Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Ope uitnodiging!

’n Ope uitnodiging!

’n Ope uitnodiging!

’N OPE uitnodiging om wat te doen? Om een van die takkantore van Jehovah se Getuies, wat gewoonlik Bethel genoem word, te besoek. Daar is 118 van hierdie sentrums in verskillende lande. Besoekers spreek dikwels hulle opregte waardering uit vir wat hulle by Bethel sien gebeur.

Nadat ’n jong Bybelstudent gesien het hoe talle harde werkers Jehovah vreugdevol by die takkantoor in Mexiko dien, was hy so beïndruk dat hy gevra het: “Wat moet ek doen om hier te bly?” Daar is vir hom gesê: “Eerstens moet jy gedoop word. Dan is dit goed om as ’n pionier—’n voltydse Koninkryksverkondiger—te dien.” Die jong man het dit gedoen, en twee jaar later is hy genooi om by Bethel in Mexiko te dien, waar hy al die afgelope 20 jaar dien.

Wat is Bethel?

“Bethel” beteken “Huis van God” in Hebreeus (Gen. 28:19). Die fasiliteite by verskeie takkantore word gebruik om Bybels en Bybellektuur te druk en te versprei en om geestelike hulp aan meer as 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld te voorsien. Byna 20 000 Bethelwerkers—mans en vroue uit talle verskillende sosiale en kulturele agtergronde—dien Jehovah en hulle geestelike broers en susters voltyds op onselfsugtige wyse. Dié wat hierdie Christelike werk al baie jare lank doen, dien sy aan sy met energieke jongmense. Saans en oor naweke geniet lede van die Bethelgesin dit om met nabygeleë gemeentes van Jehovah se Getuies by vergaderinge en in die Christelike bediening te assosieer. Hulle gebruik ook hulle vrye tyd om die Bybel te bestudeer, te ontspan en na persoonlike sake om te sien.

Lede van die Bethelgesin ontvang elke maand ’n klein geldelike vergoeding. Hulle geniet smaaklike en voedsame etes en het skoon, gerieflike huisvesting. Bethelhuise is nie ontwerp om luuks te wees nie. Maar hulle is prakties. Besoekers word nie net beïndruk deur die netjiese geboue en terrein en die seepgladde organisasie nie, maar ook deur die gees van vriendelikheid en samewerking wat by Bethel heers. Almal werk vlytig, maar niemand is te besig om vriendelik te wees nie. In Bethel is daar geen verskille in sosiale status of gevoelens van meerderwaardigheid weens ’n mens se toewysing nie. Elke toewysing is belangrik, of dit nou skoonmaak, tuinmaak, kook, of werk in ’n drukkery of ’n kantoor is. Betheliete, soos dié in Betheldiens genoem word, werk as ’n span saam om die bediening van Jehovah se Getuies te ondersteun.—Kol. 3:23.

Ontmoet ’n paar Betheliete

Kom ons kyk van naderby na diegene wat hierdie internasionale gesin uitmaak. Wat het hulle beweeg om by Bethel te wil dien? Beskou die geval van Mario. Toe hy een van Jehovah se Getuies geword het, het Mario ’n goed betaalde werk by ’n vooraanstaande Duitse motormaatskappy gehad asook die geleentheid vir bevordering. Kort ná sy doop het hy aangebied om ’n week lank by Bethel in sy land te help. Hy is gevra om in die drukkery te werk. Mario kon die skerp teenstelling tussen sy werksmaats by Bethel en dié by sy sekulêre werk sien. Daarom het hy aansoek gedoen vir voltydse Betheldiens. Hoewel baie van sy familielede en kollegas dit moeilik gevind het om sy besluit te verstaan, dien Mario nou vreugdevol by Bethel in Duitsland.

Baie begin om by Bethel te dien sonder enige spesiale opleiding of vaardighede. Dit was die geval met Abel, wat al 15 jaar lank by Bethel in Mexiko dien. “Bethel was vir my ’n ware skool”, sê hy. “Ek het geleer om met hoogs gesofistikeerde drukperse te werk. Ek weet dat ek met hierdie kennis baie geld buite Bethel kan verdien, maar ek sou nie hê wat ek hier geniet nie—’n rustige, bevredigende lewe sonder die sorge en wedywering wat ’n mens in baie kommersiële werksplekke vind. Ek dink dat ek die allerbeste opleiding gekry het, opleiding wat my gehelp het om geestelik sowel as intellektueel te ontwikkel. Ek sou sulke geestelike voordele nie eers by die beste universiteit kon ontvang het nie.”

