Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die verkryging van God se goedkeuring lei tot die ewige lewe

Die verkryging van God se goedkeuring lei tot die ewige lewe

Die verkryging van God se goedkeuring lei tot die ewige lewe

“U sal almal seën wat regverdig is, o Jehovah; soos met ’n groot skild sal u hulle met goedkeuring omring.”—PS. 5:12.

1, 2. Wat het Elia die weduwee in Sarfat gevra, en watter versekering het hy haar gegee?

 DIE vrou en haar seun was honger, en so ook God se profeet. Net toe hierdie weduwee in Sarfat ’n vuur wou aansteek om kos te maak, het die profeet Elia haar vir water en brood gevra. Sy was bereid om hom iets te gee om te drink, maar al wat sy as kos gehad het, was “’n hand vol meel in die groot kruik en ’n bietjie olie in die klein kruik”. Sy het gedink dat sy nie in staat is om die profeet enige kos te gee nie, en sy het dit vir hom gesê.—1 Kon. 17:8-12.

2 “Maak van wat daar is eers vir my ’n klein ronde koek”, het Elia volgehou, “en jy moet dit na my toe uitbring, en daarna kan jy vir jou en jou seun iets maak. Want só het Jehovah, die God van Israel, gesê: ‘Die groot kruik meel sal nie opraak nie, en die klein kruik olie sal nie leegraak nie.’”—1 Kon. 17:13, 14.

3. Voor watter belangrike kwessie kom ons te staan?

3 Die kwessie waarvoor die weduwee te staan gekom het, was baie ernstiger as om net te besluit wat om met haar laaste bietjie kos te doen. Sou sy op Jehovah vertrou om haar en haar seun te red, of sou haar materiële behoeftes vir haar belangriker wees as om God se goedkeuring en vriendskap te verkry? Ons almal kom voor ’n soortgelyke kwessie te staan. Is dit vir ons belangriker om Jehovah se goedkeuring te verkry as om na materiële veiligheid te streef? Ons het alle rede om God te vertrou en te dien. En ons kan stappe doen om sy goedkeuring te verkry.

‘U is waardig om aanbidding te ontvang’

4. Waarom is Jehovah ons aanbidding waardig?

4 Jehovah het die reg om te verwag dat mense hom op aanneemlike wyse sal dien. ’n Groep van sy hemelse knegte het hierdie feit eenstemmig bevestig en gesê: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep” (Op. 4:11). Omdat Jehovah die Skepper is, is hy ons aanbidding waardig.

5. Waarom behoort God se liefde ons te beweeg om hom te dien?

5 Nog ’n rede waarom ons Jehovah behoort te dien, is sy onvergelyklike liefde vir ons. “God het die mens na sy beeld begin skep”, sê die Bybel, “na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep” (Gen. 1:27). Die mens het wilsvryheid en die godgegewe vermoë om te dink en besluite te neem. Jehovah het die Vader van die mensdom geword deur aan ons lewe te gee (Luk. 3:38). Soos enige goeie vader, het hy alles gedoen om te voorsien wat nodig is sodat sy seuns en dogters die lewe kan geniet. Omdat hy “sy son laat opgaan” en “dit laat reën”, bring die aarde vir ons oorvloedige voedsel voort in ’n pragtige omgewing.—Matt. 5:45.

6, 7. (a) Watter leed het Adam al sy nakomelinge aangedoen? (b) Wat sal Christus se offerande doen vir diegene wat God se goedkeuring probeer verkry?

6 Jehovah het ons ook verlos van die verskriklike gevolge van sonde. Deur te sondig, het Adam soos ’n dobbelaar geword wat van sy gesin steel sodat hy kan dobbel. Deur teen Jehovah in opstand te kom, het Adam sy kinders beroof van hulle vooruitsig—ewige geluk. Sy selfsug het die mensdom tot slawerny gebring onder ’n wrede meester, onvolmaaktheid. Geen mens kan dus siekte, droefheid en uiteindelik die dood vryspring nie. Om ’n slaaf te bevry, moet ’n prys betaal word, en Jehovah het die prys betaal wat ons van hierdie verskriklike gevolge kan verlos. (Lees Romeine 5:21.) Jesus Christus het in ooreenstemming met sy Vader se wil opgetree en “sy siel [gegee] as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Die volle voordele van hierdie losprys sal binnekort aangewend word ten behoewe van diegene wat God se goedkeuring verkry.

