Hou aan om eers “sy regverdigheid” te soek
Hou aan om eers “sy regverdigheid” te soek
“Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—MATT. 6:33.
1, 2. Wat is God se regverdigheid, en waarop is dit gegrond?
“HOU dan aan om eers die koninkryk . . . te soek” (Matt. 6:33). Jehovah se Getuies van vandag is goed vertroud met hierdie vermaning wat Jesus Christus in sy Bergpredikasie gegee het. Ons probeer om in elke aspek van ons lewe te toon dat ons hierdie Koninkryksregering liefhet en daaraan lojaal wil wees. Maar ons moet ook die tweede deel van hierdie uitdrukking in gedagte hou, naamlik “en sy regverdigheid”. Wat is God se regverdigheid, en wat beteken dit om dit eers te soek?
2 Die woorde vir “regverdigheid” in die oorspronklike taal kan ook vertaal word met “geregtigheid” of “regskapenheid”. God se regverdigheid is dus regskapenheid volgens sy standaarde en waardes. As die Skepper het Jehovah die reg om die standaard te stel van wat goed en sleg is, van wat reg en verkeerd is (Op. 4:11). God se regverdigheid is egter nie ’n kil, onbuigsame stel wette of ’n eindelose lys reëls en voorskrifte nie. Dit is eerder gegrond op Jehovah se persoonlikheid en een van sy hoofeienskappe, geregtigheid, tesame met sy ander hoofeienskappe, liefde, wysheid en krag. God se regverdigheid hou dus verband met sy wil en voorneme. Dit sluit in wat hy verwag van diegene wat hom wil dien.
3. (a) Wat beteken dit om eers God se regverdigheid te soek? (b) Waarom handhaaf ons Jehovah se regverdige standaarde?
3 Wat beteken dit om eers God se regverdigheid te soek? Eenvoudig gestel, dit beteken om God se wil te doen sodat ons hom kan behaag. Om sy regverdigheid te soek, behels dat ons volgens sy waardes en volmaakte standaarde probeer lewe, nie volgens ons eie nie. (Lees Romeine 12:2.) Hierdie lewenswyse hou verband met ons verhouding met Jehovah. Ons gehoorsaam nie sy wette net omdat ons bang is dat ons gestraf sal word nie. Ons liefde vir God beweeg ons eerder om hom te probeer behaag deur sy standaarde te handhaaf en nie ons eie standaarde vas te stel nie. Ons besef dat dit die regte ding is om te doen, dít wat ons bedoel is om te doen. Soos Jesus Christus, die Koning van God se Koninkryk, moet ons regverdigheid liefhê.—Heb. 1:8, 9.
4. Waarom is dit so belangrik om God se regverdigheid te soek?
4 Hoe belangrik is dit om Jehovah se regverdigheid te soek? Dink hieraan: Die oorspronklike toets in die tuin van Eden was gegrond op die vraag of Adam en Eva Jehovah se reg om standaarde vas te stel, sou aanvaar of nie (Gen. 2:17; 3:5). Omdat hulle dit nie aanvaar het nie, het hulle ellende en die dood oor ons as hulle nakomelinge gebring (Rom. 5:12). Maar God se Woord sê ook: “Hy wat regverdigheid en liefderyke goedhartigheid nastreef, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind” (Spr. 21:21). Ja, om eers God se regverdigheid te soek, het ’n vreedsame verhouding met Jehovah tot gevolg, en dít lei tot ons redding.—Rom. 3:23, 24.
Die gevaar om eiegeregtig te word
5. Watter gevaar moet ons vermy?
5 Toe die apostel Paulus aan die Christene in Rome geskryf het, het hy die aandag gevestig op ’n gevaar wat ons almal moet vermy as ons daarin wil slaag om eers God se regverdigheid te soek. Paulus het van sy mede-Jode gesê: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het; maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie; want omdat hulle die regverdigheid van God nie ken nie maar hulle eie tot stand probeer bring, het hulle hulle nie aan die regverdigheid van God onderwerp nie” (Rom. 10:2, 3). Volgens Paulus het daardie aanbidders nie die regverdigheid van God verstaan nie, omdat hulle te besig was om hulle eie regverdigheid tot stand te probeer bring. a
