Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sien die naam in die vallei

Sien die naam in die vallei

Sien die naam in die vallei

ST. MORITZ. Klink hierdie naam vir jou bekend? Miskien, want dit is ’n wêreldberoemde vakansieoord in Switserland se Engadinvallei. Maar St. Moritz is net een van die plekke wat mense al lank na hierdie skilderagtige vallei tussen die sneeubedekte Alpe in die suidoostelike hoek van Switserland naby die Italiaanse grens lok. Die Switserse Nasionale Park is ook hier, waar die omgewing se natuurskoon en groot verskeidenheid plante- en dierelewe ons Grootse Skepper, Jehovah, loof (Ps. 148:7-10). Maar die oorblyfsels van ’n tradisie wat uit die middel van die 17de eeu dateer, loof hom ook.

’n Ongewone besonderheid op baie huise in hierdie vallei trek moontlik jou aandag. Dit is nie buitengewoon om God se naam op die voorkant van ’n huis, soos bokant die voordeur, gegraveer te sien nie. In vroeër tye is die buitekant van huise gewoonlik versier met inskripsies wat op die muur geverf, in die pleister uitgekrap of in klip gegraveer is. Hier sien jy ’n prent van ’n huis in die dorpie Bever. Die inskripsie word vertaal as: “In die jaar 1715. Jehovah is die begin en Jehovah is die einde. Alles saam met God en niks sonder hom nie.” Ja, God se persoonlike naam verskyn twee keer op die ou teken.

In die dorpie Madulain kan jy selfs ’n ouer inskripsie sien. Die teken sê: “Psalm 127. As Jehovah nie die huis bou nie, het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk. Lucius Rumedius. In die jaar 1654.”

Waarom word God se naam in hierdie vallei so in die openbaar vertoon? In die tyd van die Hervorming is die Bybel uitgegee in Reto-Romaans, ’n taal wat op Latyn gegrond en in Engadin gepraat word. Om die waarheid te sê, dit was die eerste boek wat in daardie taal vertaal is. Baie van die plaaslike mense is beweeg deur wat hulle in God se Woord gelees het en het dus nie net hulle eie name aan die buitekant van hulle huis gegraveer nie, maar ook aanhalings uit die Bybel wat God se persoonlike naam insluit.

Ja, hierdie inskripsies maak vandag nog Jehovah se naam bekend en loof hom, eeue nadat dit aanvanklik op die huise geskryf is. Mense wat hierdie vallei besoek sowel as dié wat daar woon, kan gerus meer omtrent die wonderlike God, Jehovah, leer deur ’n ander gebou te besoek wat sy naam dra—die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Bever.

[Foto-erkenning op bladsy 7]

© Stähli Rolf A/age fotostock