7 Ons Skepper, Jehovah, het meer as enigiemand anders gedoen om ons ’n gelukkige, doelgerigte lewe te gee. Aangesien ons sy goedkeuring geniet, sal ons kan sien hoe hy te werk gaan om al die skade wat die mensdom aangedoen is, ongedaan te maak. Jehovah sal voortgaan om vir ons persoonlik te wys hoe hy “die beloner word van dié wat hom ernstig soek”.—Heb. 11:6.

“U volk sal hulle gewillig aanbied”

8. Wat leer Jesaja se ondervinding ons oor diens aan God?

8 As ons God se goedkeuring wil verkry, moet ons ons wilsvryheid reg gebruik. Dit is omdat Jehovah niemand dwing om hom te dien nie. In Jesaja se tyd het Hy gevra: “Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?” Jehovah het waardigheid aan die profeet verleen deur sy reg om te besluit, te erken. Stel jou voor watter bevrediging dit Jesaja verskaf het om te antwoord: “Hier is ek! Stuur my.”—Jes. 6:8.

9, 10. (a) Met watter gesindheid moet ons God dien? (b) Waarom is dit gepas dat ons Jehovah heelhartig dien?

9 Dit staan mense vry om God te dien of hom nie te dien nie. Jehovah wil hê dat ons hom gewillig moet dien. (Lees Josua 24:15.) Enigiemand wat God teësinnig aanbid, kan hom nie behaag nie; en hy aanvaar ook nie die toegewydheid van diegene wie se ware oogmerk net is om ander mense te behaag nie (Kol. 3:22). As ons heilige diens “aarselend” verrig deur toe te laat dat wêreldse belange op ons aanbidding inbreuk maak, sal ons nie God se goedkeuring wegdra nie (Eks. 22:29). Jehovah weet dat dit vir ons goed is om hom heelhartig te dien. Moses het die Israeliete aangespoor om die lewe te kies ‘deur Jehovah hulle God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef’.—Deut. 30:19, 20.

10 Koning Dawid van eertydse Israel het vir Jehovah gesing: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag. In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Ps. 110:3). Baie mense lewe vandag vir finansiële veiligheid en ontspanning. Maar diegene wat vir Jehovah lief is, stel hulle heilige diens bo enigiets anders. Die ywer waarmee hulle die goeie nuus verkondig, toon wat vir hulle die belangrikste is. Hulle het volle vertroue in Jehovah se vermoë om in hulle daaglikse behoeftes te voorsien.—Matt. 6:33, 34.

Offerandes wat God se goedkeuring geniet

11. Watter voordeel het die Israeliete gehoop om te ontvang deur offerandes aan Jehovah te bring?

11 Onder die Wetsverbond het God se volk aanneemlike offerandes gebring om sy guns te wen. “As julle ’n gemeenskapsoffer aan Jehovah offer”, sê Levitikus 19:5, “moet julle dit offer om goedkeuring vir julle te verkry.” In dieselfde Bybelboek lees ons: “As julle ’n dankoffer aan Jehovah offer, moet julle dit offer om vir julle goedkeuring te verkry” (Lev. 22:29). Wanneer die Israeliete gepaste diereoffers op Jehovah se altaar geoffer het, was die rook wat opgestyg het soos “’n rustige geur” vir die ware God (Lev. 1:9, 13). Hierdie blyke van liefde van sy volk het hom behaag, en hy het dit aanvaar (Gen. 8:21). In hierdie aspekte van die Wet vind ons ’n beginsel wat vandag van toepassing is. Diegene wat aanneemlike offerandes aan Jehovah bring, geniet sy goedkeuring. Watter offerandes is vir hom aanneemlik? Beskou twee aspekte van die lewe: ons gedrag en ons spraak.