6. Watter gesindheid moet ons vermy, en waarom?
6 Een manier waarop ons in hierdie strik kan trap, is deur ons diens aan God as ’n wedstryd te beskou en ons dus met ander te vergelyk. Hierdie gesindheid kan maklik daartoe lei dat ons te selfversekerd word wat ons vermoëns betref. Maar as ons so sou optree, sou dit beteken dat ons van Jehovah se regverdigheid vergeet (Gal. 6:3, 4). Die regte beweegrede om te doen wat reg is, is ons liefde vir Jehovah. Enige pogings om ons eie regverdigheid te bewys, kan ons bewering dat ons hom liefhet, kragteloos maak.—Lees Lukas 16:15.
7. Hoe het Jesus aan die probleem van eiegeregtigheid aandag gegee?
7 Jesus was besorg oor diegene “wat op hulleself vertrou het dat hulle regverdig is en wat die res as niks beskou het nie”. Hy het aan die probleem van eiegeregtigheid aandag gegee deur hierdie illustrasie te vertel: “Twee mense het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n belastinggaarder. Die Fariseër het gaan staan en hierdie dinge by homself begin bid: ‘O God, ek dank u dat ek nie soos die res van die mense is nie: afpersers, onregverdig, egbrekers, of selfs soos hierdie belastinggaarder. Ek vas twee keer per week, ek gee die tiende van alles wat ek verkry.’ Maar die belastinggaarder, wat op ’n afstand gestaan het, wou nie eens sy oë na die hemel opslaan nie, maar het op sy bors bly slaan en gesê: ‘O God, wees my, ’n sondaar, genadig.’” Jesus het afgesluit deur te sê: “Ek sê vir julle: Hierdie man het na sy huis afgegaan, regverdiger as daardie man; want elkeen wat hom verhef, sal verneder word, maar hy wat hom verneder, sal verhef word.”—Luk. 18:9-14.
Nog ’n gevaar—Om “alte regverdig” te word
8, 9. Wat beteken dit om “alte regverdig” te wees, en waartoe kan dit lei?
8 Nog ’n gevaar wat ons moet vermy, word genoem in Prediker 7:16: “Moenie alte regverdig word nie, en moet jou ook nie uitermate wys voordoen nie. Waarom sou jy verwoesting oor jouself bring?” Die geïnspireerde Bybelskrywer gee ons dan in vers 20 ’n rede om hierdie gesindheid te vermy: “Want daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie.” Die persoon wat “alte regverdig” word, stel sy eie standaarde van regverdigheid vas en oordeel ander daarvolgens. Maar hy besef nie dat hy sodoende sy eie standaarde bo dié van God verhef en dus onregverdig in God se oë is nie.
9 Om “alte regverdig” te wees, of soos party Bybelvertalings dit stel, om “uitermate regverdig” of “te regverdig” te wees, kan selfs veroorsaak dat ons die manier bevraagteken waarop Jehovah sake hanteer. Ons moet egter onthou dat ons in werklikheid ons standaard van regverdigheid bo Jehovah se standaard begin verhef as ons die regverdigheid en korrektheid van Jehovah se beslissings bevraagteken. Ons verhoor en oordeel Jehovah as ’t ware volgens ons eie standaarde van wat reg en verkeerd is. Maar dit is Jehovah wat die reg het om die standaard van regverdigheid vas te stel, nie ons nie!—Rom. 14:10.
10. Wat kan veroorsaak dat ons, soos Job, God oordeel?
10 Hoewel nie een van ons God doelbewus wil oordeel nie, kan ons onvolmaaktheid veroorsaak dat ons dit wel doen. Dit kan maklik gebeur wanneer ons iets sien wat ons as onregverdig beskou, of as ons persoonlik ontberinge verduur. Selfs die getroue man Job het hierdie fout gemaak. Daar is aanvanklik van Job gesê: “Dié man was onberispelik en regskape en het God gevrees en afgewyk van die kwaad” (Job 1:1). Maar toe is Job deur verskeie rampe getref, wat vir hom onregverdig gelyk het. Dit het daartoe gelei dat Job “eerder sy eie siel regverdig verklaar het as God” (Job 32:1, 2). Job se beskouing moes reggestel word. Ons moet dus nie verbaas wees as ons ons soms in ’n soortgelyke situasie bevind nie. Wat kan ons dan help om ons denkwyse reg te stel?
