Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verskonings—Hoe beskou Jehovah dit?

Verskonings—Hoe beskou Jehovah dit?

Verskonings—Hoe beskou Jehovah dit?

“DIE vrou wat u gegee het om by my te wees, sy het vir my vrugte van die boom gegee, en daarom het ek geëet”, het die man gesê. “Die slang—hy het my bedrieg, en daarom het ek geëet”, het die vrou geantwoord. Hierdie woorde, wat ons eerste menseouers, Adam en Eva, tot God gespreek het, was die begin van die mensdom se lang geskiedenis van verskonings maak.—Gen. 3:12, 13.

Die oordeel wat Jehovah oor Adam en Eva gevel het omdat hulle opsetlik ongehoorsaam was, het duidelik getoon dat hulle verskonings nie vir hom aanvaarbaar was nie (Gen. 3:16-19). Moet ons dus die gevolgtrekking maak dat alle verskonings vir Jehovah onaanvaarbaar is? Of aanvaar hy party verskonings as geldig? Indien wel, hoe kan ons vasstel wat die verskil is? Vir ’n antwoord hierop moet ons eers bespreek hoe ’n verskoning omskryf word.

’n Verskoning is ’n rede wat gegee word om te verduidelik waarom iets gedoen is, nie gedoen is nie, of nie gedoen sal word nie. ’n Verskoning kan ’n geldige verduideliking vir ’n fout wees en kan beteken dat ’n mens opreg om verskoning vra, wat ’n grondslag voorsien vir toegeeflikheid of vergifnis. Maar soos in die geval van Adam en Eva kan ’n verskoning ook ’n voorwendsel wees, ’n valse rede wat as dekmantel vir die werklike rede gebruik word. Aangesien dit dikwels die geval is, word verskonings gewoonlik met agterdog bejeën.

Wanneer ons verskonings maak—veral in verband met ons diens aan God—moet ons oppas dat ons ons nie “met valse redenering bedrieg nie” (Jak. 1:22). Kom ons bespreek dus ’n paar Bybelvoorbeelde en -beginsels wat ons sal help om aan te hou om “seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is”.—Ef. 5:10.

Wat God verwag dat ons moet doen

In God se Woord vind ons spesifieke bevele wat ons as Jehovah se volk moet gehoorsaam. Christus se opdrag: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”, is byvoorbeeld nog steeds van toepassing op alle ware volgelinge van Christus (Matt. 28:19, 20). Trouens, dit is so belangrik om hierdie opdrag uit te voer dat die apostel Paulus gesê het: “Wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 Kor. 9:16.

Tog huiwer party wat al ’n geruime tyd die Bybel saam met ons studeer, nog steeds om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matt. 24:14). Ander wat voorheen aan die predikingswerk deelgeneem het, het opgehou om dit te doen. Watter redes word soms gegee deur diegene wat nie aan die predikingswerk deelneem nie? Hoe het Jehovah gereageer toe mense in die verlede gehuiwer het om sy spesifieke bevele te gehoorsaam?

Verskonings wat nie vir God aanvaarbaar is nie

“Dit is te moeilik.” Veral vir diegene wat van nature skaam is, kan dit lyk asof dit net te moeilik is om aan die predikingswerk deel te neem. Maar kom ons kyk wat ons uit die voorbeeld van Jona kan leer. Hy het ’n toewysing ontvang wat vir hom uiters moeilik was—Jehovah het gesê dat hy Nineve se naderende vernietiging moet bekend maak. Dit is nie moeilik om te sien waarom dit vir Jona ’n groot uitdaging was om hierdie taak uit te voer nie. Nineve was die hoofstad van Assirië, en die Assiriërs was bekend vir hulle wreedheid. Jona het dalk gewonder: ‘Wat sal met my gebeur tussen hierdie mense? Wat sal hulle aan my doen?’ Kort voor lank het hy gevlug. Maar Jehovah het nie Jona se verskoning aanvaar nie. Jehovah het hom eerder weer gestuur om vir die Nineviete te preek. Dié keer het Jona sy toewysing moedig uitgevoer, en Jehovah het die uitkoms geseën.—Jona 1:1-3; 3:3, 4, 10.

As jy dink dat die toewysing om die goeie nuus te verkondig vir jou te moeilik is, moet jy onthou: “By God is alles moontlik” (Mark. 10:27). Jy kan seker wees dat Jehovah jou sal versterk as jy aanhou om sy hulp te vra en dat hy jou sal seën as jy die moed bymekaarskraap om jou bediening uit te voer.—Luk. 11:9-13.

