op hoogte. Sekere gedrukte inligting word nie by ons vergaderinge bespreek nie, maar is tot ons nut saamgestel. Selfs nommers van ons tydskrifte wat vir die publiek aangebied word, is saamgestel met ons in gedagte. In hierdie komplekse wêreld moet ons dikwels vir iemand of iets wag. As ons ’n publikasie by ons hou wat ons nog nie gelees het nie of waarvan ons net ’n gedeelte gelees het, kan ons hierdie geleenthede gebruik om ’n deel daarvan te lees. Party bly op hoogte deur na oudio-opnames van ons publikasies te luister wanneer hulle stap of in ’n voertuig ry. Al hierdie inligting, wat sorgvuldig nagevors maar vir die genot van die gewone leser geskryf is, vergroot ons waardering vir geestelike dinge.—Hab. 2:2.

16. Watter voordeel hou dit in om vrae wat by jou opkom, neer te skryf en na te vors?

16 Peins. Neem tyd om te dink terwyl jy die Bybel of Bybelpublikasies lees. Terwyl jy die draad van die gedeelte sorgvuldig volg, kan vrae by jou opkom. Jy kan hierdie vrae neerskryf en dit later navors. Ons delf dikwels die diepste wanneer ons sake ondersoek wat ons fassineer. Die begrip wat ons verkry, word deel van die persoonlike skatkamer wat ons kan benut wanneer nodig.—Matt. 13:52.

17. Watter program volg jy vir persoonlike of gesinstudie?

17 Reël ’n tyd vir gesinsaanbidding. Die Bestuursliggaam het ons almal aangemoedig om ’n aand of ’n ander tyd gedurende die week opsy te sit vir persoonlike of gesinstudie. Ons aangepaste vergaderingrooster maak dit vir ons moontlik om hierdie raad toe te pas. Wat bestudeer jy gedurende jou aand vir Gesinsaanbidding? Party lees die Bybel, doen navorsing oor verse waaroor hulle wonder en skryf kort verduidelikings in hulle Bybel neer. Baie gesinne neem die tyd om die inligting wat gestudeer word, op hulle gesin toe te pas. Sekere gesinshoofde kies inligting wat hulle dink die gesin moet bespreek of wat handel oor onderwerpe of vrae wat die gesin graag wil bespreek. Jy sal ongetwyfeld met verloop van tyd aan ander onderwerpe dink wat julle kan bespreek. a

18. Waarom moet ons nie daarvan terugdeins om die dieper waarhede van God se Woord te bestudeer nie?

18 Jesus het gesê dat die gees as ’n helper sou dien. Ons moet dus nie daarvan terugdeins om die dieper waarhede van God se Woord te bestudeer nie. Hierdie waarhede is deel van die kosbare “kennis van God”, en ons word genooi om dit te ondersoek. (Lees Spreuke 2:1-5.) Dit openbaar baie oor “die dinge wat God berei het vir dié wat hom liefhet”. Wanneer ons die poging aanwend om meer oor Jehovah se Woord te leer, sal die heilige gees ons help, want “die gees ondersoek alle dinge, selfs die diep dinge van God”.—1 Kor. 2:9, 10.

[Voetnoot]

a Sien ook Ons Koninkryksbediening vir Oktober 2008, bladsy 8.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter tweeledige werking van die gees help ons om “die diep dinge van God” te ondersoek?

• Deur wie het die heilige gees in die eerste eeu diep waarhede geopenbaar?

• Hoe werk die heilige gees om sake in ons dag duidelik te maak?

• Wat kan jy doen om by die gees se rol baat te vind?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 22]

 Hoe die gees die betekenis van die geestelike tempel geopenbaar het

Onder “die diep dinge van God” wat gedurende die eerste eeu geopenbaar is, is die feit dat die tabernakel en later die tempels ’n baie groter geestelike werklikheid voorafgeskadu het. Paulus het daardie werklikheid “die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie”, genoem (Heb. 8:2). Dit was ’n groot geestelike tempel, ’n reëling om God te nader wat deur die offerande en priesterskap van Jesus Christus moontlik gemaak is.

“Die ware tent” het in 29 HJ in aansyn gekom toe Jesus gedoop is en Jehovah hom aanvaar het as die een wat ’n volmaakte offerande sou word (Heb. 10:5-10). Ná Jesus se dood en opstanding het hy in die Allerheiligste van die geestelike tempel ingegaan en die waarde van sy offerande “voor die aangesig van God” aangebied.—Heb. 9:11, 12, 24.

Die apostel Paulus het elders aangaande gesalfde Christene geskryf dat hulle ‘groei tot ’n heilige tempel vir Jehovah’ (Ef. 2:20-22). Was hierdie tempel dieselfde as “die ware tent” wat hy later in sy brief aan die Hebreërs beskryf het? Jehovah se knegte het dekades lank so gedink. Gesalfde Christene sou blykbaar op die aarde voorberei word om “stene” in die hemelse tempel van Jehovah te word.—1 Pet. 2:5.

Maar teen die jaar 1971 het verantwoordelike lede van die slaafklas begin onderskei dat die tempel waarvan Paulus in Efesiërs praat, nie Jehovah se groot geestelike tempel kon wees nie. As “die ware tent” uit verrese gesalfde Christene bestaan het, sou dit eers in aansyn gekom het nadat hulle opstanding gedurende “die teenwoordigheid van die Here” begin het (1 Tess. 4:15-17). Maar Paulus het na die tabernakel verwys en geskryf: “Dié tent is ’n illustrasie vir die vasgestelde tyd wat nou hier is.”Heb. 9:9.

Deur hierdie en ander tekste sorgvuldig met mekaar te vergelyk, het dit duidelik geword dat die geestelike tempel nie in aanbou is nie en dat gesalfde Christene nie “stene” is wat op die aarde gereedgemaak word om daarby ingesluit te word nie. Gesalfde Christene dien eerder in die voorhof en in die Heilige van die geestelike tempel en bring daagliks “’n lofoffer” aan God.—Heb. 13:15.

[Prent op bladsy 23]

Hoe kan ons ons begrip van “die diep dinge van God” verbeter?