Ons het nie altyd al die feite nie
11, 12. (a) Wat moet ons onthou as iets vir ons onregverdig lyk? (b) Waarom dink iemand dalk dat die huisheer in Jesus se illustrasie van die werkers in die wingerd onregverdig was?
11 Ons moet eerstens onthou dat ons nie altyd al die feite het nie. Dit was die geval met Job. Hy het nie geweet van die vergaderinge van die engeleseuns van God in die hemel waar Satan hom vals beskuldig het nie (Job 1:7-12; 2:1-6). Job het nie besef dat sy probleme eintlik deur Satan veroorsaak is nie. Trouens, ons kan nie seker wees dat Job eers geweet het presies wie Satan is nie! Hy het dus verkeerdelik aangeneem dat God sy probleme veroorsaak het. Ja, dit is maklik om tot die verkeerde gevolgtrekking te kom wanneer ons nie al die feite het nie.
12 Kyk byvoorbeeld na Jesus se illustrasie van die werkers in die wingerd. (Lees Matteus 20:8-16.) Jesus vertel hier van ’n huisheer wat al sy werkers dieselfde bedrag betaal, hetsy hulle die hele dag of net een uur gewerk het. Hoe voel jy hieroor? Klink dit regverdig? Miskien vereenselwig jy jou onmiddellik met die werkers wat die hele dag in die warm son gewerk het. Hulle het sekerlik verdien om meer betaal te word! Op grond van hierdie gevolgtrekking kan die huisheer as liefdeloos en onregverdig beskou word. Selfs sy antwoord aan die werkers wat gekla het, kan na ’n willekeurige misbruik van gesag lyk. Maar het ons al die feite?
13. Vanuit watter ander oogpunt kan ons Jesus se illustrasie van die werkers in die wingerd beskou?
13 Kom ons ontleed hierdie illustrasie vanuit ’n ander oogpunt. Die huisheer in die illustrasie het ongetwyfeld besef dat al hierdie mans hulle gesin van kos moet voorsien. In Jesus se tyd is plaaswerkers per dag betaal. Hulle gesin het staatgemaak op die loon wat elke dag betaal is. Hou dit ingedagte wanneer jy dink aan die situasie van diegene wat laat in die dag deur die huisheer gevind is en wat dus net een uur gewerk het. Hulle sou dalk nie hulle gesin van kos kon voorsien met net een uur se loon nie; maar hulle was bereid om te werk en het die hele dag gewag om gehuur te word (Matt. 20:1-7). Dit was nie hulle skuld dat hulle nie die hele dag kon werk nie. Daar is geen aanduiding dat hulle doelbewus probeer het om werk te vermy nie. Stel jou voor dat jy die hele dag moet wag terwyl jy weet dat ander op jou loon vir daardie dag staatmaak. Hoe dankbaar sou jy tog wees om ’n bietjie werk te kry—en hoe verbaas sou jy tog wees om genoeg geld te kry om jou gesin van kos te voorsien!
14. Watter nuttige les leer ons uit die illustrasie van die wingerd?
14 Kom ons kyk nou weer na wat die huisheer gedoen het. Hy het niemand te min betaal nie. Hy het eerder al die werkers se reg om ’n bestaan te maak, in ag geneem in die manier waarop hy hulle behandel het. Hoewel die situasie as ’n kopersmark beskou kon word, met geen tekort aan werkers nie, het hy hulle nie uitgebuit deur hulle minder aan te bied as wat regverdig was nie. Al sy werkers het teruggekeer huis toe met genoeg om hulle gesin van kos te voorsien. As ons hierdie bykomende besonderhede in ag neem, verander dit dalk ons beskouing van wat hy gedoen het. Hy het ’n liefdevolle besluit geneem en nie sy gesag willekeurig misbruik nie. Watter les kan ons hieruit leer? Dat ons tot die verkeerde gevolgtrekking kan kom as ons net party van die feite in ag neem. Ja, hierdie gelykenis beklemtoon die voortreflikheid van God se regverdigheid, wat nie net op wetlike voorskrifte en die verdienstelikheid van mense gegrond is nie.
