Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak die beste gebruik van die ongetroude lewe

Maak die beste gebruik van die ongetroude lewe

Maak die beste gebruik van die ongetroude lewe

“Wie daarvoor plek kan maak, laat hom daarvoor plek maak.”—MATT. 19:12.

1, 2. (a) Hoe het Jesus, Paulus en ander die ongetroude lewe beskou? (b) Waarom dink party miskien nie dat die ongetroude lewe ’n gawe is nie?

 DIE huwelik is ongetwyfeld een van God se kosbaarste gawes aan die mens (Spr. 19:14). Maar baie ongetroude Christene lei ook ’n ryk en bevredigende lewe. Harold, ’n 95-jarige broer wat nooit getrou het nie, sê: “Hoewel ek dit geniet om saam met ander te wees en gasvryheid te betoon, is ek nooit eensaam wanneer ek alleen is nie. ’n Mens kan seker sê dat ek die gawe het om ongetroud te bly.”

2 Ja, Jesus Christus sowel as die apostel Paulus het gesê dat die ongetroude lewe, soos die huwelik, ’n gawe van God is. (Lees Matteus 19:11, 12; 1 Korintiërs 7:7.) Maar ons moet erken dat nie almal wat ongetroud is, uit vrye keuse nie getrou het nie. Soms maak omstandighede dit moeilik om ’n geskikte huweliksmaat te vind. Of ná jare van getroude lewe is party dalk onverwags alleen weens ’n egskeiding of die dood van hulle huweliksmaat. In watter sin kan die ongetroude lewe dan ’n gawe wees? En hoe kan Christene wat nie getroud is nie, die beste gebruik maak van die ongetroude lewe?

’n Unieke gawe

3. Watter voordele geniet ongetroude Christene dikwels?

3 ’n Ongetroude persoon het dikwels meer tyd en ’n groter mate van persoonlike vryheid as iemand wat getroud is (1 Kor. 7:32-35). Dit is unieke voordele wat dit vir hom moontlik kan maak om meer in die bediening te doen, verruim te word in sy liefde vir ander en nader aan Jehovah te kom. ’n Aantal Christene het dus al besef watter voordele die ongetroude lewe inhou en het besluit om, ten minste ’n ruk lank, “daarvoor plek [te] maak”. Ander het dalk aanvanklik nie beplan om ongetroud te wees nie, maar toe hulle omstandighede verander, het hulle biddend oor hulle situasie nagedink en besef dat hulle ook, met Jehovah se hulp, in hulle hart kan vasstaan. Hulle het dus hulle veranderde omstandighede aanvaar en vir die ongetroude lewe plek gemaak.—1 Kor. 7:37, 38.

4. Waarom kan ongetroude Christene voel dat elkeen van hulle volkome is in God se diens?

4 Ongetroude Christene weet dat hulle nie hoef te trou om deur Jehovah of sy organisasie erken of waardeer te word nie. God het ons as individue lief (Matt. 10:29-31). Niemand en niks kan ons van God se liefde skei nie (Rom. 8:38, 39). Hetsy ons getroud of ongetroud is, ons het alle rede om te voel dat elkeen van ons volkome is in God se diens.

5. Wat is nodig om die beste gebruik te maak van die ongetroude lewe?

5 Maar soos in die geval van gawes soos musikale of atletiese talent, verg dit inspanning om die beste gebruik te maak van die gawe om ongetroud te wees. Hoe kan ongetroude Christene van vandag—hetsy hulle broers of susters, jonk of oud, uit vrye keuse of weens omstandighede ongetroud is—dus die beste gebruik maak van hulle lewensituasie? Kom ons bespreek ’n paar aanmoedigende voorbeelde uit die vroeë Christengemeente en kyk wat ons kan leer.

Ongetroud as ’n jong persoon

6, 7. (a) Watter voorreg het Filippus se dogters, wat maagde was, in God se diens ontvang? (b) Hoe het Timoteus goeie gebruik gemaak van sy ongetroude jare, en hoe is hy geseën vir sy gewilligheid om te dien terwyl hy jonk was?

6 Die evangeliedienaar Filippus het vier dogters gehad wat maagde was en soos hulle vader ywerige evangeliedienaars was (Hand. 21:8, 9). Profesie was een van die wonderdadige gawes van die heilige gees, en hierdie jong vroue het dié gawe ter vervulling van Joël 2:28, 29 gebruik.

