Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek bly besig in Jehovah se organisasie

Ek bly besig in Jehovah se organisasie

Ek bly besig in Jehovah se organisasie

Soos vertel deur Vernon Zubko

EK HET grootgeword op ’n plaas naby Stenen, ’n dorpie in die provinsie Saskatchewan, Kanada. My ouers, Fred en Adella, het hard gewerk om in my en my ouer suster, Aurellia, en my jonger broers en suster, Alvin, Allegra en Daryl, se geestelike en fisiese behoeftes te voorsien. Ons sal ons ouers ewig dankbaar bly omdat hulle ons die waarheid geleer het.

My pa, ’n gesalfde Christen, was ’n vreeslose evangeliedienaar. Hy het hard gewerk om ’n bestaan te maak, maar hy het ook seker gemaak dat almal weet dat hy ’n Getuie is. Hy het altyd oor die waarheid gepraat. Sy ywer en moed het ’n blywende indruk op my gelaat. Hy het dikwels vir my gesê: “As jy besig bly in Jehovah se organisasie, sal jy baie probleme voorkom.”

Ons het dikwels straatgetuieniswerk in Stenen en nabygeleë gemeenskappe gedoen. Dit was nie altyd vir my maklik nie. In elke dorp was daar boelies, wat ons as kinders altyd kom spot het. Eenkeer, toe ek agt jaar oud was, het ’n groep jongmense my omring terwyl ek op ’n hoek gestaan het met Die Wagtoring en die Ontwaak! Hulle het my nuwe hoed van my kop af gegryp en dit op ’n paal langs my gesit. Gelukkig het ’n ouer broer wat ’n ogie oor my gehou het, gesien wat gebeur. Hy het nader gekom en gevra: “Vern, is iets fout?” Die seuns het gou verdwyn. Hoewel die ondervinding ’n bietjie ontstellend was, het dit my geleer dat ’n mens tydens straatgetuieniswerk moet rondloop en nie net moet stilstaan nie. Hierdie soort opleiding gedurende my vormingsjare het my ook die nodige moed gegee om van deur tot deur te gaan.

Ek en Alvin is in Mei 1951 gedoop. Ek was 13 jaar oud. Ek onthou nog dat broer Jack Nathan, wat die dooptoespraak gehou het, ons aangespoor het om nooit ’n maand te laat verbygaan sonder dat ons oor Jehovah praat nie. a In ons gesin is pionierdiens altyd as die beste loopbaan beskou. Toe ek in 1958 my skoolopleiding voltooi het, het ek dus na Winnipeg, Manitoba, getrek om te pionier. Hoewel my pa bly was dat ek as ’n skawer van timmerhout saam met hom in die gesinsonderneming gewerk het, het hy en my ma my aangespoor om die voltydse bediening te betree en dit goedgekeur dat ek trek.

’n Nuwe tuiste en ’n nuwe maat

In 1959 het die takkantoor almal wat kon, aangespoor om na Quebec te trek waar evangeliedienaars baie nodig was. Ek het in Montreal gaan pionier. Wat ’n verandering was dit tog! Dit was ’n nuwe hoofstuk in my lewe, want ek het Frans leer praat en aan ’n ander kultuur gewoond geraak. Ons kringopsiener het vir my gesê: “Moet nooit sê: ‘Dit is hoe ons dit gedoen het waar ek vandaan kom’, nie.” Dit was goeie raad.—1 Kor. 9:22, 23.

Ek het nie ’n pioniermaat gehad toe ek na Quebec getrek het nie. Maar ’n jong suster met die naam Shirley Turcotte, wat ek vroeër in Winnipeg ontmoet het, het in Februarie 1961 my lewensmaat geword. Sy het ook uit ’n gesin gekom wat Jehovah liefhet. Ek het destyds nie ten volle besef dat sy deur die jare heen vir my ’n waardevolle bron van krag en aanmoediging sou wees nie.

’n Reis deur die Gaspé

Twee jaar ná ons troue is ons aangestel as spesiale pioniers in Rimouski, Quebec. In die lente van die volgende jaar het die takkantoor ons gevra om ’n predikingsreis te onderneem deur die hele Gaspé-skiereiland, langs Kanada se ooskus. Ons toewysing was om soveel saadjies van waarheid as moontlik te plant (Pred. 11:6). Ons het meer as 1 000 tydskrifte en byna 400 boeke, asook kos en klere, in ons motor gelaai en op ’n maand lange predikingsreis vertrek. Ons het stelselmatig al die dorpies in die Gaspé deurgewerk. Die plaaslike radiostasie het mense gewaarsku dat die Getuies kom en het vir hulle gesê dat hulle nie ons publikasies moet neem nie. Maar die meeste inwoners het die aankondiging verkeerd verstaan en gedink dat dit ’n advertensie vir ons publikasies is, en daarom het hulle die lektuur geneem.

In daardie jare was vryheid om die predikingswerk te doen nog redelik nuut in sekere dele van Quebec, en dit was nie ongewoon om deur die polisie voorgekeer te word nie. Dit het gebeur in een stad waar ons by amper elke deur lektuur gelaat het. ’n Polisiebeampte het ons gevra om saam met hom na die polisiestasie te gaan, en ons het dit gedoen. Ek het uitgevind dat die stadsadvokaat ’n bevel uitgevaardig het om te keer dat ons die predikingswerk doen. Aangesien die polisiehoof die dag nie daar was nie, het ek die advokaat ’n goed gedokumenteerde brief van die takkantoor in Toronto gewys wat ons reg om te preek, verduidelik het. Nadat die advokaat die brief gelees het, het hy gou gesê: “Kyk, ek wil nie enige probleme hê nie. Dit was die plaaslike priester wat vir my gesê het om julle te keer.” Omdat ons wou hê dat die mense in die gebied moet besef dat ons werk nie onwettig is nie, het ons dadelik teruggekeer na die gebied waar die polisie ons voorgekeer het en met ons bediening voortgegaan.

