Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Laat “die wet van liefderyke goedhartigheid” jou tong bewaak

Laat “die wet van liefderyke goedhartigheid” jou tong bewaak

Laat “die wet van liefderyke goedhartigheid” jou tong bewaak

“Haar mond het sy in wysheid oopgemaak, en die wet van liefderyke goedhartigheid is op haar tong.”—SPR. 31:26.

1, 2. (a) Watter eienskap word Jehovah se aanbidders aangespoor om aan te kweek? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?

 DIE gewigtige boodskap wat koning Lemuel van ouds van sy moeder ontvang het, het ’n belangrike vereiste vir ’n goeie vrou ingesluit. “Haar mond het sy in wysheid oopgemaak”, het sy vir hom gesê, “en die wet van liefderyke goedhartigheid is op haar tong” (Spr. 31:1, 10, 26). Liefderyke goedhartigheid is ’n begeerlike eienskap op die tong van ’n verstandige vrou sowel as op dié van alle ander mense wat Jehovah God wil behaag. (Lees Spreuke 19:22.) Die spraak van alle ware aanbidders moet bewys lewer van liefderyke goedhartigheid.

2 Wat is liefderyke goedhartigheid? Aan wie moet dit bewys word? Wat sal ons help om “die wet van liefderyke goedhartigheid” op ons tong te hê? Watter uitwerking sal dit op ons kommunikasie met gesinslede en mede-Christene hê?

Wanneer lojale liefde die dryfkrag agter goedhartigheid is

3, 4. (a) Wat is liefderyke goedhartigheid? (b) Hoe verskil liefderyke goedhartigheid van goedhartigheid in die algemene sin, dit wil sê mensliewendheid?

3 Soos die woord aandui, sluit liefderyke goedhartigheid die eienskappe liefde en goedhartigheid in. Dit behels goedhartigheid, dit wil sê om persoonlike belangstelling in ander te hê en daardie besorgdheid deur behulpsame dade en bedagsame woorde te openbaar. Aangesien liefde ook ’n faktor is, verg liefderyke goedhartigheid dat ’n mens uit liefde vir ander belangstelling in hulle welsyn toon. Maar die woord vir liefderyke goedhartigheid in die oorspronklike taal beteken meer as goedhartigheid wat uit liefde voortspruit. Liefderyke goedhartigheid is die goedhartigheid wat hom gewillig en lojaal aan iemand heg totdat die doel met betrekking tot daardie persoon verwesenlik is.

4 Liefderyke goedhartigheid verskil in nog ’n opsig van goedhartigheid. Goedhartigheid in die algemene sin, dit wil sê mensliewendheid, kan selfs aan vreemdelinge betoon word. Die apostel Paulus en 275 ander wat saam met hom skipbreuk gely het, het hierdie soort goedhartigheid ontvang van die bewoners van die eiland Malta—mense wat hulle nog nooit eers ontmoet het nie (Hand. 27:37–28:2). Aan die ander kant het liefderyke goedhartigheid te doen met die lojale verbintenis tussen mense wat reeds ’n verhouding met mekaar het. a Dit was wat die Keniete teenoor “al die kinders van Israel bewys [het] toe hulle uit Egipte opgetrek het”.—1 Sam. 15:6.

Bepeinsing en gebed is noodsaaklik

5. Wat sal ons help om ons tong in toom te hou?

5 Dit is glad nie maklik om liefderyke goedhartigheid in ons spraak te openbaar nie. Die dissipel Jakobus het van die tong geskryf: “Die tong kan geen mens tem nie. Dit is ’n onbedwingbare skadelike ding, vol dodelike gif” (Jak. 3:8). Wat kan ons help om hierdie liggaamsdeel wat so moeilik is om te beheers, in toom te hou? Jesus se woorde aan die godsdiensleiers van sy dag gee ons insig. Hy het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). As ons wil hê dat liefderyke goedhartigheid ons tong moet bewaak, moet ons daardie eienskap in ons hart—ons innerlike persoon—aankweek. Kom ons kyk hoe bepeinsing en gebed ons help om dit te doen.

