Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die krag om versoeking te weerstaan en ontmoediging die hoof te bied

Die krag om versoeking te weerstaan en ontmoediging die hoof te bied

Die krag om versoeking te weerstaan en ontmoediging die hoof te bied

“Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom.”—HAND. 1:8.

1, 2. Watter hulp het Jesus sy dissipels belowe, en waarom sou hulle dit nodig hê?

 JESUS het geweet dat sy dissipels nie deur hulle eie krag alles kon onderhou wat hy hulle beveel het nie. Wanneer ’n mens die omvang van hulle predikingsopdrag, die mag van hulle teenstanders en die swakheid van die menslike vlees in ag neem, is dit duidelik dat hulle bomenslike krag nodig gehad het. Kort voordat Jesus opgevaar het hemel toe, het hy dus sy dissipels verseker: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Hand. 1:8.

2 Hierdie belofte is vanaf Pinkster 33 HJ vervul toe die heilige gees Jesus Christus se volgelinge die krag gegee het om oral in Jerusalem te preek. Geen teenstand kon dit keer nie (Hand. 4:20). Jesus se getroue volgelinge, insluitende ons, sou “al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” dieselfde godgegewe krag dringend nodig hê.—Matt. 28:20.

3. (a) Verduidelik die verskil tussen heilige gees en krag. (b) Wat kan krag van Jehovah ons help om te doen?

3 Jesus het sy dissipels belowe dat hulle ‘krag sou ontvang wanneer die heilige gees op hulle kom’. Die woorde “krag” en “gees” verskil in betekenis. God se gees, sy werkende krag, beskryf energie wat uitgestuur en op mense of dinge uitgeoefen word om God se wil te volbring. Krag kan egter omskryf word as die “vermoë om op te tree of iets teweeg te bring”. Dit kan rustend in iemand of iets wees totdat dit benodig word om ’n spesifieke resultaat te lewer. Die heilige gees kan dus vergelyk word met die elektriese stroom wat energie aan ’n herlaaibare battery verskaf, terwyl krag meer soos die latente energie is wat in die battery geberg word. Die krag wat Jehovah deur middel van die heilige gees aan sy knegte verleen, gee ons elkeen die vermoë om ons Christelike toewyding uit te leef en om, wanneer nodig, negatiewe invloede wat op ons uitgeoefen word, te weerstaan.—Lees Miga 3:8; Kolossense 1:29.

4. Wat sal in hierdie artikel bespreek word, en waarom?

4 Hoe word die krag wat deur die heilige gees aan ons gegee word, geopenbaar? Hoe sal ons moontlik onder die invloed daarvan optree of reageer? Terwyl ons God getrou probeer dien, kom ons voor talle struikelblokke te staan wat deur Satan, sy stelsel van dinge of ons eie onvolmaakte vlees vir ons in die weg gelê word. Dit is belangrik dat ons hierdie struikelblokke oorkom sodat ons as Christene kan volhard, gereeld aan die bediening kan deelneem en ’n goeie verhouding met Jehovah kan behou. Kom ons kyk hoe die heilige gees ons help om versoeking te weerstaan en om moegheid en ontmoediging die hoof te bied.

Die krag om versoeking te weerstaan

5. Hoe kan gebed ons krag gee?

5 Jesus het sy volgelinge geleer om te bid: “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matt. 6:13). Jehovah sal nie sy getroue knegte wat hierdie versoek rig, in die steek laat nie. By ’n ander geleentheid het Jesus gesê dat “die Vader in die hemel heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra” (Luk. 11:13). Hoe gerusstellend is dit tog dat Jehovah belowe om ons hierdie krag te gee om te doen wat reg is! Dit beteken natuurlik nie dat Jehovah sal keer dat ons versoek word nie (1 Kor. 10:13). Maar wanneer ons voor versoeking te staan kom, moet ons selfs vuriger bid.—Matt. 26:42.

