Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy het rede tot blydskap

Jy het rede tot blydskap

Jy het rede tot blydskap

DIE skepping getuig van organisasie, van die kleinste lewende sel tot ontsaglike sterrestelsels wat in swerms en superswerms gegroepeer is. Dit verbaas ons glad nie, want die Skepper “is nie ’n God van wanorde nie” (1 Kor. 14:33). God se reëling vir aanbidding is ook indrukwekkend. Dink aan wat Jehovah al gedoen het. Hy het een universele organisasie gevorm uit honderdmiljoene intelligente skepsele—mense sowel as engele—wat wilsvryheid het en in aanbidding verenig is. Hoe wonderlik is dit tog!

In eertydse Israel is die aardse deel van God se organisasie afgebeeld deur Jerusalem, waar Jehovah se tempel geleë was en sy gesalfde koning gewoon het. ’n Israelitiese gevangene in Babilon het sy gevoelens oor die heilige stad soos volg uitgedruk: “Laat my tong aan my verhemelte kleef as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoofrede tot blydskap nie.”—Ps. 137:6.

Is dit hoe jy oor God se hedendaagse organisasie voel? Verskaf dit jou meer vreugde as enigiets anders? Verstaan jou kinders die geskiedenis en werking van die aardse deel van God se organisasie? Waardeer hulle die feit dat hulle deel is van ’n wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies? (1 Pet. 2:17). Pas gerus die volgende wenke tydens julle aand vir Gesinsaanbidding toe om julle gesin se waardering vir Jehovah se organisasie te vergroot.

Vertel van “die dae van lank gelede”

Israelitiese gesinne het elke jaar bymekaargekom om die Pasga te vier. Toe die fees ingestel is, het Moses die volk beveel: “As jou seun jou later vra en sê: ‘Wat beteken dit?’ dan moet jy vir hom sê: ‘Deur die sterkte van sy hand het Jehovah ons uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei’” (Eks. 13:14). Jehovah se handelinge met die Israeliete was geskiedenis wat nie vergeet moes word nie. Baie Israelitiese vaders het sekerlik Moses se bevel gehoorsaam. Geslagte later het ’n Israeliet gebid: “O God, met ons ore het ons gehoor, ons voorvaders het ons vertel van die dade wat u in hulle dae verrig het, in die dae van lank gelede.”—Ps. 44:1.

’n Jongmens van vandag kan ook dink dat Jehovah se Getuies se geskiedenis van die afgelope 100 jaar of wat soos “die dae van lank gelede” is. Hoe kan jy hierdie gebeure vir jou kinders laat lewe? Party ouers doen dit met behulp van Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, die Jaarboek, lewensverhale in ons tydskrifte en ander verslae van teokratiese geskiedenis, met inbegrip van ons nuwe DVD oor God se volk in hedendaagse tye. Video’s oor die vervolging van ons broers in die voormalige Sowjetunie en Nazi-Duitsland leer gesinne om gedurende beproewinge op Jehovah te vertrou. Sluit hierdie inligting in by julle aand vir Gesinsaanbidding. Dit sal julle kinders se geloof versterk vir wanneer hulle onkreukbaarheid op die proef gestel word.

Maar ’n lesing oor geskiedenis kan jong verstande gou verveel. Betrek dus jou kinders by die bespreking. Byvoorbeeld, jy kan jou seun vra om navorsing te doen oor die teokratiese geskiedenis van ’n land waarin hy belangstel en dan die gesin te vertel van wat hy geleer het. Daar is dalk Christene in julle gemeente wat al lank getrou dien wat jy een aand na julle gesinsaanbidding kan nooi. Jou dogter kan miskien ’n onderhoud met hulle voer en hulle van hulle ondervindinge laat vertel. Of jy kan jou kind prente laat teken van teokratiese mylpale, soos die bou van ’n takkantoor, ’n internasionale byeenkoms of die gebruik van ’n grammofoon in die huis-tot-huis-bediening.

Leer van “die werking van elke afsonderlike deel”

Die apostel Paulus het die Christengemeente vergelyk met “die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—[wat] die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde” (Ef. 4:16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Wanneer ons leer hoe die menseliggaam werk, neem ons waardering en eerbied vir ons Skepper toe. En wanneer ons bestudeer hoe die wêreldwye gemeente werk, verwonder ons ons oor “die uiters veelsydige wysheid van God”.—Ef. 3:10.

Jehovah beskryf hoe sy organisasie, insluitende die hemelse deel daarvan, funksioneer. Hy vertel byvoorbeeld vir ons dat hy eers ’n openbaring aan Jesus Christus gegee het, wat toe “sy engel uitgestuur en dit deur hom in tekens aan sy slaaf Johannes oorgedra [het], wat getuig het” (Op. 1:1, 2). As God openbaar hoe die onsigbare deel van sy organisasie funksioneer, wil hy ongetwyfeld hê dat ons “die werking van elke afsonderlike deel” op die aarde moet verstaan.

