Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Neem jy die leiding in eerbetoning aan medegelowiges?

Neem jy die leiding in eerbetoning aan medegelowiges?

Neem jy die leiding in eerbetoning aan medegelowiges?

“In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—ROM. 12:10.

1, 2. (a) Watter vermaning gee Paulus in sy brief aan die Romeine? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

 IN SY brief aan die Romeine beklemtoon die apostel Paulus hoe belangrik dit vir ons as Christene is om liefde in die gemeente te toon. Hy herinner ons daaraan dat ons liefde “sonder huigelary” moet wees. Hy noem ook “broederliefde” en sê dat hierdie liefde met “tere geneentheid” getoon moet word.—Rom. 12:9, 10a.

2 Broederliefde behels natuurlik meer as om net ’n hartlike gevoel teenoor ander te hê. Hierdie gevoel moet deur dade getoon word. Niemand sal immers van ons liefde en geneentheid weet tensy ons daarvan bewys lewer nie. Paulus voeg dus die vermaning by: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10b). Wat behels dit om aan ander eer te betoon? Waarom is dit belangrik om die leiding te neem in eerbetoning aan medegelowiges? Hoe kan ons dit doen?

Respek en eer

3. Wat beteken die woord “eer” in die oorspronklike Bybeltale?

3 Die vernaamste Hebreeuse woord vir “eer” beteken letterlik “swaarheid”. Iemand wat geëer word, word as gewigtig of belangrik beskou. Dieselfde Hebreeuse woord word ook dikwels in die Skrif met “heerlikheid” vertaal, wat nog ’n aanduiding is dat die een wat geëer word, hooggeag word (Gen. 45:13). Die Griekse woord wat in die Bybel met “eer” vertaal word, dra die gedagte oor van agting, waarde en kosbaarheid (Luk. 14:10). Ja, diegene wat ons eer, is vir ons kosbaar.

4, 5. Hoe hou eerbetoning en respek met mekaar verband? Lig toe.

4 Wat behels dit om ander te eer? Dit begin met respek. Trouens, die woorde “eer” en “respek” word dikwels saam gebruik omdat hulle ten nouste met mekaar verband hou. Eer is die sigbare bewys van respek. Met ander woorde, respek verwys hoofsaaklik na hoe ons ons broer beskou terwyl eer verwys na hoe ons ons broer behandel.

5 Hoe kan ’n Christen opregte eer aan medegelowiges betoon as hy nie hartgrondige respek vir hulle het nie? (3 Joh. 9, 10). Soos ’n plant net kan floreer en bly lewe as dit in goeie grond geplant is, kan eer net opreg en blywend wees as dit uit hartgrondige respek voortspruit. Aangesien onopregte eer nie uit ware respek voortspruit nie, sal dit vroeër of later tot niet gaan. Dit is dus geen wonder nie dat Paulus voor sy vermaning om eer te betoon, ondubbelsinnig gesê het: “Laat julle liefde sonder huigelary wees.”—Rom. 12:9; lees 1 Petrus 1:22.

Eer diegene wat “na die gelykenis van God” geskep is

6, 7. Waarom moet ons respek vir ander hê?

6 Aangesien hartgrondige respek ’n sleutel tot eerbetoning is, moet ons nooit die skriftuurlike redes wat ons het om al ons broers te respekteer, uit die oog verloor nie. Kom ons bespreek dus twee van hierdie redes.

