Hoe die losprys ons red
Hoe die losprys ons red
“Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom.”—JOH. 3:36.
1, 2. Wat was een rede waarom Zion’s Watch Tower oorspronklik uitgegee is?
“ENIGE ernstige student van die Bybel moet eenvoudig beïndruk wees deur die klem wat op die dood van Christus gelê word”, het die vierde nommer van hierdie tydskrif reeds in Oktober 1879 gesê. Daardie artikel het op dié ernstige noot afgesluit: “Laat ons op ons hoede wees vir enigiets wat die dood van Christus as die offerande en versoening vir sonde geringag of misken.”—Lees 1 Johannes 2:1, 2.
2 Een van die redes waarom Zion’s Watch Tower vanaf Julie 1879 uitgegee is, was om die Bybellering van die losprys te verdedig. Die tydskrif het “voedsel op die regte tyd” voorsien, want in die laat 1800’s het al hoe meer verklaarde Christene daaraan begin twyfel dat Jesus se dood ’n losprys vir ons sondes kan wees (Matt. 24:45). Op daardie stadium is baie meegesleur deur die evolusieteorie, ’n idee wat strydig is met die feit dat die mens uit volmaaktheid in sonde verval het. Evolusioniste leer dat die mens van nature verbeter en nie ’n losprys nodig het nie. Die apostel Paulus se raad aan Timoteus is dus besonder gepas: “Bewaar die pand wat aan jou toevertrou is en keer jou af van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’. Deur ’n vertoon van sulke kennis te maak, het party van die geloof afgewyk.”—1 Tim. 6:20, 21.
3. Watter vrae gaan ons nou bespreek?
3 Jy is ongetwyfeld vasbeslote om nie ‘van die geloof af te wyk’ nie. Daarom sal dit goed wees om hierdie vrae te bespreek: Waarom het ek die losprys nodig? Wat het dit gekos? Hoe kan ek baat vind by hierdie kosbare voorsiening wat my van God se gramskap kan red?
Gered van God se gramskap
4, 5. Wat bewys dat God se gramskap op die teenswoordige goddelose stelsel van dinge bly?
4 Die Bybel en die nugtere feite van die geskiedenis toon dat God se gramskap sedert Adam se sondeval ‘op [die mensdom] gebly het’ (Joh. 3:36). Dit blyk duidelik uit die feit dat geen mens nog in staat was om uiteindelike dood vry te spring nie. Satan se mededingende soewereiniteit kon mense glad nie teen voortdurende rampspoed beskerm nie, en geen menseregering het die vermoë gehad om in die basiese behoeftes van al sy burgers te voorsien nie (1 Joh. 5:19). Die mensdom word dus steeds deur oorlog, misdaad en armoede geteister.
5 Dit is dan duidelik dat Jehovah se seën nie op die teenswoordige goddelose stelsel van dinge rus nie. Paulus het gesê dat “God se gramskap . . . vanuit die hemel geopenbaar [word] teen alle goddeloosheid” (Rom. 1:18-20). Daarom sal diegene wat onberouvol goddelose lewens lei, nie die gevolge van hulle gedrag vryspring nie. Vandag word God se gramskap bekend gemaak deur die oordeelsboodskappe wat soos plae oor Satan se wêreld uitgegooi word, en hierdie inligting verskyn in baie van ons Bybelpublikasies.—Op. 16:1.
6, 7. Met watter werk neem gesalfde Christene die voortou, en watter geleentheid is daar nog vir individue wat deel van Satan se wêreld is?
6 Beteken dit dat dit te laat is vir individue om los te breek van Satan se oorheersing en God se guns te verkry? Nee, want die deur wat tot versoening met Jehovah lei, is nog steeds wawyd oop. Gesalfde Christene, wat “ambassadeurs [is] wat as plaasvervangers vir Christus optree”, neem die voortou met ’n openbare bediening waardeur mense van alle nasies gesmeek word: “Raak met God versoen.”—2 Kor. 5:20, 21.
