Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Een is julle Leier, die Christus”

“Een is julle Leier, die Christus”

“Een is julle Leier, die Christus”

“Moet julle . . . nie ‘leiers’ laat noem nie, want een is julle Leier, die Christus.”—MATT. 23:9, 10.

1. Wie erken Jehovah se Getuies as hulle Leier, en waarom?

 DIE Christendom se kerke het menseleiers, soos die pous van Rome, die aartsvaders en aartsbiskoppe van die Oosters-Ortodokse kerke en die hoofde van ander godsdienste. Jehovah se Getuies erken geen mens as hulle leier nie. Hulle is nie dissipels of volgelinge van ’n mens nie. Dit is in ooreenstemming met Jehovah se profetiese woorde oor sy Seun: “Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe” (Jes. 55:4). Die internasionale gemeente van gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “ander skape”, wil geen ander leier hê as die een wat Jehovah hulle gegee het nie (Joh. 10:16). Hulle stem saam met Jesus se woorde: “Een is julle Leier, die Christus.”—Matt. 23:10.

Geestelike vors van Israel

2, 3. Hoe was God se Seun daadwerklik betrokke by die aangeleenthede van Israel?

2 Eeue voordat die Christengemeente gestig is, het Jehovah ’n engel as leier oor sy volk Israel gehad. Nadat Jehovah die Israeliete uit Egipte gelei het, het hy vir hulle gesê: “Kyk, ek stuur ’n engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat ek gereedgemaak het. Let op jouself weens hom en gehoorsaam sy stem. Moet jou nie opstandig gedra teen hom nie, want hy sal julle oortreding nie vergewe nie; want my naam is in hom” (Eks. 23:20, 21). Ons het rede om te glo dat hierdie engel, wat ‘Jehovah se naam in hom’ gehad het, God se eersgebore Seun was.

3 Voordat hy as ’n mens gebore is, het God se Seun blykbaar die naam Migael gehad. In die boek Daniël word Migael “julle [Israel se] vors” genoem (Dan. 10:21). Die dissipel Judas toon dat Migael lank voor Daniël se dag by die aangeleenthede van Israel betrokke was. Ná Moses se dood wou Satan blykbaar die lyk gebruik om op die een of ander manier sy eie belange te bevorder, moontlik deur Israel te verlok om afgodediens te beoefen. Migael het ingegryp om dit te voorkom. Judas sê: “Toe Migael, die aartsengel, met die Duiwel ’n geskil gehad en oor Moses se liggaam getwis het, het hy nie met smadende woorde ’n oordeel oor hom durf uitspreek nie, maar gesê: ‘Mag Jehovah jou bestraf’” (Jud. 9). ’n Rukkie later, voordat Jerigo beleër is, was dit ongetwyfeld Migael, die “vors van die leër van Jehovah”, wat aan Josua verskyn het om hom van goddelike steun te verseker. (Lees Josua 5:13-15.) Toe ’n demoonvors probeer keer het dat ’n engel ’n belangrike boodskap aan die profeet Daniël oordra, het die aartsengel Migael daardie engel te hulp gekom.—Dan. 10:5-7, 12-14.

Die voorspelde Leier kom

4. Watter profesie is oor die koms van die Messias gegee?

4 Voor hierdie gebeurtenis het Jehovah sy engel Gabriël na die profeet Daniël gestuur om ’n profesie aan hom oor te dra oor die koms van “Messias die Leier” (Dan. 9:21-25). a Presies op tyd, in die noordelike herfs van 29 HJ, is Jesus deur Johannes gedoop. Die heilige gees is op Jesus uitgestort, en dit het hom die Gesalfde—Christus, die Messias—gemaak (Matt. 3:13-17; Joh. 1:29-34; Gal. 4:4). As sodanig sou hy ’n Leier sonder gelyke word.

5. Hoe het Christus gedurende sy aardse bediening as Leier opgetree?

5 Jesus het van die begin van sy bediening op aarde af getoon dat hy “Messias die Leier” is. Binne ’n paar dae het hy dissipels begin versamel en sy eerste wonderwerk verrig (Joh. 1:35–2:11). Sy dissipels het hom gevolg terwyl hy deur die hele land gereis en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig het (Luk. 8:1). Hy het hulle in die predikingswerk opgelei en ’n goeie voorbeeld gestel deur die leiding daarin te neem om te preek en te onderrig (Luk. 9:1-6). Dit sal goed wees as Christen- ouer manne van vandag hom in hierdie opsig navolg.

