Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help jongmense om vertroud te raak met Jehovah se organisasie

Help jongmense om vertroud te raak met Jehovah se organisasie

Help jongmense om vertroud te raak met Jehovah se organisasie

KINDERS wil leer. Stel jou net voor watter vrae Israelitiese kinders in Egipte moontlik die aand van die eerste Pasga gevra het: ‘Hoekom moes die lam doodgemaak word?’ ‘Hoekom smeer Pa bloed om die deuropening?’ ‘Waarnatoe gaan ons?’ Ons kan duidelik sien dat Jehovah sulke vrae verwelkom het uit wat hy Israelitiese vaders beveel het. Jehovah het vir hulle oor toekomstige Pasgavierings gesê: “Wanneer julle kinders vir julle sê: ‘Wat beteken hierdie diens vir julle?’ dan moet julle sê: ‘Dit is die offerande van die pasga aan Jehovah, wat die huise van die kinders van Israel in Egipte oorgeslaan het toe hy die Egiptenaars met die plaag getref maar ons huise bevry het’” (Eks. 12:24-27). Later het Jehovah Israelitiese ouers herinner aan hoe belangrik dit is om hulle kinders se vrae te beantwoord oor “die voorskrifte en die regterlike beslissings” wat Jehovah beveel het.—Deut. 6:20-25.

Dit is duidelik dat Jehovah wou hê dat dit vir kinders moontlik moes wees om bevredigende antwoorde op hulle vrae oor ware aanbidding te kry—antwoorde wat hulle sou beweeg om Jehovah as hulle God en Redder lief te hê. Jehovah wil vandag dieselfde vir ons jongmense hê. Een manier waarop ouers innige liefde vir God en sy volk by hulle kinders kan inskerp, is deur hulle te help om vertroud te raak met Jehovah se organisasie en om te verstaan hoe hulle by die reëlings daarvan baat vind. Kom ons bespreek dus ’n paar maniere waarop jongmense gehelp kan word om meer besonderhede oor God se organisasie te leer.

Die plaaslike gemeente

Jongmense moet die gemeente waarin julle gesin is, leer ken. Om dit reg te kry, moet julle as ouers julle kinders saamneem na al die Christelike vergaderinge. Sodoende gehoorsaam julle die bevel wat Jehovah die Israeliete gegee het: “Laat die volk bymekaarkom, die manne en die vroue en die kindertjies . . . , sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer, aangesien hulle Jehovah julle God moet vrees en al die woorde van hierdie wet sorgvuldig moet onderhou. En hulle kinders wat dit nie geken het nie, moet luister, en hulle moet leer om Jehovah julle God te vrees.”—Deut. 31:12, 13.

Kinders kan van kleins af van Jehovah se Woord begin leer. Die apostel Paulus het gesê dat Timoteus “van kleintyd af die heilige geskrifte geken het” (2 Tim. 3:15). Tydens vergaderinge in die Koninkryksaal begin selfs baie jong kinders om die inligting wat aangebied word, in te neem en om die Koninkryksliedere te leer ken. Daar leer hulle om die Bybel en Bybellektuur te gebruik en te respekteer. En by ons vergaderinge sal hulle die opregte liefde aanvoel wat ’n kenmerk van Christus se ware volgelinge is. Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Die hartlike liefde en ware veiligheid by die Koninkryksaal sal kinders aantrek en sal hulle help om die bywoning van Christelike vergaderinge ’n blywende deel van hulle lewe te maak.

Wanneer julle ’n gewoonte daarvan maak om vroeg by die Koninkryksaal te wees en ná die vergadering ’n rukkie te bly, sal julle kinders die geleentheid kry om vriende te maak. Dit sal goed wees as julle hulle nie net met ander kinders laat omgaan nie, maar hulle ook aan broers en susters van alle ouderdomme voorstel. As hulle die ouer persone leer ken, sal julle kinders ’n genotvolle bron van ondervinding en wysheid ontdek. Net soos Sagaria van ouds, ’n “onderrigter in die vrees van die ware God”, ’n goeie invloed op die jong Ussia, koning van Juda, uitgeoefen het, oefen dié wat Jehovah in ons dag al baie jare lank getrou dien, ’n goeie invloed uit op jongmense (2 Kron. 26:1, 4, 5). Terwyl julle in die Koninkryksaal is, kan julle ook die doel van die biblioteek, die kennisgewingbord en ander kenmerke aan julle kinders verduidelik.

Die wêreldwye organisasie

Kinders moet verstaan dat die plaaslike gemeente deel uitmaak van ’n wêreldwye organisasie van meer as 100 000 gemeentes. Verduidelik die kenmerke van hierdie organisasie, hoe dit funksioneer en watter rol kinders speel om die werk daarvan te ondersteun. Vertel vir hulle waarom julle na kring- en streekbyeenkomste en die kringopsiener se besoeke uitsien.—Sien die venster  “Onderwerpe wat tydens Gesinsaanbidding bespreek kan word”, op bladsy 28.