7 In teenstelling met ander skepsele op die aarde, is mense “na die gelykenis van God” geskep (Jak. 3:9). Daarom het ons goddelike eienskappe soos liefde, wysheid en geregtigheid. Let op wat ons nog van ons Skepper ontvang het. Die psalmis sê: “O Jehovah . . . , u wie se waardigheid bo die hemele bekend gemaak word! . . . U het [die mens] ook ’n bietjie minder as goddelike wesens gemaak, en met heerlikheid en prag [“eer”, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling] het u hom toe gekroon” (Ps. 8:1, 4, 5; 104:1). a Mense oor die algemeen word deur God met ’n mate van waardigheid, heerlikheid en eer gekroon, of versier. Wanneer ons dus aan iemand anders waardigheid verleen, erken ons in werklikheid die Bron van menswaardigheid, Jehovah. As ons geldige redes het om aan mense oor die algemeen respek te betoon, hoeveel te meer moet ons dan nie respek vir medegelowiges hê nie!—Joh. 3:16; Gal. 6:10.

Lede van een gesin

8, 9. Watter rede het ons volgens Paulus om respek vir medegelowiges te hê?

8 Paulus noem nog ’n rede waarom ons mekaar respekteer. Net voordat hy die vermaning gee om eer te betoon, sê hy: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê.” Die Griekse uitdrukking wat met “tere geneentheid” vertaal word, verwys na die sterk, verenigende band tussen die lede van ’n gesin wat mekaar liefhet en ondersteun. Deur hierdie uitdrukking te gebruik, beklemtoon Paulus dus dat verhoudings in die gemeente so sterk en innig soos dié in ’n hegte gesin moet wees (Rom. 12:5). Hou ook in gedagte dat Paulus hierdie woorde aan gesalfde Christene geskryf het, wat almal deur dieselfde Vader, Jehovah, as kinders aangeneem is. Hulle was dus in ’n baie betekenisvolle opsig ’n hegte gesin. Gevolglik het gesalfde Christene in Paulus se dag waarlik ’n kragtige rede gehad om mekaar te respekteer. Dit geld ook vir hedendaagse gesalfdes.

9 Wat van die “ander skape”? (Joh. 10:16). Al is hulle nog nie as God se kinders aangeneem nie, kan hulle mekaar gepas broer en suster noem omdat hulle ’n verenigde, wêreldwye Christengesin uitmaak (1 Pet. 2:17; 5:9). As die ander skape dus ten volle besef wat hulle sê wanneer hulle die woorde “broer” of “suster” gebruik, het hulle ook ’n kragtige rede om hartgrondige respek vir hulle medegelowiges te hê.—Lees 1 Petrus 3:8.

Waarom is dit so belangrik?

10, 11. Waarom is dit so belangrik om respek te hê en eer te betoon?

10 Waarom is dit so belangrik om respek te hê en eer te betoon? Om hierdie rede: As ons eer aan ons broers en susters betoon, dra ons grootliks by tot die welsyn en eenheid van die hele gemeente.

11 Ons besef natuurlik dat ’n hegte verhouding met Jehovah en die ondersteuning van sy gees vir ons as ware Christene die sterkste bronne van krag is (Ps. 36:7; Joh. 14:26). Terselfdertyd is dit vir ons aanmoedigend wanneer medegelowiges toon dat hulle ons waardeer (Spr. 25:11). Opregte woorde van waardering en respek verkwik ons. Dit gee ons bykomende krag om met vreugde en vasbeslotenheid op die weg na die lewe te bly wandel. Jy het dit ongetwyfeld ook al ondervind.

12. Hoe kan elkeen van ons tot ’n hartlike, liefdevolle atmosfeer in die gemeente bydra?

12 Aangesien Jehovah weet dat ons ’n ingebore behoefte aan respek het, spoor hy ons tereg deur middel van sy Woord aan: “Wees gretig om respek teenoor mekaar te betoon.” (Rom. 12:10, Today’s English Version; lees Matteus 7:12.) Alle Christene wat hierdie tydlose raad ter harte neem, dra by tot ’n hartlike en liefdevolle atmosfeer in die Christenbroederskap. Dit sal dus goed wees as ons stilstaan en ons afvra: ‘Wanneer laas het ek deur woorde of dade my hartgrondige respek vir ’n broer of suster in die gemeente getoon?’—Rom. 13:8.