7 Timoteus was ’n jong man wat goeie gebruik gemaak het van die ongetroude lewe. Sy moeder, Eunice, en sy grootmoeder Loïs het hom van kleintyd af “die heilige geskrifte” geleer (2 Tim. 1:5; 3:14, 15). Maar hulle het waarskynlik eers Christene geword toe Paulus hulle tuisdorp Listra ongeveer 47 HJ die eerste keer besoek het. Twee jaar later, toe Paulus hulle die tweede keer besoek het, was Timoteus moontlik in sy laat tienerjare of vroeë twintigerjare. Hoewel hy betreklik jonk asook nuut in die waarheid was, is hy “gunstig vermeld” deur die Christen- ouer manne in Listra en die nabygeleë Ikonium (Hand. 16:1, 2). Paulus het Timoteus dus genooi om sy reisgenoot te wees (1 Tim. 1:18; 4:14). Ons kan nie met sekerheid sê dat Timoteus nooit getrou het nie. Maar ons weet wel dat hy as ’n jong man Paulus se uitnodiging met graagte aanvaar het, en daarna het hy baie jare lank die voorreg gehad om as ’n ongetroude sendeling en opsiener te dien.—Fil. 2:20-22.

8. Wat het Johannes Markus in staat gestel om geestelike doelwitte na te streef, en watter seëninge het hy ontvang omdat hy dit gedoen het?

8 As ’n jong man het Johannes Markus ook goeie gebruik gemaak van sy ongetroude jare. Hy en sy moeder, Maria, sowel as sy neef Barnabas, was onder die eerste lede van die gemeente in Jerusalem. Markus se gesin het moontlik ook ’n gemaklike lewe gelei, aangesien hulle hulle eie huis in die stad en ’n kneg gehad het (Hand. 12:12, 13). Maar ondanks hierdie voordele was Markus selfs as ’n jong man nie genotsugtig of selfsugtig nie; hy was ook nie tevrede om net te trou en ’n gemaklike gesinslewe te hê nie. Sy vroeë omgang met die apostels het waarskynlik die begeerte by hom gewek om as ’n sendeling te dien. Gevolglik het hy Paulus en Barnabas met graagte op hulle eerste sendingreis vergesel en as hulle helper gedien (Hand. 13:5). Later het hy saam met Barnabas gereis, en nog later het hy saam met Petrus in Babilon gedien (Hand. 15:39; 1 Pet. 5:13). Ons weet nie hoe lank Markus ongetroud gebly het nie. Maar hy het ’n uitstekende reputasie verwerf as iemand wat bereid is om ander te dien en meer in God se diens te doen.

9, 10. Watter geleenthede het jong ongetroude Christene van vandag om meer in die bediening te doen? Gee ’n voorbeeld.

9 Baie jongmense in die gemeente gebruik vandag ook met graagte hulle ongetroude jare om meer in God se diens te doen. Soos Markus en Timoteus besef hulle dat die ongetroude lewe “volgehoue diens aan die Here . . . sonder om afgelei te word” moontlik maak (1 Kor. 7:35). Dit is ’n groot voordeel. Dit bied baie geleenthede, soos om ’n pionier te wees, om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, om ’n ander taal aan te leer, om met die bou van Koninkryksale of takkantore te help, om die Bedieningsopleidingskool by te woon en om by Bethel te dien. Maak jy die beste gebruik van jou geleenthede as jy nog jonk en ongetroud is?

10 ’n Broer met die naam Mark het in sy laat tienerjare begin pionier, die Bedieningsopleidingskool bygewoon en in verskeie toewysings oral in die wêreld gedien. Ná 25 jaar se voltydse diens sê hy: “Ek het probeer om tyd saam met almal in die gemeente deur te bring deur saam met hulle in die bediening te werk, herdersbesoeke by hulle te doen, hulle vir ’n ete na my huis te nooi en selfs geestelik opbouende gesellighede te reël. Dit alles het my baie vreugde verskaf.” Soos Mark se opmerkings toon, smaak ’n mens die grootste vreugde in die lewe wanneer jy gee, en ’n vol lewe in heilige diens bied jou baie geleenthede om aan ander te gee (Hand. 20:35). Ongeag wat jou persoonlike belangstellings, vaardighede of lewenservaring is, daar is baie wat jongmense van vandag in die werk van die Here kan doen.—1 Kor. 15:58.

