Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Haat jy wetteloosheid?

Haat jy wetteloosheid?

Haat jy wetteloosheid?

“U [Jesus] het wetteloosheid gehaat.”—HEB. 1:9.

1. Wat het Jesus sy volgelinge oor liefde geleer?

 JESUS CHRISTUS het die belangrikheid van liefde beklemtoon en vir sy dissipels gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Jesus het sy volgelinge beveel om selfopofferende liefde teenoor mekaar te betoon. Hierdie liefde sou hulle kenmerk. Jesus het hulle ook vermaan: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg.”—Matt. 5:44.

2. Waarvoor moet volgelinge van Christus ’n haat aankweek?

2 Maar Jesus het sy dissipels nie net oor liefde geleer nie; hy het hulle ook geleer wat om te haat. Daar is met verwysing na Jesus gesê: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid [goddeloosheid] gehaat” (Heb. 1:9; Ps. 45:7). Dit toon dat ons nie net ’n liefde vir regverdigheid moet aankweek nie, maar ook ’n haat vir sonde, of wetteloosheid. Dit is opmerkenswaardig dat die apostel Johannes uitdruklik gesê het: “Elkeen wat sonde beoefen, beoefen ook wetteloosheid, en daarom is sonde wetteloosheid.”—1 Joh. 3:4.

3. Watter aspekte van die lewe waarin ons moet toon dat ons wetteloosheid haat, sal in hierdie artikel bespreek word?

3 Dit sal dus goed wees as ons as Christene ons afvra: ‘Haat ek wetteloosheid?’ Kom ons ondersoek hoe ons in die volgende vier aspekte van die lewe kan toon dat ons haat wat sleg is: (1) ons gesindheid teenoor drankmisbruik, (2) ons beskouing van die okkulte, (3) ons reaksie op onsedelikheid en (4) ons beskouing van diegene wat wetteloosheid liefhet.

Hou alkohol op sy plek

4. Waarom het Jesus vrymoedigheid van spraak gehad toe hy teen strawwe drinkery gewaarsku het?

4 Jesus het soms wyn gedrink in die wete dat dit ’n gawe van God is (Ps. 104:14, 15). Maar hy het nooit hierdie gawe misbruik deur hom aan strawwe drinkery skuldig te maak nie (Spr. 23:29-33). Jesus het dus vrymoedigheid van spraak gehad toe hy teen hierdie gebruik gewaarsku het. (Lees Lukas 21:24.) Drankmisbruik kan tot ander ernstige sondes lei. Die apostel Paulus het dus geskryf: “Moenie dronk word van wyn, waarin daar losbandigheid is nie, maar word voortdurend met gees vervul” (Ef. 5:18). Hy het ook die bejaarde vroue in die gemeente gemaan om nie “aan baie wyn verslaaf” te wees nie.—Tit. 2:3.

5. Watter vrae kan diegene wat besluit om alkohol te drink, hulle afvra?

5 As jy besluit om alkohol te drink, sal dit ook verstandig van jou wees om jou af te vra: ‘Het ek dieselfde gesindheid teenoor strawwe drinkery as Jesus? Het ek vrymoedigheid van spraak as ek ander hieroor moet raad gee? Drink ek om van my bekommernisse te vergeet of om spanning te verlig? Hoeveel alkohol drink ek elke week? Hoe reageer ek wanneer iemand te kenne gee dat ek dalk te veel drink? Tree ek verdedigend op of voel ek selfs gegrief?’ As ons toelaat dat ons aan alkohol verslaaf raak, kan dit ’n uitwerking hê op ons vermoë om behoorlik oor iets te redeneer en verstandige besluite te neem. Volgelinge van Christus streef daarna om hulle denkvermoë te bewaar.—Spr. 3:21, 22.

Vermy okkulte gebruike

6, 7. (a) Hoe het Jesus teenoor Satan en die demone opgetree? (b) Waarom is okkulte gebruike vandag so algemeen?

6 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy Satan en die demone ferm teëgestaan. Hy het Satan se regstreekse aanvalle op sy lojaliteit weerstaan (Luk. 4:1-13). Hy het ook subtiele pogings om sy denke en dade te beïnvloed, geïdentifiseer en weerstaan (Matt. 16:21-23). Jesus het verdienstelikes gehelp om van wrede oorheersing deur die demone bevry te word.—Mark. 5:2, 8, 12-15; 9:20, 25-27.

7 Nadat Jesus in 1914 as Koning op die troon geplaas is, het hy die hemele van die verontreinigende invloed van Satan en die demone gereinig. Gevolglik is Satan—nou meer as ooit tevore—daarop uit om “die hele bewoonde aarde [te] mislei” (Op. 12:9, 10). Dit moet ons dus nie verbaas dat belangstelling in die okkulte algemeen is en steeds toeneem nie. Wat kan ons doen om ons te beskerm?