’n Besoek kan opbouend wees

Selfs net ’n besoek aan Bethel kan ’n positiewe uitwerking op ’n persoon se geestelikheid hê. Dit was die geval met Omar, in Mexiko. Sy ma het hom die waarheid uit die Bybel geleer. Maar toe Omar 17 was, het hy opgehou om Christelike vergaderinge by te woon en aan die openbare bediening deel te neem. Mettertyd het hy vasgevang geraak in ’n onsedelike en materialistiese lewenswyse. Later, toe Omar vir ’n kommunikasiemaatskappy gewerk het, was hy deel van ’n afvaardiging wat Bethel in Mexiko besoek het om toerusting te demonstreer. Omar sê: “Ná ons demonstrasie het ons gashere ons op ’n toer van die fasiliteite geneem. Wat ek gesien het en die vriendelike manier waarop ek behandel is, het my laat nadink oor die lewe wat ek gelei het, vervreemd van Jehovah. Ek het onmiddellik die vergaderinge weer begin bywoon en die Bybel begin studeer. Ses maande ná my besoek aan Bethel is ek gedoop. Ek dank Jehovah vir die aanmoediging wat ek deur middel van daardie besoek aan Bethel ontvang het.”

Masahiko, in Japan, het ook in ’n Getuiegesin grootgeword. Maar hy het die Christelike lewenswyse as te beperkend begin beskou. Hy het diep betrokke geraak by skoolbedrywighede en het opgehou om vergaderinge by te woon en aan die predikingswerk deel te neem. Masahiko vertel: “Eendag het ons gesin en ’n paar Christenvriende besluit om Bethel te besoek. Op aandrang van my gesin het ek saamgegaan. Gedurende my toer van Bethel het ek verkwik gevoel soos nog nooit tevore nie. Die aangename assosiasie wat ek gedurende die reis met ander Christene geniet het, was iets wat ek nooit ondervind het saam met my vriende wat nie Getuies is nie. Die begeerte om die Christelike lewenswyse te volg, het al hoe sterker in my geword, en ek het besluit om vir ’n Bybelstudie te vra.” Masahiko dien nou as ’n voltydse bedienaar in sy gemeente.

’n Getuie uit Frankryk het na Moskou getrek om daar te gaan werk. Daar het sy kontak met Jehovah se volk verloor en geestelik swak geword. Sy het haar skuldig gemaak aan oortreding en het na verloop van tyd met iemand getrou wat nie ’n Getuie is nie. Toe het ’n geestelike suster uit Frankryk vir haar kom kuier, en hulle het saam na St. Petersburg, Rusland, gereis om die Bethelhuis daar te besoek. Sy skryf: “By Bethel is ons hartlik verwelkom, en dit het my diep getref. Dit was so vreedsaam. Ek het Jehovah se gees gevoel. Hoe kon ek die fout gemaak het om van Jehovah se organisasie af weg te dryf? Ná my besoek aan Bethel het ek tot Jehovah gebid vir hulp en my kinders met hernieude vasbeslotenheid die Bybel begin leer.” Benewens die ander geestelike hulp wat hierdie eens geestelik swak Getuie dalk ontvang het, het haar besoek aan Bethel haar grootliks versterk, en sy het daarna goeie vordering gemaak.

Wat van die indruk wat ’n besoek aan Bethel kan maak op mense wat Jehovah se Getuies nie ken nie? In 1988 het Alberto, wat diep betrokke was by die politiek, Bethel in Brasilië besoek. Die feit dat alles skoon en ordelik is en veral die openlikheid waarmee die werk gedoen word, het ’n groot indruk op hom gemaak. Kort voor Alberto se toer by Bethel het hy die kweekskool besoek waar sy swaer as ’n priester gedien het. Alberto het die groot verskil gesien. “By die kweekskool is alles in die geheim gedoen”, sê Alberto. Kort ná sy besoek aan Bethel het hy ’n Bybelstudie aanvaar, die politiek verlaat, en nou dien hy as ’n gemeentelike ouer man.

Kom besoek Bethel!

Baie het al uitsonderlike moeite gedoen om die takkantoor in hulle land te besoek. In Brasilië het Paulo en Eugenia byvoorbeeld vier jaar lank gespaar om die twee dae lange busrit van 3 000 kilometer te onderneem om die Bethelfasiliteite in daardie land te sien. Hulle sê: “Dit was beslis die moeite werd. Nou het ons ’n baie beter begrip van Jehovah se organisasie. Wanneer ons vir ons Bybelstudente die werk beskryf wat by Bethel gedoen word, vra hulle partykeer: ‘Was julle al daar?’ Nou kan ons ja sê.”

Is daar ’n takkantoor en Bethelhuis in jou land of in ’n nabygeleë land? Ons nooi jou om die fasiliteite te besoek. Jy sal beslis hartlik verwelkom word en geestelik grootliks baat vind by jou besoek aan Bethel.

[Prent op bladsy 18]

Mario

[Prent op bladsy 18]

Abel

[Prent op bladsy 18]

Duitsland

[Prent op bladsy 18]

Japan

[Prent op bladsy 18]

Brasilië