Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek het die krag van Bybelwaarheid gesien

Ek het die krag van Bybelwaarheid gesien

Ek het die krag van Bybelwaarheid gesien

Soos vertel deur Vito Fraese

DIE naam Trentinara beteken waarskynlik nie vir jou veel nie. Dit is ’n klein dorpie suid van Napels, Italië. My ouers en my ouer broer, Angelo, is daar gebore. Ná Angelo se geboorte het my ouers na die Verenigde State geïmmigreer en in Rochester, New York, gaan woon, waar ek in 1926 gebore is. My pa het in 1922 vir die eerste keer in aanraking gekom met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Hy en my ma het kort daarna Bybelstudente geword.

My pa was ’n kalm, nadenkende man, maar ongeregtigheid het hom kwaad gemaak. Hy kon dit nie duld dat die geestelikes mense in onkunde hou nie, en daarom het hy nooit ’n geleentheid laat verbygaan om oor Bybelwaarhede te praat nie. Nadat hy afgetree het, het hy die voltydse bediening betree en daarmee volgehou totdat hy weens swak gesondheid en die strawwe winters moes ophou toe hy 74 jaar oud was. Toe het hy nog steeds tussen 40 en 60 uur per maand gepreek totdat hy in sy 90’s was. My pa se voorbeeld het ’n diepgaande uitwerking op my gehad. Hoewel hy ’n sin vir humor gehad het, was hy ’n ernstige man. Hy het altyd gesê: “Die waarheid moet ernstig opgeneem word.”

My pa en ma het probeer om al vyf hulle kinders God se Woord te leer. Ek is op 23 Augustus 1943 gedoop, en in Junie 1944 het ek ’n pionier geword. My suster Carmela was ’n pionier in Genève, New York, saam met Fern, haar opgeruimde maat. Ek het gou besef dat Fern die meisie is saam met wie ek die res van my lewe wil deurbring. Ons is dus in Augustus 1946 getroud.

Sendingwerk

Ons eerste twee toewysings saam was as spesiale pioniers in Genève en Norwich, New York. In Augustus 1948 het ons die voorreg gehad om die 12de klas van Gilead by te woon. Toe is ons saam met ’n ander sendelingegpaar, Carl en Joanne Ridgeway, na Napels, Italië, gestuur. Napels het destyds gesukkel om van die verwoesting van die oorlog te herstel. Dit was moeilik om ’n huis te vind, en daarom het ons ’n paar maande lank in ’n klein tweekamerwoonstel gebly.

Terwyl ek grootgeword het, het ek my ouers die Napolitaanse dialek hoor praat, en daarom was my Italiaans—ondanks die Amerikaanse aksent—darem verstaanbaar. Fern het met die taal gesukkel. Maar ek moet sê dat sy dit onder die knie gekry het en dit later selfs beter as ek gepraat het.

In die begin was die enigste belangstellendes wat ons in Napels gevind het, ’n gesin van vier. Hulle het sigarette op die swartmark verkoop. Een lid van hierdie gesin, Teresa, het elke dag ’n verstommende verandering ondergaan. In die oggend het sy vet gelyk met sigarette wat in al die sakke van haar romp gestop is. Teen die aand het sy so maer soos ’n kraai gelyk. Die waarheid het hierdie gesin heeltemal verander. Uiteindelik het 16 lede van die familie Getuies geword. Daar is nou byna 3 700 Getuies in die stad Napels.

Teenkanting teen ons werk

Toe ons nog net nege maande in Napels was, het die owerheid ons vier gedwing om die stad te verlaat. Ons het vir omtrent ’n maand na Switserland gegaan en toe met ’n toeristevisum teruggekeer na Italië. Ek en Fern is na Turyn gestuur. Aanvanklik het ’n vrou ’n kamer aan ons verhuur, en ons kon haar badkamer en kombuis gebruik. Toe die Ridgeways in Turyn aangekom het, het ons saam ’n woonstel gehuur. Met verloop van tyd het daar vyf sendelingegpare in dieselfde huis gebly.

Toe die owerheid ons teen 1955 gedwing het om Turyn te verlaat, was daar reeds ’n grondslag vir vier nuwe gemeentes gelê. Bekwame plaaslike broers kon sake toe behartig. Die owerheid het vir ons gesê: “Ons is seker dat alles wat julle Amerikaners opgebou het, tot niet sal gaan sodra julle weg is.” Maar die vermeerdering wat ons daarna gesien het, het getoon dat die sukses van die werk van God afhang. Vandag is daar meer as 4 600 Getuies en 56 gemeentes in Turyn.

