Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”

“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”

“Moenie bang wees nie. Ek sal jou help”

JESUS het sy volgelinge gewaarsku: “Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word.” Maar net voordat Jesus hierdie waarskuwing gegee het, het hy gesê: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie.” Aangesien Satan nog steeds van die bedreiging van tronkstraf gebruik maak om die Koninkrykspredikingswerk stop te sit, is daar ’n sterk moontlikheid dat party regerings ware Christene sal vervolg (Op. 2:10; 12:17). Wat sal ons dus help om voorbereid te wees op Satan se sette en om ‘nie bang te wees nie’, soos Jesus ons gemaan het?

Die meeste van ons was natuurlik al op die een of ander tyd bevrees. Maar God se Woord verseker ons dat ons met Jehovah se hulp nie voor vrees hoef te swig nie. Hoe help hy ons? Een manier waarop Jehovah ons help om voorbereid te wees om teenstand die hoof te bied, is deur die taktiek te identifiseer wat Satan en sy agente gebruik (2 Kor 2:11). Om dit toe te lig, kom ons kyk na ’n gebeurtenis wat in Bybeltye plaasgevind het. Ons sal ook kyk na ’n paar hedendaagse voorbeelde van getroue medegelowiges wat ‘vasgestaan het teen die sette van die Duiwel’.—Ef. 6:11-13.

’n Godvresende koning kom voor ’n bose heerser te staan

In die agtste eeu VHJ het die bose koning Sanherib van Assirië ’n reeks oorwinnings oor etlike nasies behaal. Aangevuur deur selfversekerdheid het hy toe sy aandag gerig op Jehovah se volk en hulle hoofstad, Jerusalem, waar godvresende Hiskia as koning regeer het (2 Kon. 18:1-3, 13). Satan het ongetwyfeld die situasie uitgebuit en Sanherib aangehits om sy planne uit te voer sodat ware aanbidding van die aarde af uitgewis kon word.—Gen. 3:15.

Sanherib het ’n afvaardiging na Jerusalem gestuur om te eis dat die stad oorgee. Rabsake, wat as die koning se vernaamste woordvoerder opgetree het, was deel van die afvaardiging (2 Kon. 18:17). a Rabsake se doelwit was om die Jode te ontmoedig sodat hulle sonder ’n stryd sou oorgee. Watter metodes het Rabsake gebruik om die harte van die Jode met vrees te probeer vervul?

Getrou ondanks afsondering

Rabsake het vir Hiskia se verteenwoordigers gesê: “Só het die groot koning, die koning van Assirië, gesê: ‘Wat is hierdie vertroue wat jy gekoester het? . . . Kyk! jy het jou vertroue gestel in die steun van hierdie geknakte riet, Egipte, wat, as ’n man daarop sou leun, beslis in sy palm sou ingaan en dit sou deurboor’” (2 Kon. 18:19, 21). Rabsake se aantyging was vals, want Hiskia het nie ’n bondgenootskap met Egipte aangegaan nie. Nietemin het die aantyging beklemtoon wat Rabsake wou hê dat die Jode goed moes onthou: ‘Niemand sal julle kom help nie. Julle is op julle eie—afgesonderd.’

In onlangser tye het teenstanders van ware aanbidding ook die bedreiging van afsondering gebruik om die harte van ware Christene met vrees te probeer vervul. Een Christensuster wat weens haar geloof opgesluit en jare lank van medegelowiges afgesonderd was, het later vertel wat haar gehelp het om nie voor vrees te swig nie. Sy het gesê: “Gebed het my gehelp om nader aan Jehovah te kom . . . Ek het die versekering in Jesaja 66:2 onthou dat God let op ‘die een wat geteister en verslae van gees is’. Dít was altyd vir my ’n bron van krag en groot vertroosting.” ’n Broer wat jare lank in eensame opsluiting was, het eweneens gesê: “Ek het besef dat die klein, reghoekige sel eintlik ’n ganse heelal kan wees wanneer ’n mens ’n intieme verhouding met God geniet.” Ja, ’n hegte verhouding met Jehovah het hierdie twee Christene die nodige krag gegee om afsondering te verduur (Ps. 9:9, 10). Hulle vervolgers kon hulle skei van hulle familie, vriende en medegelowiges, maar die Getuies in die gevangenis het geweet dat hulle teenstanders hulle nooit van Jehovah kan afsonder nie.—Rom. 8:35-39.

Hoe belangrik is dit dan tog dat ons elke beskikbare geleentheid gebruik om ons verhouding met Jehovah te versterk! (Jak. 4:8). Ons moet ons gereeld afvra: ‘Hoe werklik is Jehovah vir my? Het sy woorde ’n kragtige uitwerking op die besluite, klein en groot, wat ek in my daaglikse lewe neem?’ (Luk. 16:10). As ons ons inspan om ons hegte verhouding met God te behou, het ons geen rede om bang te wees nie. Die profeet Jeremia het namens die geteisterde Jode gepraat en gesê: “Ek het u naam uitgeroep, o Jehovah, uit die onderste kuil . . . U het nader gekom op die dag dat ek u bly aanroep het. U het gesê: ‘Moenie bang wees nie.’”—Klaagl. 3:55-57.

