Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Heilige gees—Werksaam in die skepping!

Heilige gees—Werksaam in die skepping!

Heilige gees—Werksaam in die skepping!

“Deur die woord van Jehovah is die hemele gemaak, en deur die gees van sy mond hulle hele leër.”—PS. 33:6.

1, 2. (a) Hoe het die mens se kennis van die hemel en die aarde met verloop van tyd toegeneem? (b) Watter vraag moet beantwoord word?

 TOE Albert Einstein in 1905 sy spesiale relatiwiteitsteorie gepubliseer het, het hy en baie ander wetenskaplikes gedink dat die heelal uit net een sterrestelsel—ons Melkweg—bestaan. Hoe het hulle tog die grootte van die heelal onderskat! Die gedagte is nou dat die heelal meer as 100 miljard sterrestelsels bevat, waarvan party uit miljarde sterre bestaan. Aangesien al hoe sterker teleskope op die aarde gebruik of in ’n wentelbaan om die aarde geplaas word, word al hoe meer sterrestelsels ontdek.

2 In 1905 was dit nie net wetenskaplike kennis van die hemel wat beperk was nie, maar ook kennis van die aarde. Mense wat ’n eeu gelede geleef het, het weliswaar meer as hulle voorouers geweet. Maar die prag en ingewikkeldheid van lewe en die aarde se stelsels wat dit onderhou, word vandag baie beter as destyds verstaan. En ons sal ongetwyfeld in die toekoms baie meer oor die aarde en die hemel leer. Maar dit is veral gepas om te vra: Hoe het dit alles in die eerste plek ontstaan? Die antwoord op hierdie vraag kan slegs gevind word omdat die Skepper dit in die Heilige Skrif geopenbaar het.

Die wonder van die skepping

3, 4. Hoe het God die heelal geskep, en hoe strek sy werke hom tot eer?

3 Die openingswoorde van die Bybel verduidelik hoe die heelal ontstaan het: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Gen. 1:1). Jehovah het sy heilige gees—sy magtige werkende krag—gebruik om die fisiese hemel, die aarde en al die ander dinge in die heelal uit niks te skep. ’n Menslike vakman gebruik sy hande en gereedskap om dinge te maak, maar God stuur die heilige gees uit om sy groot werke te verrig.

4 Die Skrif praat in figuurlike sin van die heilige gees as God se “vinger” (Luk. 11:20; Matt. 12:28). En “die werk van sy hande”—wat Jehovah deur middel van sy heilige gees geskep het—strek hom tot groot eer. “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend”, het die psalmis Dawid gesing, “en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps. 19:1). Ja, die fisiese skepping getuig van die ontsagwekkende krag van God se heilige gees (Rom. 1:20). Hoe?

God se onbeperkte krag

5. Lig die skeppingskrag van Jehovah se heilige gees toe.

5 Ons ondenkbare groot heelal lewer bewys dat Jehovah se krag en energie onuitputlik is. (Lees Jesaja 40:26.) Die hedendaagse wetenskap weet dat materie in energie en energie in materie omgesit kan word. Ons son, ’n ster, is ’n voorbeeld van materie wat in energie omgesit word. Die son sit elke sekonde sowat viermiljoen ton materie om in sonlig en ander vorme van stralingsenergie. ’n Klein fraksie van hierdie energie bereik ons, maar dit is voldoende om lewe op die aarde te onderhou. Dit het natuurlik ontsaglike krag en energie geverg om nie net die son te skep nie, maar ook al die ander miljarde sterre. Jehovah besit die energie wat nodig was—en baie meer.

6, 7. (a) Waarom kan ons sê dat God sy heilige gees op ’n ordelike manier gebruik het? (b) Wat toon dat die heelal nie toevallig ontstaan het nie?