7 Die apostel Paulus het gesê dat Jesus “ons verlos van die komende gramskap” (1 Tess. 1:10). Daardie finale openbaring van Jehovah se toorn sal tot die ewige vernietiging van onberouvolle sondaars lei (2 Tess. 1:6-9). Wie sal daaraan ontkom? Die Bybel sê: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom” (Joh. 3:36). Ja, almal wat lewe en in Jesus en die losprys geloof beoefen wanneer hierdie stelsel tot sy einde kom, sal aan die gevolge van God se finale dag van gramskap ontkom.
Hoe die losprys werk
8. (a) Watter wonderlike vooruitsig het Adam en Eva gehad? (b) Hoe het Jehovah bewys dat hy ’n God van volmaakte geregtigheid is?
8 Adam en Eva is volmaak geskep. As hulle aan God gehoorsaam gebly het, sou die aarde nou gevul gewees het met hulle gelukkige nageslag wat saam met hulle in die Paradys lewe. Maar ongelukkig het ons eerste ouers God se gebod opsetlik verbreek. Gevolglik is hulle tot die ewige dood gevonnis en is hulle uit die oorspronklike Paradys verdryf. Teen die tyd dat Adam en Eva kinders gehad het, het sonde die mensdom aangetas, en die eerste man en vrou het uiteindelik oud geword en gesterf. Dit bewys dat Jehovah getrou is aan sy woord. Daarbenewens is hy ’n God van volmaakte geregtigheid. Jehovah het Adam gewaarsku dat hy sou sterf as hy van die verbode vrug eet—en hy het ook.
9, 10. (a) Waarom sterf Adam se afstammelinge? (b) Hoe kan ons aan die ewige dood ontkom?
9 As afstammelinge van Adam het ons ’n onvolmaakte liggaam geërf wat geneig is tot sonde en, uiteindelik, die dood. Toe Adam gesondig het, was ons as ’t ware in sy lendene. Die doodsvonnis het ons dus ingesluit. As Jehovah die sterfproses sou omkeer sonder dat ’n losprys betaal is, sou hy ontrou wees aan sy woord. Paulus het in werklikheid namens ons almal gepraat toe hy gesê het: “Ons weet dat die Wet geestelik is; maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?”—Rom. 7:14, 24.
10 Slegs Jehovah God kon die wetlike grondslag voorsien waardeur hy tereg ons sondes kon vergewe en ons van die straf van ewige dood kon bevry. Hy het dit gedoen deur sy geliefde Seun uit die hemel te stuur om gebore te word as ’n volmaakte mens, wat sy lewe as ’n losprys vir ons kon gee. In teenstelling met Adam het Jesus volmaak gebly. Trouens, “hy het geen sonde begaan nie” (1 Pet. 2:22). Jesus het dus die potensiaal gehad om die vader te word van ’n volmaakte menseras. Maar hy het eerder toegelaat dat God se vyande hom doodmaak sodat hy Adam se sondige afstammelinge kon aanneem en sodat hy dit vir diegene wat in hom geloof beoefen, moontlik kon maak om die ewige lewe te ontvang. Die Skrif verduidelik: “Daar is een God, en een middelaar tussen God en die mense, ’n mens, Christus Jesus, wat homself as ’n ooreenstemmende losprys vir almal gegee het.”—1 Tim. 2:5, 6.
11. (a) Hoe kan die voordele van die losprys toegelig word? (b) Hoe verreikend is die voordele van die losprys?
11 Hoe die losprys werk, kan toegelig word deur die situasie van mense wat van al hulle spaargeld beroof is deur ’n korrupte bank en gevolglik in die skuld geraak het. Die eienaars van die bank word tereg tot jare lange tronkstraf gevonnis. Maar wat van die onskuldige slagoffers? Noudat hulle in armoede verval het, het hulle geen uitkoms uit hulle situasie tensy ’n goedhartige en ryk man die bank oorneem en al die slagoffers se spaargeld aan hulle teruggee nie, sodat hulle nie meer in die skuld is nie. Op soortgelyke wyse het Jehovah God en sy geliefde Seun die nageslag van Adam gekoop en hulle hulle sondeskuld op grond van Jesus se vergote bloed kwytgeskeld. Daarom kon Johannes die Doper van Jesus sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Die mensewêreld wie se sondes weggeneem word, sluit nie net die lewendes in nie, maar ook die dooies.
