Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’

‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’

‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’

“Ek sal beslis ’n nederige en geringe volk . . . laat oorbly, en hulle sal by die naam van Jehovah toevlug soek.”—SEF. 3:12.

1, 2. Watter figuurlike storm sal die mensdom binnekort tref?

 MOES jy al ooit toevlug teen ’n reënstorm of haelstorm soek deur onder ’n brug te skuil? ’n Brug sal heel moontlik genoeg skuiling teen ’n reënstorm of ’n haelstorm bied, maar sal waarskynlik min beskerming teen ’n tornado of ’n orkaan bied.

2 ’n Ander soort storm is aan die kom—’n storm wat die voortbestaan van die menseras bedreig. Dit is ’n figuurlike “dag van storms”. Hierdie “groot dag van Jehovah” sal die hele mensdom raak. Maar ons kan die nodige toevlug vind. (Lees Sefanja 1:14-18.) Hoe kan ons dit doen gedurende “die dag van Jehovah se grimmigheid”, wat binnekort sal begin?

Dae van storms in Bybeltye

3. Watter “donderende storm” het die tienstammeryk van Israel getref?

3 Die dag van Jehovah sal losbars met die vernietiging van al die valse godsdiensstelsels op die aarde. As ons wil weet hoe om ’n toevlug te vind, kan ons die antwoord soek in die geskiedenis van God se eertydse volk. Jesaja, wat in die agtste eeu VHJ geleef het, het Jehovah se oordeel oor die afvallige tienstammeryk van Israel vergelyk met ’n “donderende storm” wat mense nie sou kon verhoed nie. (Lees Jesaja 28:1, 2.) Hierdie profesie is in 740 VHJ vervul toe Assirië die land van hierdie tien stamme, waarvan Efraim die vernaamste stam was, binnegeval het.

4. Hoe het ’n “groot dag van Jehovah” Jerusalem in 607 VHJ getref?

4 Die oordeel teen ontroue Israel is in 607 VHJ gevolg deur ’n “groot dag van Jehovah” teen Jerusalem en die koninkryk van Juda. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind omdat die mense van Juda ook afvallig geword het. Die Babiloniërs onder Nebukadnesar het Juda en sy hoofstad, Jerusalem, bedreig. Die Judeërs het hulle om hulp gewend tot “die leuentoevlug”, dit wil sê hulle politieke bondgenootskap met Egipte. Tog het die Babiloniërs, soos ’n vernietigende haelstorm, daardie “toevlug” weggevee.—Jes. 28:14, 17.

5. Wat sal gedurende die vernietiging van alle valse godsdiens met God se volk as ’n groep gebeur?

5 Die groot dag van Jehovah wat Jerusalem getref het, is ’n aanduiding van die oordeel wat in ons tyd aan die afvallige Christendom voltrek sal word. Daarbenewens sal die res van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, vernietig word. Daarna sal die oorblywende dele van Satan se goddelose stelsel van dinge uitgewis word. Maar God se volk as ’n groep sal dit oorleef omdat hulle toevlug soek by Jehovah.—Op. 7:14; 18:2, 8; 19:19-21.

’n Geestelike en fisiese toevlug

6. Hoe kan Jehovah se volk ’n toevlug vind?

6 Hoe kan God se volk selfs nou in hierdie tyd van die einde ’n toevlug vind? Ons vind ’n geestelike toevlug deurdat ons biddend “aan [God se] naam dink” en hom ywerig dien. (Lees Maleagi 3:16-18.) Maar ons besef dat ons meer moet doen as om net aan sy naam te dink. Ons lees: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Rom. 10:13). Om Jehovah se naam aan te roep, hou verband met die gevolglike redding deur hom. En talle opregtes van hart kan die verskil sien tussen ware Christene, wat eerbiedig “aan sy naam dink” en as sy Getuies dien, en die mense wat hom nie dien nie.