Pogings om twyfel te wek, misluk

Rabsake het slinkse redenasies gebruik om twyfel te probeer wek. Hy het gesê: “Is dit dan nie [Jehovah se] hoogtes en sý altare wat Hiskia verwyder het nie? . . . Jehovah het vir my gesê: ‘Trek op teen hierdie land, en jy moet dit verwoes’” (2 Kon. 18:22, 25). Rabsake het dus aangevoer dat Jehovah nie vir Sy volk sou veg nie omdat Hy vir hulle kwaad was. Maar die teenoorgestelde was waar. Jehovah het behae geskep in Hiskia en in die Jode wat tot ware aanbidding teruggekeer het.—2 Kon 18:3-7.

Vandag dra slinkse vervolgers dalk brokkies inligting oor wat waar is en waarmee hulle gemeenskaplike grond probeer vind, maar hulle verweef daardie waarheid subtiel met leuens in die hoop om twyfel te wek. Daar is soms byvoorbeeld vir broers en susters in die gevangenis gesê dat ’n broer wat die leiding neem in hulle land, sy geloof prysgegee het en dat dit derhalwe ook vir hulle in orde sou wees om dieselfde te doen en om hulle oortuigings prys te gee. Maar sulke redenasies laat nie Christene met onderskeidingsvermoë begin twyfel nie.

Kyk byvoorbeeld na wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog met ’n Christensuster gebeur het. Terwyl sy in die gevangenis was, is daar vir haar geskrewe verklarings gewys wat aangedui het dat ’n verantwoordelike broer sy geloof prysgegee het. Die ondervraer wou weet of sy vertroue in daardie Getuie het. Die suster het geantwoord: “[Hy] is net ’n onvolmaakte mens.” Sy het bygevoeg dat God hom gebruik het solank hy Bybelbeginsels gevolg het. “Maar omdat sy verklarings van die Bybel afwyk, is hy nie meer my broer nie.” Daardie getroue suster het wyslik die Bybel se vermaning gevolg: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie.”—Ps. 146:3.

As ons juiste kennis van God se Woord het en die raad daarin toepas, sal dit ons help om te waak teen bedrieglike redenasies wat ons vasbeslotenheid om te volhard, kan ondermyn (Ef. 4:13, 14; Heb. 6:19). Om ons voor te berei om helder te kan dink wanneer ons onder druk is, moet ons dus daaglikse Bybellees en persoonlike studie ’n prioriteit maak (Heb. 4:12). Ja, dit is nou die tyd om ons kennis te vergroot en ons geloof te versterk. Een broer wat baie jare lank in eensame opsluiting was, het gesê: “Ek wil almal aanmoedig om gepaste waardering te toon vir al die geestelike voedsel wat ons ontvang, aangesien ons nie presies weet hoe dit later vir ons van waarde sal wees nie.” Ja, as ons God se Woord en die publikasies wat vandag deur die slaafklas voorsien word, noukeurig bestudeer, sal die heilige gees ons op kritieke tye in die lewe “herinner aan” wat ons geleer het.—Joh. 14:26.

Beskerming teen intimidasie

Rabsake het die Jode probeer intimideer. “Gaan dan nou asseblief ’n weddenskap aan met my heer, die koning van Assirië”, het hy gesê, “en laat ek jou tweeduisend perde gee om te sien of jy ruiters daarop kan sit. Hoe sou jy dan die aangesig van een goewerneur van die geringste knegte van my heer kon afkeer?” (2 Kon. 18:23, 24). Vanuit ’n menslike oogpunt het Hiskia en sy volk geen kans teen die magtige Assiriese leër gehad nie.

Vandag kan dit ook lyk asof vervolgers geweldige mag het, veral wanneer hulle die volle ondersteuning van die Staat het. Dit was beslis die geval met die Nazi-vervolgers gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hulle het baie van God se knegte probeer intimideer. Een van ons broers, wat jare lank in die gevangenis was, het later vertel hoe hy gedreig is. By een geleentheid het ’n offisier hom gevra: “Het jy gesien hoe jou broer geskiet is? Watter les het jy daaruit geleer?” Sy antwoord was: “Ek is ’n getuie vir Jehovah en ek sal dit bly.” “Dan is jy die volgende een wat geskiet gaan word”, het die offisier gedreig. Nietemin het ons broer standvastig gebly, en die vyand het opgehou om hom te probeer intimideer. Wat het hom gehelp om vas te staan ondanks hierdie dreigement? Hy het geantwoord: “Ek het op die naam van Jehovah vertrou.”—Spr. 18:10.