6 Ons word omring deur bewyse dat God sy heilige gees op ’n baie ordelike manier gebruik het. Ter toeligting: Veronderstel jy het ’n houer waarin daar balle van verskillende kleure is. Jy skud die houer sodat die verskillende kleure balle deurmekaar is. Dan gooi jy hulle almal tegelykertyd op die grond uit. Sal jy verwag dat die balle van dieselfde kleur bymekaar val—die blou balle bymekaar, die geel balle bymekaar, ensovoorts? Natuurlik nie! Onbeheerde aksies lei gewoonlik tot minder ordelikheid, nie meer nie. Hierdie feit word as ’n grondliggende natuurwet aanvaar. a

7 Maar wat sien ons wanneer ons ons oë en teleskope hemelwaarts rig? Ons vind ’n ontsaglike en baie ordelike stelsel van sterrestelsels, sterre en planete, wat alles met hoë presisie beweeg. Dit kon nie deur die toeval of ’n onbeplande en onbeheerde kosmiese ongeluk teweeggebring word nie. Ons moet dus vra: Watter krag is oorspronklik gebruik om ons ordelike heelal voort te bring? Ons as mense het nie werklik die vermoë om deur wetenskaplike waarneming en eksperimente alleen vas te stel watter krag dit teweeggebring het nie. Maar die Bybel sê dat dit God se heilige gees is, die sterkste krag in die heelal. Die psalmis het gesing: “Deur die woord van Jehovah is die hemele gemaak, en deur die gees van sy mond hulle hele leër” (Ps. 33:6). En ons kan net ’n baie klein deeltjie van hierdie “leër” van sterre met ons oë sien wanneer ons na die naghemel kyk!

Heilige gees en die aarde

8. Hoeveel weet ons werklik omtrent Jehovah se werke?

8 Wat ons nou omtrent die natuur verstaan, is oneindig min in vergelyking met alles wat daar is om te leer. Die getroue man Job het tot die volgende gevolgtrekking gekom oor die omvang van ons kennis omtrent God se skeppingswerke: “Kyk! Dít is die rande van sy weë, en wat ’n fluistering van ’n saak is omtrent hom gehoor!” (Job 26:14). Eeue later het koning Salomo, ’n skerpsinnige waarnemer van Jehovah se skepping, gesê: “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor. Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.”—Pred. 3:11; 8:17.

9, 10. Watter krag het God gebruik toe hy die aarde geskep het, en watter verwikkelinge was daar gedurende die eerste drie skeppingsdae?

9 Maar Jehovah het wel noodsaaklike besonderhede oor sy werke geopenbaar. Die Skrif sê byvoorbeeld vir ons dat God se gees baie eeue gelede op die aarde werksaam was. (Lees Genesis 1:2.) Destyds was daar op die aarde se oppervlak geen droë grond, geen lig en blykbaar geen lug wat ’n mens kon inasem nie.

10 Die Bybel beskryf wat God gedurende opeenvolgende skeppingsdae gedoen het. Dit was nie dae van 24 uur nie, maar was langer tydperke. Op die eerste skeppingsdag het Jehovah lig op die aarde se oppervlak laat begin verskyn. Hierdie proses is voltooi toe die son en maan later vanaf die aarde gesien kon word (Gen. 1:3, 14). Op die tweede dag is daar begin om die atmosfeer te maak (Gen. 1:6). Daar was toe water, lig en lug op die aarde, maar nog geen droë grond nie. Vroeg op die derde skeppingsdag het Jehovah sy heilige gees gebruik om droë grond voort te bring, moontlik deur sterk geologiese kragte in te span wat vastelande uit die wêreldwye see opgestoot het (Gen. 1:9). Daar was ook ander verstommende verwikkelinge op die derde dag en gedurende latere skeppingstydperke.

Heilige gees en lewende wesens

11. Waarvan lewer die ingewikkeldheid, simmetrie en prag van lewende dinge bewys?

11 God se gees het ook op biologiese gebied hoogs georganiseerde skeppingswerke voortgebring. Gedurende die derde tot die sesde skeppingsdae het God deur middel van sy heilige gees ’n verstommende verskeidenheid plante en diere geskep (Gen. 1:11, 20-25). Lewende dinge voorsien dus tallose voorbeelde van ingewikkeldheid, simmetrie en prag wat van ontwerp op die hoogste vlak getuig.