6. Waarop het Jesus sy antwoorde gegrond toe Satan hom versoek het?

6 In antwoord op die Duiwel se versoekings het Jesus tekste aangehaal. Jesus het God se Woord duidelik in gedagte gehad toe hy gesê het: “Daar staan geskrywe . . . Daar staan ook geskrywe . . . Gaan weg, Satan! Want daar staan geskrywe: ‘Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig.’” Liefde vir Jehovah en vir sy Woord het Jesus aangespoor om die versoekings te verwerp wat die Versoeker hom in die weg gelê het (Matt. 4:1-10). Nadat Jesus versoeking herhaaldelik weerstaan het, het Satan hom verlaat.

7. Hoe help die Bybel ons om versoeking te weerstaan?

7 As Jesus op die Skrif vertrou het om die Duiwel se versoekings te weerstaan, hoeveel te meer moet ons daarop vertrou! Ja, ons kan die Duiwel en sy trawante teëstaan as ons vasbeslote is om met God se standaarde bekend te wees en in alle opsigte daarby te bly. Baie mense is al beweeg om volgens Bybelstandaarde te lewe toe hulle die Skrif bestudeer het en waardering vir God se wysheid en regverdigheid opgebou het. “Die woord van God” oefen inderdaad ’n krag uit wat in staat is om “gedagtes en bedoelings van die hart” te onderskei (Heb. 4:12). Hoe meer ’n mens die Skrif lees en daaroor nadink, hoe meer kan jy ‘insig in Jehovah se waaragtigheid’ verkry (Dan. 9:13). Daarom sal dit goed wees as ons oor tekste peins wat oor ons spesifieke swakhede handel.

8. Hoe kan ons heilige gees verkry?

8 Jesus kon versoeking weerstaan, nie net omdat hy kennis van die Skrif gehad het nie, maar ook omdat hy “vol heilige gees” was (Luk. 4:1). As ons soortgelyke krag en vermoëns wil hê, moet ons nader aan Jehovah kom deur al die voorsienings wat hy gemaak het om ons met sy gees te vervul, ten volle te benut (Jak. 4:7, 8). Party van hierdie voorsienings is Bybelstudie, gebed en omgang met medegelowiges. Baie mense het ook besef watter voordele dit inhou om besig te bly met Christelike bedrywighede, wat help om hulle verstand gerig te hou op opbouende geestelike gedagtes.

9, 10. (a) Watter versoekings is algemeen in jou omgewing? (b) Hoe kan bepeinsing en gebed jou die krag gee om versoeking te weerstaan, selfs wanneer jy moeg is?

9 Watter versoekings om te sondig, moet jy weerstaan? Het jy al ooit in die versoeking gekom om met iemand wat nie jou huweliksmaat is nie, te flankeer? Wou jy, as ’n ongetroude persoon, al ooit ’n uitnodiging aanvaar om met ’n ongelowige uit te gaan? Wanneer Christene TV kyk of die Internet gebruik, word hulle dalk skielik in die versoeking gebring om na iets onreins te kyk. Het so iets al met jou gebeur en, indien wel, hoe het jy daarop gereageer? Dit sal raadsaam wees om te peins oor hoe een misstap tot ’n ander en uiteindelik tot ’n ernstige oortreding kan lei (Jak. 1:14, 15). Dink aan die pyn wat jy Jehovah, die gemeente en jou gesin sal aandoen as jy ernstig sondig. Maar as ’n mens lojaal by goddelike beginsels bly, sal jy ’n skoon gewete hê. (Lees Psalm 119:37; Spreuke 22:3.) Wanneer jy voor sulke toetse te staan kom, moet jy vasbeslote wees om te bid vir krag om dit die hoof te bied.