7, 8. Hoe is die eerste-eeuse Christene fisies gered, en waarmee kan dit vandag vergelyk word?

7 Maar die redding wat vir ons beskikbaar is, is nie tot ’n geestelike toevlug beperk nie. Fisiese redding is aan God se volk belowe. Ons sien ’n aanduiding hiervan in wat gebeur het nadat ’n Romeinse leër onder Cestius Gallus Jerusalem in 66 HJ aangeval het. Jesus het voorspel dat die dae van daardie verdrukking “verkort” sou word (Matt. 24:15, 16, 21, 22). Dit het gebeur toe die Romeinse magte onverwags die beleëring van die stad opgehef het, wat dit moontlik gemaak het vir sekere “vlees”, naamlik ware Christene, om “gered” te word. Hulle kon uit die stad en omliggende gebied vlug. Party het die Jordaan oorgesteek en in die berge aan die oostekant van daardie rivier ’n toevlug gevind.

8 Ons kan daardie Christene met God se hedendaagse volk vergelyk. In die verlede het die eerste-eeuse Christene toevlug gesoek, en God se hedendaagse knegte sal dit ook doen. Maar hierdie keer sal dit nie behels dat ons na ’n sekere plek vlug nie, want daar is ware Christene in alle wêrelddele. Tog sal “die uitverkorenes” en hulle lojale metgeselle as ’n groep die einde van die afvallige Christendom fisies oorleef omdat hulle by Jehovah en sy bergagtige organisasie toevlug soek.

9. Wie het probeer om Jehovah se naam vergete te laat raak? Gee ’n voorbeeld.

9 Die Christendom daarenteen verdien die komende vernietiging omdat hulle bygedra het tot die geestelike onkunde wat onder kerkgangers algemeen is en omdat hulle openlike haat vir God se naam getoon het. In die Middeleeue het baie mense in Europa God se persoonlike naam geken. Hierdie naam, wat voorgestel word deur vier Hebreeuse letters wat die Tetragrammaton genoem word en gewoonlik as YHWH (of JHVH) getranslitereer word, het op muntstukke, op die voorkant van huise, in baie boeke en Bybels en selfs in party Katolieke en Protestantse kerke verskyn. Maar die neiging in onlangse tye is om God se naam glad nie meer in Bybelvertalings en op ander plekke te gebruik nie. Een aanduiding hiervan is die brief van 29 Junie 2008 oor ‘die naam van God’ wat deur die Kongregasie vir die Gewyde Erediens en die Reëling van die Sakramente aan die sinode van biskoppe gestuur is. Daarin het die Rooms-Katolieke Kerk aanbeveel dat die Tetragrammaton in al sy verskillende weergawes deur “Here” vervang moet word. Die Vatikaan het opdrag gegee dat God se persoonlike naam nie gedurende Katolieke kerkdienste in gesange en gebede gebruik of uitgespreek moet word nie. En die leiers van ander godsdienste binne en buite die Christendom het ook die identiteit van die ware God vir miljoene aanbidders verberg.

Beskerming vir dié wat God se naam heilig

10. Hoe word God se naam vandag geëer?

10 In skerp teenstelling met wat ander godsdienste doen, eer en verheerlik Jehovah se Getuies die goddelike naam. Hulle heilig dit deur dit op waardige wyse te gebruik. Jehovah skep behae in diegene wat op hom vertrou, en hy word wat ook al nodig is om sy volk te seën en te beskerm. “Hy ken dié wat by hom toevlug soek.”—Nah. 1:7; Hand. 15:14.

11, 12. Wie het Jehovah se naam in eertydse Juda hooggehou, en wie doen dit in hedendaagse tye?

