Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande”

“Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande”

“Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande”

DIE eerste koning van eertydse Israel was Saul. Al is hy deur die ware God gekies, het Saul later ongehoorsaam geword.

Watter oortredings het Saul begaan? Kon hy dit vermy het? Hoe kan ons daarby baat vind om sy voorbeeld te bespreek?

Jehovah maak bekend wie hy as koning gekies het

Voordat Saul koning geword het, het die profeet Samuel as God se verteenwoordiger in Israel gedien. Maar nou was Samuel oud, en sy seuns was ontrou. Die nasie is ook deur hulle vyande bedreig. Toe die ouer manne van Israel Samuel gevra het om ’n koning oor hulle aan te stel wat hulle kon rig en voor hulle kon uittrek in die geveg, het Jehovah die profeet beveel om Saul as leier te salf en gesê: “Hy sal my volk uit die hand van die Filistyne red.”—1 Sam. 8:4-7, 20; 9:16.

Saul was “jonk en aantreklik”. Maar sy voorkoms was nie al wat hom aanbeveel het nie. Hy was ook nederig. Saul het Samuel byvoorbeeld gevra: “Is ek nie ’n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel, en my familie die onbeduidendste van al die families van die stam Benjamin nie? Waarom het u dan so iets vir my gesê?” Saul het ’n beskeie beskouing van homself en sy familie gehad, al was sy vader, Kis, “’n baie ryk man”.—1 Sam. 9:1, 2, 21.

Dink ook aan Saul se reaksie toe Samuel vir die volk gesê het wie Jehovah as koning van Israel gekies het. Samuel het Saul aanvanklik gesalf toe hulle alleen was en vir hom gesê: “Doen wat jou hand moontlik vind, want die ware God is met jou.” Daarna het die profeet die volk bymekaargeroep om vir hulle te sê wie Jehovah gekies het. Maar toe Saul aangewys is, kon hy nêrens gevind word nie. Omdat Saul skaam was, het hy weggekruip. Jehovah het aangedui waar hy is, en Saul is tot koning uitgeroep.—1 Sam. 10:7, 20-24.

Op die slagveld

Saul het kort voor lank almal verkeerd bewys wat aan sy bevoegdheid getwyfel het. Toe die Ammoniete ’n Israelitiese dorp bedreig het, het “die gees van God . . . oor Saul werksaam geword”. Hy het met gesag die nasie se krygsmanne byeengeroep, hulle georganiseer en hulle na die oorwinning gelei. Maar Saul het sy oorwinning aan God toegeskryf en gesê: “Vandag het Jehovah redding in Israel bewerk.”—1 Sam. 11:1-13.

Saul het goeie eienskappe gehad en God se seën geniet. Hy het ook Jehovah se krag erken. Maar die volgehoue sukses van die Israeliete en hulle koning het van ’n baie belangrike faktor afgehang. Samuel het vir die volk Israel gesê: “As julle Jehovah vrees en hom dien en sy stem gehoorsaam en nie teen die bevel van Jehovah in opstand kom nie, sal julle sowel as die koning wat oor julle sal regeer, beslis volgelinge van Jehovah julle God wees.” Waarvan kon die Israeliete seker wees as hulle aan God getrou gebly het? “Jehovah sal sy volk ter wille van sy groot naam nie verstoot nie”, het Samuel gesê, “omdat Jehovah self besluit het om julle sy volk te maak.”—1 Sam. 12:14, 22.

Gehoorsaamheid was noodsaaklik om God se goedkeuring te geniet, en dit is nog steeds die geval. Wanneer Jehovah se knegte sy bevele gehoorsaam, seën hy hulle. Maar sê nou hulle is ongehoorsaam aan Jehovah?

“Jy het dwaas opgetree”

Toe Saul weer teen die Filistyne optrek, het dit ’n sterk reaksie by hulle uitgelok. ’n Leër “so talryk soos die sandkorrels wat aan die seestrand is”, het teen Saul opgetrek. “Die manne van Israel het gesien dat hulle in groot nood verkeer, want die volk was onder groot druk; en die volk het in die grotte en die gate en die kranse en die kelders en die waterputte gaan wegkruip” (1 Sam. 13:5, 6). Wat sou Saul doen?

Samuel het vir Saul gesê dat hy hom by Gilgal moet ontmoet, waar die profeet offerandes sou bring. Saul het gewag, maar Samuel het nie binne die vasgestelde tyd gekom nie, en Saul se leër het van hom af verstrooid geraak. Saul het dit dus op hom geneem om die offerandes te bring. Net nadat hy dit gedoen het, het Samuel daar aangekom. Toe hy hoor wat Saul gedoen het, het Samuel vir hom gesê: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die gebod van Jehovah jou God onderhou wat hy jou beveel het nie, want as jy het, sou Jehovah jou koninkryk tot onbepaalde tyd oor Israel bevestig het. En nou sal jou koninkryk nie standhou nie. Jehovah sal beslis vir hom ’n man na sy hart vind; en Jehovah sal hom as ’n leier oor sy volk aanstel, omdat jy nie onderhou het wat Jehovah jou beveel het nie.”—1 Sam. 10:8; 13:8, 13, 14.