’n Spesifieke toewysing vir almal

13. (a) Wie moet die leiding neem in eerbetoning? (b) Wat toon Paulus se woorde in Romeine 1:7?

13 Wie moet die leiding neem in eerbetoning? In sy brief aan die Hebreërs beskryf Paulus Christen- ouer manne as “dié wat die leiding onder julle neem” (Heb. 13:17). Ja, ouer manne neem die leiding in baie bedrywighede. Maar as herders van die kudde moet hulle sekerlik ook die leiding neem in eerbetoning aan medegelowiges—wat ander ouer manne insluit. Wanneer ouer manne byvoorbeeld vergader om die geestelike behoeftes van die gemeente te bespreek, eer hulle mekaar deur aandagtig te luister na wat enige van die ander ouer manne sê. Hulle toon ook eer aan mekaar deur die beskouings en opmerkings van al die ouer manne in ag te neem wanneer hulle oor iets besluit (Hand. 15:6-15). Ons moet egter onthou dat Paulus se brief aan die Romeine nie net aan die ouer manne gerig is nie, maar aan die hele gemeente (Rom. 1:7). By uitbreiding is die vermaning om die leiding in eerbetoning te neem, dus vandag op ons almal van toepassing.

14. (a) Lig toe wat die verskil is tussen eerbetoning en om die leiding te neem in eerbetoning. (b) Watter vraag kan ons ons afvra?

14 Let op nog ’n aspek van Paulus se raad. Hy het sy medegelowiges in Rome aangespoor om nie net eer te betoon nie, maar om die leiding te neem in eerbetoning. Waarom maak dit ’n verskil? Dink aan hierdie voorbeeld. Sal ’n onderwyser ’n groep geletterde leerlinge aanspoor om te leer lees? Nee. Hulle weet reeds hoe om te lees. Die onderwyser sal eerder die leerlinge wil help om beter te lees. Net so is liefde vir mekaar, wat ons beweeg om eer te betoon, reeds die kenmerk van ware Christene (Joh. 13:35). Maar net soos geletterde leerlinge verdere vooruitgang kan maak deur hulle leesvaardighede te verbeter, kan ons verdere vooruitgang maak deur die leiding te neem in eerbetoning (1 Tess. 4:9, 10). Hierdie spesifieke toewysing is aan elkeen van ons gegee. Ons kan ons afvra: ‘Doen ek dit—neem ek die inisiatief om ander in die gemeente te eer?’

Eer “die geringe”

15, 16. (a) Wie moet ons nie oor die hoof sien wanneer ons eer betoon nie, en waarom nie? (b) Wat kan openbaar dat ons hartgrondige respek vir al ons broers en susters het?

15 Wie in die gemeente moet ons nie oor die hoof sien wanneer ons eer betoon nie? God se Woord sê: “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spr. 19:17). Watter uitwerking moet die beginsel in hierdie woorde op ons hê terwyl ons daarna streef om die leiding te neem in eerbetoning?

16 Jy sal saamstem dat die meeste mense dit regkry om aan hulle meerderes eer te betoon, maar hierdie selfde mense behandel dalk diegene wat hulle as hulle minderes beskou, met min of geen respek nie. Maar Jehovah is nie so nie. Hy sê: “Dié wat my eer, sal ek eer” (1 Sam. 2:30; Ps. 113:5-7). Jehovah betoon eer aan almal wat hom dien en eer. Hy ignoreer nie “’n geringe” nie. (Lees 1 Samuel 2:8; 2 Kron. 16:9.) Ons wil Jehovah natuurlik navolg. As ons wil vasstel hoe ons daarin vaar om opregte eer te betoon, kan ons ons dus gerus afvra: ‘Hoe behandel ek diegene wat nie ’n vername of verantwoordelike posisie in die gemeente het nie?’ (Joh. 13:14, 15). Die antwoord op hierdie vraag openbaar in watter mate ons hartgrondige respek vir ander het.—Lees Filippense 2:3, 4. 