12. (a) Watter funksie verrig DNS? (b) Wat moet ons leer uit die feit dat DNS nog altyd goed werk?

12 Kyk na DNS (deoksiribonukleïensuur), een van die chemiese meganismes wat help om die eienskappe van organismes van een geslag na die volgende oor te dra. Alle lewende dinge op die aarde—waaronder mikrobes, gras, olifante, blouwalvisse en mense—plant met behulp van DNS voort. Hoewel die aarde se wesens hemelsbreed van mekaar verskil, is die kode wat talle van hulle oorgeërfde eienskappe beheer, baie bestendig en het dit deur die eeue heen die onderskeid tussen basiese soorte wesens gehandhaaf. In ooreenstemming met Jehovah God se voorneme hou die aarde se verskillende organismes dus aan om hulle funksies in die ingewikkelde web van die lewe te verrig (Ps. 139:16). Hierdie baie doeltreffende, ordelike reëling lewer verdere bewys dat die skepping die werk van God se “vinger”, of heilige gees, is.

Die hoogtepunt van die aardse skeppingswerke

13. Hoe het God die mens geskep?

13 Nadat baie eeue verloop het en God tallose lewende en lewelose skeppingswerke voortgebring het, was die aarde nie meer “vormloos en woes” nie. Maar Jehovah het toe nog nie sy gees klaar gebruik om te skep nie. Hy het op die punt gestaan om sy hoogste aardse skeppingswerk voort te bring. Teen die einde van die sesde skeppingsdag het God die mens geskep. Hoe het Jehovah dit gedoen? Deur sy heilige gees en die elemente van die aarde te gebruik.—Gen. 2:7.

14. In watter belangrike opsig verskil mense van diere?

14 Genesis 1:27 sê: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep.” Die feit dat ons na God se beeld gemaak is, beteken dat Jehovah ons geskep het met die vermoë om liefde te betoon, wilsvryheid uit te oefen en selfs ’n persoonlike verhouding met ons Skepper op te bou. Ons brein verskil dus grootliks van dié van diere. Jehovah het byvoorbeeld die mensebrein ontwerp sodat ons vir ewig kan aanhou om met vreugde van hom en sy werke te leer.

15. Watter vooruitsig het Adam en Eva gehad?

15 Nadat die mens geskep is, het God die aarde en al die wonders daarvan aan Adam en sy vrou, Eva, gegee om te ondersoek en te geniet (Gen. 1:28). Jehovah het hulle van ’n oorvloed voedsel en ’n paradystuiste voorsien. Hulle het die geleentheid gehad om vir ewig te lewe en die geliefde ouers van miljarde volmaakte nakomelinge te word. Maar dit is nie wat gebeur het nie.

Erken die rol van die heilige gees

16. Watter hoop het ons, al het die eerste mense in opstand gekom?

16 Adam en Eva het hulle Skepper nie uit dankbaarheid gehoorsaam nie, maar het uit selfsug in opstand gekom. Alle onvolmaakte mense het van hulle afgestam en het dus gely. Maar die Bybel verduidelik hoe God al die skade ongedaan sal maak wat deur die sonde van ons eerste ouers veroorsaak is. Die Skrif toon ook dat Jehovah sy oorspronklike voorneme sal verwesenlik. Die aarde sal ’n paradys word, vol gelukkige, gesonde mense wat met die ewige lewe geseën is (Gen. 3:15). Om geloof in daardie hartverblydende vooruitsig te behou, het ons die hulp van God se heilige gees nodig.

17. Watter soort denke moet ons vermy?

17 Ons moet tot Jehovah bid vir heilige gees (Luk. 11:13). As ons dit doen, sal dit help om ons oortuiging te versterk dat die skepping God se handewerk is. Vandag is daar al hoe meer ateïstiese en evolusionistiese propaganda wat op gebrekkige en ongegronde redenasies berus. Ons moenie toelaat dat al hierdie verkeerde idees ons verwar of afskrik nie. Alle Christene moet hulle voorberei om so ’n aanval en die gepaardgaande portuurdruk te weerstaan.—Lees Kolossense 2:8.

