Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie jouself met valse redenering bedrieg nie

Moenie jouself met valse redenering bedrieg nie

Moenie jouself met valse redenering bedrieg nie

“WAT het jy nou gedoen?” het God Eva gevra nadat sy van die verbode boom geëet het. “Die slang—hy het my bedrieg, en daarom het ek geëet”, het sy geantwoord (Gen. 3:13). Satan, die listige slang wat haar verlei het om aan God ongehoorsaam te wees, is later “die oorspronklike slang, . . . wat die hele bewoonde aarde mislei”, genoem.—Op. 12:9.

Hierdie verslag in Genesis beeld Satan uit as geslepe, as iemand wat leuens opdis met die bedoeling om diegene te bedrieg wat nie op hulle hoede is nie. Eva is beslis deur hom bedrieg. Maar ons moenie dink dat Satan die enigste een is wat ons kan mislei nie. Die Bybel waarsku ons ook teen die gevaar om ‘onsself met valse redenering te bedrieg’.—Jak. 1:22.

Ons dink miskien dat dit baie onwaarskynlik of selfs onmoontlik is om onsself te bedrieg. Maar God het hierdie waarskuwing ongetwyfeld met goeie rede gegee. Dit sal dus verstandig van ons wees om na te dink oor hoe ons onsself kan bedrieg en watter soort valse redenering ons kan mislei. ’n Voorbeeld in die Bybel kan ons help.

Hulle het hulleself bedrieg

Kores die Grote van Persië het omstreeks 537 VHJ ’n verordening uitgevaardig dat die Jode wat in ballingskap in Babilon was, na Jerusalem moet terugkeer en die tempel moet herbou (Esra 1:1, 2). Die volgende jaar het die volk, in ooreenstemming met Jehovah se voorneme, die fondament vir ’n nuwe tempel gelê. Dié wat teruggekeer het, was verheug en het Jehovah geloof omdat hy die eerste stadium van hierdie belangrike projek geseën het (Esra 3:8, 10, 11). Maar kort voor lank is hulle herbouingswerk teëgestaan en het die volk ontmoedig geword (Esra 4:4). Ongeveer 15 jaar ná hulle terugkeer het die Persiese owerheid alle bouwerk in Jerusalem verbied. Streekamptenare het in Jerusalem aangekom om die verbod toe te pas en het die Jode “met wapengeweld laat ophou”.—Esra 4:21-24.

Hierdie ernstige struikelblok het daartoe gelei dat die Jode hulleself met valse redenering bedrieg. “Die tyd het nie gekom, die tyd dat die huis van Jehovah gebou moet word nie”, het hulle vir hulleself gesê (Hag. 1:2). Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat God nie wou hê dat die tempel onmiddellik gebou moet word nie. In plaas van na ’n manier te soek om sy wil te doen, het hulle hulle heilige toewysing versaak en al hulle aandag daaraan bestee om hulle eie huise te verbeter. God se profeet Haggai het hulle reguit gevra: “Is dit die tyd vir julle om in julle huise met paneelwerk te woon, terwyl hierdie huis [Jehovah se tempel] woes lê?”—Hag. 1:4.

Kan ons ’n les uit hierdie voorbeeld leer? ’n Verkeerde beskouing van die tydsaspek van God se voorneme kan daartoe lei dat ons die belangrikheid van ons geestelike bedrywighede uit die oog verloor en dat ons aandag deur persoonlike belange afgelei word. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy gaste verwag. In afwagting van hulle besoek is jy moontlik baie bedrywig terwyl jy nodige huishoudelike takies verrig wat met hulle kuier verband hou. Maar dan hoor jy dat jou besoekers laat sal wees. Sal jy ophou om voorbereidings te tref?

Maar onthou dat Haggai en Sagaria die Jode gehelp het om te verstaan dat Jehovah nog steeds wou hê dat die tempel sonder versuim herbou moet word. “Wees sterk, julle almal, volk van die land, . . . en werk”, het Haggai hulle aangespoor (Hag. 2:4). Hulle moes voortgaan met die werk, vol vertroue dat God se gees hulle sal ondersteun (Sag. 4:6, 7). Kan hierdie voorbeeld ons help om nie tot die verkeerde gevolgtrekkings omtrent Jehovah se dag te kom nie?—1 Kor. 10:11.

Vervang valse redenering met gesonde denke

In sy tweede brief het die apostel Petrus die tyd bespreek wanneer Jehovah ’n “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” tot stand sal bring (2 Pet. 3:13). Hy het gesê dat party spotters twyfel daaroor gewek het of God ooit in menseaangeleenthede sal ingryp. Hulle het verkeerdelik geredeneer dat niks sal gebeur nie, dat “alles . . . net soos van die begin van die skepping af” bly (2 Pet. 3:4). Petrus wou hierdie verkeerde redenering teëwerk. Hy het geskryf dat hy hulle “helder denkvermoëns deur herinnering opwek”. Hy het mede-Christene daaraan herinner dat die spotters verkeerd is. God hét voorheen in menseaangeleenthede ingegryp deur ’n rampspoedige wêreldwye vloed te bring.—2 Pet. 3:1, 5-7.

