Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Doen soveel moontlik in die groot geestelike oeswerk

Doen soveel moontlik in die groot geestelike oeswerk

Doen soveel moontlik in die groot geestelike oeswerk

‘Julle moet baie hê om in die werk van die Here te doen.’—1 KOR. 15:58.

1. Watter uitnodiging het Jesus aan sy dissipels gerig?

 TERWYL Jesus teen die einde van 30 HJ deur die gebied van Samaria gereis het, het hy by ’n put naby die dorp Sigar gaan sit om te rus. Daar het hy vir sy dissipels gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande, dat hulle wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Jesus het nie na ’n letterlike oes verwys nie, maar na ’n geestelike insameling van regskapenes wat sy volgelinge sou word. Sy woorde was in werklikheid ’n oproep tot aksie. Daar was baie werk om te doen en net ’n kort tydjie om dit in te doen!

2, 3. (a) Wat toon dat ons in die oestyd lewe? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

2 Jesus se woorde oor ’n oes het spesiale betekenis vir ons dag. Ons lewe in ’n tyd waarin die wêreldveld van mense “wit is vir die oes”. Jaarliks ontvang miljoene mense die uitnodiging om lewegewende waarhede in te neem, en derduisende nuwe dissipels word gedoop. Ons het die voorreg om aan die grootste oeswerk van alle tye deel te neem, onder die toesig van die Heer van die oes, Jehovah God. ‘Doen jy baie’ in hierdie oeswerk?—1 Kor. 15:58.

3 Gedurende sy aardse bediening van drie en ’n half jaar het Jesus sy dissipels voorberei vir hulle rol as oeswerkers. Hierdie artikel sal drie van die talle belangrike lesse bespreek wat Jesus sy dissipels geleer het. Elke les vestig die aandag op ’n eienskap wat vir ons van groot waarde is terwyl ons ons bes doen in die hedendaagse insameling van dissipels. Kom ons bespreek hierdie eienskappe een op ’n slag.

Nederigheid is noodsaaklik

4. Hoe het Jesus die belangrikheid van nederigheid toegelig?

4 Stel jou die toneel voor: Die dissipels het so pas gestry oor wie die grootste is. Wantroue en kwade gevoelens kan waarskynlik nog op hulle gesigte gesien word. Jesus roep dus ’n jong kind nader om in hulle midde te kom staan. Hy vestig die aandag op die kindjie en sê: “Elkeen dan wat hom soos hierdie jong kind sal verneder, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.” (Lees Matteus 18:1-4.) Die dissipels moes nie dink soos die wêreld, wat ’n persoon aan sy mag, rykdom of status meet nie, maar hulle moes eerder verstaan dat hulle grootheid daarvan afgehang het dat hulle hulle in die oë van ander “verneder”. Jehovah sou hulle alleenlik seën en gebruik as hulle ware nederigheid aan die dag lê.

5, 6. Waarom moet jy nederig wees om soveel moontlik in die oeswerk te doen? Lig toe.

5 Tot vandag toe wy baie mense in die wêreld hulle lewe aan die najaging van mag, rykdom en status. Gevolglik het hulle min of geen tyd vir geestelike belange nie (Matt. 13:22). In teenstelling hiermee “verneder” Jehovah se volk hulle met graagte in die oë van ander sodat hulle die seën en goedkeuring van die Heer van die oes kan verkry.—Matt. 6:24; 2 Kor. 11:7; Fil. 3:8.

6 Dink aan die voorbeeld van Francisco, wat as ’n ouer man in Suid-Amerika dien. As ’n jong man het hy universiteit verlaat om ’n pionier te word. “Toe ek later verloof geraak het”, vertel hy, “kon ek ’n werk gekry het wat vir my en my vrou groter finansiële sekuriteit sou gee. Maar ons het besluit om eerder ons lewe te vereenvoudig en saam in die voltydse diens te bly. Later het ons kinders gehad, en die uitdagings het meer geword. Maar Jehovah het ons gehelp om by ons besluit te bly.” Francisco voeg by: “Ek geniet al meer as 30 jaar lank die voorreg om as ouer man te dien, benewens baie ander spesiale toewysings. Ons was nog nooit spyt dat ons ’n eenvoudige lewe gelei het nie.”

