Eenheid is ’n kenmerk van ware aanbidding
Eenheid is ’n kenmerk van ware aanbidding
“In eenheid sal ek hulle stel, soos skape in die kraal.”—MIGA 2:12.
1. Hoe getuig die skepping van God se wysheid?
’N PSALMIS het uitgeroep: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het” (Ps. 104:24). God se wysheid kan duidelik gesien word in die onderlinge afhanklikheid van die miljoene soorte plante, insekte, diere en bakterieë in die aarde se ongelooflik ingewikkelde web van die lewe. In jou liggaam is daar ook duisende verskillende meganismes, van groot organe tot klein molekulêre masjiene in jou selle, wat alles saam werk om jou ’n volledige en gesonde persoon te maak.
2. Waarom moes die eenheid onder Christene na ’n wonderwerk gelyk het, soos op bladsy 13 uitgebeeld word?
2 Jehovah het die mensdom geskep om onderling afhanklik van mekaar te wees. Mense verskil grootliks wat uiterlike voorkoms, persoonlikheid en vaardighede betref. Hy het ook die eerste mense met godvrugtige eienskappe geskep wat hulle in staat sou stel om met mekaar saam te werk en op mekaar staat te maak (Gen. 1:27; 2:18). Maar die mensdom oor die algemeen is nou van God vervreemd en kon nog nooit as ’n geheel in eenheid optree nie (1 Joh. 5:19). Aangesien die eerste-eeuse Christengemeente bestaan het uit mense wat baie van mekaar verskil het, soos Efesiese slawe, vooraanstaande Griekse vroue, geleerde Joodse mans en voormalige afgodedienaars, moes hulle eenheid dus na ’n wonderwerk gelyk het.—Hand. 13:1; 17:4; 1 Tess. 1:9; 1 Tim. 6:1.
3. Hoe beskryf die Bybel die eenheid van Christene, en wat sal ons in hierdie studie bespreek?
3 Ware aanbidding stel mense in staat om in eenheid saam te werk soos die ledemate van ons liggaam. (Lees 1 Korintiërs 12:12, 13.) ’n Paar aspekte wat ons in hierdie artikel sal ondersoek, is: Hoe verenig ware aanbidding mense? Waarom kan net Jehovah miljoene mense uit alle nasies verenig? Watter struikelblokke in die weg van eenheid help Jehovah ons om te oorkom? En hoe verskil die ware Christelike godsdiens van die Christendom wat eenheid betref?
Hoe verenig ware aanbidding mense?
4. Hoe verenig ware aanbidding mense?
4 Mense wat ware aanbidding beoefen, erken dat Jehovah die regmatige Soewerein van die heelal is omdat hy alles geskep het (Op. 4:11). Al lewe ware Christene in talle gemeenskappe en onder verskillende omstandighede, gehoorsaam hulle almal dus dieselfde wette van God en lewe hulle volgens dieselfde Bybelbeginsels. Alle ware aanbidders spreek Jehovah gepas aan as “Vader” (Jes. 64:8; Matt. 6:9). Hulle is derhalwe almal geestelike broers en kan die pragtige eenheid geniet waarvan die psalmis geskryf het: “Kyk! Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!”—Ps. 133:1.
5. Watter eienskap dra by tot die eenheid van ware aanbidders?
5 Al is ware Christene onvolmaak, aanbid hulle saam in eenheid omdat hulle geleer het om mekaar lief te hê. Jehovah leer hulle beter as wat enigiemand anders kan, om lief te hê. (Lees 1 Johannes 4:7, 8.) Sy Woord sê: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen. Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kol. 3:12-14). Hierdie volmaakte band van eenheid—liefde—is die vernaamste kenmerk van ware Christene. Het jy nie al self gesien dat hierdie eenheid ’n kenmerk van ware aanbidding is nie?—Joh. 13:35.
6. Hoe help die Koninkrykshoop ons om eenheid te geniet?
6 Ware aanbidders is ook verenig omdat hulle God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom beskou. Hulle weet dat God se Koninkryk binnekort menseregerings sal vervang en die gehoorsame mensdom met ware, blywende vrede sal seën (Jes. 11:4-9; Dan. 2:44). Christene slaan dus ag op wat Jesus van sy volgelinge gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Joh. 17:16). Ware Christene bly neutraal in die wêreld se konflikte; gevolglik kan hulle eenheid geniet selfs wanneer die mense om hulle oorlog voer.
Die enigste bron van geestelike onderrigting
7, 8. Hoe dra Bybelonderrig tot ons eenheid by?
