“Wie het die denke van Jehovah leer ken?”
“Wie het die denke van Jehovah leer ken?”
“‘Wie het die denke van Jehovah leer ken, dat hy hom kan onderrig?’ Maar ons het wel die denke van Christus.”—1 KOR. 2:16.
1, 2. (a) Wat vind baie mense moeilik? (b) Wat moet ons onthou omtrent ons denkwyse en dié van Jehovah?
HET jy dit al ooit moeilik gevind om iemand anders se denkwyse te verstaan? Jy het dalk onlangs getrou en voel dat dit onmoontlik is om ten volle te verstaan hoe jou huweliksmaat dink. Ja, mans en vroue verskil wanneer dit kom by hoe hulle dink en selfs hoe hulle praat. In party kulture praat mans en vroue in werklikheid verskillende dialekte van dieselfde taal! En verskille wat kultuur en taal betref, kan tot verskillende denkwyses en gedrag lei. Maar hoe beter jy ander leer ken, hoe meer geleenthede het jy om hulle denkwyse te begin verstaan.
2 Dit moet ons dus nie verbaas dat ons denkwyse grootliks van Jehovah s’n verskil nie. Jehovah het deur sy profeet Jesaja vir die Israeliete gesê: “Julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en ook is my weë nie julle weë nie.” Jehovah het toe hierdie feit toegelig deur te sê: “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”—Jes. 55:8, 9.
3. Wat is twee maniere waarop ons daarna kan streef om “intimiteit met Jehovah” te verkry?
3 Beteken dit egter dat ons nie eers moet probeer om Jehovah se denkwyse te verstaan nie? Nee. Hoewel ons nooit al Jehovah se gedagtes ten volle kan verstaan nie, spoor die Bybel ons nogtans aan om “intimiteit met Jehovah” te verkry. (Lees Psalm 25:14; Spreuke 3:32.) Een manier waarop ons nader aan Jehovah kan kom, is deur ag te slaan op sy bedrywighede, wat in sy Woord, die Bybel, opgeteken is (Ps. 28:5). Nog ’n manier is deur vertroud te raak met “die denke van Christus”, wat “die beeld van die onsigbare God” is (1 Kor. 2:16; Kol. 1:15). As ons tyd inruim om Bybelverslae te bestudeer en daaroor te peins, kan ons Jehovah se eienskappe en sy denkwyse begin verstaan.
Waak teen ’n verkeerde neiging
4, 5. (a) Watter verkeerde neiging moet ons vermy? Verduidelik. (b) Watter verkeerde denkwyse het die Israeliete aangeneem?
4 Terwyl ons oor Jehovah se bedrywighede peins, moet ons die neiging vermy om God volgens menslike standaarde te oordeel. Daar word op hierdie neiging gesinspeel in Jehovah se woorde in Psalm 50:21: “Jy het gedink dat ek gewis soos jy sou word.” Dit is soos ’n Bybelgeleerde meer as 175 jaar gelede gesê het: “Mense is geneig om God volgens hulle eie standaarde te oordeel en aan te neem dat hy beperk word deur dieselfde wette as wat hulle moet nakom.”
5 Ons moet versigtig wees dat ons nie ons begrip van Jehovah vorm in ooreenstemming met ons eie standaarde en begeertes nie. Waarom is dit belangrik? Wel, terwyl ons die Skrif bestudeer, sal party van Jehovah se dade dalk nie heeltemal reg lyk vanuit ons beperkte, onvolmaakte standpunt nie. Die eertydse Israeliete het hierdie denkwyse aangeneem en tot die verkeerde gevolgtrekking gekom in verband met Jehovah se handelinge met hulle. Let op wat Jehovah vir hulle gesê het: “Julle sal beslis sê: ‘Die weg van Jehovah is nie regverdig nie.’ Hoor asseblief, o huis van Israel. Is my weg nie regverdig nie? Is dit nie julle weë wat nie regverdig is nie?”—Eseg. 18:25.