7. Hoe het jy al probeer om die raad in Romeine 12:16 toe te pas?

7 As jy nee sê vir die “hoë dinge” van hierdie wêreld en jou ‘saam met die nederige dinge laat lei’, kan jy ook verwag om baie bykomende seëninge en voorregte in die oeswerk te geniet.—Rom. 12:16; Matt. 4:19, 20; Luk. 18:28-30.

Ywer bring belonings mee

8, 9. (a) Som Jesus se illustrasie van die talente op. (b) Vir wie in die besonder kan hierdie illustrasie aanmoedigend wees?

8 Nog ’n eienskap wat ons nodig het om soveel moontlik in die oeswerk te doen, is ywer. Jesus het dit in die gelykenis van die talente toegelig. a Daardie illustrasie handel oor ’n man wat sy besittings aan drie slawe toevertrou het voordat hy na die buiteland gereis het. Die eerste en die tweede slaaf het onderskeidelik vyf en twee talente ontvang; die derde, een talent. Nadat hulle heer vertrek het, het die eerste twee slawe ywerig en onmiddellik met hulle talente “handel gedryf”. In teenstelling hiermee was die derde slaaf ‘traag’. Hy het sy talent in die grond begrawe. Toe die man terugkeer, het hy die eerste twee slawe beloon deur hulle “oor baie dinge” aan te stel. Hy het die talent wat hy aan die derde slaaf gegee het, van hom af weggeneem en daardie slaaf uit sy huis gejaag.—Matt. 25:14-30.

9 Jou hartsbegeerte is ongetwyfeld om die ywerige slawe in Jesus se gelykenis na te volg en soveel moontlik in die dissipelmaakwerk te doen. Maar sê nou omstandighede beperk grootliks wat jy tans kan doen? Dalk moet jy weens moeilike ekonomiese toestande noodgedwonge lang ure werk om vir jou gesin te sorg. Of miskien het jy nie meer jeugdige krag en goeie gesondheid nie. As dit die geval is, bevat die gelykenis van die talente ’n aanmoedigende boodskap vir jou.

10. Hoe het die heer in die gelykenis van die talente redelikheid aan die dag gelê, en waarom vind jy dit aanmoedigend?

10 Let op dat die heer in die gelykenis erken het dat sy slawe se vermoëns verskil het. Hy het dit aangedui toe hy talente vir “elkeen volgens sy eie vermoë” gegee het (Matt. 25:15). Soos verwag is, het die eerste slaaf aansienlik meer as die tweede slaaf opgelewer. Maar die heer het die ywerige pogings van albei hierdie slawe erken deur hulle “goeie en getroue” slawe te noem en hulle identiese belonings te gee (Matt. 25:21, 23). Die Heer van die oes, Jehovah God, weet eweneens dat jou omstandighede ’n uitwerking het op wat jy in sy diens kan doen. Hy sal beslis erkenning gee aan jou heelhartige pogings om hom te dien en jou dienooreenkomstig beloon.—Mark. 14:3-9; lees Lukas 21:1-4.

11. Lig toe hoe ywer in moeilike omstandighede tot ryk seëninge kan lei.

11 Die voorbeeld van Selmira, ’n Christensuster in Brasilië, toon dat ywer in God se diens nie van gunstige lewensomstandighede afhang nie. Twintig jaar gelede is Selmira se man in ’n roofaanval doodgeskiet, wat haar agtergelaat het met drie jong kinders om groot te maak. Haar werk as ’n huishulp het behels dat sy lang ure moes werk en gebruik moes maak van stedelike vervoer wat gewoonlik stampvol was en wat haar uitgeput het. Ondanks hierdie moeilike omstandighede het sy haar sake so gereël dat sy as ’n gewone pionier kon dien. Twee van haar drie kinders het later saam met haar begin pionier. “Deur die jare heen het ek die Bybel met meer as 20 mense gestudeer, en hulle het deel van my ‘gesin’ geword”, vertel sy. “Tot vandag toe waardeer ek hulle liefde en vriendskap. Dit is ’n skat wat geld nie kan koop nie.” Die Heer van die oes het beslis Selmira se ywerige pogings geseën!