Weens ’n gebrek aan geloof het Saul vermetel gekies om ongehoorsaam te wees aan God se bevel om vir Samuel te wag om die offerande te bring. Hoe het Saul se optrede tog verskil van dié van Gideon, ’n voormalige bevelvoerder van Israel se leërs! Jehovah het Gideon beveel om sy leër van 32 000 tot 300 te verminder, en Gideon was gehoorsaam. Waarom? Omdat hy geloof in Jehovah gehad het. Met God se hulp het hy 135 000 invallers verslaan (Rigt. 7:1-7, 17-22; 8:10). Jehovah sou Saul ook gehelp het. Maar omdat Saul ongehoorsaam was, het die Filistyne Israel geplunder.—1 Sam. 13:17, 18.

Hoe neem ons besluite wanneer ons voor probleme te staan kom? Vanuit die oogpunt van diegene wat ’n gebrek aan geloof het, lyk dit dalk of dit prakties is om goddelike beginsels te verontagsaam. Toe Samuel nie daar was nie, het Saul moontlik gedink dat hy verstandig opgetree het. Maar vir diegene wat vasbeslote is om God se goedkeuring te geniet, is die toepassing van Bybelbeginsels wat in die betrokke geval geld die enigste regte weg.

Jehovah verwerp Saul

Tydens ’n kampanje teen die Amalekiete het Saul hom aan nog ’n ernstige oortreding skuldig gemaak. God het die volk van Amalek veroordeel omdat hulle die Israeliete ná die uittog uit Egipte sonder rede aangeval het (Eks. 17:8; Deut. 25:17, 18). En gedurende die tyd van die rigters het die Amalekiete, tesame met ander nasies, God se uitverkore volk weer aangeval (Rigt. 3:12, 13; 6:1-3, 33). Jehovah het dus van die Amalekiete rekenskap geëis en Saul beveel om oordeel teen hulle te voltrek.—1 Sam. 15:1-3.

Saul het nie Jehovah se bevel gehoorsaam om die vyandige Amalekiete te verdelg en hulle besittings te vernietig nie, maar hy het eerder hulle koning gevange geneem en hulle beste diere gehou. Wat het gebeur toe Samuel Saul se optrede bevraagteken het? Saul het die skuld op iemand anders probeer afskuif deur te sê: “Die manskappe het medelye gehad met die beste van die kleinvee en van die beeste, om aan Jehovah u God offerandes te bring.” Hetsy Saul werklik van plan was om die diere te offer of nie, hy was ongehoorsaam. Saul was nie meer so ‘klein in sy eie oë’ nie. God se profeet het dus daarop gewys dat Saul ongehoorsaam aan God was. Samuel het toe gesê: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande . . . Aangesien jy die woord van Jehovah verwerp het, verwerp hy jou ook as koning.”—1 Sam. 15:15, 17, 22, 23.

Toe Jehovah sy heilige gees en seën van Saul weggeneem het, het “’n slegte gees” Israel se eerste koning begin oorheers. Saul se gesindheid is van toe af gekenmerk deur wantroue en jaloesie teenoor Dawid—’n man aan wie Jehovah later die koningskap sou gee. Saul het Dawid meer as een keer probeer doodmaak. Omdat Saul gesien het dat “Jehovah met Dawid was”, sê die Bybel, het “Saul . . . vir altyd ’n vyand van Dawid geword”. Saul het hom agtervolg en het selfs beveel dat 85 priesters en ander mense doodgemaak word. Dit is geen wonder dat Jehovah Saul verlaat het nie!—1 Sam. 16:14; 18:11, 25, 28, 29; 19:10, 11; 20:32, 33; 22:16-19.

Toe die Filistyne Israel weer aanval, het Saul hom tot spiritisme gewend in ’n tevergeefse poging om hulp te kry. Hy is die volgende dag swaar gewond in die geveg en het selfmoord gepleeg (1 Sam. 28:4-8; 31:3, 4). Die Skrif sê van Israel se ongehoorsame eerste koning: “Saul [het] gesterf weens sy ontrouheid waarmee hy troueloos teenoor Jehovah gehandel het met betrekking tot die woord van Jehovah wat hy nie onderhou het nie en ook omdat hy ’n geestemedium gevra het om navraag te doen. En hy het Jehovah nie geraadpleeg nie.”—1 Kron. 10:13, 14.

Saul se slegte voorbeeld toon duidelik dat dit beter is om aan Jehovah gehoorsaam te wees as om ’n offerande aan hom te bring. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat ons sy gebooie bewaar; en tog is sy gebooie nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Mag ons nooit hierdie grondwaarheid uit die oog verloor nie: Blywende vriendskap met God hang af van ons gehoorsaamheid aan hom.

[Prent op bladsy 21]

Aanvanklik was Saul ’n nederige leier

[Prent op bladsy 23]

Waarom het Samuel vir Saul gesê: “Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande”?