6. Watter les het Job geleer, en hoe kan ons by sy ondervinding baat vind?
6 Iets wat ons sal help om nie in die strik te trap om Jehovah volgens ons eie standaarde te oordeel nie, is die besef dat ons beskouing beperk en soms baie verkeerd is. Job moes hierdie les leer. Terwyl Job gely het, moes hy teen wanhoop stry en het hy ietwat selfsugtig geword. Hy het die groter kwessies uit die oog verloor. Maar Jehovah het hom liefdevol gehelp om sy beskouing te verbreed. Deur Job meer as 70 verskillende vrae te vra, waarvan Job nie een kon beantwoord nie, het Jehovah die aandag gevestig op hoe beperk Job se begrip is. Job het nederig gereageer en sy beskouing verander.—Lees Job 42:1-6.
Verkry “die denke van Christus”
7. Waarom help dit ons om Jehovah se denkwyse te verstaan as ons Jesus se bedrywighede ondersoek?
7 Jesus het sy Vader volmaak nagevolg in alles wat hy gesê en gedoen het (Joh. 14:9). As ons Jesus se bedrywighede ondersoek, help dit ons dus om Jehovah se denkwyse te verstaan (Rom. 15:5; Fil. 2:5). Kom ons ondersoek dan nou twee Evangelieverslae.
8, 9. Watter situasie in Johannes 6:1-5 het daartoe aanleiding gegee dat Jesus Filippus ’n vraag gevra het, en waarom het Jesus dit gedoen?
8 Stel jou die toneel voor. Dit was net voor die Pasga van 32 HJ. Jesus se apostels het kort tevore teruggekeer van ’n merkwaardige predikingsreis deur die hele Galilea. Aangesien hulle moeg was van al hierdie bedrywigheid, het Jesus hulle na ’n afgesonderde plek aan die noordoostelike oewer van die See van Galilea geneem. Maar duisende het hulle daarheen gevolg. Nadat Jesus hierdie skare genees en hulle baie dinge geleer het, het ’n probleem ontstaan. Hoe kon al hierdie mense op so ’n afgesonderde plek iets kry om te eet? Jesus het besef wat nodig is en het vir Filippus, wat van daardie gebied gekom het, gevra: “Waar sal ons brode koop sodat hulle kan eet?”—Joh. 6:1-5.
9 Waarom het Jesus Filippus hierdie vraag gevra? Het Jesus gewonder wat om te doen? Nee. Wat het hy in werklikheid gedink? Die apostel Johannes, wat ook daar was, verduidelik: “[Jesus] het dit . . . gesê om hom op die proef te stel, want hy het self geweet wat hy weldra sou doen” (Joh. 6:6). Jesus wou by hierdie geleentheid sien of sy dissipels geestelike vooruitgang gemaak het. Deur hierdie vraag te vra, het hy hulle aandag getrek en hulle die geleentheid gebied om hulle geloof uit te spreek in wat hy kan doen. Maar hulle het nie hierdie geleentheid benut nie en het getoon hoe beperk hulle beskouing werklik is. (Lees Johannes 6:7-9.) Jesus het toe vir hulle gewys dat hy iets kan doen wat hulle hulle nooit eers voorgestel het nie. Hy het daardie duisende honger mense wonderdadig gevoed.—Joh. 6:10-13.
10-12. (a) Waarom het Jesus moontlik die versoek van die Griekse vrou nie dadelik toegestaan nie? Verduidelik. (b) Wat sal ons nou bespreek?
10 Hierdie verslag kan ons help om te verstaan hoe Jesus by ’n ander geleentheid gedink het. Kort nadat Jesus hierdie groot groep mense gevoed het, het hy en sy apostels noord gereis, buite die grens van Israel, na die omgewing van Tirus en Sidon. Terwyl hulle daar was, het hulle ’n Griekse vrou teëgekom wat Jesus gesmeek het om haar dogter te genees. Aanvanklik het Jesus die vrou geïgnoreer. Maar toe sy daarop bly aandring, het Jesus vir haar gesê: “Laat die kinders eers versadig word, want dit is nie reg om die kinders se brood te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.”—Mark. 7:24-27.
11 Waarom het Jesus aanvanklik geweier om hierdie vrou te help? Het Jesus haar op die proef gestel, soos in die geval van Filippus, om te sien hoe sy sou reageer en om haar die geleentheid te bied om haar geloof te toon? Sy stemtoon, al word dit nie in die geskrewe teks geopenbaar nie, het haar nie ontmoedig nie. Sy gebruik van die woord “hondjies” het die vergelyking versag. Jesus het dus miskien soos ’n ouer opgetree wat van plan is om ’n kind se versoek toe te staan, maar dit nie vir die kind wys nie om te sien hoe ernstig die kind daaroor voel. Hoe dit ook al sy, nadat die vrou haar geloof uitgespreek het, het Jesus haar versoek gewillig toegestaan.—Lees Mark. 7:28-30.
