Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit is die moeite werd!

Dit is die moeite werd!

Dit is die moeite werd!

GESINSAANBIDDING en Bybelstudie is noodsaaklik as ’n mens kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” wil grootmaak (Ef. 6:4). Maar as jy ’n ouer is, weet jy dat kinders maklik verveeld kan raak. Hoe kan jy hulle aandag boei? Kyk na wat party ouers gedoen het.

“Toe die kinders jonger was”, sê George, in Kalifornië, VSA, “het ek en my vrou die gesinsbybelstudie interessant probeer hou. Soms het ons almal soos Bybelkarakters aangetrek en ’n verhaal opgevoer terwyl ons uit My boek met Bybelverhale gelees het. Ons het selfs swaarde, septers, mandjies, ensovoorts vir die opvoering gemaak. Ons het ook ‘raai wie is ek’-Bybelspeletjies gespeel en ’n bordspel gemaak met Bybelvrae waarvan party moeiliker as ander was. Daar was ook projekte, soos om ’n model van Noag se ark te bou of om ’n tydlyn van Bybelgebeure te maak. Partykeer het ons prente geteken waarin ons Bybelkarakters of -verhale uitgebeeld het. Ons beplan op die oomblik ’n tekenprojek oor die geestelike wapenrusting wat in Efesiërs 6:11-17 beskryf word, waarin elkeen van ons sal verduidelik wat deur ’n spesifieke deel voorgestel word. Dit alles help ons om ons gesinstudie te geniet.”

Debi, ’n ma in Michigan, VSA, vertel: “Ek en my man het gesukkel om ons dogter te laat aandag skenk toe sy sowat drie jaar oud was. Toe ek eendag die verhaal van Isak en Rebekka uit My boek met Bybelverhale vir haar lees, het ek twee poppe opgetel en die verhaal in my eie woorde begin vertel. Sy het toe na elke woord geluister! In die daaropvolgende maande is hierdie twee poppe gebruik om talle verskillende Bybelkarakters voor te stel. Nadat ons ’n verhaal gelees het, het ons dogter oral in die huis gesoek na speelgoed of ander items wat gebruik kon word om die verhaal op te voer. Dit was soos ’n skattejag! ’n Skoendoos en ’n rooi lint het Ragab se huis met ’n skarlaken tou geword. ’n Opgestopte speelgoedslang van een en ’n half meter wat om ’n besemstok gedraai is, het goed gewerk as die koperslang van Numeri 21:4-9. Ons het hierdie items in ’n groot seilsak gebêre. Ons was bly dat ons dogter dikwels in die woonkamer gesit en deur haar ‘Bybelverhalesak’ gesoek het. Ons het dit geniet om te sien hoe sy die verhale self opvoer!”

Dit is nie maklik om kinders groot te maak nie, en dit verg meer as net weeklikse sessies om by hulle ’n begeerte te wek om Jehovah te dien. Maar gesinsaanbidding en Bybelstudie kan as ’n grondslag vir ander geestelike onderrigting dien. Dit is ongetwyfeld die moeite werd!