Ons beskouing kan verdraaid of beperk wees
15. Waarom kan ons beskouing van wat regverdig is, verdraaid of beperk wees?
15 Die tweede faktor wat ons in gedagte moet hou wanneer ons voor ’n situasie te staan kom wat vir ons onregverdig lyk, is dat ons beskouing verdraaid of beperk kan wees. Dit kan verdraaid wees as gevolg van onvolmaaktheid, vooroordeel of kulturele agtergrond. En dit is beperk omdat ons nie weet wat mense se beweegredes is of wat werklik in hulle hart is nie. In teenstelling hiermee het nie Jehovah of Jesus hierdie beperkings nie.—Spr. 24:12; Matt. 9:4; Luk. 5:22.
16, 17. Wat is moontlik die rede waarom Jehovah nie sy wet oor egbreuk ten tye van Dawid se sonde met Batseba toegepas het nie?
16 Kom ons ontleed die verslag van Dawid se egbreuk met Batseba (2 Sam. 11:2-5). Volgens die Mosaïese Wet het hulle die doodstraf verdien (Lev. 20:10; Deut. 22:22). Hoewel Jehovah hulle gestraf het, het hy nie sy eie wet toegepas nie. Was dit onregverdig van Jehovah? Was hy partydig teenoor Dawid en het Hy sy eie regverdige standaarde verontagsaam? Party Bybellesers het al so gedink.
17 Maar Jehovah het hierdie wet oor egbreuk aan onvolmaakte regters gegee, wat nie harte kon lees nie. Hierdie wet het hulle in staat gestel om met konsekwentheid te oordeel ondanks hulle beperkings. Jehovah daarenteen kan harte lees (Gen. 18:25; 1 Kron. 29:17). Ons moet dus nie verwag dat Jehovah ingeperk moes word deur hierdie wet wat vir onvolmaakte regters bedoel was nie. Sou dit dan nie wees soos om iemand met volmaakte sig te dwing om ’n bril te dra wat bedoel is om die sig reg te stel van iemand wat nie goed kan sien nie? Jehovah kon die harte van Dawid en Batseba lees en hulle opregte berou sien. Hy het hierdie faktor in ag geneem en hulle dienooreenkomstig geoordeel, op ’n barmhartige en liefdevolle manier.
Hou aan om Jehovah se regverdigheid te soek
18, 19. Wat sal ons help om Jehovah nooit volgens ons eie standaarde van regverdigheid te oordeel nie?
18 As ons soms iets sien wat ons dink onregverdig is van Jehovah—hetsy ons dit in ’n Bybelverslag lees of dit persoonlik ondervind—moet ons God dus nooit volgens ons eie standaarde van regverdigheid oordeel nie. Hou in gedagte dat ons nie altyd al die feite het nie en dat ons beskouing verdraaid of beperk kan wees. Ons moet altyd onthou: “’n Mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie” (Jak. 1:19, 20). As ons hierdie raad toepas, sal ons hart nooit “woedend vir Jehovah” word nie.—Spr. 19:3.
19 Laat ons, soos Jesus, altyd erken dat net Jehovah die reg het om die standaard te stel van wat regverdig en goed is (Mark. 10:17, 18). Streef daarna om “juiste kennis” van sy standaarde te verkry (Rom. 10:2; 2 Tim. 3:7). Deur hierdie standaarde te aanvaar en in ooreenstemming met Jehovah se wil te lewe, toon ons dat ons eers “sy regverdigheid” soek.—Matt. 6:33.
[Voetnoot]
a Volgens ’n geleerde kan die woord wat in die oorspronklike taal met ‘om tot stand te bring’ vertaal word, ook beteken ‘om ’n monument op te rig’. Daardie Jode het dus in werklikheid ’n figuurlike monument opgerig tot hulle eie lof, nie tot lof van God nie.
Onthou jy?
• Waarom is dit belangrik om Jehovah se regverdigheid te soek?
• Watter twee gevare moet ons vermy?
• Hoe kan ons eers God se regverdigheid soek?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 9]
Watter les leer ons uit Jesus se illustrasie van die twee mans wat by die tempel gebid het?
[Prent op bladsy 10]
Was dit onregverdig om die werkers wat net een uur gewerk het, net soveel te betaal as dié wat die hele dag gewerk het?