Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy werklik jou seëninge?

Waardeer jy werklik jou seëninge?

Waardeer jy werklik jou seëninge?

NADAT die kinders van Israel wonderdadig uit slawerny in Egipte bevry is, was hulle aanvanklik verheug omdat hulle vry was om Jehovah te aanbid (Eks. 14:29–15:1, 20, 21). Maar kort daarna het hulle beskouing verander. Hulle het oor hulle lewenslot begin kla. Waarom? Omdat hulle nie meer hulle aandag gevestig het op wat Jehovah vir hulle gedoen het nie, maar op die ongerief van die lewe in die wildernis. Hulle het vir Moses gesê: “Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om in die wildernis te sterf? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel het ’n afsku gekry van die veragtelike brood [manna].”—Num. 21:5.

Eeue later het koning Dawid van eertydse Israel gesing: “Wat my betref, op u liefderyke goedhartigheid het ek vertrou; laat my hart bly wees in u redding. Ek wil sing tot Jehovah, want hy het aan my goed gedoen” (Ps. 13:5, 6). Dawid het nie Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid teenoor hom vergeet nie. Inteendeel, hy het gereeld daaroor gepeins (Ps. 103:2). Jehovah het aan ons ook goed gedoen, en ons sal verstandig wees as ons dít wat hy vir ons gedoen het, nie as vanselfsprekend aanneem nie. Kom ons bespreek dan party van God se seëninge wat ons vandag geniet.

“Intimiteit met Jehovah”

Die psalmis het gesing: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees” (Ps. 25:14). Dit is beslis vir onvolmaakte mense ’n voorreg om ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah te hê! Maar sê nou ons raak so behep met die alledaagse aangeleenthede van die lewe dat ons minder tyd as voorheen aan gebed bestee? Dink aan wat dan met ons goeie verhouding met Jehovah sal gebeur. As ons Vriend verwag Jehovah van ons om op hom te vertrou en in gebed ons hart voor hom uit te stort deur hom van ons vrese, begeertes en sorge te vertel (Spr. 3:5, 6; Fil. 4:6, 7). Moet ons dan nie aan die gehalte van ons gebede aandag gee nie?

Toe ’n jong Getuie met die naam Paul oor sy gebede dink, het hy besef dat hy dit moet verbeter. a Hy het gesê: “Ek het in die gewoonte verval om dieselfde woorde oor en oor te gebruik wanneer ek tot Jehovah bid.” Terwyl Paul in die Watch Tower Publications Index navorsing hieroor gedoen het, het hy uitgevind dat daar ongeveer 180 gebede in die Bybel opgeteken is. In hierdie gebede het Jehovah se eertydse knegte hulle diepste gevoelens uitgespreek. Paul het gesê: “Deur oor hierdie Bybelse voorbeelde te peins, het ek geleer om spesifiek te wees in my gebede. Dit het my gehelp om my hart voor Jehovah uit te stort. Nou verskaf dit my vreugde om in gebed nader aan hom te kom.”

“Voedsel op die regte tyd”

Nog ’n seën wat ons van Jehovah ontvang het, is al die skriftuurlike waarhede. Aangesien ons ’n oorvloed geestelike voedsel geniet, kan ons met “vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart” (Jes. 65:13, 14). Maar ons moenie toelaat dat skadelike invloede ons ons geesdrif vir die waarheid laat verloor nie. As ons byvoorbeeld aan afvallige propaganda aandag skenk, kan dit ons denke vertroebel en ons verblind vir die waarde van die geestelike “voedsel op die regte tyd” wat Jehovah deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” voorsien.—Matt. 24:45-47.

André, wat Jehovah jare lank gedien het, het die verskriklike ondervinding gehad om deur afvallige denke mislei te word. Hy het gedink dat dit nie gevaarlik sou wees om net vinnig na ’n afvallige webwerf te kyk nie. Hy vertel: “Aanvanklik het ek gehou van die sogenaamde waarhede waarvan die afvalliges gepraat het. Hoe meer ek ondersoek ingestel het na wat hulle gesê het, hoe meer het ek begin dink dat ek goeie rede het om Jehovah se organisasie te verlaat. Maar later, toe ek navorsing gedoen het oor die afvalliges se redenasies teen Jehovah se Getuies, het ek besef hoe slinks die valse onderrigters was. Hulle ‘oortuigende bewyse’ teen ons was inligting wat uit verband geruk is. Ek het dus besluit om weer ons publikasies te begin lees en die vergaderinge by te woon. Ek het gou besef hoeveel ek misgeloop het.” André het gelukkig na die gemeente teruggekeer.

