Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy moet regverdigheid met jou hele hart liefhê

Jy moet regverdigheid met jou hele hart liefhê

Jy moet regverdigheid met jou hele hart liefhê

“U het regverdigheid liefgehad.”—PS. 45:7.

1. Wat sal ons help om in “die spore van regverdigheid” te wandel?

 DEUR middel van sy Woord en sy heilige gees lei Jehovah sy volk in “die spore van regverdigheid” (Ps. 23:3). Maar aangesien ons onvolmaak is, is ons geneig om van hierdie pad af te wyk. Dit verg doelbewuste inspanning om weer te begin doen wat reg is. Wat sal ons help om sukses te behaal? Soos Jesus, moet ons lief wees daarvoor om te doen wat reg is.—Lees Psalm 45:7.

2. Wat is “die spore van regverdigheid”?

2 Wat is “die spore van regverdigheid”? ’n Spoor kan na ’n voetpaadjie verwys. Hierdie “spore” word deur Jehovah se standaard van regverdigheid bepaal. In Hebreeus en Grieks verwys “regverdigheid” na wat “regskape” is, en dit dui daarop dat ’n mens streng by sedelike beginsels bly. Aangesien Jehovah “die woonplek van regverdigheid” is, vertrou sy aanbidders met graagte op hom om te bepaal wat die sedelik regskape pad is wat hulle moet volg.—Jer. 50:7.

3. Hoe kan ons meer van God se regverdigheid leer?

3 Ons sal God net ten volle kan behaag as ons met ons hele hart daarna streef om volgens sy regverdige standaarde te lewe (Deut. 32:4). Ons begin hiermee deur alles moontlik van Jehovah God uit sy Woord, die Bybel, te leer. Hoe meer ons van hom leer en elke dag nader aan hom kom, hoe meer sal ons sy regverdigheid liefhê (Jak. 4:8). Ons moet ook die leiding van God se geïnspireerde Woord aanvaar wanneer ons belangrike besluite in die lewe moet neem.

Soek God se regverdigheid

4. Wat behels dit om God se regverdigheid te soek?

4 Lees Matteus 6:33. Om God se regverdigheid te soek, behels meer as om tyd aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te bestee. As ons wil hê dat ons heilige diens vir Jehovah aanneemlik moet wees, moet ons gedrag van dag tot dag in ooreenstemming met sy hoë standaarde wees. Wat moet almal doen wat Jehovah se regverdigheid soek? Hulle moet hulle “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”.—Ef. 4:24.

5. Wat sal ons help om mismoedigheid te bowe te kom?

5 Terwyl ons daarna streef om God se regverdige standaarde na te leef, word ons dalk soms mismoedig weens ons tekortkominge. Wat kan ons help om mismoedigheid wat ons kragteloos maak, te bowe te kom en te leer om regverdigheid lief te hê en te beoefen? (Spr. 24:10). Ons moet Jehovah gereeld in gebed nader “met ’n waaragtige hart . . . in die volle versekerdheid van die geloof” (Heb. 10:19-22). Hetsy ons gesalfde Christene is of ’n aardse hoop het, ons beoefen geloof in die losprysoffer van Jesus Christus en in sy diens as ons groot Hoëpriester (Rom. 5:8; Heb. 4:14-16). Die doeltreffendheid van Jesus se vergote bloed is in die heel eerste nommer van hierdie tydskrif toegelig (1 Joh. 1:6, 7). Die artikel het gesê: “Dit is ’n feit dat ’n mens, wanneer jy in die lig deur ’n rooi glas na ’n skarlaken of karmosyn voorwerp kyk, dit wit lyk; hoewel ons sondes soos skarlaken of karmosyn is, sal dit dus as wit gereken word wanneer God deur die bloed van Christus daarna kyk” (Julie 1879, bl. 6). Wat ’n wonderlike voorsiening het Jehovah tog vir ons deur die losprysoffer van sy geliefde Seun gemaak!—Jes. 1:18.