10 Daar is iets anders om in gedagte te hou omtrent die Duiwel se versoekings. Satan het Jesus genader nadat Hy 40 dae lank in die wildernis gevas het. Die Duiwel het ongetwyfeld gedink dat dit ’n besonder “geskikte tyd” was om Jesus se onkreukbaarheid op die proef te stel (Luk. 4:13). Satan is op soek na geskikte tye om ook ons onkreukbaarheid op die proef te stel. Dit is dus noodsaaklik dat ons geestelik sterk bly. Satan gaan dikwels tot die aanval oor wanneer hy dink dat sy teiken op sy swakste is. Wanneer ons dus moeg of ontmoedig voel, moet ons meer vasbeslote as ooit wees om Jehovah te smeek vir sy beskermende hulp en heilige gees.—2 Kor. 12:8-10.

Die krag om moegheid en ontmoediging die hoof te bied

11, 12. (a) Waarom voel baie mense vandag ontmoedig? (b) Wat kan ons die krag gee om ontmoediging die hoof te bied?

11 As onvolmaakte mense voel ons soms ontmoedig. Dit kan veral vandag die geval wees omdat die tyd waarin ons lewe, besonder spanningsvol is. Ons gaan moontlik deur een van die moeilikste tye wat die mensdom as ’n geheel nog ondervind het (2 Tim. 3:1-5). Namate Armageddon nader kom, is daar al hoe meer ekonomiese, emosionele en ander druk. Dit is dus nie verbasend dat party dit al hoe moeiliker vind om hulle verantwoordelikheid na te kom om vir hulle gesin te sorg en op materiële gebied vir hulle te voorsien nie. Hulle voel moeg, belas, afgemat en selfs uitgebrand. As dit met jou die geval is, hoe kan jy dan die druk die hoof bied?

12 Onthou, Jesus het sy dissipels verseker dat hy hulle ’n helper sou gee—God se heilige gees. (Lees Johannes 14:16, 17.) Dit is die sterkste krag in die heelal. Jehovah kan dit gebruik om “oneindig meer” te voorsien as die krag wat ons nodig het om enige beproewing te verduur (Ef. 3:20). As ons daarop staatmaak, het die apostel Paulus gesê, ontvang ons “krag wat bo die normale is”, al is ons “in elke opsig geknel” (2 Kor. 4:7, 8). Jehovah belowe nie om spanning te verwyder nie, maar hy verseker ons wel dat hy ons deur middel van sy heilige gees die krag sal gee om dit die hoof te bied.—Fil. 4:13.

13. (a) Hoe is een jong persoon die krag gegee om ’n moeilike situasie die hoof te bied? (b) Weet jy van soortgelyke voorbeelde?

13 Beskou die voorbeeld van Stephanie, ’n 19-jarige gewone pionier. Sy het op 12-jarige ouderdom ’n beroerte gehad en is met ’n breingewas gediagnoseer. Sy het sedertdien twee operasies ondergaan, bestraling ontvang en nog twee beroertes gehad, wat die linkerkant van haar liggaam gedeeltelik verlam en haar sig aangetas het. Stephanie moet haar kragte spaar vir die dinge wat vir haar belangriker is, soos Christelike vergaderinge en velddiens. Tog kan sy sien hoe Jehovah se versterkende hand haar op talle maniere help om te volhard. Bybelpublikasies met ondervindinge van mede-Christene beur haar op wanneer sy terneergedruk voel. Broers en susters ondersteun haar deur vir haar briewe te stuur of deur voor en ná vergaderinge aanmoedigend met haar te praat. Belangstellendes toon ook waardering vir wat Stephanie hulle leer deur na haar huis te gaan sodat sy die Bybel met hulle kan studeer. Stephanie is baie dankbaar teenoor Jehovah vir dit alles. Sy glo dat haar gunstelingteks, Psalm 41:3, in haar geval vervul is.

14. Wat moet ons vermy wanneer ons ontmoedig is, en waarom?

14 Wanneer ons moeg of onder druk is, moet ons nooit dink dat ons spanning kan verlig deur minder tyd aan geestelike bedrywighede te bestee nie. Dit is die ergste wat ons kan doen. Waarom? Omdat bedrywighede soos persoonlike en gesinsbybelstudie, velddiens en vergaderingbywoning die maniere is waarop ons deur die heilige gees versterk word. Christelike bedrywighede is altyd verkwikkend. (Lees Matteus 11:28, 29.) Broers en susters kom dikwels moeg by vergaderinge aan, maar wanneer die tyd aanbreek om huis toe te gaan, is dit asof hulle krag hernieu is, hulle geestelike batterye herlaai is!

