Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Nooit te laat om God te dien nie

Nooit te laat om God te dien nie

Nooit te laat om God te dien nie

Op 19 Desember 2009 is ’n ma en haar dogter, albei met die naam Ana, in Málaga, Suid-Spanje, gedoop. Hulle was onder die 2 352 mense wat hierdie stap in 2009 in Spanje gedoen het. Maar daar was iets unieks omtrent hierdie ma en dogter—hulle ouderdomme. Hulle was onderskeidelik 107 en 83 jaar oud!

Wat het daartoe gelei dat hulle as ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah gedoop is? ’n Buurvrou het Ana—die dogter—in die vroeë 1970’s gereeld genooi om die Gemeentelike Boekstudie by te woon wat by die huis van die Getuie gehou is. Ana het nou en dan gegaan. Maar as gevolg van haar sekulêre werk het Ana nie verder vordering gemaak nie.

Ongeveer tien jaar later het party van Ana se kinders die Bybel begin studeer en ná verloop van tyd knegte van Jehovah geword. Een van hulle, Mari Carmen, het uiteindelik weer haar ma se liefde vir Bybelwaarheid aangewakker en haar gehelp om ’n Bybelstudie te aanvaar. Toe het Mari Carmen se ouma, die ouer Ana, ook belangstelling in die Bybel begin toon. Uiteindelik het tien lede van hierdie familie hulle laat doop.

Op die dag van hulle doop het die twee Anas, ma en dogter, gestraal van vreugde. “Jehovah was baie goed vir my deur my toe te laat om hom te leer ken”, het die 107-jarige Ana gesê. “Voordat die Paradys kom”, het haar dogter bygevoeg, “wil ek Jehovah dien deur sy wil te doen en die goeie nuus te verkondig soveel as wat ek kan.”

Dit verskaf hierdie twee weduwees besondere vreugde om die vergaderinge by te woon. “Hulle is by elke vergadering”, sê ’n ouer man in hulle gemeente. “Hulle is altyd gereed om by die Wagtoring-studie kommentaar te lewer.”

Hulle getroue voorbeeld laat ’n mens dink aan die weduwee Anna “wat nooit van die tempel afwesig was nie en nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig het”. Dit het daartoe gelei dat sy die voorreg gehad het om die kindjie Jesus te sien (Luk. 2:36-38). Op 84-jarige ouderdom was Anna nie te oud om Jehovah te dien nie, en haar naamgenote is vandag ook nie.

Het jy familielede wat bereid is om na die Bybelboodskap te luister? Of het jy al ’n bejaarde belangstellende ontmoet wat bereid is om na jou te luister wanneer jy hom by sy huis besoek? Hierdie persone kan soos die Anas in hierdie ondervinding wees, want dit is nooit te laat om die ware God, Jehovah, te begin dien nie.

[Lokteks op bladsy 25]

“Jehovah was baie goed vir my”

[Lokteks op bladsy 25]

“Voordat die Paradys kom, wil ek Jehovah dien”