Byvoorbeeld, as die kringopsiener julle gemeente binnekort sal besoek, kan jy gerus die pligte en voorregte van reisende opsieners met jou gesin bespreek. Hoe help hulle elkeen van ons? Ander vrae wat bespreek kan word, sluit in: Waarom is dit belangrik om ons velddiensrapport in te gee? Hoe word God se organisasie gefinansier? Hoe is die Bestuursliggaam georganiseer, en hoe voorsien hulle geestelike voedsel?

Wanneer ons verstaan hoe Jehovah se volk georganiseer word, help dit ons op ten minste drie maniere: Dit vergroot ons waardering vir diegene wat hard werk ten behoewe van ons (1 Tess. 5:12, 13). Dit beweeg ons om teokratiese reëlings te ondersteun (Hand. 16:4, 5). Laastens, ons vertroue in diegene wat die leiding neem, word versterk wanneer ons die skriftuurlike grondslag vir besluite en reëlings sien.—Heb. 13:7.

“Besigtig sy woontorings”

“Gaan rondom Sion en trek daaromheen, tel sy torings. Rig julle hart op sy skans. Besigtig sy woontorings, sodat julle dit aan die toekomstige geslag kan vertel” (Ps. 48:12, 13). Die psalmis het die Israeliete hier aangespoor om Jerusalem van naderby te beskou. Kan jy jou voorstel watter kosbare herinneringe Israelitiese gesinne gehad het wat vir jaarlikse feeste na die heilige stad gereis en die pragtige tempel daar gesien het? Dit het hulle ongetwyfeld beweeg om “dit aan die toekomstige geslag [te] vertel”.

Dink aan die koningin van Skeba, wat aanvanklik skepties was oor berigte van Salomo se voortreflike heerskappy en groot wysheid. Wat het haar oortuig dat wat sy gehoor het, waar is? “Ek het geen geloof gestel in hulle woorde nie”, het sy gesê, “totdat ek gekom het sodat my eie oë kon sien” (2 Kron. 9:6). Ja, wat ons met ons “eie oë” sien, kan ’n groot uitwerking op ons hê.

Hoe kan jy jou kinders help om die wonders van Jehovah se organisasie met hulle “eie oë” te sien? As daar ’n takkantoor van Jehovah se Getuies naby julle huis is, moet julle dit probeer besoek. Mandy en Bethany het byvoorbeeld ongeveer 1 500 kilometer van die Bethelhuis in hulle land grootgeword. Tog het hulle ouers hulle gereeld daarheen geneem om op ’n toer deur die fasiliteite te gaan, veral terwyl hulle dogters grootgeword het. “Voordat ons op ’n toer deur Bethel gegaan het, het ons gedink dat dit nogal formeel en net vir ou mense is”, het hulle verduidelik. “Maar ons het jongmense ontmoet wat hard werk vir Jehovah en dit geniet! Ons het gesien dat Jehovah se organisasie meer is as net die klein gebied waar ons woon, en elke besoek aan Bethel het ons geestelik versterk.” Omdat Mandy en Bethany God se organisasie van naderby beskou het, is hulle beweeg om die pionierdiens te betree, en hulle is selfs genooi om as tydelike vrywilligers by Bethel te dien.

Ons kan Jehovah se organisasie op nog ’n manier “sien”, ’n manier wat nie vir eertydse Israel beskikbaar was nie. God se volk het in onlangse jare video’s en DVD’s ontvang wat oor verskillende aspekte van God se organisasie handel, soos: Jehovah’s Witnesses—Organized to Share the Good News, Our Whole Association of Brothers, To the Ends of the Earth en United by Divine Teaching. Wanneer jy en jou gesin sien hoe hard Betheliete, noodlenigingswerkers en sendelinge werk, sowel as die broers wat streekbyeenkomste reël en organiseer, sal julle beslis groter waardering vir die wêreldwye broederskap kry.

Elke gemeente van God se volk speel ’n belangrike rol daarin om die goeie nuus te verkondig en Christene in die omgewing te ondersteun. Maar ruim tyd in om saam met jou gesin aan “die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld” te dink. Dit sal jou en jou kinders help om “vas in die geloof” te bly, in die wete dat julle rede tot blydskap het.—1 Pet. 5:9.

[Venster/Prent op bladsy 18]

God se organisasie—’n Goeie onderwerp vir studie

Ons het ’n oorvloed voorsienings om almal te help om meer oor die geskiedenis en werking van Jehovah se organisasie te leer. Die volgende vrae kan jou help om hiermee te begin:

Hoe het die werk van hedendaagse reisende opsieners begin?Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 222-227.

Wat was betekenisvol omtrent “Kinderdag” by die Teokratiese Byeenkoms in 1941?Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 86, 88.

Hoe neem die Bestuursliggaam besluite?‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk, bladsye 108-114.