6. Hoe het Christus getoon dat hy ’n Herder en Leier is?

6 Jesus het op nog ’n aspek van sy leierskap gewys deur hom met ’n liefdevolle herder te vergelyk. Oosterse herders lei letterlik hulle kudde. In The Land and the Book het W.M. Thomson geskryf: “Die herder loop vooruit, nie net om die weg aan te wys nie, maar om te kyk of dit begaanbaar en veilig is. . . . Met [sy] staf rig en lei hy die kudde na hulle groen weivelde en beskerm hy hulle teen hulle vyande.” Jesus het getoon dat hy ’n ware Herder en Leier is en gesê: “Ek is die goeie herder; die goeie herder doen afstand van sy siel ten behoewe van die skape. My skape luister na my stem, en ek ken hulle, en hulle volg my” (Joh. 10:11, 27). In ooreenstemming met sy woorde het Jesus ten behoewe van sy skape ’n offerdood gesterf, maar Jehovah het “hom verhef om leier en Redder te wees”.—Hand. 5:31, New Jerusalem Bible; Heb. 13:20.

Opsiener van die Christengemeente

7. Deur middel waarvan hou Jesus toesig oor die Christengemeente?

7 Kort voordat die verrese Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matt. 28:18). Jehovah het deur middel van Jesus heilige gees aan sy dissipels gegee om hulle in Christelike waarheid te versterk (Joh. 15:26). Jesus het op Pinkster 33 HJ hierdie gees op die vroeë Christene uitgestort (Hand. 2:33). Daardie uitstorting van die heilige gees het die stigting van die Christengemeente aangedui. Jehovah het aan sy Seun die hemelse leierskap van die gemeente op aarde gegee. (Lees Efesiërs 1:22; Kolossense 1:13, 18.) Jesus lei die Christengemeente deur middel van Jehovah se heilige gees, en hy het engele tot sy beskikking wat “aan hom onderwerp” is.—1 Pet. 3:22.

8. Watter aardse kanaal het Christus in die eerste eeu gebruik om sy dissipels te lei, en wie gebruik hy vandag?

8 Christus het ook deur middel van die heilige gees “gawes in die vorm van mense” gegee, party “as herders en onderrigters” in die gemeente (Ef. 4:8, 11). Die apostel Paulus het Christenopsieners aangespoor: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God” (Hand. 20:28). Toe die Christengemeente begin het, was al hierdie opsieners geesgesalfde manne. Die apostels en die ouer manne van die gemeente in Jerusalem het as ’n bestuursliggaam opgetree. Christus het hierdie kanaal gebruik om die hele groep van sy gesalfde “broers” op aarde te lei (Heb. 2:11; Hand. 16:4, 5). In hierdie tyd van die einde het Christus “al sy besittings”—al die aardse belange van die Koninkryk—toevertrou aan sy “getroue en verstandige slaaf” en hulle verteenwoordigende Bestuursliggaam, ’n groep gesalfde Christenmanne (Matt. 24:45-47). Die gesalfdes en hulle metgeselle, die ander skape, erken dat hulle in werklikheid hulle Leier, Christus, volg wanneer hulle die leiding van die hedendaagse Bestuursliggaam volg.

Christus begin die predikingswerk

9, 10. Hoe het Christus sake in verband met die verspreiding van die goeie nuus van die Koninkryk gerig?

9 Jesus het van die begin af die wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk persoonlik gerig. Hy het die volgorde vasgestel waarin die goeie nuus van die Koninkryk aan die bewoners van die aarde verkondig sou word. Hy het sy apostels gedurende sy bediening die opdrag gegee: “Moenie op die pad van die nasies afdraai nie, en moenie in ’n Samaritaanse stad ingaan nie; maar hou eerder aan om na die verlore skape van die huis van Israel te gaan. Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:5-7). Hulle het dit ywerig onder Jode en proseliete gedoen, veral ná Pinkster 33 HJ.—Hand. 2:4, 5, 10, 11; 5:42; 6:7.

10 Later het Jesus die Koninkrykspredikingswerk deur middel van die heilige gees na die Samaritane en toe na ander nie-Jode uitgebrei (Hand. 8:5, 6, 14-17; 10:19-22, 44, 45). Met die doel om die verspreiding van die goeie nuus onder die nasies te bevorder, het Jesus persoonlik opgetree om Saulus van Tarsus te beweeg om ’n Christen te word. Jesus het sy dissipel Ananias die opdrag gegee: “Staan op, gaan na die straat wat Reguit genoem word en soek by die huis van Judas ’n man met die naam Saulus, van Tarsus. . . . Gaan heen, want hierdie man is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra” (Hand. 9:3-6, 10, 11, 15). “Hierdie man” het die apostel Paulus geword.—1 Tim. 2:7.