8. Watter selfondersoek moet ons doen in verband met ons keuse van vermaak?

8 Die Bybel waarsku uitdruklik teen die gevare wat met spiritisme verband hou. (Lees Deuteronomium 18:10-12.) Vandag beïnvloed Satan en die demone mense se denke deur middel van rolprente, boeke en elektroniese speletjies wat okkulte gebruike bevorder. Wanneer ons vermaak kies, moet elkeen van ons ons dus afvra: ‘Het ek gedurende die afgelope maande rolprente, TV-programme, elektroniese speletjies, boeke of strokiesverhale oor bonatuurlike kragte as vermaak gekies? Verstaan ek hoe belangrik dit is om okkulte invloede te weerstaan, of maak ek hierdie gevare as onbelangrik af? Het ek al gedink aan hoe Jehovah moontlik oor my keuse van vermaak voel? Sal ek, as ek die deur vir hierdie sataniese invloede oopgemaak het, deur my liefde vir Jehovah en sy regverdige beginsels beweeg word om daadwerklik op te tree en daardie deur toe te slaan?’—Hand. 19:19, 20.

Slaan ag op Jesus se waarskuwing teen onsedelikheid

9. Hoe kan iemand ’n liefde vir wetteloosheid aankweek?

9 Jesus het Jehovah se standaard van geslagsedelikheid gehandhaaf. Hy het gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:4-6). Jesus het geweet dat dít wat ons deur ons oë inneem, ons hart kan beïnvloed. Hy het dus in sy Bergpredikasie gesê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Matt. 5:27, 28). Diegene wat Jesus se waarskuwing verontagsaam, kweek in werklikheid ’n liefde vir wetteloosheid aan.

10. Vertel ’n ondervinding wat toon dat ’n persoon wel van pornografie kan wegbreek.

10 Satan bevorder geslagsonsedelikheid deur middel van pornografie. Die teenswoordige stelsel van dinge is vol daarvan. Diegene wat na pornografie kyk, vind dit moeilik om die onsedelike tonele uit hulle verstand uit te wis. Hulle kan selfs aan pornografie verslaaf raak. Kyk na wat met een Christen gebeur het. Hy sê: “Ek het in die geheim na pornografie gekyk. Ek het ’n fantasiewêreld geskep wat ek gedink het niks te doen het met die wêreld waar ek Jehovah gedien het nie. Ek het geweet dat hierdie gebruik verkeerd is, maar het vir myself gesê dat my diens aan God nog steeds aanneemlik is.” Wat het hierdie broer se beskouing verander? Hy sê: “Al was dit die moeilikste ding wat ek nog ooit gedoen het, het ek besluit om die ouer manne van my probleem te vertel.” Dié broer het uiteindelik van hierdie verlagende gewoonte weggebreek. “Nadat ek my lewe van hierdie sonde gereinig het”, erken hy, “het ek uiteindelik gevoel dat ek werklik ’n skoon gewete het.” Diegene wat wetteloosheid haat, moet leer om pornografie te haat.

11, 12. Hoe kan ons toon dat ons wetteloosheid haat wanneer dit by ons keuse van musiek kom?

11 Musiek en die gepaardgaande lirieke kan ’n sterk invloed uitoefen op ons emosies, en gevolglik op ons figuurlike hart. Musiek is ’n gawe van God en speel al lank ’n rol in ware aanbidding (Eks. 15:20, 21; Ef. 5:19). Maar Satan se goddelose wêreld bevorder musiek wat onsedelikheid verheerlik (1 Joh. 5:19). Hoe weet jy of die musiek waarna jy luister, jou verontreinig of nie?

12 Jy kan begin deur jou af te vra: ‘Verheerlik die liedjies waarna ek luister, moord, egbreuk, hoerery en godslastering? Sal iemand die indruk kry dat ek wetteloosheid haat as ek die lirieke van sekere liedjies vir hom lees, of sal die woorde aandui dat my hart verontreinig is?’ Ons kan nie sê dat ons wetteloosheid haat terwyl ons dit in liedjies verheerlik nie. “Die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart,” het Jesus gesê, “en dié dinge verontreinig ’n mens. Uit die hart kom daar byvoorbeeld goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe.”—Matt. 15:18, 19; vergelyk Jakobus 3:10, 11.

Verkry Jesus se beskouing van diegene wat wetteloosheid liefhet

13. Hoe het Jesus diegene beskou wat verhard geword het in sonde?

13 Jesus het gesê dat hy gekom het om sondaars, of wetteloses, tot berou te roep (Luk. 5:30-32). Maar hoe het hy diegene beskou wat verhard geword het in sondige gedrag? Jesus het ernstige waarskuwings gerig dat ons nie deur hierdie mense beïnvloed moet word nie (Matt. 23:15, 23-26). Hy het ook uitdruklik gesê: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag [wanneer God oordeel voltrek] vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’” Maar hy sal diegene wat wetteloosheid onberouvol beoefen, verwerp en sê: “Gaan weg van my af” (Matt. 7:21-23). Waarom sal hulle hierdie oordeel ontvang? Omdat hulle God oneer aandoen en ander mense deur hulle wettelose gebruike skade berokken.

