Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Waarom kon Jesus vir ’n vrou wat as ’n sondares bekend gestaan het, sê dat haar sondes vergewe is?—Luk. 7:37, 48.

Terwyl Jesus by die huis van ’n Fariseër met die naam Simon vir ’n maaltyd aan tafel was, het ’n vrou “’n plek agter [Jesus] by sy voete ingeneem”. Sy het sy voete met haar trane natgemaak en met die hare van haar kop afgedroog. Toe het sy sy voete teer gesoen en met welriekende olie gesalf. Volgens die Evangelieverslag het die vrou “in die stad as ’n sondares bekend gestaan”. Alle onvolmaakte mense is natuurlik sondaars, maar die Skrif gebruik gewoonlik hierdie term om iemand te beskryf wat berug is weens sy sondes of wat ’n reputasie as ’n sondaar het. Die vrou was waarskynlik ’n prostituut. Dit was vir só ’n persoon dat Jesus gesê het: “Jou sondes is vergewe” (Luk. 7:36-38, 48). Wat het Jesus hiermee bedoel? Hoe was hierdie vergifnis moontlik, aangesien die losprysoffer nog nie gebring was nie?

Nadat die vrou Jesus se voete gewas en gesalf het, maar voordat hy haar vergewe het, het Jesus ’n illustrasie gebruik om ’n belangrike punt aan sy gasheer, Simon, te verduidelik. Jesus het sonde vergelyk met ’n skuld wat te groot is om terug te betaal en vir Simon gesê: “Twee manne was skuldenaars van ’n sekere geldskieter; die een het vyfhonderd denarii geskuld, maar die ander vyftig. Toe hulle niks gehad het om mee terug te betaal nie, het hy hulle albei dit vryelik kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” Simon het geantwoord en gesê: “Ek veronderstel die een wat hy die meeste vryelik kwytgeskeld het.” Jesus het geantwoord: “Jy het korrek geoordeel” (Luk. 7:41-43). Ons is almal gehoorsaamheid aan God verskuldig; wanneer ons aan God ongehoorsaam is en sondig, versuim ons dus om aan hom te gee wat hom toekom. Op hierdie manier bou ons skuld op. Maar Jehovah is soos ’n geldskieter wat gewillig is om skuld kwyt te skeld. Daarom het Jesus sy volgelinge aangemoedig om tot God te bid en te vra: “Vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe het” (Matt. 6:12). Lukas 11:4 identifiseer hierdie skulde as sondes.

Onder watter voorwaardes het God in die verlede sondes vergewe? Sy volmaakte geregtigheid vereis die doodstraf vir sonde. Adam het dus met sy lewe betaal vir sy sonde. Maar onder die Wet wat God aan die nasie Israel gegee het, kon ’n oortreder se sondes vergewe word as hy ’n dier aan Jehovah geoffer het. Die apostel Paulus het gesê: “Byna alles word volgens die Wet met bloed gereinig, en tensy bloed uitgestort word, vind geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22). Die Jode het van geen ander manier geweet waarop vergifnis van God verkry kon word nie. Dit is dus nie verbasend dat omstanders in Jesus se dag beswaar gemaak het teen wat hy vir die vrou gesê het nie. Dié wat saam met Jesus aan tafel was, het by hulleself gesê: “Wie is hierdie man wat selfs sondes vergewe?” (Luk. 7:49). Op grond waarvan kon die oortredings van hierdie sondige vrou dan vergewe word?

Die heel eerste profesie wat uitgespreek is nadat die eerste mensepaar in opstand gekom het, het gepraat van Jehovah se voorneme om ’n “saad” te verwek wat deur Satan en sy “saad” in die hakskeen gewond sou word (Gen. 3:15). Jesus is hierdie wond toegedien toe hy deur God se vyande doodgemaak is (Gal. 3:13, 16). Christus se vergote bloed dien as die losprys wat die mensdom van sonde en die dood bevry. Aangesien niks Jehovah kan verhinder om te doen wat hy hom voorgeneem het nie, was die losprys vanuit God se standpunt so goed as betaal toe die woorde in Genesis 3:15 geuiter is. Nou kon hy diegene vergewe wat in sy beloftes geloof beoefen het.

Gedurende voor-Christelike tye het Jehovah ’n aantal persone as regverdig beskou. Onder hulle was Henog, Noag, Abraham, Ragab en Job. Hulle het in geloof uitgesien na die vervulling van God se beloftes. “Abraham het geloof in Jehovah gestel,” het die dissipel Jakobus geskryf, “en dit is hom as regverdigheid toegereken.” Aangaande Ragab het Jakobus gesê: “Is Ragab, die hoer, nie ook net so deur werke regverdig verklaar . . . nie?”—Jak. 2:21-25.

Koning Dawid van eertydse Israel het ’n hele paar ernstige sondes gepleeg, maar hy het sterk geloof in die ware God gehad en elke keer opregte berou getoon. Verder sê die Skrif: “God het [Jesus] gestel as ’n offer vir versoening deur geloof in sy bloed. Dit was om sy eie regverdigheid te toon, want hy het die sondes vergewe wat in die verlede plaasgevind het terwyl God verdraagsaamheid beoefen het, ten einde sy eie regverdigheid in die teenswoordige tyd te toon, sodat hy regverdig sal wees ook wanneer hy die mens regverdig verklaar wat geloof in Jesus het” (Rom. 3:25, 26). Op grond van die losprysoffer van Jesus wat in die toekoms voorsien sou word, kon Jehovah Dawid se oortredings vergewe en nog steeds Sy vereistes vir geregtigheid nakom.

Die situasie van die vrou wat Jesus se voete gesalf het, was klaarblyklik soortgelyk. Sy het ’n onsedelike lewe gelei, maar sy het berou gehad. Sy het besef dat sy verlossing van sonde nodig het en het deur haar dade getoon dat sy werklik die persoon waardeer deur middel van wie Jehovah hierdie verlossing voorsien het. Hoewel daardie offer eers in die toekoms gebring sou word, was dit so ’n sekerheid dat die waarde daarvan reeds ten behoewe van individue soos sy aangewend kon word. Daarom het Jesus vir haar gesê: “Jou sondes is vergewe.”

Soos hierdie verslag duidelik toon, het Jesus sondaars nie vermy nie. Hy het aan hulle goed gedoen. Jehovah is ook gewillig om berouvolle sondaars te vergewe. Wat ’n wonderlike en hartverblydende versekering is dit tog vir ons as onvolmaakte mense!

[Prent op bladsy 7]

Dit is hulle as regverdigheid toegereken