11. Hoe het Christus die predikingswerk deur middel van die heilige gees uitgebrei?

11 Toe die tyd aanbreek om die Koninkrykspredikingswerk onder die nie-Joodse nasies uit te brei, het Paulus onder leiding van die heilige gees sendingreise in Klein-Asië en tot in Europa onderneem. Lukas se verslag in Handelinge sê: “Terwyl hulle [Christenprofete en -onderrigters in die gemeente in Siriese Antiogië] Jehovah in die openbaar gedien het en gevas het, het die heilige gees gesê: ‘Sonder vir my van almal Barnabas en Saulus af vir die werk waarvoor ek hulle geroep het.’ Toe het hulle gevas en gebid en hulle die hande opgelê en hulle laat gaan” (Hand. 13:2, 3). Jesus self het Saulus van Tarsus geroep om Sy “uitverkore vat” te wees om Sy naam na die nasies te dra; hierdie nuwe dryfkrag in die getuieniswerk het dus van Christus, die Leier van die gemeente, gekom. Gedurende Paulus se tweede sendingreis het dit heeltemal duidelik geword dat Jesus die heilige gees gebruik om die werk te rig. Die verslag sê dat “die gees van Jesus”, dit wil sê Jesus deur middel van die heilige gees, Paulus en sy reisgenote in die keuse van hulle reisplan gelei het, en ’n visioen het hulle in Europa laat ingaan.—Lees Handelinge 16:6-10.

Jesus se leierskap oor sy gemeente

12, 13. Hoe toon die boek Openbaring dat Christus noukeurig let op wat in elke gemeente gebeur?

12 Jesus het noukeurig gelet op wat in die gemeentes van sy gesalfde volgelinge in die eerste eeu HJ gebeur. Hy het diepgaande kennis van die geestelike toestand van elke gemeente gehad. Dit word duidelik wanneer ons Openbaring hoofstukke 2 en 3 lees. Hy noem sewe gemeentes wat almal in Klein-Asië geleë was (Op. 1:11). Ons het alle rede om te glo dat hy net so bekend was met die geestelike toestand van die ander gemeentes van sy volgelinge op aarde gedurende daardie tyd.—Lees Openbaring 2:23.

13 Jesus het party van die gemeentes geprys omdat hulle volhard het, tydens beproewinge getrou was, aan sy woord lojaal gebly het en afvalliges verwerp het (Op. 2:2, 9, 13, 19; 3:8). Daarenteen het hy aan verskeie gemeentes streng raad gegee omdat hulle liefde vir hom afgekoel het en hulle afgodediens, hoerery en sektes geduld het (Op. 2:4, 14, 15, 20; 3:15, 16). As ’n liefdevolle geestelike opsiener—selfs vir diegene wat hy streng tereggewys het—het Jesus gesê: “Almal vir wie ek geneentheid het, wys ek tereg en dissiplineer ek. Wees dus ywerig en toon berou” (Op. 3:19). Hoewel Jesus in die hemel was, het hy die gemeentes van sy dissipels op aarde deur middel van die heilige gees gelei. Ná die boodskappe aan daardie gemeentes het hy gesê: “Laat die een wat ’n oor het, hoor wat die gees vir die gemeentes sê.”—Op. 3:22.

14-16. (a) Hoe was Jesus ’n moedige Leier van Jehovah se volk op aarde? (b) Wat is die gevolg daarvan dat Jesus “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” “met” sy dissipels is? (c) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

14 Ons het gesien dat die aartsengel Migael (Jesus) ’n dapper Leier van Israel was. Later was Jesus ’n moedige Leier en ’n liefdevolle Herder van sy vroeë dissipels. Gedurende sy aardse bediening het hy die leiding in die predikingswerk geneem. En ná sy opstanding het hy sorgvuldig toesig gehou oor die verspreiding van die goeie nuus van die Koninkryk.

15 Jesus sou deur middel van die heilige gees die getuieniswerk uiteindelik tot aan die eindes van die aarde uitbrei. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.” (Hand. 1:8; lees 1 Petrus 1:12.) ’n Ontsaglike getuienis is in die eerste eeu onder leiding van Christus gegee.—Kol. 1:23.

16 Maar Jesus self het aangedui dat hierdie werk tot in die tyd van die einde sou voortduur. Nadat Jesus sy volgelinge die opdrag gegee het om te preek en dissipels onder al die nasies te maak, het hy hulle belowe: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 28:19, 20). Sedert Christus in 1914 met koninklike mag beklee is, is hy meer as ooit tevore “met” sy dissipels en daadwerklik hulle Leier. Ons sal in die volgende artikel ondersoek hoe besig hy sedert 1914 was.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van hierdie profesie, sien hoofstuk 11 van Gee ag op Daniël se profesie!

Ter hersiening

• Hoe het God se Seun daadwerklik opgetree as Leier in Israel?

• Deur middel waarvan lei Christus sy gemeente op aarde?

• Hoe het Christus die verspreiding van die goeie nuus gerig?

• Wat toon dat Christus noukeurig let op die geestelike toestand van elke gemeente?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21

“Ek stuur ’n engel voor jou uit”

[Prent op bladsy 23]

Soos in die verlede gebruik Christus “gawes in die vorm van mense” om as herders oor sy kudde toesig te hou