11 Hoewel die meeste mense in eertydse Juda afvallig geword het, het party “by die naam van Jehovah toevlug” gesoek. (Lees Sefanja 3:12, 13.) Ja, toe God ontroue Juda gestraf het deur toe te laat dat die Babiloniërs die land verower en die mense gevange neem, is party persone, soos Jeremia, Barug en Ebed-Meleg, gespaar. Hulle het te midde van ’n afvallige nasie gelewe. Ander het in gevangenskap getrou gebly. In 539 VHJ het die Mede en die Perse onder Kores Babilon verower. Kores het kort daarna ’n bevel uitgevaardig wat dit vir ’n Joodse oorblyfsel moontlik gemaak het om na hulle vaderland terug te keer.

12 Sefanja het voorspel dat Jehovah diegene wat hierdie herstel van ware aanbidding sou beleef, sou red en hom oor hulle sou verheug. (Lees Sefanja 3:14-17.) Dit is in ons tyd ook die geval. Nadat God se Koninkryk in die hemel opgerig is, het Jehovah die getroue oorblyfsel gesalfdes uit geestelike gevangenskap aan Babilon die Grote verlos. En hy verheug hom vandag nog oor hulle.

13. Watter bevryding ondervind mense van al die nasies?

13 Diegene wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, het ook uit Babilon die Grote gekom en geniet geestelike bevryding van valse godsdiensleerstellings (Op. 18:4). Die grotere vervulling van Sefanja 2:3 vind dus in ons tyd plaas: “Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde.” Sagmoediges van al die nasies, hetsy hulle ’n hemelse of ’n aardse hoop het, soek nou toevlug by Jehovah se naam.

God se naam is nie ’n gelukbringer nie

14, 15. (a) Wat het party al as gelukbringers gebruik? (b) Wat moenie as ’n gelukbringer gebruik word nie?

14 Sommige Israeliete het die tempel as ’n gelukbringer beskou wat hulle teen vyande sou beskerm (Jer. 7:1-4). Vroeër het die Israeliete die verbondsark as ’n gelukbringer beskou wat hulle in ’n geveg sou beskerm (1 Sam. 4:3, 10, 11). Konstantyn die Grote het die Griekse letters khi en rho, die eerste twee letters van die titel “Christus” in Grieks, op sy soldate se skilde geverf in die hoop dat dit hulle op die slagveld sou beskerm. En koning Gustaaf Adolf II van Swede, wat in die Dertigjarige Oorlog geveg het, het glo die wapenrusting gedra wat op bladsy 7 uitgebeeld word. Let daarop dat die naam Iehova op ’n opvallende plek op die borsplaat verskyn.

15 Party van God se knegte wat al deur demone aangeval is, het by Jehovah ’n toevlug gevind deur sy naam uit te roep. Maar ’n voorwerp met God se naam daarop moenie as ’n gelukbringer beskou of in die alledaagse lewe as ’n gelukbringer gebruik word, asof dit die een of ander bonatuurlike krag het om ’n mens te beskerm nie. Dit is nie wat dit beteken om by die naam van Jehovah toevlug te soek nie.

Hoe om vandag toevlug te soek

16. Hoe kan ons vandag op geestelike gebied toevlug soek?

16 Die geestelike veiligheid wat God se volk as ’n geheel geniet, is vandag vir ons ’n toevlug (Ps. 91:1). Ons word deur “die getroue en verstandige slaaf” en ouer manne in die gemeente gewaarsku teen neigings in die wêreld wat hierdie veiligheid in gevaar kan stel (Matt. 24:45-47; Jes. 32:1, 2). Dink net hoe dikwels ons al teen materialisme gewaarsku is en hoe hierdie waarskuwings ons teen geestelike rampspoed beskerm het. En wat van die gevaar om ’n gemaksugtige gesindheid aan te kweek wat daartoe kan lei dat ons onbedrywig in Jehovah se diens word? God se Woord sê: “Die gemaksug van die sotte sal hulle vernietig. Wat die een betref wat na my luister, hy sal in veiligheid woon en nie deur vrees vir rampspoed versteur word nie” (Spr. 1:32, 33). Die feit dat ons sedelik rein probeer bly, help ons ook om ons geestelike veiligheid te behou.