6. Waarom moet ons met waardering peins oor Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid?

6 Jehovah God is “oorvloedig . . . in liefderyke goedhartigheid”, sê die Bybel (Eks. 34:6). “U liefderyke goedhartigheid, o Jehovah,” het die psalmis gesing, “het die aarde gevul” (Ps. 119:64). Die Skrif bevat baie verslae van hoe Jehovah liefderyke goedhartigheid aan sy aanbidders bewys het. As ons tyd neem om met waardering oor ‘Jehovah se handelinge’ te peins, kan dit ons vervul met die begeerte om hierdie goddelike eienskap aan te kweek.—Lees Psalm 77:12.

7, 8. (a) Watter daad van liefderyke goedhartigheid het Jehovah teenoor Lot en sy gesin verrig? (b) Hoe het Dawid gevoel omdat hy God se liefderyke goedhartigheid ontvang het?

7 Dink byvoorbeeld aan hoe Jehovah Abraham se broerskind Lot en sy gesin verlos het toe Hy Sodom, die stad waarin hulle gewoon het, vernietig het. Toe daardie tyd nader gekom het, het die engele wat na Lot toe gestuur is, hom aangespoor om die stad gou saam met sy gesin te verlaat. “Toe hy bly talm,” sê die Bybel, “het die [engele], omdat Jehovah medelye met hom gehad het, sy hand en die hand van sy vrou en die hand van sy twee dogters gegryp, en hulle het hom uitgebring en hom buite die stad laat staan.” Word ons harte nie geraak wanneer ons oor hierdie reddingsdaad nadink en laat dit ons nie erken dat dit ’n bewys van God se liefderyke goedhartigheid is nie?—Gen. 19:16, 19.

8 Dink ook aan die voorbeeld van koning Dawid van eertydse Israel, wat gesing het: ‘[Jehovah] vergewe al jou oortredings, hy genees al jou kwale.’ Hoe dankbaar moes Dawid tog gewees het dat hy vergewe is vir sy sonde met Batseba! Hy het Jehovah verheerlik en gesê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, is sy liefderyke goedhartigheid groter teenoor dié wat hom vrees” (Ps. 103:3, 11). As ons oor hierdie en ander skriftuurlike verslae peins, vul dit ons hart met dankbaarheid vir Jehovah se liefderyke goedhartigheid en beweeg dit ons om hom te loof en te dank. Hoe dankbaarder ons in ons hart is, hoe meer geneig sal ons wees om die ware God na te volg.—Ef. 5:1.

9. Watter kragtige rede is daar vir Jehovah se aanbidders om liefderyke goedhartigheid in hulle daaglikse lewe te openbaar?

9 Skriftuurlike voorbeelde toon dat Jehovah sy liefderyke goedhartigheid—sy lojale liefde—aan diegene bewys wat reeds in ’n goedgekeurde verhouding met hom is. Wat van dié wat nie so ’n band met die lewende God geniet nie? Is Jehovah ongevoelig of liefdeloos teenoor hulle? Glad nie. “[God] is goedhartig teenoor die ondankbares en goddeloses”, sê Lukas 6:35. “Hy [laat] sy son . . . opgaan oor goddeloses en goeies en [laat] dit . . . reën op regverdiges en onregverdiges” (Matt. 5:45). Voordat ons die waarheid geleer en daarop gereageer het, het ons reeds God se goedhartigheid in die algemene sin ontvang. Maar as sy aanbidders het ons die voorwerp van sy lojale liefde—sy standvastige liefderyke goedhartigheid—geword. (Lees Jesaja 54:10.) Hoe dankbaar is ons tog daarvoor! En wat ’n kragtige rede is dit tog om liefderyke goedhartigheid in ons spraak sowel as in ander aspekte van ons daaglikse lewe te openbaar!

10. Waarom is gebed ’n uiters waardevolle hulpmiddel om liefderyke goedhartigheid ’n deel van ons persoonlikheid te maak?