Toe ons die volgende oggend teruggaan om die polisiehoof te sien, was hy ontsteld om te hoor dat ons voorgekeer is. Julle moes gehoor het wat hy oor die telefoon vir die advokaat gesê het! Die polisiebeampte het vir ons gesê dat ons hom persoonlik moet skakel as ons enige probleme ondervind, sodat hy die situasie kan hanteer. Al was ons vreemdelinge en kon ons nie goed Frans praat nie, het ons gevind dat die mense vriendelik en gasvry is. Maar ons het gewonder: ‘Sal hulle ooit die waarheid leer ken?’ Ons vraag is jare later beantwoord toe ons teruggegaan het om Koninkryksale oral op die Gaspé te bou. Ons het uitgevind dat baie van dié vir wie ons getuig het, nou ons broers is. Ja, Jehovah is die een wat dit laat groei.—1 Kor. 3:6, 7.

Ons ontvang ’n erfdeel

Ons dogter Lisa is in 1970 gebore. Hierdie erfdeel van Jehovah het ons baie vreugde verskaf. Shirley en Lisa het saam met my aan baie Koninkryksaalbouprojekte gewerk. Nadat Lisa haar skoolopleiding voltooi het, het sy gesê: “Ma en Pa, ek wil graag ’n pionier word om te vergoed vir die feit dat julle weens my ’n ruk lank nie in die voltydse diens kon wees nie.” Lisa dien meer as 20 jaar later nog steeds as ’n pionier, maar nou saam met haar man, Sylvain. Hulle het al die voorreg gehad om saam aan verskeie internasionale bouprojekte te werk. Ons gesin se doelwit is om ons lewe eenvoudig te hou en ons beskikbaar te stel vir Jehovah se diens. Ek het nooit vergeet wat Lisa gesê het toe sy begin pionier het nie. Om die waarheid te sê, sy het my beweeg om in 2001 weer die voltydse bediening te betree, en sedertdien is ek ’n pionier. Die pionierdiens leer my nog steeds om op Jehovah te vertrou in alles wat ek doen en om ’n eenvoudige, maar bevredigende en gelukkige lewe te lei.

Bouprojekte verg liefde, lojaliteit en getrouheid

Jehovah het my geleer dat ons baie seëninge kan ontvang as ons ons beskikbaar stel en enige toewysing aanvaar wat hy ons gee. Ek beskou dit as ’n groot voorreg om op ’n Streekboukomitee te dien en saam met my broers en susters deur die hele Quebec en op ander plekke aan bouprojekte te werk.

Hoewel party vrywilligers dalk nie uitstekende toesprake op die verhoog hou nie, blink hulle uit tydens Koninkryksaalbouprojekte. Hierdie dierbare broers en susters lê hulle met hart en siel op die werk toe, en hulle talente kom na vore. Die gevolg is altyd ’n pragtige gebou wat in die aanbidding van Jehovah gebruik kan word.

Daar is al vir my gevra: “Wat is die belangrikste eienskappe vir ’n vrywilliger wat aan ’n Koninkryksaalbouprojek werk?” Ek het gesien dat ’n mens eerstens Jehovah en sy Seun sowel as die broederskap moet liefhê (1 Kor. 16:14). Tweedens is lojaliteit en getrouheid nodig. Wanneer sake nie verloop soos ons wil hê nie—en dit sal gebeur—sal ’n lojale persoon aanhou om die teokratiese reëling te ondersteun. Getrouheid sal hom beweeg om sy hulp vir toekomstige projekte aan te bied.

Dankbaar teenoor Jehovah

Hoewel my pa in 1985 oorlede is, is sy raad om in Jehovah se organisasie besig te bly, in my geheue ingeprent. Soos ander wat hulle toewysing in die hemelse deel van Jehovah se organisasie ontvang het, is hy ongetwyfeld besig (Op. 14:13). My ma is nou 97. As gevolg van ’n beroerte kan sy nie meer so goed praat soos voorheen nie; maar sy ken haar Bybel. Sy haal tekste in haar briewe aan en spoor ons aan om Jehovah getrou te bly dien. Hoe dankbaar is ons almal as kinders tog vir sulke liefdevolle ouers!

Ek is ook dankbaar teenoor Jehovah vir Shirley, my getroue huweliksmaat. Sy hou altyd haar ma se raad in gedagte: “Vern sal altyd baie besig wees in die waarheid, en jy sal moet leer om hom met ander te deel.” Toe ons 49 jaar gelede getrou het, het ons besluit dat ons saam in Jehovah se diens oud sal word en, as ons al twee die einde van hierdie stelsel oorleef, saam jonger sal word en vir ewig sal aanhou om hom te dien. Ja, ons het “baie [gehad] om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Jehovah het werklik vir ons gesorg en seker gemaak dat ons nooit enigiets kortkom nie.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 September 1990, bladsye 10-14, vir die lewensverhaal van Jack Halliday Nathan.

[Prent op bladsy 31]

“Ons gesin se doelwit is om ons lewe eenvoudig te hou en ons beskikbaar te stel vir Jehovah se diens”