Wat die losprys gekos het
12, 13. Wat kan ons leer uit Abraham se gewilligheid om Isak te offer?
12 Dit is onmoontlik vir ons om te begryp presies hoeveel die losprys ons hemelse Vader en sy geliefde Seun gekos het. Maar die Bybel bevat ondervindinge wat ons kan help om oor hierdie saak te peins. Byvoorbeeld, stel jou voor hoe Abraham moes gevoel het gedurende ’n drie dae lange reis na Moria in gehoorsaamheid aan God se opdrag: “Neem asseblief jou seun, jou enigste seun wat jy só liefhet, Isak, en reis na die land Moria en offer hom daar as ’n brandoffer op een van die berge wat ek jou sal aanwys.”—Gen. 22:2-4.
13 Abraham het uiteindelik by die aangewese plek aangekom. Dink hoe hartverskeurend dit vir hom moes gewees het om Isak se hande en voete vas te bind en hom te laat lê op die altaar wat Abraham self gebou het. Hoe pynlik moes dit tog vir Abraham gewees het om die mes op te lig waarmee hy sy seun moes doodmaak! Stel jou Isak se gevoelens voor terwyl hy op die altaar gelê en wag het op die skerp, deurdringende pyn wat tot sy dood sou lei. Jehovah se engel het Abraham net betyds gekeer. Wat Abraham en Isak by dié geleentheid gedoen het, help ons om te verstaan wat dit Jehovah moes gekos het om toe te laat dat Satan se agente Sy Seun vermoor. Isak se samewerking met Abraham lig Jesus se gewilligheid om te ly en vir ons te sterf, goed toe.—Heb. 11:17-19.
14. Watter gebeurtenis in die lewe van Jakob help ons om te besef wat die losprys gekos het?
14 Wat die losprys gekos het, kan ook toegelig word deur ’n gebeurtenis in die lewe van Jakob. Van al Jakob se seuns, was Josef die een wat hy die liefste gehad het. Ongelukkig was Josef se broers jaloers op hom en het hulle hom gehaat. Josef was nogtans bereid om deur sy vader gestuur te word om te sien hoe dit met sy broers gaan. Op daardie stadium het hulle Jakob se kudde ongeveer 100 kilometer noord van hulle huis in Hebron opgepas. Stel jou net voor hoe Jakob moes gevoel het toe sy seuns met Josef se bloedbevlekte kleed terugkeer! “Dit is my seun se lang kleed!” het hy uitgeroep. “’n Boosaardige wilde dier moes hom verslind het! Josef is sekerlik verskeur!” Dit alles het Jakob diep getref, en hy het baie dae oor Josef getreur (Gen. 37:33, 34). Jehovah reageer nie presies soos onvolmaakte mense op situasies nie. Maar as ons oor hierdie gebeurtenis in die lewe van Jakob peins, kan dit ons help om in sekere mate te begryp hoe God moes gevoel het toe sy geliefde Seun as ’n mens op aarde mishandel en wreed doodgemaak is.
Hoe om by die losprys baat te vind
15, 16. (a) Hoe het Jehovah getoon dat hy die losprys aanvaar het? (b) Hoe het jy by die losprys baat gevind?