“Ek wil nie.” Wat kan jy doen as jy nie die innige begeerte het om jou Christelike bediening uit te voer nie? Hou in gedagte dat Jehovah in jou kan werk en jou begeertes kan beïnvloed. Paulus het gesê: “Dit is God wat, ter wille van sy welbehae, in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk” (Fil. 2:13). Jy kan Jehovah dus vra om by jou die begeerte te wek om sy wil te doen. Dit is juis wat koning Dawid gedoen het. Hy het Jehovah dringend versoek: “Laat my in u waarheid wandel” (Ps. 25:4, 5). Jy kan dieselfde doen deur ernstig te bid dat Jehovah jou sal beweeg om te wil doen wat hom behaag.

Toegegee, wanneer ons moeg of ontmoedig is, moet ons ons dalk dwing om ’n vergadering by die Koninkryksaal by te woon of aan die bediening deel te neem. Moet ons in so ’n geval aanneem dat ons Jehovah nie werklik liefhet nie? Glad nie. In die verlede moes getroue knegte van God hulle ook inspan om God se wil te doen. Paulus het byvoorbeeld gesê dat hy sy ‘liggaam kasty’ sodat hy God se bevele kan gehoorsaam (1 Kor. 9:26, 27). Selfs wanneer ons ons dwing om die bediening uit te voer, kan ons dus seker wees dat Jehovah ons sal seën. Waarom? Want ons dwing ons om God se wil te doen om die regte rede—liefde vir Jehovah. Sodoende voorsien ons ’n antwoord op Satan se bewering dat God se knegte Hom sal verloën as hulle op die proef gestel word.—Job 2:4.

“Ek is te besig.” As jy nie aan die bediening deelneem nie omdat jy dink dat jy te besig is, is dit lewensbelangrik dat jy jou prioriteite hersien. “Hou dan aan om eers die koninkryk . . . te soek”, het Jesus gesê (Matt. 6:33). Om hierdie riglyn te volg, sal jy dalk jou lewe moet vereenvoudig of tyd wat jy gewoonlik aan vermaak bestee, vir die bediening moet gebruik. Vermaak en ander persoonlike strewes het natuurlik hulle plek, maar dit is nie ’n geldige verskoning om die bediening te verwaarloos nie. ’n Kneg van God stel Koninkryksbelange eerste in sy lewe.

“Ek is nie goed genoeg nie.” Jy dink dalk dat jy nie bekwaam is om ’n bedienaar van die goeie nuus te wees nie. Party getroue knegte van Jehovah in Bybeltye het gedink dat hulle nie goed genoeg is om toewysings uit te voer wat Jehovah hulle gegee het nie. Dink byvoorbeeld aan Moses. Toe hy ’n spesifieke opdrag van Jehovah ontvang het, het Moses gesê: “Verskoon my, Jehovah, maar ek is nie ’n vlot spreker nie, nie sedert gister of daarvóór of sedert u met u kneg gepraat het nie, want ek is swaar van mond en swaar van tong.” Hoewel Jehovah hom gerusgestel het, het Moses geantwoord: “Verskoon my, Jehovah, maar stuur asseblief deur die hand van die een wat u gaan stuur” (Eks. 4:10-13). Hoe het Jehovah gereageer?

Jehovah het nie gesê dat Moses die toewysing nie hoef uit te voer nie. Maar Jehovah het Aäron aangestel om Moses met die taak te help (Eks. 4:14-17). Wat meer is, Jehovah het Moses in die daaropvolgende jare ondersteun en hom van alles voorsien wat hy nodig gehad het om sy godgegewe toewysings met welslae uit te voer. Jy kan vandag ook die vertroue hê dat Jehovah ervare medegelowiges sal beweeg om jou te help om jou bediening uit te voer. Bowenal verseker God se Woord ons dat Jehovah ons bekwaam sal maak vir die werk wat hy ons beveel het om te doen.—2 Kor. 3:5; sien die venster  “Die gelukkigste jare van my lewe”.

“Iemand het my aanstoot gegee.” Party hou op om aan die bediening deel te neem of gemeentelike vergaderinge by te woon omdat iemand hulle aanstoot gegee het, en hulle redeneer dat Jehovah sekerlik hierdie verskoning vir hulle geestelike onbedrywigheid sal aanvaar. Dit is verstaanbaar dat ons ontsteld is wanneer iemand ons aanstoot gee, maar is dit werklik ’n geldige verskoning om op te hou om aan Christelike bedrywighede deel te neem? Paulus en sy medegelowige Barnabas het dalk gekrenk gevoel nadat ’n meningsverskil tussen hulle tot “’n skerp uitbarsting van toorn” gelei het (Hand. 15:39). Maar het enigeen van hulle as gevolg daarvan opgehou om aan die bediening deel te neem? Beslis nie!

Net so moet jy, as ’n medegelowige jou aanstoot gegee het, in gedagte hou dat dit nie jou onvolmaakte Christenbroer is wat jou vyand is nie, maar Satan, wat jou wil verslind. Maar die Duiwel sal dit nie regkry nie, mits jy hom “weerstaan . . . , vas in die geloof” (1 Pet. 5:8, 9; Gal. 5:15). As jy sulke geloof het, sal jy hoegenaamd nie “teleurgestel word nie”.—Rom. 9:33.