12. Hoe kan ons ywer in die predikingswerk toon?

12 As jou huidige omstandighede in die lewe die tyd beperk wat jy aan die bediening kan wy, kan jy nog steeds meer in die oeswerk probeer doen deur jou bediening produktiewer te maak. Wanneer jy die praktiese wenke in die weeklikse Diensvergadering sorgvuldig toepas, sal jy jou predikingsvaardighede verbeter en aan ander fasette van die getuieniswerk deelneem (2 Tim. 2:15). En as dit moontlik is, kan jy minder belangrike bedrywighede vir ander tye reël of dit opoffer sodat jy gemeentelike velddiensreëlings gereeld kan ondersteun.—Kol. 4:5.

13. Wat is die sleutel om ywer aan te kweek en dit te behou?

13 Hou in gedagte dat ywer uit ’n hart vol waardering voortspruit (Ps. 40:8). Die derde slaaf wat in Jesus se gelykenis genoem word, was bang vir sy heer en het hom as ’n veeleisende en onredelike persoon beskou. Gevolglik het die slaaf sy talent begrawe in plaas van dit te gebruik om sy heer se besittings te vermeerder. Om ’n soortgelyke onverskillige gesindheid te vermy, moet ons ’n hegte verhouding met die Heer van die oes, Jehovah, aanknoop en behou. Sit tyd opsy om te studeer en te peins oor sy aantreklike eienskappe—sy liefde, geduld en barmhartigheid. Dit sal jou beweeg om heelhartig jou bes in sy diens te doen.—Luk. 6:45; Fil. 1:9-11.

“Julle moet heilig wees”

14. Aan watter belangrike vereiste moet dié voldoen wat oeswerkers wil wees?

14 Die apostel Petrus haal uit die Hebreeuse Geskrifte aan wanneer hy sê wat God se uitdruklike wil vir sy aardse knegte is: “Word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Pet. 1:15, 16; Lev. 19:2; Deut. 18:13). Hierdie stelling beklemtoon die feit dat die oeswerkers sedelik en geestelik rein moet wees. Ons kan aan hierdie belangrike vereiste voldoen deur stappe te doen om figuurlik gesproke skoon gewas te word. Hoe kan dit gedoen word? Met behulp van God se woord van waarheid.

15. Die waarheid van God se woord het die krag om wat ten behoewe van ons te doen?

15 God se woord van waarheid word vergelyk met water wat reinig. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf dat die gemeente van gesalfde Christene rein is in God se oë, soos ’n kuis bruid vir Christus, wat dit “met die waterbad deur middel van die woord [gereinig het], sodat . . . dit heilig en sonder smet sou wees” (Ef. 5:25-27). Vroeër het Jesus ook gepraat van die reinigende krag van die woord van God, wat hy verkondig het. Toe Jesus met sy dissipels gepraat het, het hy gesê: “Julle is reeds skoon weens die woord wat ek tot julle gespreek het” (Joh. 15:3). Die waarheid van God se woord het die krag om sedelike en geestelike reiniging teweeg te bring. Ons aanbidding sal slegs vir God aanvaarbaar wees as ons toelaat dat God se waarheid ons op hierdie manier reinig.