Gaan jou geestelike wapenrusting na

6. Waarom is dit van die allergrootste belang dat ons ons geestelike wapenrusting nagaan?

6 Ons moet te alle tye “die borsplaat van regverdigheid” aanhê, want dit is ’n noodsaaklike deel van die geestelike wapenrusting van God (Ef. 6:11, 14). Hetsy ons ons onlangs aan Jehovah toegewy het of al dekades lank heilige diens verrig, dit is van die allergrootste belang dat ons elke dag ons geestelike wapenrusting nagaan. Waarom? Omdat die Duiwel en sy demone na die omgewing van die aarde neergewerp is (Op. 12:7-12). Satan is woedend, en hy weet dat sy tyd beperk is. Hy het dus sy aanvalle op God se volk verskerp. Besef ons hoe belangrik dit is om “die borsplaat van regverdigheid” aan te hê?

7. Hoe sal ons optree as ons besef dat ons “die borsplaat van regverdigheid” nodig het?

7 ’n Borsplaat beskerm die fisiese hart. Weens ons onvolmaaktheid is ons figuurlike hart geneig om verraderlik en desperaat te wees (Jer. 17:9). Aangesien ons hart geneig is om te doen wat verkeerd is, is dit noodsaaklik dat dit opgelei en gedissiplineer word (Gen. 8:21). As ons besef dat ons “die borsplaat van regverdigheid” nodig het, sal ons dit nie tydelik verwyder deur vermaak te kies wat God haat nie; ons sal ook nie fantaseer oor hoe ons oortredings begaan nie. Ons sal nie baie van ons kosbare tyd verkwis deur televisie te kyk nie. Ons sal eerder aanhou stry om te doen wat Jehovah behaag. Al struikel ons deur vir ’n oomblik aan onregverdige vleeslike denke toe te gee, sal ons met Jehovah se hulp weer opstaan.—Lees Spreuke 24:16.

8. Waarom het ons “die groot skild van geloof” nodig?

8 Nog ’n deel van ons geestelike wapenrusting is “die groot skild van geloof”. Dit stel ons in staat om “al die brandende pyle van die bose [te] blus” (Ef. 6:16). En geloof en hartgrondige liefde vir Jehovah help ons om regverdigheid te beoefen en op die weg na die ewige lewe te bly. Hoe meer ons leer om Jehovah lief te hê, hoe meer sal ons sy regverdigheid waardeer. Maar wat van ons gewete? Hoe help dit ons in ons pogings om regverdigheid lief te hê?

Behou ’n goeie gewete

9. Hoe vind ons daarby baat om ’n goeie gewete te behou?

9 By ons doop het ons ’n versoek tot Jehovah gerig om “’n goeie gewete” (1 Pet. 3:21). Omdat ons geloof in die losprys beoefen, bedek die bloed van Jesus ons sondes en geniet ons dus ’n rein posisie voor God. Maar om in ’n geredde toestand te bly, moet ons ’n goeie gewete behou. As ons gewete ons soms beskuldig en waarskuwings rig, moet ons dankbaar wees dat dit behoorlik werk. Hierdie prikkels toon dat ons gewete nie afgestomp geraak het ten opsigte van Jehovah se regverdige weë nie (1 Tim. 4:2). Maar die gewete kan ’n bykomende rol speel vir diegene wat regverdigheid wil liefhê.

10, 11. (a) Vertel ’n ondervinding wat toon waarom ons op ons Bybelopgeleide gewete moet ag slaan. (b) Waarom kan ’n liefde vir regverdigheid ons groot vreugde verskaf?