12. Watter gebruike sal die ‘aanbieding van ons liggaam as ’n offerande’ vir God aanstootlik maak?

12 In sy brief aan die Romeine het die apostel Paulus geskryf: “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Rom. 12:1). Om God se goedkeuring te verkry, moet ’n persoon sorg dat sy liggaam vir God aanneemlik bly. As hy hom verontreinig met tabak, betelneut of dwelms of deur alkohol te misbruik, sal daardie offer geen waarde hê nie (2 Kor. 7:1). En aangesien iemand wat “hoerery beoefen, sondig teen sy eie liggaam”, sal enige vorm van onsedelike gedrag sy offerande vir Jehovah aanstootlik maak (1 Kor. 6:18). Om God te behaag, moet ’n persoon ‘in sy hele gedrag heilig word’.—1 Pet. 1:14-16.

13. Waarom is dit gepas dat ons Jehovah loof?

13 Nog ’n offerande waarin Jehovah behae skep, hou verband met ons spraak. Diegene wat vir Jehovah lief is, het hom nog altyd in die openbaar en in die privaatheid van hulle huis geloof. (Lees Psalm 34:1-3.) Lees Psalms 148-150 en let op hoe dikwels hierdie drie psalms ons aanspoor om Jehovah te loof. Ja, “lof is gepas van die kant van die regskapenes” (Ps. 33:1). En ons Voorbeeld, Jesus Christus, het beklemtoon hoe belangrik dit is om God te loof deur die goeie nuus te verkondig.—Luk. 4:18, 43, 44.

14, 15. Watter soort offerandes het Hosea die Israeliete aangespoor om te bring, en hoe het Jehovah gereageer?

14 As ons die predikingswerk met ywer doen, lewer dit bewys dat ons Jehovah liefhet en graag sy goedkeuring wil geniet. Kyk byvoorbeeld na hoe die profeet Hosea die Israeliete vermaan het wat valse aanbidding begin beoefen het en God se guns verloor het (Hos. 13:1-3). Hosea het gesê dat hulle moet smeek: “Mag u [Jehovah] oortreding vergewe; en neem aan wat goed is, en dan sal ons die jong bulle van ons lippe aanbied.”—Hos. 14:1, 2.

15 ’n Bul was die duurste dier wat ’n Israeliet aan Jehovah kon offer. Gevolglik het “die jong bulle van ons lippe” verwys na opregte, weldeurdagte woorde wat tot lof van die ware God gespreek is. Hoe het Jehovah gereageer teenoor diegene wat sulke offerandes gebring het? Hy het gesê: “Ek sal hulle uit vrye wil liefhê” (Hos. 14:4). Diegene wat sulke lofoffers gebring het, het Jehovah se vergifnis ontvang, sy goedkeuring geniet en sy vriende geword.

16, 17. Hoe reageer Jehovah op die lof van iemand wat deur geloof in God beweeg word om die goeie nuus te verkondig?

16 Om Jehovah in die openbaar te loof, was nog altyd ’n vername aspek van ware aanbidding. Dit het vir die psalmis soveel beteken om die ware God te verheerlik dat hy God gesmeek het: “Skep asseblief behae in die vrywillige gawes van my mond, o Jehovah” (Ps. 119:108). Wat van vandag? Jesaja het van ’n groot menigte mense in ons dag gepraat en voorspel: “Die lofprysinge van Jehovah sal hulle verkondig. . . . Met goedkeuring sal hulle [hulle gawes] op my [God se] altaar kom” (Jes. 60:6, 7). Ter vervulling hiervan bring miljoene aan God “’n lofoffer . . . , dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak”.—Heb. 13:15.

17 Wat van jou? Bring jy aanneemlike offerandes aan God? Sal jy, as jy dit nie doen nie, die nodige veranderinge aanbring en Jehovah in die openbaar begin loof? Wanneer geloof jou beweeg om die goeie nuus te begin verkondig, sal jou offer “vir Jehovah . . . welgevalliger wees as ’n bul”. (Lees Psalm 69:30, 31.) Wees verseker dat “die rustige geur” van jou lofoffer Jehovah sal bereik en dat jy sy goedkeuring sal geniet (Eseg. 20:41). Jy sal dan ongeëwenaarde vreugde smaak.