Ons betoon eer deur van ons tyd te gee

17. Wat is ’n vername manier waarop ons die leiding kan neem in eerbetoning, en waarom is dit die geval?

17 Wat is ’n vername manier waarop ons die leiding kan neem in eerbetoning aan almal in die gemeente? Deur ander van ons tyd te gee. Waarom is dit die geval? As Christene lei ons besige lewens, en ons talle belangrike gemeentelike bedrywighede verg baie van ons tyd. Gevolglik is dit nie verbasend dat ons tyd as kosbaar beskou nie. Ons besef ook dat ons nie daarop moet aandring dat ons broers en susters ons ’n buitensporige hoeveelheid van hulle tyd moet gee nie. Net so waardeer ons dit wanneer ander in die gemeente verstaan dat hulle nie veeleisend moet wees wanneer dit kom by die hoeveelheid tyd wat hulle van ons vra nie.

18. Hoe kan ons aandui dat ons bereid is om medegelowiges van ons tyd te gee, soos die prent op bladsy 18 toon?

18 Nietemin besef ons ook (veral dié van ons wat as herders in die gemeente dien) dat ons bereidwilligheid om ons bedrywighede te onderbreek om medegelowiges van ons tyd te gee, toon dat ons respek vir hulle het. Waarom is dit die geval? As ons ons bedrywighede onderbreek om ons broers van ons tyd te gee, sê ons in werklikheid vir hulle: ‘Jy is so kosbaar in my oë dat dit vir my belangriker is om tyd saam met jou deur te bring as om voort te gaan met wat ek doen’ (Mark. 6:30-34). Die teenoorgestelde is ook waar. As ons onwillig is om ons bedrywighede te onderbreek om ons broer van ons tyd te gee, kan ons hom laat voel dat hy nie vir ons belangrik is nie. Dit is natuurlik te verstane dat ’n dringende saak soms nie onderbreek kan word nie. Maar ons bereidwilligheid—of ons onwilligheid—om ander van ons tyd te gee, is wel ’n aanduiding van hoeveel respek ons in ons hart vir ons broers en susters het.—1 Kor. 10:24.

Wees vasbeslote om die leiding te neem

19. Hoe kan ons eer aan medegelowiges betoon, behalwe om hulle van ons tyd te gee?

19 Daar is ander belangrike maniere waarop ons eer aan medegelowiges kan betoon. Wanneer ons hulle van ons tyd gee, moet ons byvoorbeeld ook aan hulle aandag skenk. Jehovah stel weer eens die voorbeeld. Die psalmis Dawid sê: “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Ps. 34:15). Ons probeer Jehovah navolg deur ons oë en ore—ons onverdeelde aandag—op ons broers te rig, veral dié wat ons om hulp nader. Sodoende betoon ons eer aan hulle.

20. Watter herinneringe oor eerbetoning wil ons in gedagte hou?

20 Soos ons bespreek het, wil ons goed in gedagte hou waarom ons hartgrondige respek vir medegelowiges moet hê. Ons soek ook geleenthede om die eerste te wees wat eer bewys aan almal, insluitende die geringes. Deur hierdie stappe te doen, sal ons die band van broederliefde en eenheid in die gemeente versterk. Laat ons almal dus voortgaan om nie net eer te betoon nie, maar veral om die leiding te neem in eerbetoning aan mekaar. Is jy vasbeslote om dit te doen?

[Voetnoot]

a Dawid se woorde in Psalm 8 is ook profeties en wys na die volmaakte mens, Jesus Christus.—Heb. 2:6-9.

Onthou jy?

• Hoe hou eer en respek met mekaar verband?

• Watter redes het ons om medegelowiges te eer?

• Waarom is dit belangrik om aan mekaar eer te betoon?

• Op watter maniere kan ons aan medegelowiges eer betoon?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Hoe kan ons aan medegelowiges eer betoon?