12 Hierdie twee Evangelieverslae gee ons waardevolle insig in “die denke van Christus”. Kom ons kyk nou hoe hierdie verslae ons kan help om Jehovah se denke beter te verstaan.
Jehovah se handelinge met Moses
13. Hoe help dit ons as ons insig in Jesus se denkwyse verkry?
13 As ons insig in Jesus se denkwyse verkry, help dit ons om moeilike Skrifgedeeltes te verstaan. Dink byvoorbeeld aan wat Jehovah vir Moses gesê het nadat die Israeliete ’n goue kalf gemaak het om te aanbid. God het gesê: “Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ’n hardnekkige volk. Laat my dan nou begaan, sodat my toorn teen hulle kan ontvlam en ek hulle kan uitroei, en laat ek jou ’n groot nasie maak.”—Eks. 32:9, 10.
14. Hoe het Moses op Jehovah se woorde gereageer?
14 Die verslag sê verder: “Moses het die aangesig van Jehovah sy God versag en gesê: ‘Waarom, o Jehovah, sou u toorn ontvlam teen u volk wat u met groot krag en met ’n sterk hand uit Egipteland uitgelei het? Waarom sou die Egiptenaars sê: “Met kwade bedoelings het hy hulle uitgelei om hulle tussen die berge dood te maak en om hulle van die oppervlak van die aarde uit te roei”? Wend u af van u brandende toorn en voel spyt oor die kwaad teen u volk. Dink aan u knegte Abraham, Isak en Israel, vir wie u by uself gesweer het, deurdat u vir hulle gesê het: “Ek sal julle saad vermeerder soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land wat ek aangewys het, sal ek aan julle saad gee, sodat hulle dit inderdaad in besit kan neem tot onbepaalde tyd.”’ En Jehovah het begin spyt voel oor die kwaad wat hy gesê het hy sy volk sou aandoen.”—Eks. 32:11-14. a
15, 16. (a) Watter geleentheid het Jehovah se woorde Moses gebied? (b) In watter sin het Jehovah ‘spyt gevoel’?
15 Was dit werklik nodig dat Moses Jehovah se denkwyse regstel? Glad nie! Hoewel Jehovah gesê het wat hy wou doen, was dit nie sy finale beslissing nie. Jehovah het Moses in werklikheid hier op die proef gestel, net soos Jesus Filippus en die Griekse vrou later op die proef gestel het. Moses is die geleentheid gebied om sy mening te lug. b Jehovah het Moses as middelaar tussen Hom en Israel aangestel, en Jehovah het Sy aanstelling van Moses in hierdie rol gerespekteer. Sou Moses toelaat dat frustrasie die oorhand oor hom kry? Sou hy van hierdie geleentheid gebruik maak om Jehovah aan te spoor om van Israel te vergeet en om Moses se nakomelinge ’n groot nasie te maak?
16 Moses se antwoord het sy geloof en vertroue in Jehovah se geregtigheid geopenbaar. Sy reaksie het getoon dat hy nie selfsugtig is nie, maar dat hy besorg is oor Jehovah se naam. Hy wou nie hê dat dit gesmaad moet word nie. Moses het sodoende getoon dat hy “die denke van Jehovah” in verband met hierdie saak verstaan (1 Kor. 2:16). Wat was die uiteinde? Omdat Jehovah hom nie tot ’n sekere handelswyse verbind het nie, het hy volgens die geïnspireerde verslag “begin spyt voel”. In Hebreeus kan hierdie uitdrukking bloot beteken dat Jehovah nie die rampspoed gebring het wat hy gesê het hy oor die hele nasie wou bring nie.