‘Jehovah sal almal seën wat regverdig is’

18, 19. (a) Hoe beskou baie mense vandag diens aan God? (b) Wat is die gevolg as ’n mens God se guns verloor?

18 Vandag kom baie mense tot dieselfde slotsom as party in Maleagi se tyd: “Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het?” (Mal. 3:14, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Weens hulle materialistiese begeertes dink hulle dat God se voorneme nie verwesenlik kan word nie en dat sy wette nie meer van toepassing is nie. Vir hulle is die verkondiging van die goeie nuus ’n mors van tyd en ’n bron van ergernis.

19 Die dryfkrag agter hierdie idees het sy oorsprong gehad in die tuin van Eden. Satan het Eva oorgehaal om ’n gebrek aan waardering te toon vir die wonderlike lewe wat Jehovah haar gegee het en om Sy goedkeuring te minag. Vandag maak Satan mense wys dat dit geen voordeel inhou om God se wil te doen nie. Maar Eva en haar man het uitgevind dat ’n mens jou lewe verloor as jy God se guns verloor het. Diegene wat nou hulle slegte voorbeeld volg, sal binnekort dieselfde bittere waarheid besef.—Gen. 3:1-7, 17-19.

20, 21. (a) Wat het die weduwee van Sarfat gedoen, en hoe het die saak vir haar afgeloop? (b) Hoe en waarom moet ons die weduwee van Sarfat navolg?

20 Vergelyk die droewige einde van Adam en Eva met die afloop van die gebeure wat vroeër in verband met Elia en die weduwee van Sarfat gemeld is. Nadat die vrou Elia se bemoedigende woorde gehoor het, het sy begin bak en eers die profeet van die brood laat eet. Toe het Jehovah die belofte nagekom wat hy deur Elia gemaak het. Die verslag sê: “Sy het dae lank geëet, sy saam met hom en haar huisgesin. Die groot kruik meel het nie opgeraak nie, en die klein kruik olie het nie leeggeraak nie, volgens Jehovah se woord wat hy deur middel van Elia gespreek het.”—1 Kon. 17:15, 16.

21 Die weduwee van Sarfat het iets gedoen wat min van die miljarde mense wat nou lewe, bereid is om te doen. Sy het haar volle vertroue in die God van redding gestel, en hy het haar nie in die steek gelaat nie. Hierdie en ander Bybelverslae bevestig dat Jehovah ons vertroue verdien. (Lees Josua 21:43-45; 23:14.) Die lewe van hedendaagse Getuies van Jehovah lewer verdere bewys dat hy nooit diegene sal verlaat wat sy goedkeuring geniet nie.—Ps. 34:6, 7, 17-19. a

22. Waarom is dit dringend dat ons sonder versuim God se goedkeuring probeer verkry?

22 God se oordeelsdag wat “oor almal [sal] kom wat op die oppervlak van die hele aarde woon”, is op hande (Luk. 21:34, 35). Niemand kan daaraan ontkom nie. Geen rykdom of materiële geriewe kan ooit naastenby so waardevol wees as om God se aangestelde Regter te hoor sê nie: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat . . . vir julle berei is” (Matt. 25:34). Ja, ‘Jehovah sal almal seën wat regverdig is; soos met ’n groot skild sal hy hulle met goedkeuring omring’ (Ps. 5:12). Moet ons nie God se goedkeuring probeer verkry nie?

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring, 15 Maart 2005, bladsy 13, paragraaf 15; 1 Augustus 1997, bladsye 20-25.

Onthou jy?

• Waarom verdien Jehovah ons heelhartige aanbidding?

• Watter offerandes is vandag vir Jehovah aanneemlik?

• Waarna verwys die uitdrukking “die jong bulle van ons lippe”, en waarom moet ons dit as offer aan Jehovah bring?

• Waarom moet ons God se goedkeuring probeer verkry?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Voor watter belangrike kwessie het God se profeet ’n behoeftige moeder te staan laat kom?

[Prent op bladsy 15]

Watter voordeel ontvang ons deur ’n lofoffer aan Jehovah te bring?

[Prent op bladsy 17]

Jou opregte vertroue op Jehovah sal nooit tot teleurstelling lei nie