17, 18. Wat help miljoene mense om vandag by die naam van Jehovah toevlug te soek?

17 Dink ook aan die getroue slaaf se aansporing om Jesus se opdrag uit te voer om die goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig (Matt. 24:14; 28:19, 20). Sefanja het gepraat van ’n verandering wat mense sou help om by God se naam toevlug te soek. Ons lees: “Dan sal ek volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien.”—Sef. 3:9.

18 Wat is hierdie suiwer taal? Die suiwer taal is die waarheid omtrent Jehovah God en sy voornemens wat in sy geïnspireerde Woord gevind word. Jy gebruik hierdie taal in sekere sin wanneer jy aan ander verduidelik wat die juiste begrip van God se Koninkryk is en hoe dit sy naam sal heilig, wanneer jy die aandag op die regverdiging van God se soewereiniteit vestig en wanneer jy met vreugde praat oor die ewige seëninge wat getroue mense sal geniet. Omdat soveel mense hierdie figuurlike taal praat, is daar al hoe meer wat ‘die naam van Jehovah aanroep’ en ‘hom skouer aan skouer dien’. Ja, miljoene mense in alle wêrelddele vind nou ’n toevlug by Jehovah.—Ps. 1:1, 3.

19, 20. Hoe het vertroue op ’n “leuentoevlug” in Bybeltye misluk?

19 Mense in die wêreld het met oënskynlik onoorkomelike probleme te kampe. In ’n wanhopige poging om hulle probleme op te los, wend baie hulle tot onvolmaakte mense. Of hulle hoop dat politieke instellings ’n oplossing sal bied, soos eertydse Israel hulle soms vir ondersteuning tot naburige nasies gewend het deur bondgenootskappe met hulle aan te gaan. Maar jy weet dat dit Israel nie gehelp het nie. En geen politieke staat van vandag, of die Verenigde Nasies, sal die mensdom se probleme heeltemal oplos nie. Waarom sal ’n mens dan politieke instellings en bondgenootskappe as ’n toevlug beskou? Die Bybel noem hulle profeties ’n “leuentoevlug”. Jy kan hulle tereg so beskou, want almal wat op hulle hoop, sal diep teleurgestel word.—Lees Jesaja 28:15, 17.

20 Binnekort sal die figuurlike haelstorm van Jehovah se dag die aarde tref. Die mens se planne sal nie beskerming kan bied nie, en so ook nie kernbomskuilings of rykdom nie. Jesaja 28:17 sê: “Die hael sal die leuentoevlug wegvee, en die waters sal die skuilplek wegspoel.”

21. Hoe kan ons daarby baat vind as ons die jaarteks vir 2011 toepas?

21 Nou sowel as gedurende daardie toekomstige gebeurtenis sal God se volk ware veiligheid by hulle God, Jehovah, vind. Sefanja se naam, wat “Jehovah het verberg” beteken, dui hierop. Dit is gepas dat ons hierdie wyse raad as ons jaarteks vir 2011 het: ‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’ (Sef. 3:12). Selfs nou kan en moet ons by die naam van Jehovah toevlug soek en hom volkome vertrou (Ps. 9:10). Laat ons elke dag hierdie geïnspireerde versekering in gedagte hou: “Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm.”—Spr. 18:10.

Onthou jy?

• Hoe kan ons nou by Jehovah se naam toevlug soek?

• Waarom moet ons nie op “die leuentoevlug” vertrou nie?

• Van watter toevlug vir die toekoms word ons verseker?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 6]

Die jaarteks vir 2011 is: ‘Soek toevlug by die naam van Jehovah’.—Sefanja 3:12.

[Foto-erkenning op bladsy 7]

Thüringer Landesmuseum Heidecksburg Rudolstadt, Waffensammlung “Schwarzburger Zeughaus”