Jehovah se handelinge met Abraham
17. Hoe het Jehovah groot geduld aan die dag gelê in die manier waarop hy gereageer het op wat Abraham gekwel het?
17 Nog ’n voorbeeld van hoe Jehovah sy knegte die geleentheid bied om hulle geloof en vertroue te toon, het te doen met Abraham se versoek met betrekking tot Sodom. In daardie verslag het Jehovah groot geduld aan die dag gelê deur Abraham toe te laat om agt vrae te vra. Op een tydstip het Abraham hierdie dringende beroep op Jehovah gedoen: “Dit is ondenkbaar van u dat u op hierdie manier handel om die regverdige saam met die goddelose dood te maak, sodat dit met die regverdige moet gaan soos met die goddelose! Dit is ondenkbaar van u. Sal die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?”—Gen. 18:22-33.
18. Wat leer ons uit die manier waarop Jehovah met Abraham gehandel het?
18 Wat leer hierdie verslag ons omtrent Jehovah se denkwyse? Was dit nodig dat Abraham met Jehovah redeneer sodat Hy die regte besluit kon neem? Nee. Jehovah kon natuurlik eenvoudig aan die begin gesê het wat die redes vir sy besluit is. Maar deur middel van hierdie vrae het Jehovah Abraham tyd gegee om die beslissing te aanvaar en om Sy denkwyse te verstaan. Dit het Abraham ook in staat gestel om die diepte van Jehovah se medelye en geregtigheid te verstaan. Ja, Jehovah het Abraham as ’n vriend behandel.—Jes. 41:8; Jak. 2:23.
Lesse vir ons
19. Hoe kan ons Job navolg?
19 Wat het ons oor “die denke van Jehovah” geleer? Ons moet toelaat dat God se Woord ons begrip van Jehovah se denke vorm. Ons moet nooit dink dat Jehovah dieselfde beperkings as ons het nie, en ons moet hom nooit volgens ons standaarde en denkwyse oordeel nie. Job het gesê: “[God] is nie ’n man soos ek dat ek hom sou antwoord nie, dat ons saam na die gereg sou gaan nie” (Job 9:32). Wanneer ons die denke van Jehovah begin verstaan, kan ons nie anders nie as om soos Job uit te roep: “Kyk! Dít is die rande van sy weë, en wat ’n fluistering van ’n saak is omtrent hom gehoor! Maar wie kan sy magtige donder verstaan?”—Job 26:14.
20. Wat moet ons doen as ons ’n gedeelte in die Skrif lees wat vir ons moeilik is om te verstaan?
20 Wat moet ons doen as ons ’n gedeelte in die Skrif lees wat moeilik is om te verstaan, veral as dit met Jehovah se denke verband hou? As ons navorsing gedoen het en nog steeds nie ’n duidelike antwoord gekry het nie, kan ons dit as ’n toets van ons vertroue op Jehovah beskou. Onthou dat sekere dinge wat ons in die Bybel lees, ons soms die geleentheid bied om ons geloof in Jehovah se eienskappe te toon. Ons moet nederig erken dat ons nie alles verstaan wat hy doen nie (Pred. 11:5). Ons sal dus beweeg word om saam te stem met hierdie woorde van die apostel Paulus: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë! Want ‘wie het Jehovah se denke leer ken, of wie het sy raadgewer geword?’ Of: ‘Wie het eers iets vir hom gegee, sodat hy daarvoor vergoed moet word?’ Want uit hom en deur hom en vir hom is alles. Aan hom die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”—Rom. 11:33-36.
[Voetnote]
a Daar is ’n soortgelyke verslag in Numeri 14:11-20.
b Die Hebreeuse uitdrukking wat in Eksodus 32:10 met ‘laat my begaan’ weergegee word, kan volgens party geleerdes beskou word as ’n uitnodiging, ’n aanduiding dat Moses toegelaat sou word om as bemiddelaar op te tree, of ‘in die gaping te staan’, tussen Jehovah en die nasie (Ps. 106:23; Eseg. 22:30). Hoe dit ook al sy, Moses het klaarblyklik nie gehuiwer om sy mening vryelik teenoor Jehovah uit te spreek nie.
Onthou jy?
• Wat sal ons help om die neiging te vermy om Jehovah volgens ons eie standaarde te oordeel?
• Hoe kan dit ons help om “intimiteit met Jehovah” te verkry as ons Jesus se dade verstaan?
• Watter lesse het jy geleer uit Jehovah se gesprekke met Moses en met Abraham?
[Studievrae]
[Prente op bladsy 5]
Wat leer ons omtrent Jehovah se denkwyse uit die manier waarop hy met Moses en met Abraham gehandel het?