7 Eerste-eeuse Christene het eenheid geniet omdat hulle almal aanmoediging uit dieselfde bron ontvang het. Hulle het erken dat Jesus die gemeente onderrig en lei deur middel van ’n bestuursliggaam, wat uit die apostels en ouer manne in Jerusalem bestaan het. Hierdie toegewyde mans het hulle besluite op God se Woord gegrond en reisende opsieners gestuur om hulle instruksies aan die gemeentes in baie lande oor te dra. Die Bybel sê aangaande ’n paar van hierdie opsieners: “Terwyl hulle deur die stede voortgereis het, het hulle aan diegene wat daar was, die verordeninge waarop die apostels en ouer manne in Jerusalem besluit het, oorgedra om te onderhou.”—Hand. 15:6, 19-22; 16:4.
8 ’n Bestuursliggaam wat uit geesgesalfde Christene bestaan, dra vandag ook by tot die eenheid van die wêreldwye gemeente. Die Bestuursliggaam gee lektuur wat geestelik aanmoedigend is, in baie tale uit. Hierdie geestelike voedsel is op God se Woord gegrond. Daarom kom die onderrigting nie van mense nie, maar van Jehovah.—Jes. 54:13.
9. Hoe help ons godgegewe werk ons om verenig te wees?
9 Christenopsieners bevorder ook eenheid deur die leiding te neem in die predikingswerk. Die gees van kameraadskap wat diegene verenig wat in God se diens saam werk, is baie kragtiger as die gees wat mense in die wêreld verenig wat net gesellig met mekaar verkeer. Die Christengemeente is nie gestig om as ’n sosiale klub te dien nie, maar om Jehovah te eer en om ’n werk gedoen te kry—die werk om die goeie nuus te verkondig, dissipels te maak en die gemeente op te bou (Rom. 1:11, 12; 1 Tess. 5:11; Heb. 10:24, 25). Daarom kon die apostel Paulus sê dat Christene “in een gees vasstaan, met een siel sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus stry”.—Fil. 1:27.
10. Wat is van die maniere waarop ons as God se volk verenig is?
10 Gevolglik is ons as Jehovah se volk verenig omdat ons Jehovah se soewereiniteit aanvaar, ons broers liefhet, op God se Koninkryk hoop en diegene respekteer wat God gebruik om die leiding onder ons te neem. Jehovah help ons om sekere gesindhede te bowe te kom wat weens ons onvolmaaktheid ons eenheid in gevaar kan stel.—Rom. 12:2.
Hoe om trots en jaloesie te bowe te kom
11. Waarom is trots verdelend, en hoe help Jehovah ons om dit te bowe te kom?
11 Trots verdeel mense. ’n Trotse persoon hou daarvan om te dink dat hy beter as ander is, en hy put gewoonlik selfsugtige genot uit grootpratery. Maar dit staan dikwels in die weg van eenheid; diegene wat die grootpratery hoor, kan jaloers word. Die dissipel Jakobus sê reguit vir ons: “Al sulke geroem is goddeloos” (Jak. 4:16). Dit is liefdeloos om ander as minderwaardig te behandel. Interessant genoeg, Jehovah stel ’n voorbeeld van nederigheid deur ag te gee op onvolmaakte mense soos ons. Dawid het geskryf: “U [God se] nederigheid maak my groot” (2 Sam. 22:36). God se Woord help ons om trots te bowe te kom deur ons te leer om op die regte manier te redeneer. Paulus is geïnspireer om te vra: “Wie maak jou anders as ’n ander? Ja, wat het jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan inderdaad ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?”—1 Kor. 4:7.
12, 13. (a) Waarom is dit maklik om jaloers te word? (b) Wat is die gevolg as ons ander beskou soos Jehovah hulle beskou?
12 Jaloesie is nog ’n algemene struikelblok in die weg van eenheid. Ons almal het as gevolg van oorgeërfde onvolmaaktheid “’n neiging tot afguns”, en selfs dié wat al lank Christene is, is soms jaloers oor die omstandighede, besittings, voorregte of vermoëns van ander (Jak. 4:5). ’n Broer met ’n gesin kan byvoorbeeld jaloers wees oor die voorregte wat ’n voltydse bedienaar geniet, sonder om te besef dat die voltydse bedienaar dalk ’n bietjie jaloers is op die gesinsman wat kinders het. Hoe kan ons voorkom dat hierdie jaloesie ons eenheid ontwrig?
13 Om ons te help om jaloesie te vermy, moet ons onthou dat die Bybel gesalfde lede van die Christengemeente met die ledemate van die menseliggaam vergelyk. (Lees 1 Korintiërs 12:14-18.) Jou oog is byvoorbeeld opvallender as jou hart, maar is al twee nie vir jou kosbaar nie? Net so is elke lid van die gemeente vir Jehovah kosbaar, al is party dalk ’n tyd lank opvallender as ander. Laat ons dus ons broers beskou soos Jehovah hulle beskou. Ons moenie op ander jaloers wees nie, maar ons moet eerder oor hulle besorg wees en persoonlike belangstelling in hulle toon. Sodoende help ons om die verskil tussen ware Christene en diegene in die kerke van die Christendom duideliker te maak.