Wanneer ons nie baie kan doen nie

Hierdie paar verskonings toon duidelik dat daar geen geldige skriftuurlike verskonings is vir die verontagsaming van Jehovah se spesifieke bevele nie, insluitende die opdrag om die goeie nuus te verkondig. Maar ons het dalk geldige redes waarom ons nie baie in die bediening kan doen nie. Weens ander skriftuurlike verantwoordelikhede is die hoeveelheid tyd wat ons vir die predikingswerk kan opsysit, dalk beperk. En soms is ons dalk werklik te moeg of te siek om soveel te doen as wat ons graag in Jehovah se diens wil doen. Maar God se Woord verseker ons dat Jehovah weet wat ons innige begeerte is en dat hy ons beperkings in ag neem.—Ps. 103:14; 2 Kor. 8:12.

Ons moet ons of ander dus nie in verband met hierdie sake veroordeel nie. Die apostel Paulus het geskryf: “Wie is jy om ’n ander se huiskneg te oordeel? Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer” (Rom. 14:4). Ons moenie ons situasie met dié van ander vergelyk nie, maar moet eerder onthou dat “elkeen van ons . . . vir homself aan God rekenskap [sal] gee” (Rom. 14:12; Gal. 6:4, 5). Wanneer ons Jehovah in gebed nader en hom ons verskonings aanbied, wil elkeen van ons dit met “’n eerlike gewete” doen.—Heb. 13:18.

Waarom Jehovah se diens ons vreugde verskaf

Ons kan almal—ongeag ons lewensomstandighede—Jehovah met innige vreugde dien omdat sy vereistes altyd redelik is en dit altyd vir ons moontlik is om daaraan te voldoen. Waarom kan ons so sê?

God se Woord sê: “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie” (Spr. 3:27). Wat het jy in hierdie spreuk gesien in verband met God se vereistes? Jehovah beveel jou nie om te probeer om net soveel mag te kry as wat daar dalk in jou broer se hand is nie, maar om Hom te dien met wat “in die mag van jou hand is”. Ja, elkeen van ons—ongeag hoe min of hoe baie mag daar in ons hand is—kan Jehovah heelhartig dien.—Luk. 10:27; Kol. 3:23.

[Venster/Prent op bladsy 14]

 “Die gelukkigste jare van my lewe”

Al het ons ernstige fisiese of emosionele beperkings, moet ons nie gou tot die gevolgtrekking kom dat dit ons sal verhinder om ’n volle aandeel aan die bediening te hê nie. Ter toeligting kan ons kyk na wat met Ernest, ’n Christenbroer in Kanada, gebeur het.

Ernest het ’n spraakgebrek gehad en was baie skaam. Nadat hy sy rug ernstig beseer het, moes hy ophou om as ’n arbeider in die boubedryf te werk. Hoewel hy gestremd was, het sy nuwe omstandighede hom in staat gestel om meer tyd aan die bediening te bestee. Die aansporing wat by gemeentelike vergaderinge gegee is om hulppionierdiens te doen, het in hom die begeerte gewek om dit te probeer. Maar hy het gedink dat hy nie bekwaam is vir hierdie soort bediening nie.

Om aan homself te bewys dat hy nie in staat is om hulppionierdiens te doen nie, het hy aansoek gedoen om ’n maand lank as ’n hulppionier te dien. Hy was baie verbaas toe hy die toewysing met welslae kon uitvoer. Hy het toe gedink: ‘Ek weet dat ek dit nooit weer kan doen nie.’ Om dit te bewys, het hy vir ’n tweede maand aansoek gedoen—en hy het dit weer reggekry.

Ernest het ’n jaar lank as ’n hulppionier gedien, maar hy het gesê: “Ek weet vir seker dat ek nooit ’n gewone pionier kan wees nie.” En om dit te bewys, het hy aansoek gedoen vir gewone pionierdiens. Hy was verbaas toe hy sy eerste jaar van gewone pionierdiens kon voltooi. Hy het besluit om aan te hou en is geseën met die vreugde om twee jaar lank as ’n gewone pionier te dien, totdat komplikasies as gevolg van sy besering sy dood veroorsaak het. Maar voor sy dood het hy dikwels met trane in sy oë vir besoekers gesê: “Daardie jare wat ek Jehovah as ’n pionier gedien het, was die gelukkigste jare van my lewe.”

[Prent op bladsy 13]

Ons kan enige hindernis wat keer dat ons die bediening uitvoer, te bowe kom

[Prent op bladsy 15]

Dit behaag Jehovah wanneer ons hom heelhartig dien deur alles te doen wat ons omstandighede toelaat