14. Waarom word onberouvolle sondaars uit die gemeente verwyder?

14 God se Woord beveel dat onberouvolle sondaars uit die gemeente verwyder moet word. (Lees 1 Korintiërs 5:9-13.) Dit is om ten minste drie redes nodig: (1) om te voorkom dat Jehovah se naam gesmaad word, (2) om die gemeente teen verontreiniging te beskerm en (3) om indien moontlik die sondaar te help om berou te toon.

15. Watter belangrike vrae moet ons beantwoord as ons aan Jehovah lojaal wil bly?

15 Het ons dieselfde beskouing as Jesus van diegene wat verhard geword het in hulle wettelose weg? Ons moet oor hierdie vrae nadink: ‘Sal ek kies om gereeld om te gaan met iemand wat uitgesit is of wat hom van die Christengemeente gedissosieer het? Sê nou dit is ’n nabye familielid wat nie meer in die huis woon nie?’ So ’n situasie kan waarlik ons liefde vir regverdigheid en ons lojaliteit aan God op die proef stel. a

16, 17. Voor watter moeilike situasie het ’n Christenmoeder te staan gekom, en wat het haar gehelp om die reëling dat onberouvolle oortreders uitgesit word, te ondersteun?

16 Beskou die ondervinding van ’n suster wie se volwasse seun vroeër in sy lewe lief was vir Jehovah. Maar later het hy gekies om wetteloosheid te beoefen, en hy het nie berou getoon nie. Hy is dus uit die gemeente gesit. Ons suster het Jehovah liefgehad, maar sy het ook haar seun liefgehad, en dit was vir haar baie moeilik om die skriftuurlike bevel te gehoorsaam om nie met hom om te gaan nie.

17 Watter raad sou jy hierdie suster gegee het? ’n Ouer man het haar help besef dat Jehovah haar pyn verstaan. Die broer het haar aangespoor om te dink aan die pyn wat Jehovah ongetwyfeld ervaar het toe party van sy engeleseuns in opstand gekom het. Die ouer man het met haar geredeneer dat Jehovah weet hoe pynlik so ’n situasie kan wees, maar dat hy nogtans vereis dat onberouvolle sondaars uitgesit word. Sy het die herinneringe ter harte geneem en die uitsettingsreëling lojaal ondersteun. b Sulke lojaliteit maak Jehovah se hart bly.—Spr. 27:11.

18, 19. (a) Van watter haat lewer dit bewys as ons ophou omgaan met iemand wat wetteloosheid beoefen? (b) Waartoe kan dit lei as ons lojaal is aan God en sy reëling?

18 As jy voor ’n soortgelyke situasie te staan kom, moet jy asseblief onthou dat Jehovah meegevoel met jou het. Deur op te hou om met die uitgesettene of gedissosieerde om te gaan, toon jy dat jy die gesindhede en dade haat wat tot daardie uiteinde gelei het. Jy toon egter ook dat jy die oortreder lief genoeg het om te doen wat die beste vir hom of haar is. Omdat jy lojaal aan Jehovah is, is dit waarskynliker dat die een wat gedissiplineer is, berou sal toon en tot Jehovah sal terugkeer.

19 Iemand wat uitgesit en later herstel is, het geskryf: “Ek is bly dat Jehovah sy volk lief genoeg het om te sorg dat sy organisasie rein gehou word. Wat miskien vir buitestanders hardvogtig lyk, is noodsaaklik asook werklik liefdevol.” Dink jy dat hierdie persoon gehelp sou word om tot dié slotsom te kom as die gemeentelede, insluitende haar familie, gereeld met haar omgegaan het terwyl sy uitgesit was? Ons ondersteuning van die skriftuurlike uitsettingsreëling lewer bewys daarvan dat ons regverdigheid liefhet en erken dat Jehovah die reg het om gedragstandaarde te stel.

“Haat die kwaad”

20, 21. Waarom is dit belangrik om te leer om wetteloosheid te haat?

20 “Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, waarsku die apostel Petrus. Waarom? Want “julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Pet. 5:8). Sal jy die iemand wees? Baie hang af van die mate waarin jy leer om wetteloosheid te haat.

21 Dit is nie maklik om ’n haat vir die kwaad aan te kweek nie. Ons word in sonde gebore, en ons lewe in ’n wêreld wat vleeslike begeertes bevredig (1 Joh. 2:15-17). Maar as ons Jesus Christus navolg en innige liefde vir Jehovah God aankweek, kan ons leer om wetteloosheid te haat. Laat ons vasbeslote wees om ‘die kwaad te haat’, in die volle vertroue dat Jehovah ‘sy lojales bewaar en hulle uit die hand van die goddeloses verlos’.—Ps. 97:10.

[Voetnote]

a Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp, sien Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 23-28.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat sal ons help om ons gesindheid teenoor alkohol te ondersoek?

• Watter maatreëls kan ons tref om ons teen okkulte gebruike te beskerm?

• Waarom is pornografie gevaarlik?

• Hoe toon ons dat ons wetteloosheid haat wanneer iemand vir wie ons lief is, uitgesit is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Wat moet jy oorweeg as jy besluit om alkohol te drink?

[Prent op bladsy 30]

Pas op vir sataniese invloed in vermaak

[Prent op bladsy 31]

Watter liefde word aangekweek deur iemand wat na pornografie kyk?