16. Hoe kan ons ons geestelik en sedelik rein hou?

16 Om werkers in God se oes te word, moet ons dus eers van alle sedelik en geestelik verontreinigende gebruike in ons lewe ontslae raak. Ja, om aan te hou om te kwalifiseer vir die voorreg om ’n oeswerker te wees, moet ons Jehovah se hoë sedelike en geestelike standaarde voorbeeldig handhaaf. (Lees 1 Petrus 1:14-16.) Net soos ons voortdurend aandag gee aan ons liggaamshigiëne, moet ons ons gereeld onderwerp aan die reinigende invloed van God se woord van waarheid. Dit behels Bybellees en die bywoning van Christelike vergaderinge. Dit beteken ook dat ons ’n opregte poging aanwend om God se herinneringe in ons lewe toe te pas. As ons dit doen, sal ons ons eie sondige neigings en die besoedelende invloede van hierdie wêreld kan teëwerk (Ps. 119:9; Jak. 1:21-25). Ja, hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons met behulp van God se woord van waarheid selfs van ernstige sondes “skoon gewas” kan word!—1 Kor. 6:9-11.

17. Watter Bybelraad moet ons toepas as ons rein wil bly?

17 Verwelkom jy die reinigende invloed van God se woord van waarheid in jou lewe? Hoe reageer jy byvoorbeeld wanneer jy gewaarsku word teen die gevare van hierdie wêreld se verderflike vermaak? (Ps. 101:3). Vermy jy onnodige assosiasie met skool- en werksmaats wat nie dieselfde godsdiensoortuigings as jy het nie? (1 Kor. 15:33). Is jy opreg in jou pogings om persoonlike swakhede te oorkom wat jou onrein in Jehovah se oë kan maak? (Kol. 3:5). Bly jy afgeskeie van hierdie wêreld se politieke geskille en die nasionalistiese gees wat baie mededingende sportsoorte oorheers?—Jak. 4:4.

18. Hoe sal sedelike en geestelike reinheid ons help om produktiewe oeswerkers te wees?

18 Jou getroue gehoorsaamheid in sulke sake sal uitstekende resultate meebring. Jesus het sy gesalfde dissipels met die lote van ’n wingerdstok vergelyk en gesê: “Elke loot in my wat nie vrug dra nie, neem [my Vader] weg, en elkeen wat vrug dra, maak hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra” (Joh. 15:2). Namate jy jou aan die reinigende water van Bybelwaarheid onderwerp, sal jy selfs meer vrug dra.

Seëninge nou en in die toekoms

19. Hoe is Jesus se dissipels geseën in hulle pogings as oeswerkers?

19 Die getroue dissipels wat op Jesus se opleiding gereageer het, het later op Pinkster 33 HJ deur middel van die heilige gees krag ontvang om getuies “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te wees (Hand. 1:8). Hulle het later as lede van die bestuursliggaam, as sendelinge en as reisende ouer manne gedien, en hulle het ’n vername rol gespeel in die verkondiging van die goeie nuus “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kol. 1:23). Watter seëninge het hulle tog ontvang, en watter vreugde het hulle tog aan ander verskaf!

20. (a) Watter seëninge het jy al ontvang omdat jy soveel moontlik in die geestelike oeswerk doen? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Ja, deur nederigheid aan die dag te lê, ywer te toon en die hoë standaarde van God se Woord te handhaaf, sal ons aanhou om ’n groot en betekenisvolle aandeel te hê aan die groot geestelike oeswerk wat nou aan die gang is. Terwyl baie die pyn en frustrasie verduur wat met hierdie wêreld se materialistiese en genotsugtige lewenstyl gepaardgaan, geniet ons ware vreugde en tevredenheid (Ps. 126:6). Die heel belangrikste is dat ons “arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor. 15:58). Die Heer van die oes, Jehovah God, sal ons vir ewig beloon vir ‘ons werk en die liefde wat ons vir sy naam toon’.—Heb. 6:10-12.

[Voetnoot]

a Die gelykenis van die talente handel hoofsaaklik oor hoe Jesus teenoor sy gesalfde dissipels optree, maar dit bevat beginsels wat op alle Christene van toepassing is.

Onthou jy?

Terwyl jy daarna streef om soveel moontlik in die oeswerk te doen . . . 

• waarom is dit noodsaaklik dat jy nederigheid aan die dag lê?

• hoe kan jy ywer aankweek en behou?

• waarom is dit belangrik dat jy sedelik en geestelik rein bly?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Nederigheid kan ons help om ’n eenvoudige lewe te lei wat om Koninkryksbelange draai