Die Christendom—Gekenmerk deur verdeeldheid
14, 15. Hoe het die afvallige Christelike godsdiens verdeeld geraak?
14 Die eenheid van ware Christene vorm ’n teenstelling met die onenigheid wat in die kerke van die Christendom bestaan. Teen die vierde eeu het die afvallige Christelike godsdiens so versprei dat ’n heidense keiser van Rome beheer daaroor oorgeneem het, wat tot die ontstaan van die Christendom bygedra het. Toe het baie koninkryke die een na die ander hulle verbintenis met Rome verbreek en hulle eie Staatskerke gestig.
15 Baie van daardie koninkryke het eeue lank teen mekaar oorlog gevoer. Gedurende die 17de en 18de eeu het mense in Brittanje, Frankryk en die Verenigde State toegewydheid aan hulle Staat voorgestaan, sodat nasionalisme as ’t ware soos ’n godsdiens geword het. Gedurende die 19de en 20ste eeu het nasionalisme die denke van die meeste mense begin oorheers. Uiteindelik het die Christendom se kerke versplinter en tallose sektes gevorm, waarvan die meeste nasionalisme duld. Kerkgangers het selfs teen medegelowiges van ’n ander nasie oorlog gevoer. Vandag word die Christendom deur sektariese opvattings sowel as nasionalisme verdeel.
16. Watter soort kwessies verdeel mense in die Christendom?
16 In die 20ste eeu het ’n paar van die Christendom se honderde sektes die ekumeniese beweging begin in ’n poging om eenheid te bewerkstellig. Maar ondanks pogings oor baie dekades heen het min kerke saamgesmelt, en kerkgangers is nog steeds verdeeld oor kwessies soos evolusie, aborsie, homoseksualiteit en die ordening van vroue. In party dele van die Christendom probeer kerkleiers mense van verskillende sektes verenig deur leerstellings wat voorheen verdelend was, as onbelangrik af te maak. Maar as leerstellings as onbelangrik afgemaak word, verswak dit mense se geloof en verenig dit beslis nie die verdeelde godsdienste van die Christendom nie.
Verhewe bo nasionalisme
17. Hoe is daar voorspel dat ware aanbidding mense “aan die einde van die dae” sou verenig?
17 Hoewel die mensdom nou meer verdeeld is as ooit tevore, is eenheid nog steeds ’n kenmerk van ware aanbidders. God se profeet Miga het voorspel: “In eenheid sal ek hulle stel, soos skape in die kraal” (Miga 2:12). Miga het voorspel dat ware aanbidding verhewe sou wees bo alle ander vorme van aanbidding, hetsy van valse gode of van die Staat as ’n god. Hy het geskryf: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en volke sal daarheen stroom. Want wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel; maar wat ons betref, ons sal in die naam van Jehovah ons God wandel.”—Miga 4:1, 5.
18. Watter veranderinge het ware aanbidding ons gehelp om aan te bring?
18 Miga het ook beskryf hoe ware aanbidding mense sou verenig wat voorheen vyande was. “[Mense uit] baie nasies sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah en na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.‘ . . . En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:2, 3). Diegene wat ophou om mensgemaakte gode of nasies te aanbid en wat die aanbidding van Jehovah aanneem, geniet wêreldwye eenheid. God onderrig hulle in die weë van liefde.
19. Waarvan lewer die vereniging van miljoene mense in ware aanbidding oortuigende bewys?
19 Die wêreldwye eenheid van ware Christene van vandag is uniek en lewer oortuigende bewys dat Jehovah nog steeds sy volk deur middel van sy gees rig. Meer mense uit alle nasies word verenig as ooit tevore in die mensegeskiedenis. Dít is ’n wonderlike vervulling van wat deur Openbaring 7:9, 14 geïmpliseer word, en dit dui aan dat God se engele binnekort die “winde” sal loslaat wat die teenswoordige goddelose stelsel van dinge sal vernietig. (Lees Openbaring 7:1-4, 9, 10, 14.) Is dit nie ’n voorreg om in die wêreldwye broederskap verenig te wees nie? Hoe kan elkeen van ons tot hierdie eenheid bydra? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe verenig ware aanbidding mense?
• Hoe kan ons voorkom dat jaloesie ons eenheid ontwrig?
• Waarom word ware aanbidders nie deur nasionalisme verdeel nie?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 13]
Eerste-eeuse Christene het uit baie agtergronde gekom
[Prente op bladsy 15]
Hoe dra jou hulp met Koninkryksaalbouprojekte tot eenheid by?