Florence—’n Wonderlike stad

Ons volgende toewysing was Florence. Ons het dikwels van hierdie stad gehoor aangesien dit die sendingtoewysing van my suster Carmela en haar man, Merlin Hartzler, was. Maar stel jou die lewe daar voor. Plekke soos Piazza della Signoria, Ponte Vecchio, Piazzale Michelangelo en Palazzo Pitti het dit ’n wonderlike stad gemaak! Dit was ’n vreugde om te sien hoe party Florentynse mense op die goeie nuus reageer.

Ons het met ’n gesin studeer, en die ouers is gedoop. Maar die pa het gerook. Die Wagtoring het in 1973 daarop gewys dat rook ’n onrein gewoonte is en het lesers aangespoor om dit op te gee. Die ouer kinders het hom gesmeek om op te hou rook. Hy het belowe dat hy sal ophou, maar hy het nie. Een aand het sy vrou die negejarige tweeling alleen bed toe gestuur sonder dat sy voor slaaptyd saam met hulle gebid het. Sy het later hieroor sleg gevoel en na hulle kamer toe gegaan. Hulle het toe reeds self gebid. “Waarvoor het julle gebid?” het sy gevra. “Jehovah, help pappa asseblief om op te hou rook.” Die vrou het haar man geroep: “Kom luister na jou kinders se gebed.” Nadat hy geluister het, het hy in trane uitgebars en gesê: “Ek sal nooit weer rook nie!” Hy het sy belofte nagekom, en nou is meer as 15 van daardie familie Getuies.

Diens in Afrika

In 1959 is ons saam met twee ander sendelinge, Arturo Leveris en my broer Angelo, na Mogadisjoe, Somalië, oorgeplaas. Toe ons daar aankom, was die politieke situasie gespanne. Die Italiaanse regering was veronderstel om Somalië onder mandaat van die Verenigde Nasies na onafhanklikheid te lei, maar dit het gelyk of die situasie versleg het. Party van die Italianers met wie ons gestudeer het, het die land verlaat, en dit was nie moontlik om ’n gemeente daar te stig nie.

Gedurende daardie tyd het die sone-opsiener voorgestel dat ek as sy helper dien. Ons het dus die omliggende lande begin besoek. Sommige van die mense met wie ons gestudeer het, het vordering gemaak, maar moes as gevolg van teenstand hulle tuislande verlaat. Ander het gebly, al moes hulle baie lyding verduur. a Ons oë skiet nog steeds vol trane wanneer ons dink aan hulle liefde vir Jehovah en aan wat hulle verduur het om getrou te bly.

Die hitte en lugvogtigheid in Somalië en Eritrea was dikwels ondraaglik. Party plaaslike geregte het ons nog warmer laat kry. Die eerste keer toe ons so ’n gereg by die huis van ’n Bybelstudent geëet het, het my vrou skertsend gesê dat haar ore soos rooi verkeersligte gloei!

Toe Angelo en Arturo ’n ander toewysing gekry het, het ons alleen agtergebly. Dit was nie maklik sonder iemand wat ons kon aanmoedig nie. Tog het hierdie situasie ons gehelp om nader aan Jehovah te kom en meer op hom te vertrou. Besoeke aan lande waar die werk verban is, het ons in werklikheid aangemoedig.

In Somalië was daar verskeie probleme. Ons het nie ’n yskas gehad nie, en daarom het ons net genoeg kos vir elke dag gekoop, hetsy dit stukke hamerkophaai of plaaslike vrugte, soos mango’s, papajas, pomelo’s, kokosneute of piesangs, was. Ons het dikwels met vlieënde insekte te kampe gehad. Hulle het soms op ons nek kom sit terwyl ons tuisbybelstudies gehou het. Ons het ten minste ’n bromponie gehad en het dus nie nodig gehad om ure lank in die skroeiende son te stap nie.

Terug na Italië

Danksy die vrygewigheid van vriende kon ons in 1961 op ’n piesangboot terugkeer na Italië om die internasionale byeenkoms in Turyn by te woon. Ons het gehoor dat ons ’n ander toewysing sou kry. In September 1962 het ons teruggekeer na Italië, waar ek as ’n kringopsiener begin dien het. Ons het ’n klein motor gekoop, wat ons vyf jaar lank gebruik het om twee kringe te bedien.