15 Jehovah God het sy getroue Seun met ’n glorieryke geesliggaam opgewek (1 Pet. 3:18). Die verrese Jesus het 40 dae lank aan sy dissipels verskyn, hulle geloof versterk en hulle voorberei vir ’n groot evangelisasiewerk wat voorgelê het. Daarna het hy na die hemel opgevaar. Daar het hy die waarde van sy vergote bloed aan God aangebied, om gebruik te word ten behoewe van sy ware volgelinge, wat geloof in die waarde van sy losprysoffer beoefen. Jehovah God het getoon dat hy Christus se losprys aanvaar deur Jesus aan te stel om heilige gees uit te stort op sy dissipels wat op Pinksterdag 33 HJ in Jerusalem vergader het.—Hand. 2:33.
16 Hierdie gesalfde volgelinge van Christus het onmiddellik ander mense begin aanspoor om aan God se gramskap te ontkom deur in die naam van Jesus Christus tot vergifnis van hulle sondes gedoop te word. (Lees Handelinge 2:38-40.) Van daardie geskiedkundige dag af tot nou toe is miljoene mense uit alle nasies getrek sodat hulle ’n verhouding met God op grond van geloof in Jesus se losprysoffer kan geniet (Joh. 6:44). Op hierdie punt in ons bespreking moet ons aandag gee aan nog twee vrae: Is enigeen van ons weens ons eie goeie werke die hoop op die ewige lewe gegee? Is dit moontlik om hierdie wonderlike hoop te verloor nadat ons dit ontvang het?
17. Hoe moet jy die wonderlike seën beskou om ’n vriend van God te wees?
17 Die losprys is heeltemal onverdiend. Maar deur geloof daarin te beoefen, het miljoene mense vandag vriende van God geword, met die hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde. Die feit dat ons vriende van Jehovah geword het, is egter nie ’n waarborg dat ons in hierdie verhouding met hom sal bly nie. Om aan God se toekomstige dag van gramskap te ontkom, moet ons aanhou om diepe waardering te toon vir “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”.—Rom. 3:24; lees Filippense 2:12.
Hou aan om geloof in die losprys te beoefen
18. Wat sluit dit in om geloof in die losprys te beoefen?
18 Die temateks van hierdie artikel, Johannes 3:36, toon dat geloof in die Here Jesus Christus insluit dat ons aan hom gehoorsaam moet wees. Waardering vir die losprys behoort ons te beweeg om in ooreenstemming met Jesus se leringe te lewe, insluitende wat hy ander oor sedes geleer het (Mark. 7:21-23). ‘Die gramskap van God kom’ oor almal wat hulle onberouvol skuldig maak aan dinge soos hoerery, onwelvoeglike skertsery en “elke soort onreinheid”, wat die gewoonte om na pornografie te kyk, insluit.—Ef. 5:3-6.
19. Op watter positiewe maniere kan ons ons geloof in die losprys toon?
19 Ons waardering vir die losprys behoort ons besig te laat bly met “dade van godvrugtige toegewydheid” (2 Pet. 3:11). Laat ons genoeg tyd opsysit vir gereelde en opregte gebed, persoonlike Bybelstudie, vergaderingbywoning, gesinsaanbidding en ywerige deelname aan die Koninkrykspredikingswerk. En mag ons “nie vergeet om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik”.—Heb. 13:15, 16.
20. Watter toekomstige seën kan almal verwag wat aanhou om geloof in die losprys te beoefen?
20 Wanneer Jehovah se gramskap oor hierdie goddelose stelsel van dinge losbars, hoe bly sal ons tog wees dat ons geloof in die losprys beoefen het en voortdurend waardering daarvoor getoon het! En in God se beloofde nuwe wêreld sal ons vir ewig dankbaar wees vir hierdie wonderlike voorsiening wat ons van God se gramskap gered het.—Lees Johannes 3:16; Openbaring 7:9, 10, 13, 14.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom het ons die losprys nodig?
• Wat het die losprys gekos?
• Watter voordele bring die losprys mee?
• Hoe beoefen ons geloof in Jesus se losprysoffer?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 13]
Die deur tot versoening met Jehovah is wawyd oop
[Prente op bladsy 15]
As ons peins oor hierdie gebeure waarby Abraham, Isak en Jakob betrokke was, kan dit ons help om te besef hoeveel die losprys gekos het