10 ’n Uiters waardevolle hulpmiddel om liefderyke goedhartigheid aan te kweek, is die voorreg van gebed. Dit is omdat liefde en goedhartigheid—elemente van liefderyke goedhartigheid—aspekte van die vrug van Jehovah se heilige gees is (Gal. 5:22). Ons kan ons hart met liefderyke goedhartigheid vul deur onder die invloed van daardie gees te kom. Die mees direkte manier om Jehovah se heilige gees te ontvang, is om in gebed daarvoor te vra (Luk. 11:13). Dit is gepas dat ons herhaaldelik bid vir God se gees en dat ons die leiding daarvan aanvaar. Ja, bepeinsing en gebed is noodsaaklik as ons wil hê dat die wet van liefderyke goedhartigheid op ons tong moet wees.

Op die tong van huweliksmaats

11. (a) Hoe weet ons dat Jehovah van mans verwag om liefderyke goedhartigheid aan hulle vrouens te bewys? (b) Hoe kan die wet van liefderyke goedhartigheid ’n man help om sy tong te bewaak?

11 Die apostel Paulus vermaan mans: “Hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:25). Paulus herinner hulle ook aan wat Jehovah vir Adam en Eva gesê het. Die apostel skryf: “’n Man [sal] sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees word” (Ef. 5:31). Dit is duidelik dat Jehovah van mans verwag om lojaal by hulle vrouens te bly, om altyd liefderyke goedhartigheid aan hulle te bewys. ’n Man wie se tong deur lojale liefde beheers word, lê nie die foute van sy vrou in die openbaar bloot of praat nie neerhalend van haar nie. Hy prys haar graag (Spr. 31:28). As daar om die een of ander rede wrywing in die verhouding ontstaan, beweeg liefderyke goedhartigheid die man om sy tong te beheers en nie sy vrou te verneder nie.

12. Hoe kan ’n vrou se spraak toon dat die wet van liefderyke goedhartigheid haar tong beheers?

12 Die wet van liefderyke goedhartigheid moet ook die tong van die vrou beheers. Haar spraak moenie deur die gees van die wêreld beïnvloed word nie. Omdat sy “diep respek vir haar man” het, sê sy in die openbaar gunstige dinge van hom en laat sy sodoende die respek wat ander moontlik reeds vir hom het, toeneem (Ef. 5:33). Aangesien sy nie die kinders se respek vir hulle pa wil laat afneem nie, sal sy nie voor hulle met hom verskil of sy mening bevraagteken nie. Sy los sulke sake op wanneer hulle alleen is. “Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou”, sê die Bybel (Spr. 14:1). Haar huis is ’n aangename plek waar die hele gesin op hulle gemak kan voel.

13. Veral waar moet die wet van liefderyke goedhartigheid heers, en hoe is dit moontlik?

13 Selfs in die privaatheid van hulle huis moet huweliksmaats hulle tong altyd op ’n manier gebruik wat toon dat hulle respek vir mekaar het. “Verwyder . . . al hierdie dinge van julle”, het Paulus geskryf, “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond.” Hy het bygevoeg: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. . . . Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kol. 3:8, 12-14). Wanneer kinders daaraan gewoond is om liefdevolle en vriendelike spraak by die huis te hoor, sal hulle nie net floreer nie, maar sal dit ook waarskynliker wees dat hulle hulle ouers se manier van praat, sal navolg.

14. Hoe kan gesinshoofde hulle tong gebruik om dié onder hulle sorg te vertroos?

14 Die psalmis het van Jehovah geskryf: “Laat u liefderyke goedhartigheid asseblief wees om my te vertroos” (Ps. 119:76). ’n Besondere manier waarop Jehovah sy volk vertroos, is deur hulle te vermaan en te lei (Ps. 119:105). Hoe kan gesinshoofde baat vind by die voorbeeld van ons hemelse Vader en hulle tong gebruik om dié onder hulle sorg te vertroos? Hulle kan dit doen deur die nodige leiding en aanmoediging te voorsien. Wat ’n uitstekende geleentheid bied die aand vir Gesinsaanbidding tog om geestelike skatte te ontdek!—Spr. 24:4.