Ná Afrika se hitte het ons toe met die koue te kampe gehad. Die eerste winter het ons in ’n kamer sonder enige verhitting bo ’n hooisolder geslaap terwyl ons ’n gemeente aan die voet van die Alpe besoek het. Dit was so koud dat ons met ons jasse aan gaan slaap het. Daardie nag het vier henne en twee honde daar naby doodgegaan van die koue!

Ek het later ook as ’n streekopsiener gedien. In daardie jare het ons die hele Italië gedek. Ons het party gebiede, soos Kalabrië en Sisilië, baie keer besoek. Ons het jongmense aangespoor om geestelik te groei en daarna te streef om as gemeentelike opsieners, reisende bedienaars of Betheliete te dien.

Ons het al baie geleer by getroue vriende wat Jehovah heelhartig gedien het. Ons waardeer hulle eienskappe soos algehele lojaliteit aan Jehovah, vrygewigheid, liefde vir hulle broers, aanpasbaarheid en ’n selfopofferende gees. Ons het al troues in Koninkryksale bygewoon. Die huwelike is bevestig deur Getuies wat volgens wet as godsdiensbedienaars erken word, iets wat jare gelede ondenkbaar was in die land. Gemeentes hou nie meer vergaderinge in broers se kombuise of sit nie meer op planke, soos hulle destyds in Turyn gedoen nie. Die meeste gemeentes het eerder ’n pragtige Koninkryksaal wat Jehovah verheerlik. Ons hou nie meer byeenkomste in verwaarloosde teaters nie, maar hou dit nou in ruim Byeenkomssale. Hoe bly is ons tog om te sien dat die aantal verkondigers meer is as 243 000. Toe ons in Italië aangekom het, was daar net 490.

Ons het die regte keuses gemaak

Ons het ook probleme ondervind, wat insluit dat ons huis toe verlang het en soms siek was. Fern het gewoonlik huis toe verlang elke keer as sy die see sien. Sy moes ook drie ernstige operasies ondergaan. Terwyl sy eenkeer op pad was om ’n Bybelstudie te gaan hou, het ’n teenstander haar met ’n hooivurk aangeval. Dít het haar ook in die hospitaal laat beland.

Hoewel ons soms teen ontmoediging gestry het, het ons ‘op Jehovah gewag’, in ooreenstemming met Klaagliedere 3:24. Hy is die God van vertroosting. Tydens een laagtepunt het Fern ’n pragtige brief van broer Nathan Knorr ontvang. Hy het geskryf dat hy goed weet dat vroue wat Pennsilvanië-Duitsers is soos Fern, sterk is en uithouvermoë het—aangesien hy naby Bethlehem, Pennsilvanië gebore is, waar Fern begin pionier het. Hy was reg. Deur die jare heen is ons op baie maniere en deur baie mense aangemoedig.

Ondanks die probleme het ons probeer om ywerig in die bediening te bly. Fern vergelyk ’n ywerige gees met Lambrusco, ’n heerlike Italiaanse vonkelwyn, en sê skertsend: “Ons moet die vonkel in ons gees behou.” Nadat ons meer as 40 jaar lank kring- en streekwerk gedoen het, het ons ’n nuwe voorreg ontvang om groepe en gemeentes wat ander tale as Italiaans praat, te besoek en te organiseer. Hierdie groepe preek vir mense van Bangladesj, China, Eritrea, Etiopië, Ghana, Indië, Nigerië, die Filippyne, Sri Lanka en ander lande. ’n Boek sal nie genoeg wees om te vertel van die wonderlike maniere waarop ons gesien het hoe die krag van God se Woord die lewe verander van diegene wat Jehovah se barmhartigheid ontvang nie.—Miga 7:18, 19.

Ons bid elke dag dat Jehovah sal aanhou om ons die nodige emosionele en fisiese krag te gee om ons bediening uit te voer. Die vreugde van die Here is ons sterkte. Dit laat ons oë vonkel en oortuig ons dat ons die regte keuses in die lewe gemaak het terwyl ons Bybelwaarheid verkondig.—Ef. 3:7; Kol. 1:29.

[Voetnoot]

a Sien die 1992 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 95-184.

[Tabel/Prente op bladsy 27-29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

My ouers in Rochester, NY

1948

In South Lansing vir die 12de klas van Gilead

1949

Saam met Fern voordat ons na Italië vertrek het

Capri, Italië

1952

Saam met ander sendelinge in Turyn en Napels

1963

Fern saam met party van haar Bybelstudente

“Ons moet die vonkel in ons gees behou”