“Die hele gemeenskap van broers”

Ons liefdevolle, verenigde broederskap is ’n seën van Jehovah (Ps. 133:1). Die apostel Petrus het tereg geskryf: “Wees lief vir die hele gemeenskap van broers” (1 Pet. 2:17). Aangesien ons deel van die Christenbroederskap uitmaak, geniet ons die hartlikheid van ondersteunende geestelike vaders, moeders, broers en susters wat soos ons glo.—Mark. 10:29, 30.

Maar verskillende omstandighede kan soms veroorsaak dat ons verhouding met ons broers en susters gespanne is. Dit is byvoorbeeld maklik om kwaad te word oor die onvolmaakthede van iemand en krities teenoor hom te wees. Sal dit nie in so ’n geval help om te onthou dat Jehovah sy knegte ondanks hulle onvolmaakthede liefhet nie? En “as ons die bewering maak: ‘Ons het geen sonde nie’, mislei ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh. 1:8). Moet ons nie daarna streef om aan te hou om “mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe” nie?—Kol. 3:13.

’n Meisie met die naam Ann het die waarde van Christelike omgang deur bittere ervaring geleer. Sy het in sekere opsigte soos die verlore seun van Jesus se illustrasie opgetree en van die Christengemeente weggedryf. Later het sy tot haar sinne gekom en na die waarheid teruggekeer (Luk. 15:11-24). Wat het Ann uit hierdie ondervinding geleer? Sy vertel: “Noudat ek na Jehovah se organisasie teruggekeer het, waardeer ek al my broers en susters ondanks hulle onvolmaakthede. Voorheen het ek hulle maklik gekritiseer. Maar nou is ek vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets my die seëninge ontneem wat ek tussen medegelowiges geniet nie. Daar is niks in die wêreld wat die moeite werd is om ons geestelike paradys voor te verlaat nie.”

Wees altyd dankbaar vir jou seëninge

Ons hoop op God se Koninkryk as die oplossing vir al die mensdom se probleme is van onskatbare waarde. Hoe het ons hart tog geswel van waardering toe ons aanvanklik hierdie hoop verkry het! Ons het soos die koopman in Jesus se gelykenis gevoel wat “alles verkoop [het] wat hy gehad het” om “een pêrel van groot waarde” te koop (Matt. 13:45, 46). Jesus het nie gesê dat die koopman ooit sy waardering vir die pêrel verloor het nie. Ons moet ook nooit ons waardering vir ons wonderlike hoop verloor nie.—1 Tess. 5:8; Heb. 6:19.

Kyk na die voorbeeld van Jean, wat Jehovah al meer as 60 jaar lank dien. Sy sê: “Wat my gehelp het om God se Koninkryk in gedagte te hou, is om met ander daaroor te praat. Wanneer ek die blydskap in hulle oë sien omdat hulle verstaan wat die Koninkryk is, het dit ’n goeie uitwerking op my. Wanneer ek sien watter verskil Koninkrykswaarheid in die lewe van ’n Bybelstudent maak, laat dit my dink: ‘Watter wonderlike waarhede het ek tog om ander van te vertel!’”

Ons het goeie redes om dankbaar te wees vir al die geestelike seëninge wat ons geniet. Hoewel ons dalk met beproewinge soos teenstand, siekte, bejaardheid, depressie, die dood van ’n geliefde en ekonomiese probleme te kampe het, weet ons dat dit tydelik is. Onder God se Koninkryk sal ons nie net geestelike seëninge geniet nie, maar ook fisiese seëninge. Enige lyding wat ons nou verduur, sal in die nuwe stelsel van dinge tot die verlede behoort.—Op. 21:4.

Laat ons intussen ons geestelike seëninge tel en soortgelyke waardering toon as die psalmis wat gesing het: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons; niemand kan met u vergelyk word nie. Sou ek geneig wees om dit te verkondig en daaroor te praat, het dit te talryk geword om te vertel.”—Ps. 40:5.

[Voetnoot]

a Name is verander.

[Prent op bladsy 18]

Ons word geseën met geestelike ondersteuning in tye van beproewing