Betoon lojale liefde aan medegelowiges

15. Hoe kan ouer manne en ander geestelik volwasse persone hulle tong tot voordeel van ander in die gemeente gebruik?

15 “Laat u liefderyke goedhartigheid en u waaragtigheid my voortdurend bewaar”, het koning Dawid gebid (Ps. 40:11). Hoe kan Christen- ouer manne en ander geestelik volwasse persone in die gemeente Jehovah in hierdie opsig navolg? Om ons tong te gebruik om die aandag op skriftuurlike inligting te vestig, is beslis ’n daad van liefderyke goedhartigheid.—Spr. 17:17.

16, 17. Wat is party maniere waarop ons kan toon dat ons spraak deur die wet van liefderyke goedhartigheid beheers word?

16 Wat moet ons doen as ons sien dat ’n Christen ’n koers inslaan wat in stryd is met Bybelbeginsels? Sou liefderyke goedhartigheid ons nie beweeg om ons tong te gebruik om hom te probeer reghelp nie? (Ps. 141:5). As ons te wete kom van ’n ernstige sonde wat ’n medegelowige gepleeg het, beweeg lojale liefde ons om die oortreder aan te spoor om “die ouer manne van die gemeente na hom toe [te] roep” sodat hulle “oor hom [kan] bid en hom in die naam van Jehovah met olie [kan] salf” (Jak. 5:14). As die oortreder nie na die ouer manne toe gaan nie, betoon ons nie liefde of goedhartigheid as óns dit nie doen nie. Party onder ons voel dalk mismoedig, eensaam, waardeloos of word oorweldig deur teleurstellings. ’n Goeie manier om te toon dat die wet van liefderyke goedhartigheid op ons tong is, is deur ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’.—1 Tess. 5:14.

17 Hoe moet ons reageer wanneer gerugte oor medegelowiges deur vyande van God versprei word? Ons moenie die onkreukbaarheid van ons broers in twyfel trek nie, maar moet eerder sulke praatjies verwerp sonder om daarop te reageer, of ons moet die beskuldiger vra, as hy redelik is, of hy werklik seker is dat daar rede is vir sy aantygings. As vyande van God se volk probeer uitvind waar ons Christenbroers is om hulle leed aan te doen, vereis lojale liefde vir ons broers dat ons nie die inligting gee nie.—Spr. 18:24.

Die mens van ‘liefderyke goedhartigheid sal die lewe vind’

18, 19. Waarom moet die wet van liefderyke goedhartigheid nie van ons tong wyk in ons handelinge met medeaanbidders nie?

18 Lojale liefde moet geopenbaar word in al ons handelinge met medeaanbidders van Jehovah. Selfs onder moeilike omstandighede moet die wet van liefderyke goedhartigheid nie van ons tong wyk nie. Wanneer die liefderyke goedhartigheid van die kinders van Israel geword het “soos die dou wat vroeg verdwyn”, het dit Jehovah mishaag (Hos. 6:4, 6). Aan die ander kant skep Jehovah behae in ’n volgehoue patroon van liefderyke goedhartigheid. Kyk hoe seën hy diegene wat dit nastreef.

19 Spreuke 21:21 sê: “Hy wat regverdigheid en liefderyke goedhartigheid nastreef, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind.” Onder die seëninge wat so ’n persoon sal geniet, is dat hy die lewe sal vind—nie net ’n kortstondige lewe nie, maar eindelose lewe. Jehovah help hom om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry” (1 Tim. 6:12, 19). Laat ons dan alles in ons vermoë doen om ‘liefderyke goedhartigheid aan mekaar te bewys’.—Sag. 7:9.

[Voetnoot]

a Vir ’n verdere bespreking van hoe liefderyke goedhartigheid van lojaliteit, liefde en goedhartigheid verskil, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2002, bladsye 12-13, 18-19.

Kan jy verduidelik?

• Hoe sou jy liefderyke goedhartigheid omskryf?

• Wat sal ons help om die wet van liefderyke goedhartigheid op ons tong te hê?

• Hoe kan huweliksmaats lojale liefde in hulle spraak openbaar?

• Hoe toon ons in ons handelinge met medeaanbidders dat die wet van liefderyke goedhartigheid op ons tong is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Dawid het Jehovah se liefderyke goedhartigheid besing

[Prent op bladsy 24]

Het julle ’n gereelde aand vir Gesinsaanbidding?