15. (a) Belowe Jehovah om ’n Christen se lewe moeiteloos te maak? Verduidelik uit die Skrif. (b) Wat belowe God ons, en tot watter vraag lei dit?

15 Dit is natuurlik nie te sê dat die vrag van Christendissipelskap niks weeg nie. Dit verg inspanning om ’n getroue Christen te wees (Matt. 16:24-26; Luk. 13:24). Maar Jehovah kan die vermoeide deur middel van die heilige gees krag gee. “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry”, het die profeet Jesaja geskryf. “Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie” (Jes. 40:29-31). Aangesien dit die geval is, is dit goed om te vra: Wat is werklik die oorsaak van geestelike moegheid?

16. Wat kan ons doen om moontlike oorsake van moegheid of ontmoediging uit die weg te ruim?

16 Jehovah se Woord spoor ons aan om “seker [te] maak van die belangriker dinge” (Fil. 1:10). Die apostel Paulus het onder inspirasie die Christelike lewensweg met ’n langafstandwedloop vergelyk en aanbeveel: “Laat ons ook elke gewig aflê . . . , en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop” (Heb. 12:1). Sy punt was dat ons onnodige strewes, of onnodige laste, wat ons kan moeg maak, moet vermy. Dit kan wees dat party van ons eenvoudig te veel probeer inpas in ’n lewe wat reeds besig is. As jy dus dikwels moeg of onder druk voel, sal dit dalk nuttig wees as jy opnuut kyk na hoeveel tyd en energie jy aan sekulêre werk bestee, hoe dikwels jy vir plesier reis en in watter mate jy sport of ander ontspanning najaag. Redelikheid en beskeidenheid behoort ons almal te beweeg om ons beperkings te erken en onnodige verpligtinge tot ’n minimum te beperk.

17. Waarom voel party dalk ontmoedig, maar watter versekering gee Jehovah in hierdie verband?

17 Dit kan ook wees dat party van ons ’n mate van ontmoediging ervaar omdat die einde van hierdie stelsel van dinge nie so gou gekom het as wat ons verwag het nie (Spr. 13:12). Enigeen wat so voel, kan egter bemoediging put uit die woorde in Habakuk 2:3: “Die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit beweeg hygend voort na die einde, en dit sal geen leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.” Jehovah verseker ons dat die einde van hierdie stelsel van dinge presies op tyd sal kom!

18. (a) Watter beloftes versterk jou? (b) Hoe sal ons by die volgende artikel baat vind?

18 Alle getroue knegte van Jehovah smag beslis na die dag wanneer moegheid en ontmoediging uit die weg geruim sal wees, wanneer almal wat leef “jeugdige krag” sal geniet (Job 33:25). Ons kan nou reeds deur middel van die heilige gees innerlik versterk word terwyl ons aan verkwikkende geestelike bedrywighede deelneem (2 Kor. 4:16; Ef. 3:16). Moenie toelaat dat moegheid jou daarvan weerhou om ewige seëninge te geniet nie. Elke beproewing—hetsy dit deur versoeking, moegheid of ontmoediging veroorsaak word—sal tot ’n einde kom, indien nie nou nie, dan wel in God se nuwe wêreld. Ons sal in die volgende artikel ondersoek hoe die heilige gees Christene die krag gee om vervolging die hoof te bied, skadelike portuurdruk te weerstaan en verskeie ander soorte teëspoed te verduur.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe gee Bybellees ons krag?

• Hoe gee gebed en bepeinsing ons krag?

• Hoe kan jy moontlike oorsake van ontmoediging uit die weg ruim?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Christelike vergaderinge kan ons geestelik versterk