Haggai het die ontmoedigde, onbedrywige Jode in 520 VHJ ’n soortgelyke aansporing gegee. Hy het hulle vermaan: “Rig julle hart op julle weë” (Hag. 1:5). Om sy mede-aanbidders se denkvermoëns op te wek, het hy hulle aan God se voornemens en beloftes aangaande Sy volk herinner (Hag. 1:8; 2:4, 5). Kort ná hierdie aansporing het die bouwerk weer begin—ondanks die amptelike verbod. Teenstanders het weer eens probeer om die bouprojek te dwarsboom, maar hulle het dit nie reggekry nie. Die verbod is opgehef, en die tempel is binne vyf jaar voltooi.—Esra 6:14, 15; Hag. 1:14, 15.

Ons moet ons hart op ons weë rig

Dink jy dat ons, soos die Jode in Haggai se dag, ontmoedig kan word wanneer probleme ontstaan? As dit gebeur, sal dit dalk vir ons moeilik wees om aan te hou om die goeie nuus ywerig te verkondig. Maar wat kan ons ontmoedig? Wel, ons ly dalk weens die ongeregtigheid van hierdie stelsel van dinge. Dink aan Habakuk, wat gevra het: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?” (Hab. 1:2, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Die beskouing van party mense dat Jehovah se dag talm, kan veroorsaak dat ’n Christen sy gevoel van dringendheid verloor en eerder voorkeur gee aan ’n gemaklike lewenswyse. Kan dit met jou gebeur? As ons soos hierbo redeneer, sal ons onsself bedrieg. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ag slaan op die skriftuurlike raad om ‘ons hart op ons weë te rig’ en ‘ons helder denkvermoëns op te wek’! Ons kan ons afvra: ‘Behoort ek verbaas te wees dat hierdie goddelose stelsel van dinge langer voortduur as wat ek verwag het?’

’n Tydperk wat in die Bybel voorspel is

Dink ’n oomblik aan Jesus se woorde oor die voleinding van hierdie stelsel van dinge. Markus se verslag van Jesus se profesie oor die laaste dae openbaar dat Jesus ons herhaaldelik vermaan om waaksaam te bly (Mark. 13:33-37). Ons vind ’n soortgelyke waarskuwing in die profetiese beskrywing van Jehovah se groot dag by Armageddon (Op. 16:14-16). Waarom die herhaaldelike waarskuwings? Hierdie herinneringe is nodig wanneer mense gevaar loop om hulle gevoel van dringendheid te verloor omdat hulle meen dat hulle al baie lank wag.

Jesus het toegelig dat dit vir ons belangrik is om voortdurend waaksaam te wees terwyl ons op die einde van die stelsel van dinge wag. Hy het gepraat van ’n huisbewoner by wie se huis ingebreek is. Hoe kon hy verhoed het dat hy beroof word? Deur die hele nag wakker te bly. Jesus het hierdie illustrasie afgesluit deur ons te vermaan: “Julle [moet] gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”Matt. 24:43, 44.

Hierdie illustrasie toon dat ’n mens bereid moet wees om te wag, al is dit ’n geruime tyd. Nee, ons moenie te bekommerd wees omdat hierdie goddelose stelsel dalk al langer bestaan as wat ons verwag het nie. Ons moenie onsself bedrieg met die valse redenering dat ‘Jehovah se tyd nog nie gekom het nie’. Hierdie denkwyse sal ons begeerte om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, laat verflou.—Rom. 12:11.

Raak ontslae van valse redenering

Die beginsel in Galasiërs 6:7 is van toepassing op valse redenering: “Moenie mislei word nie . . . Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.” As daar nie op ’n stuk grond gesaai word nie, neem onkruid maklik oor. Net so kan valse redenering in ons verstand wortelskiet as ons nie ons helder denkvermoëns opwek nie. Ons kan byvoorbeeld vir onsself sê: ‘Jehovah se dag sal beslis kom—maar nie dadelik nie.’ Sulke denke kan daartoe lei dat ons ophou om ons in te span wanneer dit by ons teokratiese bedrywighede kom. Mettertyd kan ons ons geestelike roetine begin verwaarloos. Jehovah se dag kan ons dan oorval.—2 Pet. 3:10.

Maar valse redenering sal nie in ons verstand wortelskiet as ons voortdurend seker maak wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” nie (Rom. 12:2). Een van die beste maniere waarop ons dit kan doen, is deur God se Woord gereeld te lees. Die Skrif kan ons oortuiging versterk dat Jehovah altyd op die vasgestelde tyd optree.—Hab. 2:3.

As ons studeer, bid, vergaderinge getrou bywoon, aan die predikingswerk deelneem en liefdevolle dade van goedhartigheid verrig, sal dit ons in staat stel om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte te hou’ (2 Pet. 3:11, 12). Jehovah sal sien dat ons standvastig is. Die apostel Paulus herinner ons: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat goed is nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie moeg word nie.”—Gal. 6:9.

Dit is beslis nie nou die tyd om toe te laat dat valse redenering ons bedrieg sodat ons dink dat Jehovah se dag uitgestel is nie. Dit is eerder die tyd om ons hart standvastig te maak, want Jehovah se dag is naby.

[Prent op bladsy 4]

Haggai en Sagaria het die Jode aangespoor om te bou

[Prent op bladsy 5]

Sê nou die huisbewoner het geweet dat die dief kom?