10 Wanneer ons doen wat verkeerd is, sal ons gewete ons moontlik veroordeel of kwel. ’n Jong persoon het van “die spore van regverdigheid” afgewyk. Hy het aan pornografie verslaaf geraak en dagga begin rook. Hy het skuldig gevoel wanneer hy vergaderinge bygewoon het en het soos ’n huigelaar gevoel wanneer hy velddiens gedoen het, en daarom het hy opgehou om aan hierdie Christelike bedrywighede deel te neem. “Maar”, het hy gesê, “ek het nie besef dat my gewete my vir my dade aanspreeklik sou hou nie.” Hy het bygevoeg: “Ek het omtrent vier jaar lank hierdie dwase weg gevolg.” Toe het hy daaraan begin dink om na die waarheid terug te keer. Hoewel hy gedink het dat Jehovah nie na sy gebed sal luister nie, het hy nietemin gebid en om vergifnis gevra. Minder as tien minute daarna het sy ma hom besoek en hom aangespoor om weer die vergaderinge by te woon. Hy het na die Koninkryksaal gegaan en ’n ouer man gevra om met hom te studeer. Hy is mettertyd gedoop, en hy is dankbaar teenoor Jehovah dat Hy sy lewe gered het.

11 Het ons nie al gevind dat ons groot vreugde kan smaak as ons doen wat reg is nie? Wanneer ons leer om regverdigheid lief te hê en dit in groter mate te beoefen, sal dit ons meer vreugde verskaf om te doen wat ons hemelse Vader behaag. En dink net daaraan! Die dag sal aanbreek wanneer alle mense net vreugde weens hulle gewete sal ervaar; hulle sal God se beeld volmaak weerspieël. Laat ons dus nou ’n liefde vir regverdigheid diep in ons hart inprent en Jehovah bly maak.—Spr. 23:15, 16.

12, 13. Hoe kan ons ons gewete oplei?

12 Hoe kan ons ons gewete oplei? Wanneer ons die Skrif en ons Bybelpublikasies bestudeer, is dit belangrik om te onthou dat “die hart van die regverdige [nadink] sodat hy kan antwoord” (Spr. 15:28). Dink hoe dít ons kan help wanneer ons voor vrae in verband met sekulêre werk te staan kom. As dit duidelik is dat ’n sekere soort werk in stryd met skriftuurlike vereistes is, reageer die meeste van ons gou op die riglyne wat die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien. Maar wanneer die antwoord op ’n vraag oor sekulêre werk nie duidelik is nie, moet ons op Bybelbeginsels let en dit biddend oorweeg. a Dit geld vir beginsels soos dat ons nie die gewete van ander moet kwets nie (1 Kor. 10:31-33). Ons moet veral besorg wees oor beginsels in verband met ons verhouding met God. As Jehovah vir ons ’n werklike persoon is, sal ons ons allereers afvra: ‘Sal ek Jehovah gekrenk laat voel en hom bedroef as ek hierdie werk doen?’—Ps. 78:40, 41.

13 Wanneer ons vir die Wagtoring-studie of die Gemeentelike Bybelstudie voorberei, moet ons in gedagte hou dat ons oor hierdie inligting moet peins. Vind ons dat ons altyd gou die antwoord op ’n studievraag onderstreep en dan na die volgende paragraaf oorgaan? Hierdie studiesessies sal waarskynlik nie ons liefde vir regverdigheid versterk of ons gewete gevoelig maak nie. As ons regverdigheid wil liefkry, moet ons ywerig studeer en peins oor wat ons in God se geskrewe Woord lees. Daar is geen kortpaaie as ons wil leer om regverdigheid met ons hele hart lief te hê nie!

Honger en dors na regverdigheid

14. Hoe wil Jehovah God en Jesus Christus hê moet ons oor ons heilige diens voel?

14 Jehovah God en Jesus Christus wil hê dat ons gelukkig moet wees terwyl ons ons heilige diens verrig. Wat sal tot ons geluk bydra? ’n Liefde vir regverdigheid! Jesus het in die Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is dié wat honger en dors na regverdigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). Wat beteken hierdie woorde vir diegene wat regverdigheid wil liefhê?

15, 16. Hoe kan geestelike honger en dors bevredig word?

15 Die wêreld waarin ons lewe, het die bose as heerser (1 Joh. 5:19). As ons in enige land ’n koerant lees, vind ons berigte van wreedheid en geweld op ’n ongeëwenaarde skaal. Dit is vir ’n regverdige persoon ontstellend wanneer hy aan mense se onmenslikheid teenoor mekaar dink (Pred. 8:9). As mense wat Jehovah liefhet, weet ons dat net hy die geestelike honger en dors kan bevredig van diegene wat regverdigheid wil leer. Die goddeloses sal binnekort uitgeroei word, en liefhebbers van regverdigheid sal nie meer die benoudheid ervaar wat deur wettrotserende mense en hulle bose dade veroorsaak word nie (2 Pet. 2:7, 8). Wat ’n verligting sal dit tog wees!