Nooi reisende opsieners, sendelinge, lede van die Bethelgesin en ander voltydse bedienaars vir ’n ete na julle huis, wanneer julle die geleentheid het. Moenie dink dat hulle nie tyd vir jongmense het nie. Hierdie voltydse knegte probeer Jesus navolg, wat altyd kinders verwelkom het en met hulle gepraat het (Mark. 10:13-16). As julle kinders die ondervindinge van hierdie knegte van Jehovah hoor en hulle vreugde in heilige diens sien, sal hulle dalk ook voltydse diens hulle doelwit maak.

Wat anders kan julle as ’n gesin doen om julle kinders te help om meer vertroud te raak met Jehovah se organisasie? Hier is ’n paar wenke: Maak dit ’n gesinsprojek om die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk te bespreek. Beklemtoon die toegewydheid, nederigheid en lojaliteit wat knegte van Jehovah aan die dag gelê het. Toon hoe Jehovah hulle gebruik het om die goeie nuus oor die hele aarde te versprei. Gebruik die video’s wat Jehovah se organisasie vervaardig, om julle kinders belangrike lesse uit die verlede en die hede te leer. Besoek die takkantoor en Bethelhuis in julle land of miskien selfs in ander lande, as dit vir julle moontlik is. Hierdie besoeke sal julle kinders help om te besef hoe die aardse deel van Jehovah se organisasie onder leiding van die ‘getroue slaaf’-klas georganiseer is om die broers oor die hele wêreld van geestelike voedsel en leiding te voorsien, net soos in die eerste eeu HJ.—Matt. 24:45-47; Hand. 15:22-31.

Pas die inligting aan by elke kind

Wanneer julle julle kinders leer, moet julle in gedagte hou hoe Jesus sy apostels onderrig het. Hy het eenkeer vir hulle gesê: “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie” (Joh. 16:12). Jesus het nie sy dissipels met inligting oorweldig nie. Hy het hulle eerder geleidelik belangrike waarhede geleer sodat hulle dit behoorlik kon verwerk. Julle moet ook nie julle kinders oorweldig nie. As julle hulle klein, maar gereelde porsies inligting oor die organisasie gee, sal julle hulle belangstelling boei en dit vir hulle aangenaam maak om van die Christengemeente te leer. Namate julle kinders se behoeftes verander, kan julle dít wat hulle reeds geleer het, herhaal en daaroor uitwei.

Die Christengemeente is ’n baie belangrike bron van geestelike krag, en jongmense wat ywerig aan die bedrywighede daarvan deelneem, is beter toegerus om die invloed van Satan se wêreld te weerstaan (Rom. 12:2). Ons is vol vertroue dat julle baie vreugde daaruit sal put om julle kinders te help om vertroud te raak met Jehovah se organisasie. Mag hulle, met sy seën, lojaal bly aan die organisasie en aan die liefdevolle God wat ons dien.

[Venster/Prent op bladsy 28]

 Onderwerpe wat tydens Gesinsaanbidding bespreek kan word

Hier volg ’n paar onderwerpe in verband met Jehovah se organisasie wat julle tydens julle aand vir Gesinsaanbidding kan bespreek.

▪ Bespreek die geskiedenis van die plaaslike gemeente. Wanneer en hoe is dit gestig? Watter verskillende Koninkryksale het die gemeente gebruik? Vir hierdie bespreking kan julle gerus iemand wat al lank ’n lid van die gemeente is, na julle huis nooi om julle kinders se vrae te beantwoord.

▪ Verduidelik die doel van die verskillende gemeentelike vergaderinge en groter samekomste en hoe die kinders daarby kan baat vind.

▪ Bespreek die doel van die verskillende skole wat Jehovah se organisasie gestig het. Vertel ondervindinge wat toon watter goeie resultate dié wat by hierdie skole opgelei is, behaal het.

▪ Help jongmense om te besef dat dit belangrik is om gereelde verkondigers van die goeie nuus te wees. Wys hulle hoe hulle tot die wêreldrapport in die Jaarboek van Jehovah se Getuies kan bydra.

▪ Bespreek die verskillende vorme van voltydse diens waaraan jongmense in Jehovah se organisasie kan deelneem. Hoofstuk 10 van die boek Georganiseer om Jehovah se wil te doen is ’n goeie bron van inligting.

▪ Help jongmense om te verstaan waarom sekere prosedures in die gemeente gevolg word. Verduidelik waarom hulle nie eers in geringe mate onafhanklik van Jehovah se organisasie moet optree nie. Wys hulle hoe hulle tot die goeie orde in die gemeente kan bydra deur die leiding van die ouer manne te volg.

[Prent]

Soos in eertydse Israel probeer ouers van vandag bevredigende antwoorde gee wanneer hulle kinders vrae oor Jehovah se organisasie vra

[Prente op bladsy 26]

Julle kinders sal daarby baat vind om vriende te maak met diegene wat Jehovah al lank dien