18. Waarom sou dit kortsigtig van iemand wees om ’n intelligente Skepper uit te sluit wanneer hy oor die oorsprong van die heelal en die mens nadink?

18 As ’n mens die bewyse ten gunste van die skepping eerlik ondersoek, sal dit beslis jou geloof in die Bybel en in God self versterk. Baie wat oor die oorsprong van die heelal en die mens nadink, wil graag die invloed van enige krag buite die fisiese heelal uitsluit. Maar as ons sake vanuit hierdie oogpunt sou bespreek, sou ons nie al die bewyse onpartydig oorweeg nie. Ons sou boonop die feit ignoreer dat daar beslis ordelike, doelgerigte skeppingswerke “sonder tal” bestaan (Job 9:10; Ps. 104:25). As Christene is ons seker dat die werkende krag wat by die skepping betrokke was, die heilige gees onder Jehovah se intelligente leiding was.

Heilige gees en ons geloof in God

19. Watter bewyse het ons dat God bestaan en dat sy gees werksaam is?

19 Ons hoef nie alles omtrent die skepping te weet om geloof in God sowel as liefde en diepe eerbied vir hom te hê nie. Soos vriendskap met ’n mens is geloof in Jehovah op meer as blote feite gegrond. Net soos ’n verhouding tussen vriende hegter word wanneer hulle mekaar beter leer ken, neem ons geloof in God toe wanneer ons meer van hom leer. Om die waarheid te sê, ons weet vir seker dat hy bestaan wanneer hy ons gebede verhoor en ons sien watter goeie uitwerking dit het wanneer ons sy beginsels in ons lewe toepas. Ons kom al hoe nader aan Jehovah wanneer ons toenemende bewyse sien dat hy ons voetstappe rig, ons beskerm, ons pogings in sy diens seën en in ons behoeftes voorsien. Dit alles is kragtige bevestiging dat God bestaan en dat sy heilige gees werksaam is.

20. (a) Waarom het God die heelal en die mens geskep? (b) Wat sal die resultaat wees as ons aanhou om die leiding van God se heilige gees te volg?

20 Die Bybel is ’n uitstekende voorbeeld van hoe Jehovah sy werkende krag gebruik omdat die skrywers daarvan “uit God gespreek [het] namate hulle deur heilige gees meegevoer is” (2 Pet. 1:21). ’n Noukeurige studie van die Skrif kan ons geloof opbou in God as die een wat alles geskep het (Op. 4:11). Jehovah het die Skepper geword as ’n blyk van sy innemende eienskap liefde (1 Joh. 4:8). Laat ons dus ons uiterste bes doen om ander te help om van ons liefdevolle hemelse Vader en Vriend te leer. As ons aanhou om ons deur God se gees te laat rig, sal ons die voorreg hê om vir ewig van hom te leer (Gal. 5:16, 25). Mag elkeen van ons aanhou om van Jehovah en sy groot werke te leer en die onbeperkte liefde te weerspieël wat hy getoon het toe hy sy heilige gees gebruik het om die hemel, die aarde en die mens te skep.

[Voetnoot]

a Sien bladsye 24 en 25 van die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?

Kan jy verduidelik?

• Wat leer die bestaan van die hemel en die aarde ons omtrent die manier waarop God die heilige gees gebruik?

• Watter geleenthede het ons omdat ons na God se beeld gemaak is?

• Waarom moet ons die bewyse ten gunste van die skepping ondersoek?

• Hoe kan ons verhouding met Jehovah hegter word?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 7]

Wat leer ons omtrent die skepping uit die orde wat ons in die heelal sien?

[Erkenning]

Sterre: Anglo-Australian Observatory/David Malin Images

[Prente op bladsy 8]

Watter rol speel DNS in dit alles?

[Prent op bladsy 10]

Is jy voorbereid om jou geloof te verdedig?