16 As Jehovah se knegte en volgelinge van Jesus Christus besef ons dat almal wat na regverdigheid honger en dors, ‘versadig sal word’. Hulle sal ten volle bevredig word deur God se reëling van die nuwe hemele en die nuwe aarde waarin ‘regverdigheid sal woon’ (2 Pet. 3:13). Ons moet dus nie moed verloor of verbaas wees dat onderdrukking en geweld in hierdie sataniese wêreld regverdigheid verdring het nie (Pred. 5:8). Jehovah, die Allerhoogste, weet van alles wat gebeur en sal liefhebbers van regverdigheid binnekort verlos.

Vind daarby baat om regverdigheid lief te hê

17. Hoe vind ons daarby baat om regverdigheid lief te hê?

17 Psalm 146:8 vestig die aandag op ’n uitsonderlike voordeel daarvan om op die pad van regverdigheid te wandel. Die psalmis het gesing: “Jehovah het die regverdiges lief.” Dink net daaraan! Die Soewerein van die heelal het ons lief omdat ons regverdigheid liefhet! Weens Jehovah se liefde is ons vol vertroue dat hy in ons behoeftes sal voorsien as ons aanhou om Koninkryksbelange eerste in ons lewe te stel. (Lees Psalm 37:25; Spreuke 10:3.) Uiteindelik sal liefhebbers van regverdigheid die hele aarde bewoon (Spr. 13:22). Die meeste van God se knegte sal met wonderlike vreugde en eindelose lewe in ’n pragtige aardse paradys beloon word omdat hulle regverdigheid beoefen het. Diegene wat God se regverdigheid liefhet, word nou reeds beloon met innerlike vrede wat bydra tot eenheid in hulle gesin en in hulle gemeente.—Fil. 4:6, 7.

18. Wat moet ons aanhou doen terwyl ons op Jehovah se dag wag?

18 Terwyl ons op die koms van die groot dag van Jehovah wag, moet ons aanhou om sy regverdigheid te soek (Sef. 2:2, 3). Laat ons dus opregte liefde vir Jehovah God se regverdige weë openbaar. Dit sluit in dat ons “die borsplaat van regverdigheid” stewig in sy plek hou sodat dit ons figuurlike hart beskerm. Ons moet ook ’n goeie gewete behou—een wat ons vreugde sal verskaf en ons God se hart sal bly maak.—Spr. 27:11.

19. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kron. 16:9). Hoe vertroostend is hierdie woorde tog vir ons terwyl ons doen wat reg is ondanks die toenemende onbestendigheid, geweld en goddeloosheid in hierdie wêreld vol probleme! Die mensemassa wat van God vervreemd is, vind dit dalk moeilik om ons regverdige weë te begryp. Maar ons bevoordeel onsself grootliks deur Jehovah se regverdigheid te bly beoefen (Jes. 48:17; 1 Pet. 4:4). Laat ons dan, met ’n volkome hart, vasbeslote wees om voortdurend genot daaruit te put om regverdigheid met ons hele hart lief te hê en te beoefen. Maar om ’n volkome hart te hê, sluit ook in dat ons wetteloosheid haat. Die volgende artikel sal vir ons wys wat dit beteken.

[Voetnoot]

a Vir ’n bespreking van Bybelbeginsels in verband met vrae oor sekulêre werk, sien Die Wagtoring van 15 April 1999, bladsye 28-30.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom moet ’n mens die losprys waardeer as jy regverdigheid wil liefhê?

• Waarom is dit noodsaaklik dat ons “die borsplaat van regverdigheid” aanhet?

• Hoe kan ons ons gewete oplei?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

’n Opgeleide gewete help ons om besluite in verband met sekulêre werk te neem