11. Watter voordele hou dit in om nie oorhaastig te trou nie?

11 Hoewel die meeste jongmense uiteindelik wil trou, is daar goeie redes om nie oorhaastig te trou nie. Paulus spoor jongmense aan om ten minste te wag tot ná “die bloei van die jeug”, wanneer seksuele begeertes die sterkste is (1 Kor. 7:36). Dit vereis tyd om jouself te verstaan en die nodige lewenservaring op te doen om ’n geskikte maat te kies. Om ’n huweliksgelofte af te lê, is ’n ernstige besluit waarby jy lewenslank moet bly.—Pred. 5:2-5.

Ongetroud as ’n ouer persoon

12. (a) Hoe het die weduwee Anna haar veranderde omstandighede die hoof gebied? (b) Watter voorreg het sy ontvang?

12 Anna, wat in Lukas se Evangelie genoem word, was waarskynlik baie hartseer toe haar man onverwags gesterf het nadat hulle net sewe jaar getroud was. Ons weet nie of hulle enige kinders gehad het en of sy ooit daaraan gedink het om weer te trou nie. Maar volgens die Bybel was Anna op 84-jarige ouderdom nog steeds ’n weduwee. Wat die Bybel sê, laat ons tot die gevolgtrekking kom dat Anna haar veranderde omstandighede gebruik het om nader aan Jehovah te kom. Sy was “nooit van die tempel afwesig . . . nie en [het] nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig” (Luk. 2:36, 37). Sy het dus geestelike dinge eerste in haar lewe gestel. Dit het ware vasbeslotenheid en inspanning geverg, maar sy het ’n groot beloning ontvang. Sy het die voorreg gehad om die jong kind Jesus te sien, en sy het vir ander getuig oor die bevryding wat hierdie komende Messias in die toekoms sou teweegbring.—Luk. 2:38.

13. (a) Wat toon dat Dorkas daadwerklik betrokke was by die gemeente? (b) Hoe is Dorkas beloon vir haar goedheid en goedhartigheid?

13 ’n Vrou met die naam Dorkas, of Tabita, het in Joppe, ’n eertydse seehawe noordwes van Jerusalem, gewoon. Aangesien die Bybel niks van haar man sê nie, was sy waarskynlik op daardie tydstip ongetroud. Dorkas “was oorvloedig in goeie dade en barmhartigheidsgawes”. Sy het blykbaar baie kledingstukke vir arm weduwees en ander gemaak, en daarom was hulle baie lief vir haar. Toe sy skielik siek geword en gesterf het, het die hele gemeente Petrus laat roep en hom gesmeek om hulle dierbare suster op te wek. Toe die nuus van haar opstanding deur die hele Joppe bekend geword het, het baie mense gelowiges geword (Hand. 9:36-42). Dorkas self het dalk ’n aandeel daaraan gehad om party van hulle te help deur haar buitengewone goedhartigheid.

14. Wat beweeg ongetroude Christene om nader aan Jehovah te kom?

14 Soos Anna en Dorkas is daar vandag in die gemeentes talle ouer persone wat ongetroud is. Party het dalk nie ’n geskikte huweliksmaat gevind nie. Ander is geskei of het hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan. Aangesien ongetroude Christene nie ’n huweliksmaat het om in hulle vertroue te neem nie, leer hulle dikwels om meer op Jehovah te vertrou (Spr. 16:3). Silvia, ’n ongetroude suster wat al meer as 38 jaar by Bethel dien, beskou dit as ’n seën. “Ek word soms moeg om die sterke te wees”, erken sy. “Ek wonder: ‘Wie sal my aanmoedig?’” Maar dan voeg sy by: “Die vertroue dat Jehovah beter as ek weet wat ek nodig het, help my om nader aan hom te kom. En tog word ek altyd aangemoedig, soms op maniere wat ek glad nie verwag nie.” Wanneer ons ook al nader aan Jehovah kom, reageer hy altyd op ’n baie teer en gerusstellende manier.

15. Hoe kan ongetroude Christene “verruim word” in hulle liefde?

15 As ’n mens ongetroud is, het jy ’n besondere geleentheid om “verruim” te word in liefde. (Lees 2 Korintiërs 6:11-13.) Jolene, ’n ongetroude suster wat die afgelope 34 jaar al in voltydse diens is, sê: “Ek probeer my inspan om hegte vriendskappe op te bou, nie net met mense van my eie ouderdom nie, maar met alle soorte mense. Die ongetroude lewe bied ’n uitstekende geleentheid om aan Jehovah, jou gesin, jou broers en susters sowel as aan jou naaste te gee. Hoe ouer ek word, hoe blyer is ek dat ek ongetroud is.” Die bejaardes, die siekes, enkelouers, jongmense en ander in die gemeente waardeer beslis die onselfsugtige ondersteuning wat ongetroudes hulle gee. Ja, wanneer ons liefde aan ander betoon, voel ons beter oor onsself. Kan jy ook “verruim word” in jou liefde vir ander?