As ons volle vertroue in Jehovah het, dra ons ’n groot skild wat ons beskerm teen alles wat Satan gebruik om ons geestelik te skaad (Ef. 6:16). Daarom is dit goed om Jehovah in gebed te vra om ons te help om ons geloof te versterk (Luk. 17:5). Ons moet ook goed gebruik maak van die geloofversterkende reëlings van die ‘getroue slaaf’-klas. Wanneer ons gedreig word, word ons versterk as ons dink aan die versekering wat Jehovah die profeet Esegiël gegee het, wat vir hardkoppige mense moes getuig. Jehovah het vir hom gesê: “Ek het jou aangesig net so hard soos hulle aangesig gemaak en jou voorkop net so hard soos hulle voorkop. Soos ’n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak” (Eseg. 3:8, 9). Indien nodig, kan Jehovah ons help om so hard soos ’n diamant te wees, net soos Esegiël moes wees.

Hoe om versoekings te weerstaan

Teenstanders het gevind dat wanneer niks anders werk nie, aanloklike belonings ’n persoon soms sy onkreukbaarheid kan laat prysgee. Rabsake het ook hierdie metode gebruik. Hy het vir die mense in Jerusalem gesê: “Só het die koning van Assirië gesê: ‘Gee julle aan my oor, en kom na my toe uit . . . totdat ek kom en julle na ’n land neem net soos julle land, ’n land van graan en nuwe wyn, ’n land van brood en wingerde, ’n land van olieryke olyfbome en heuning; en bly lewe sodat julle nie sterf nie’” (2 Kon. 18:31, 32). Die vooruitsig om vars brood te eet en nuwe wyn te drink, was sekerlik baie aantreklik vir diegene wat binne die beleërde stad se mure vasgekeer was!

So ’n vooruitsig is eenkeer gebruik om die vasbeslotenheid van ’n sendeling wat in die gevangenis was, te probeer ondermyn. Daar is vir hom gesê dat hy vir ses maande na ’n “aangename tuiste” in ’n “pragtige tuin” geneem sou word sodat hy sou kon dink. Maar die broer het geestelik wakker gebly en nie sy Christelike beginsels prysgegee nie. Wat het hom gehelp? Hy het later verduidelik: “Ek het altyd aan die Koninkryk gedink as ’n werklike hoop. . . . Omdat ek deur kennis van God se koninkryk versterk is, seker was daarvan en nooit vir ’n oomblik daaraan getwyfel het nie, was ek onwankelbaar.”

Hoe werklik is God se Koninkryk vir ons? Die aartsvader Abraham, die apostel Paulus en Jesus self het almal moeilike beproewinge verduur omdat die Koninkryk vir hulle ’n werklikheid was (Fil. 3:13, 14; Heb. 11:8-10; 12:2). As ons aanhou om die Koninkryk eerste in ons lewe te stel en die blywende seëninge daarvan in gedagte hou, kan ons ook die versoeking weerstaan om beloftes van tydelike verligting van beproewinge te aanvaar.—2 Kor. 4:16-18.

Jehovah sal ons nie verlaat nie

Ten spyte van al Rabsake se pogings om die Jode bang te maak, het Hiskia en sy onderdane hulle onwankelbare vertroue in Jehovah gestel (2 Kon. 19:15, 19; Jes. 37:5-7). Jehovah het op sy beurt hulle gebede om hulp verhoor deur ’n engel te stuur om in een nag 185 000 krygsmanne in die kamp van die Assiriërs te verslaan. Net die volgende dag het Sanherib hom in skaamte na sy hoofstad, Nineve, teruggehaas met die paar wat oor was van sy leër.—2 Kon. 19:35, 36.

Dit is duidelik dat Jehovah nie diegene verlaat het wat hulle vertroue in hom gestel het nie. Hedendaagse voorbeelde van ons broers en susters wat tydens beproewinge standvastig bly, toon dat dieselfde vandag waar is van Jehovah. Dit is dus met goeie rede dat ons hemelse Vader ons verseker: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jes. 41:13.

[Voetnoot]

a “Rabsake” was ’n titel van ’n prominente Assiriese amptenaar. Die man se persoonlike naam word nie in die verslag gemeld nie.

[Lokteks op bladsy 13]

Jehovah self gee sy knegte meer as 30 keer in sy Woord die versekering: “Moenie bang wees nie”

[Prent op bladsy 12]

Hoe was Rabsake se taktiek soortgelyk aan dié wat vyande van God se volk vandag gebruik?

[Prente op bladsy 15]

’n Hegte verhouding met Jehovah stel ons in staat om ons onkreukbaarheid tydens beproewinge te handhaaf