Lewenslank ongetroud

16. (a) Waarom het Jesus lewenslank ongetroud gebly? (b) Hoe het Paulus die beste gebruik gemaak van die ongetroude lewe?

16 Jesus het nie getrou nie; hy moes vir sy toegewese bediening voorberei en dit uitvoer. Hy het baie gereis, van vroeg in die oggend tot laat in die aand gewerk en uiteindelik sy lewe opgeoffer. In sy geval was dit ’n voordeel om ongetroud te wees. Die apostel Paulus het duisende kilometers gereis en in die bediening groot ontberinge gely (2 Kor. 11:23-27). Hoewel hy moontlik vroeër getroud was, het Paulus gekies om ongetroud te bly nadat hy die opdrag ontvang het om ’n apostel te wees (1 Kor. 7:7; 9:5). Ter wille van die bediening het Jesus sowel as Paulus ander aangespoor om hulle voorbeeld sover moontlik na te volg. Tog het nie een van hulle die ongetroude staat as ’n vereiste vir bedienaars gestel nie.—1 Tim. 4:1-3.

17. Hoe volg party vandag die voorbeeld van Jesus en Paulus, en waarom kan ons seker wees dat Jehovah diegene waardeer wat sulke opofferings maak?

17 Daar is party wat vandag ook doelbewus gekies het om ongetroud te bly sodat hulle meer in die bediening kan doen. Harold, wat vroeër genoem is, dien al meer as 56 jaar by Bethel. “Teen die tyd dat ek tien jaar by Bethel was”, sê hy, “het ek al baie egpare Bethel sien verlaat weens siekte of omdat hulle vir ’n bejaarde ouer moes sorg. My ouers is albei oorlede. Maar ek was so lief vir Bethel dat ek hierdie voorreg nie in gevaar wou stel deur te trou nie.” Margaret, wat al lank ’n pionier is, het jare gelede eweneens gesê: “Ek het al geleenthede gehad om te trou, maar ek was net te besig daarvoor. Ek het die groter vryheid wat die ongetroude lewe bied, eerder gebruik om in die bediening besig te bly, en dit het my groot vreugde verskaf.” Jehovah sal beslis nooit enigiemand vergeet wat sulke onselfsugtige opofferings vir ware aanbidding maak nie.—Lees Jesaja 56:4, 5.

Maak die beste gebruik van jou omstandighede

18. Hoe kan ongetroude Christene deur ander aangemoedig en ondersteun word?

18 Al die ongetroude Christene wat hulle bes doen om Jehovah te dien, verdien ons opregte lof en aanmoediging. Ons is lief vir hulle weens hulle goeie eienskappe en omdat hulle soveel in die gemeente doen. Hulle sal nooit eensaam hoef te voel as ons werklik hulle geestelike “broers en susters en moeders en kinders” word nie.—Lees Markus 10:28-30.

19. Wat kan jy doen om die beste gebruik te maak van die ongetroude lewe?

19 Mag hierdie Bybelse en hedendaagse voorbeelde jou verseker dat jy ’n gelukkige en produktiewe lewe kan lei, hetsy jy uit vrye keuse of bloot weens omstandighede ongetroud is. Die ongetroude lewe kan soos ’n geskenk wees wat ons gretig verwag of soos een wat ons heeltemal onverwags ontvang. Party geskenke word dadelik waardeer terwyl die waarde van ander eers met verloop van tyd besef word. Baie hang dus van ons gesindheid af. Wat kan jy doen om die beste gebruik te maak van die ongetroude lewe? Kom nader aan Jehovah, bly besig in God se diens en word verruim in jou liefde vir ander. Soos die huwelik kan die ongetroude lewe bevredigend wees wanneer ons dit uit God se oogpunt beskou en die beste gebruik maak van hierdie gawe.

Onthou jy?

• Hoe kan die ongetroude lewe ’n gawe wees?

• Hoe kan die ongetroude lewe vir ’n jongmens ’n seën wees?

• Watter geleenthede het ongetroude Christene om nader aan Jehovah te kom en verruim te word in liefde?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 18]

Maak jy die beste gebruik van jou geleenthede in God se diens?